HANDELINGE 16:1-40

HANDELINGE 16:1-40 Bybel vir almal (ABA)

Paulus het ook in die stede Derbe en Listre gekom. In Listre was daar 'n gelowige, sy naam was Timoteus. Hy was die seun van 'n Joodse vrou wat 'n gelowige was, en sy pa was 'n Griek. Die gelowiges in die stede Listre en Ikonium het goeie dinge oor Timoteus gesê. Paulus wou hê dat Timoteus saam met hom moes gaan. Daarom het Paulus hom geneem en hy het hom besny. Paulus het dit gedoen omdat al die Jode wat in daardie stede was, geweet het dat Timoteus se pa 'n Griek was. Toe Paulus en sy vriende deur die stede gegaan het, het hulle vir die gelowiges vertel wat die apostels en die ouderlinge in Jerusalem besluit het. Hulle het ook vir die gelowiges gesê dat hulle moet doen wat die apostels en die ouderlinge besluit het. Paulus en sy vriende het aangehou om die gelowiges in die gemeentes sterker te laat glo, en elke dag het meer en meer mense in Christus begin glo. Die Heilige Gees het vir Paulus en sy vriende gekeer sodat hulle nie die boodskap in die provinsie Asië kon bring nie. Daarom het hulle deur die lande Frigië en Galasië gegaan. En toe hulle oorkant die provinsie Misië kom, het hulle probeer om na die provinsie Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle gekeer om dit te doen. Hulle het toe deur Misië gegaan en hulle het na die hawestad Troas gegaan. In die nag het die Here vir Paulus iets gewys, dit was soos in 'n droom. 'n Man van die provinsie Masedonië het daar gestaan en hy het vir Paulus mooi gevra: “Kom asseblief oor die see na ons toe en kom help ons.” Nadat die Here dit vir Paulus gewys het, het ons dadelik probeer om met die skip na Masedonië te seil omdat ons geglo het dat God ons gekies het om die goeie boodskap vir daardie mense te bring. Ons het met die skip weggeseil van die hawestad Troas, en toe het ons reguit na die eiland Samotrake geseil. Die volgende dag het ons na die hawestad Neapolis geseil. Ons het van daardie stad na die stad Filippi geloop. Dit was 'n stad in die eerste deel van die provinsie Masedonië. Die stad was ook 'n kolonie van Rome. Ons het 'n paar dae in daardie stad gebly. Op die Sabbatdag het ons uitgegaan by die stad se poort en ons het gegaan na 'n plek langs die rivier. Ons het geweet dat die Jode altyd daar kom bid. Ons het gaan sit en ons het begin praat met die vroue wat daar saam was. Daar was 'n vrou, haar naam was Lidia. Sy het ook na ons geluister. Sy het van die stad Tiatira gekom en sy was 'n handelaar in pers materiaal. Sy was nie 'n Jood nie, maar sy het vir God gedien. Die Here het haar hart oopgemaak om baie goed te luister na wat Paulus gesê het. Hulle het toe vir haar en die mense in haar huis gedoop. Toe het sy ons genooi en gesê: “As julle dink dat ek regtig in die Here glo, dan moet julle na my huis kom en julle moet daar kom bly.” En sy het aangehou om dit vir ons te sê totdat ons na haar huis gegaan het. Ons was eendag besig om na die plek te gaan waar die Jode gewoonlik gaan bid het. 'n Slavin het na ons toe gekom. Sy het 'n bose gees in haar gehad. Sy het altyd gesê wat in die toekoms sal gebeur, en so het sy baie geld gekry vir haar eienaars. Hierdie slavin het agter Paulus en ons geloop en sy het aangehou om te skree: “Hierdie manne is dienaars van die Hoogste God. Hulle vertel vir julle hoe God vir julle kan red.” En sy het 'n lang tyd aangehou om dit te doen. Toe het Paulus kwaad geword, hy het omgedraai en vir die bose gees gesê: “Jesus Christus het vir my gesê ek moet vir jou sê: Gaan uit haar uit!” Die bose gees het dadelik uit haar uitgegaan. Die eienaars van die slavin het besef dat hulle haar nie meer kan gebruik om vir hulle geld te verdien nie. Hulle