HANDELINGE 16:11-15
HANDELINGE 16:11-15 Bybel vir almal (ABA)
Ons het met die skip weggeseil van die hawestad Troas, en toe het ons reguit na die eiland Samotrake geseil. Die volgende dag het ons na die hawestad Neapolis geseil. Ons het van daardie stad na die stad Filippi geloop. Dit was 'n stad in die eerste deel van die provinsie Masedonië. Die stad was ook 'n kolonie van Rome. Ons het 'n paar dae in daardie stad gebly. Op die Sabbatdag het ons uitgegaan by die stad se poort en ons het gegaan na 'n plek langs die rivier. Ons het geweet dat die Jode altyd daar kom bid. Ons het gaan sit en ons het begin praat met die vroue wat daar saam was. Daar was 'n vrou, haar naam was Lidia. Sy het ook na ons geluister. Sy het van die stad Tiatira gekom en sy was 'n handelaar in pers materiaal. Sy was nie 'n Jood nie, maar sy het vir God gedien. Die Here het haar hart oopgemaak om baie goed te luister na wat Paulus gesê het. Hulle het toe vir haar en die mense in haar huis gedoop. Toe het sy ons genooi en gesê: “As julle dink dat ek regtig in die Here glo, dan moet julle na my huis kom en julle moet daar kom bly.” En sy het aangehou om dit vir ons te sê totdat ons na haar huis gegaan het.
HANDELINGE 16:11-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis, en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, 'n kolonie. En ons het in hierdie stad 'n paar dae deurgebring. En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs 'n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, 'n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.
HANDELINGE 16:11-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. Daarvandaan is ons na Filippi toe, 'n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae gebly. Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou 'n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was 'n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” En sy het ons oorreed om dit te doen.
HANDELINGE 16:11-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe ons van Troas af vertrek het, het ons reguit na Samotrake gevaar, die volgende dag na Neapolis, en daarvandaan na Filippi, wat 'n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae lank vertoef. Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het 'n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. 'n Vrou uit die stad Tiatira, 'n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal.
HANDELINGE 16:11-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, toe ons van Troas losgemaak het, het ons met 'n reguit koers na Samotrakië gekom en die volgende dag na Neapolis; En daarvandaan tot by Filippi, wat die hoofstad van daardie deel van Masedonië is, en 'n kolonie; en ons het sekere dae in daardie stad gebly. En op die sabbat het ons uit die stad uitgegaan langs die rivier, waar gebid was; en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar tuisgegaan het. En 'n sekere vrou met die naam van Lidia, 'n purperverkoper van die stad Thiatira, wat God aanbid het, het ons gehoor; wie se hart die Here oopgemaak het, dat sy ag geslaan het op die dinge wat van Paulus gespreek is. En toe sy gedoop is en haar huisgesin, het sy ons gesmeek en gesê: As julle geoordeel het dat ek getrou is aan die Here, kom in my huis en bly daar. En sy het ons ingeperk.
HANDELINGE 16:11-15 Die Boodskap (DB)
Ons het die eerste skip geneem wat na Samotrake gevaar het. Van daar af het ons die volgende dag tot in Neapolis gereis. Toe ons daar aankom, het ons dadelik koers gekies die binneland in. Ons bestemming was die stad Filippi, ’n belangrike Romeinse kolonie in Masedonië. Ons sou ’n paar dae daar oorbly. Op die sabbatdag het ons na ’n rivier net buite die stad gestap. Ons het gehoor dat mense gewoonlik daar bymekaargekom het om te bid. Ons het daar gaan sit en begin gesels met ’n paar van die vroue wat daar was. Een van die vroue, Lidia, wat uit die stad Tiatira afkomstig was en wat duur pers materiaal verkoop het, het vroeër al die Joodse geloof aangeneem. Sy het aandagtig gesit en luister na wat Paulus gesê het. Die Here het Lidia aangeraak sodat sy die goeie nuus oor Jesus gelowig aanvaar het. Daarna is sy gedoop, en ook almal wat in haar huis gebly het. Sy het ons toe uitgenooi om by haar te kom oorbly. “As julle regtig oortuig is dat ek nou ook in die Here glo, moet julle eenvoudig in my huis kom oorbly,” het sy gesê. Lidia het ons toe met hierdie woorde oorgehaal om by haar te kom bly.
HANDELINGE 16:11-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na die eiland Samotrake, en is die volgende dag Neapolis toe. Daarvandaan is ons Filippi toe, die hoofstad van daardie deel van Masedonië, self ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n tydjie gebly. Op die Sabbatdag is ons na die rivier buite die stadspoort, waar ons gereken het daar ’n Joodse bidplek sou wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ’n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap. Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.” En sy het aangehou tot ons ingestem het.