het vir Paulus en Silas gegryp en na die mark gesleep. Die leiers van die stad was daar. Toe die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas voor die Romeinse regeerders gebring het, het die eienaars gesê: “Hierdie mense is Jode en hulle maak die mense in ons stad opstandig. Hulle vertel vir ons om dinge te doen, maar ons dink nie dit is reg nie, en ons mag dit nie doen nie, want ons is Romeine.” Baie mense het toe saam met die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas aangeval. Die Romeinse regeerders het Paulus en Silas se klere van hulle laat afskeur en hulle het gesê dat die soldate hulle met stokke moet slaan. Nadat die soldate hulle baie geslaan het, het hulle vir Paulus en Silas in die tronk gegooi en die soldate het vir die wag gesê dat hy hulle baie goed moet oppas. Die wag het toe vir Paulus en Silas in die binneste deel van die tronk gegooi en hy het hulle voete in 'n blok gesit. In die middel van die nag was Paulus en Silas besig om te bid en om liedere te sing om God te prys. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n groot aardbewing en die fondamente van die tronk het gebewe. Dadelik het al die deure van die tronk oopgegaan en almal se kettings het afgeval. Toe die wag wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek. Hy wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes almal weggevlug het. Maar Paulus het baie hard vir hom geskree: “Moenie jouself doodmaak nie, ons is nog almal hier.” Toe het die wag gevra dat iemand 'n lig moet bring en hy het in die binneste deel van die tronk ingehardloop. Hy het gebewe en hy het voor Paulus en Silas se voete op die grond geval. Nadat hy hulle buitetoe geneem het, het hy gesê: “Menere, wat moet ek doen sodat God my kan red?” Hulle sê toe vir hom: “Jy moet glo in die Here Jesus en dan sal God jou red, vir jou en jou huisgesin.” En Paulus en Silas het vir die wag en al die mense in sy huisgesin vertel van die boodskap van die Here. Die wag het toe vir hulle laat in die nag saamgeneem en hy het hulle seerplekke gewas. En Paulus het hom en al die mense in sy huisgesin dadelik gedoop. Die wag het hulle toe na sy huis gebring en hy het vir hulle kos gegee om te eet. Hy en almal in sy huisgesin was baie bly omdat hulle nou in God begin glo het. Die volgende oggend het die Romeinse regeerders die polisie na die wag toe gestuur om vir hom te sê: “Jy moet daardie manne vry laat weggaan uit die tronk.” Die wag het toe vir Paulus vertel wat die polisie gesê het. Hy het gesê: “Die Romeinse regeerders het vir my 'n boodskap gestuur dat ek julle vry moet laat weggaan. Kom nou uit en gaan weg met vrede in julle harte.” Maar Paulus het vir die polisie gesê: “Ons is Romeinse burgers, en niemand het ons in 'n hof ge-oordeel nie. Maar die Romeinse regeerders het ons laat slaan waar almal dit kon sien, en hulle het ons in die tronk laat gooi. En nou wil hulle vir ons laat uitgaan uit die tronk en hulle wil hê niemand moet dit weet nie. Dit sal glad nie gebeur nie! Daardie Romeinse regeerders moet kom en hulle moet self vir ons uit die tronk lei.” Die polisie het hierdie dinge vir die Romeinse regeerders gaan vertel. Toe hulle hoor dat Paulus en Silas Romeinse burgers is, het hulle bang geword. Hulle het toe gegaan en hulle het mooi met Paulus en Silas gepraat en gesê dat hulle jammer is oor wat hulle gedoen het. Die Romeinse regeerders het hulle uit die tronk geneem en vir hulle gevra om weg te gaan van die stad. Nadat Paulus en Silas uit die tronk gegaan het, het hulle na Lidia se huis gegaan. Daar het hulle die gelowiges gesien en hulle het die gelowiges bemoedig. Toe het Paulus en Silas weggegaan van Filippi.

HANDELINGE 16:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was 'n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse vader. Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium. Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader 'n Griek was. En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou. En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal. En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig. En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie. So het hulle dan Mísië verbygegaan en na Troas afgekom. EN Paulus het 'n gesig in die nag gesien — daar staan 'n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons! En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig. Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis, en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, 'n kolonie. En ons het in hierdie stad 'n paar dae deurgebring. En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs 'n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, 'n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing. En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom 'n slavin met 'n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing. En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan. En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is, en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is. En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan. En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak. Hy het toe, omdat hy so 'n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak. En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister. En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak. En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het. Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier. En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer. En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het. En toe dit dag word, stuur die regters die geregsdienaars en sê: Laat daardie manne los. En die tronkbewaarder het hierdie woorde aan Paulus oorgebring: Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou uit en reis in vrede! Maar Paulus sê vir hulle: Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp, en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Volstrek nie! Laat hulle self kom en ons uitlei. En die geregsdienaars het hierdie woorde aan die regters oorgebring, en dié het bang geword toe hulle hoor dat hulle Romeine was. Daarop het hulle gekom en hulle gesmeek en uitgelei met die versoek om uit die stad te vertrek. En nadat hulle die gevangenis verlaat het, het hulle na die huis van Lídia gegaan; en hulle het die broeders gesien, hulle bemoedig en weggegaan.

HANDELINGE 16:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was 'n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook 'n gelowige, was 'n Joodse vrou en sy pa 'n Griek. Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is 'n Griek. Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword. Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan. Daar het Paulus in die nag in 'n gesig 'n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig. Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. Daarvandaan is ons na Filippi toe, 'n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae gebly. Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou 'n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was 'n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” En sy het ons oorreed om dit te doen. Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons 'n slavin teëgekom in wie daar 'n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.” Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan. Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.” Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar 'n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.” Toe het die bewaarder 'n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle 'n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het. Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.” Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!” Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.” Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat. Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.

HANDELINGE 16:1-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus het na Derbe gegaan, en toe na Listra. En kyk, daar was 'n dissipel met die naam Timoteus – die seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse pa. Hy was iemand oor wie die broers in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het. Paulus wou Timoteus saam op reis neem, en het hom laat besny ter wille van die Jode wat in daardie streke gewoon het, omdat almal geweet het dat sy vader 'n Griek was. Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die voorskrifte waarop die •apostels en ouderlinge in Jerusalem besluit het, aan die gelowiges oorgedra om dit te onderhou. Sodoende is die •gemeentes in die geloof versterk en hulle het van dag tot dag in getal toegeneem. Hulle het deur Frigië en die landstreek van Galasië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe by Misië verbygereis en afgegaan na Troas. Daardie nag het Paulus 'n visioen gehad. 'n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig. Toe ons van Troas af vertrek het, het ons reguit na Samotrake gevaar, die volgende dag na Neapolis, en daarvandaan na Filippi, wat 'n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae lank vertoef. Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het 'n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. 'n Vrou uit die stad Tiatira, 'n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal. Terwyl ons 'n keer op pad was na die bidplek, het 'n slavin met 'n gees van waarsêery wat met haar voorspellings baie wins vir haar eienaars ingebring het, ons tegemoet gekom. Sy het agter Paulus en ons aan geloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God, die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle 'n weg tot verlossing!” Dit het sy dae aaneen gedoen. Paulus het daaroor ontsteld geraak, omgedraai en vir die gees gesê: “Ek gebied jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan!” En presies op daardie oomblik het die gees uitgegaan. Toe haar eienaars merk dat hulle hoop op 'n inkomste daarmee heen was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die owerhede; en nadat hulle hulle voorgebring het, het hulle vir die stadsbestuurders gesê: “Hierdie mense stook onrus in ons stad, want hulle is Jode en verkondig gebruike wat vir ons as Romeine nie toelaatbaar is om te aanvaar of na te volg nie.” Die skare het toe ook teen hulle gedraai, en die stadsbestuurders het hulle klere laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan moet word. Nadat hulle met baie houe geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en is die tronkbewaarder opdrag gegee om hulle baie goed te bewaak. In die uitvoering van hierdie opdrag het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgeklem. Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n hewige aardbewing, sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure het onmiddellik oopgegaan, en almal se boeie het losgegaan. Die tronkbewaarder het wakker geskrik, en toe hy sien dat die tronk se deure oop was, het hy sy swaard getrek en wou homself doodmaak, omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. Maar Paulus het hard uitgeroep: “Moenie jouself leed aandoen nie, want ons is almal hier!” Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” En hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis verkondig. En hy het hulle op daardie uur van die nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is onmiddellik gedoop. Hy het hulle na sy huis geneem en 'n ete voorgesit. Hy en sy hele huishouding was jubelend, omdat hulle tot geloof in God gekom het. Teen dagbreek het die stadsbestuurders die geregsdienaars gestuur met die opdrag: “Laat daardie mense vry!” Die tronkbewaarder het die boodskap aan Paulus oorgedra: “Die stadsbestuurders het laat weet dat julle vrygelaat moet word. Kom dan nou uit en gaan in vrede!” Maar Paulus het die geregsdienaars geantwoord: “Hulle het ons sonder verhoor in die openbaar laat slaan en in die tronk laat gooi, alhoewel ons Romeinse burgers is, en nou wil hulle ons stilletjies uitgooi? Beslis nie! Laat hulle ons self kom uitlei.” Die geregsdienaars het hierdie boodskap aan die stadsbestuurders oorgedra. Toe hulle hoor dat Paulus en Silas Romeinse burgers is, het hulle bang geword. Hulle het hulle om verskoning kom vra, hulle uitgelei en versoek om die stad te verlaat. Toe hulle uit die tronk kom, het hulle na Lidia se huis gegaan. Daar het hulle die broers gesien, hulle moed ingepraat en vertrek.

HANDELINGE 16:1-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe kom Hy in Derbe en Listre, en daar was 'n sekere dissipel met die naam van Timótheüs, die seun van 'n sekere vrou, wat 'n Joodse vrou was en gelowig was; maar sy vader was 'n Griek: Waaroor goed berig is deur die broers wat in Listra en Ikonium was. Hom sou Paulus saam met hom moes uitgaan; en hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie omgewing was, want hulle het alles geweet dat sy vader 'n Griek was. En terwyl hulle deur die stede gegaan het, het hulle die insettinge oorgegee om te onderhou, wat deur die apostels en ouderlinge wat in Jerusalem was, bepaal was. En so is die gemeentes in die geloof gevestig en het hulle daagliks in getal vermeerder. En toe hulle deur Frigië en die gebied van Galasië gegaan het en deur die Heilige Gees verbied is om die woord in Asië te verkondig, Nadat hulle in Misië gekom het, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees het hulle nie toegelaat nie. En hulle wat by Misië verbygegaan het, het afgekom na Troas. En 'n gesig het in die nag aan Paulus verskyn; Daar het 'n man van Masedonië gestaan en hom gebid en gesê: Kom oor na Masedonië en help ons. En nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Masedonië te gaan, en verseker ingesamel dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig. Daarom, toe ons van Troas losgemaak het, het ons met 'n reguit koers na Samotrakië gekom en die volgende dag na Neapolis; En daarvandaan tot by Filippi, wat die hoofstad van daardie deel van Masedonië is, en 'n kolonie; en ons het sekere dae in daardie stad gebly. En op die sabbat het ons uit die stad uitgegaan langs die rivier, waar gebid was; en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar tuisgegaan het. En 'n sekere vrou met die naam van Lidia, 'n purperverkoper van die stad Thiatira, wat God aanbid het, het ons gehoor; wie se hart die Here oopgemaak het, dat sy ag geslaan het op die dinge wat van Paulus gespreek is. En toe sy gedoop is en haar huisgesin, het sy ons gesmeek en gesê: As julle geoordeel het dat ek getrou is aan die Here, kom in my huis en bly daar. En sy het ons ingeperk. En dit het gebeur, terwyl ons gaan bid, het 'n sekere meisie, besete van 'n gees van waarsêery, ons tegemoet gekom, wat haar meesters baie gewin het deur waarsêery: Hy het Paulus en ons gevolg en uitgeroep en gesê: Hierdie manne is dienaars van die Allerhoogste God, wat ons die weg van verlossing wys. En dit het sy baie dae gedoen. Maar Paulus, wat bedroef was, het hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het in dieselfde uur uitgekom. En toe haar eienaars sien dat die hoop op hulle wins verby was, het hulle Paulus en Silas gevang en hulle na die markplein na die owerstes getrek. En hulle het hulle na die magistrate gebring en gesê: Hierdie manne, wat Jode is, maak ons stad baie moeilik, En leer gewoontes wat ons nie geoorloof is om te ontvang of te onderhou nie, omdat ons Romeine is. En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regeerders skeur hulle klere uit en bevel om hulle te slaan. En nadat hulle baie slae op hulle gelê het, het hulle hulle in die gevangenis gegooi en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle veilig te bewaar. Wat so 'n opdrag ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete vasgemaak het in die stokke. En middernag het Paulus en Silas gebid en lofsange tot eer van God gesing, en die gevangenes het dit gehoor. En skielik was daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het, en dadelik het al die deure oopgegaan, en elkeen se bande is losgemaak. En toe die bewaarder van die gevangenis uit sy slaap wakker word en die gevangenis se deure sien oopgaan, het hy sy swaard uitgetrek en sou homself om die lewe gebring het, as hy gedink het dat die gevangenes gevlug het. Maar Paulus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Doen jouself geen kwaad nie, want ons is almal hier. Toe het hy 'n lig geroep en ingespring en bewend gekom en voor Paulus en Silas neergeval. En hy het hulle uitgebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? En hulle sê: Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word, en jou huisgesin. En hulle het die woord van die Here aan hom gespreek en aan almal wat in sy huis was. En hy het hulle in dieselfde uur van die nag geneem en hulle wonde gewas; en is dadelik gedoop, hy en al syne. En nadat hy hulle in sy huis ingebring het, het hy hulle voedsel voorgesit en hom verheug deurdat hy met sy hele huis in God geglo het. En toe dit dag geword het, het die magistrate die dienaars gestuur om te sê: Laat daardie manne gaan. En die bewaarder van die gevangenis het hierdie woord aan Paulus vertel: Die magistrate het gestuur om jou te laat gaan; trek dan nou weg en gaan in vrede. Maar Paulus sê vir hulle: Hulle het ons, wat Romeine is, openlik onveroordeeld geslaan en ons in die gevangenis gewerp; en nou stoot hulle ons in die geheim uit? nee voorwaar; maar laat hulle self kom en ons gaan haal. En die dienaars het hierdie woorde aan die magistrate vertel, en hulle was bevrees toe hulle hoor dat hulle Romeine was. En hulle het gekom en hulle gesmeek en hulle uitgelei en gevra dat hulle uit die stad moes vertrek. En hulle het uit die gevangenis uitgegaan en in die huis van Lídia ingegaan; en toe hulle die broers sien, het hulle hulle getroos en weggegaan.

HANDELINGE 16:1-40 Die Boodskap (DB)

Paulus het ook weer ’n draai in Derbe en Listra gaan maak. Daar het hy vir Timoteus raakgeloop, ’n Christen met ’n Joodse ma en ’n Griekse pa. Sy ma het saam met hom die Here gedien. Die gelowiges in Listra en Ikonium kon nie uitgepraat raak oor Timoteus se liefde vir die Here nie. Paulus het toe besluit om Timoteus saam met hom te vat om sendingwerk te gaan doen. Maar hy het Timoteus eers besny om seker te maak dat die Jode hom nie van die staanspoor af sou verwerp nie. Baie van hulle het geweet dat hy ’n Griekse pa het. Daarom sou hulle hom nooit toelaat om met hulle in hulle sinagoges oor Jesus te praat as hy nie besny was nie. Daarna het Paulus en Timoteus by ’n paar gemeentes gaan besoek aflê. Oral het hulle vir die gelowiges vertel van die besluite wat die kerkleiers in Jerusalem geneem het oor daardie voorskrifte wat al die gelowiges moes gehoorsaam. Paulus het hierdie besoeke gebruik om die Christene se geloof te versterk. Baie mense het ook tot bekering gekom sodat die kerk oral uitgebrei het. Paulus-hulle het deur die landstreke van Frigië en Galasië gereis. Hulle wou van daar af in ’n westelike rigting na die Romeinse provinsie Asië toe gaan om daar te gaan preek. Die Heilige Gees wou hulle egter nie toelaat om dit te doen nie. Hulle het toe van roete verander en na Misië toe gegaan. Van daar af wou hulle dan na Bitinië reis. Maar weer ’n keer het Jesus hulle deur sy Gees gekeer om soontoe te gaan. Toe het hulle deur Misië na Troas toe gereis. In Troas het Paulus een nag ’n visioen gesien. Hy het gesien hoe ’n man uit Masedonië, daar in die noorde van Griekeland, voor hom kom staan en by hom pleit: “Kom dadelik na ons toe. Kom help ons!” Na hierdie droom het Paulus presies geweet wat om te doen. Hy het vir ons almal wat saam met hom was, gesê om dadelik gereed te maak om Masedonië toe te gaan. Paulus was nou oortuig dat God ons almal geroep het om die goeie nuus vir daardie mense te gaan vertel. Ons het die eerste skip geneem wat na Samotrake gevaar het. Van daar af het ons die volgende dag tot in Neapolis gereis. Toe ons daar aankom, het ons dadelik koers gekies die binneland in. Ons bestemming was die stad Filippi, ’n belangrike Romeinse kolonie in Masedonië. Ons sou ’n paar dae daar oorbly. Op die sabbatdag het ons na ’n rivier net buite die stad gestap. Ons het gehoor dat mense gewoonlik daar bymekaargekom het om te bid. Ons het daar gaan sit en begin gesels met ’n paar van die vroue wat daar was. Een van die vroue, Lidia, wat uit die stad Tiatira afkomstig was en wat duur pers materiaal verkoop het, het vroeër al die Joodse geloof aangeneem. Sy het aandagtig gesit en luister na wat Paulus gesê het. Die Here het Lidia aangeraak sodat sy die goeie nuus oor Jesus gelowig aanvaar het. Daarna is sy gedoop, en ook almal wat in haar huis gebly het. Sy het ons toe uitgenooi om by haar te kom oorbly. “As julle regtig oortuig is dat ek nou ook in die Here glo, moet julle eenvoudig in my huis kom oorbly,” het sy gesê. Lidia het ons toe met hierdie woorde oorgehaal om by haar te kom bly. Toe ons op ’n dag weer op pad was na die plek waar ons gebid het, het ons ’n slavin raakgeloop. Sy het ’n bose gees in haar gehad wat haar in staat gestel het om ander se toekoms te voorspel. Haar eienaars het baie geld uit haar gemaak. Toe sy vir Paulus sien, het sy agter hom begin aanloop. Sy het heeltyd uitgeroep: “Hierdie mense dien die allerhoogste God.” Dit het ’n paar dae so aangehou, totdat Paulus hom vererg het. Op ’n dag het hy omgedraai en die gees wat in haar was kwaai aangespreek: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit hierdie meisie uit!” In ’n oogwink het dit gebeur. Toe die eienaars van die slavin agterkom dat sy nie meer in staat was om ander se fortuin te vertel nie en dat al hulle wins daarmee heen was, was hulle woedend. Hulle het op Paulus en Silas afgestorm, hulle gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die hoofamptenare van die stad. Dié het Paulus en Silas gearresteer en na die hooflanddroste toe gebring. Die klag teen hulle was kort en kragtig: “Hierdie Jode versteur die rus in ons stad.Hulle leringe is in stryd met ons Romeinse wet en tradisie.” Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om hulle behoorlik op te pas. Hy het hulle in die sel reg in die middel van die tronk opgesluit. Boonop het hy swaar boeie om hulle voete vasgemaak. Teen middernag het Paulus en Silas tot God begin bid. Hulle het ook lofliedere tot sy eer gesing. Die ander gevangenes was verstom hieroor. Doodstil het almal na hulle geluister. Toe, uit die bloute, het ’n groot aardbewing die tronk geruk. Dit was so erg dat die seldeure oopgegaan en al die boeie van die gevangenes afgeval het. Die hoof van die tronk het ook wakker geword van die aardskudding. Toe hy sien dat al die seldeure oopstaan, het hy gedink dat die gevangenes ontsnap het. Dadelik het hy sy swaard uitgepluk om homself dood te maak. Maar Paulus het dit gesien en hard vir hom geskree: “Stop! Moenie dit doen nie! Ons almal is nog hier in die tronk.” Dadelik het die hoof van die tronk ’n fakkel by een van die wagte gevat en binnetoe gehardloop. Toe hy by Paulus en Silas kom, het hy bang voor hulle neergeval. Toe het hy hulle buitetoe gevat. “Menere, sê asseblief vir my wat ek moet doen om in die regte verhouding met God te kom,” het hy gepleit. “Glo in die Here Jesus,” het Paulus geantwoord. “Dan sal God jou red en as sy kind aanvaar.Hierdie goeie nuus geld vir jou en vir jou hele huisgesin.” Die hoof van die tronk het toe vir Paulus en Silas na sy huis toe gevat. Almal in die huis moes hoor wat hierdie twee mans oor die Here te sê gehad het. Later het die tronkbewaarder agtergekom dat Paulus en Silas se wonde nog nie skoongemaak is nie. Hy het hulle gou-gou buitetoe gevat om dit te doen. Daarna is hy en sy hele huisgesin ook gedoop. Toe het almal weer in die huis ingegaan en saamgeëet. Die hoof van die tronk en almal in sy huis was baie bly dat hulle nou ook in God geglo het. Intussen, teen dagbreek se kant, het die hooflanddroste ’n boodskap met ’n paar polisiemanne na die tronk toe gestuur. “Laat daardie mans dadelik los!” was hulle opdrag aan die hoof van die tronk. Hy het toe vir Paulus en Silas hierdie nuus gaan meedeel: “Die hooflanddroste het laat weet dat julle vrygelaat moet word. Gaan in vrede.” “O nee, hulle het ons in die openbaar laat slaan sonder enige verhoor. Boonop het hulle ons, wat wetsgehoorsame Romeinse burgers is, in die tronk gegooi,” het Paulus geantwoord. “Nou wil hulle ons stilletjies loslaat. Nee, ons sit in die tronk totdat hulle ons om verskoning kom vra en ons hier uitlei.” Toe die hooflanddroste hoor wat Paulus gesê het, het hulle hulle yskoud geskrik. Hulle het nie besef dat Paulus en Silas Romeinse burgers was nie. Daarom is hulle haastig na die tronk toe om hulle om verskoning te gaan vra. Hulle het vir Paulus en Silas uit die tronk gelei en hulle mooi gevra om die stad te verlaat. Hulle twee het eers na Lidia se huis toe gegaan om van al die gelowiges afskeid te neem. Paulus en Silas het hulle nuwe broers en susters in die Here aangemoedig om te volhard op die pad van die Here. Toe het hulle vertrek.

HANDELINGE 16:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus het na Derbe gegaan en toe na Listra. Dáár het hulle Timoteus ontmoet, ’n gelowige; sy ma was ’n Jodin, ’n gelowige, en sy pa ’n Griek. Daar was van die kant van die gelowiges in Listra en Ikonium goeie getuienis oor Timoteus. Paulus wou hom by sy vertrek saamneem. Met die oog op die Jode in daardie gebied het hy Timoteus toe besny. Almal het immers geweet sy pa is ’n Griek. Soos hulle die stede deurreis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra om daarvolgens te leef. So is die gemeentes in hulle geloof versterk, en die aantal gelowiges het by die dag meer geword. Hulle het daarna deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe. Daar het Paulus in die nag ’n visioen gehad. Hy het ’n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig. Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na die eiland Samotrake, en is die volgende dag Neapolis toe. Daarvandaan is ons Filippi toe, die hoofstad van daardie deel van Masedonië, self ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n tydjie gebly. Op die Sabbatdag is ons na die rivier buite die stadspoort, waar ons gereken het daar ’n Joodse bidplek sou wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ’n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap. Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.” En sy het aangehou tot ons ingestem het. Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ’n slavin met ’n waarsêersgees ons raakgeloop. Deur haar waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld ingebring. Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle die pad na verlossing.” Sy het dit vir baie dae gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” Die gees het oombliklik uit haar uitgegaan. Toe haar eienaars sien dat hulle vooruitsig om geld te maak verdwyn het, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die leiers op die stadsplein gesleep. Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense maak moeilikheid in ons stad; hulle is Jode. Hulle leer vir ons gebruike wat ons, omdat ons Romeine is, nie kan aanvaar of navolg nie.” Die skare het toe ook teen hulle saamgestaan. Die stadsowerhede het hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan word. Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie. In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom! Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak. Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!” Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huishouding verkondig. Al was dit reeds baie laat in die nag, het hy Paulus en Silas se wonde versorg. Hy is toe daar en dan gedoop, en ook al sy mense. Toe bring hy hulle in sy huis in en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huishouding was baie bly omdat hulle nou in God geglo het. Toe dit dag word, het die stadsowerhede polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense vry!” Die tronkbewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die landdroste het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan dan nou vertrek; gaan in vrede.” Maar Paulus het geantwoord: “Ons is sonder dat ons skuldig bevind is, in die openbaar geslaan en in die tronk gestop – en dít terwyl ons Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons sommerso stilletjies ontslaan. Volstrek nie! Laat hulle ons self kom uitlei!” Die polisie het hierdie boodskap vir die stadsowerhede vertel, en hulle het groot geskrik toe hulle hoor Paulus en Silas is Romeinse burgers. Hulle het hulle om verskoning gevra, hulle uit die tronk gelei en hulle gevra om die stad te verlaat. Paulus en Silas is toe terug na Lidia se huis, en hulle het die gelowiges gesien en hulle bemoedig. Daarna het hulle vertrek.