HANDELINGE 15:7-9
HANDELINGE 15:7-9 Bybel vir almal (ABA)
Nadat hulle baie met mekaar hieroor gestry het, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Vriende, julle weet dat God lank gelede vir my gekies het om die goeie boodskap te bring sodat die heidene dit kan hoor en kan begin glo in die Here. God weet hoe 'n mens se hart regtig is. God het vir die heidene wat begin glo het, die Heilige Gees gegee, soos Hy voorheen die Heilige Gees ook vir ons gegee het. So het God vir die mense gewys dat dit Hý is wat werk. God het ook nie gedink dat die heidene anders is as ons wat Jode is nie, want Hy het vir die heidene rein gemaak omdat hulle in Christus glo.
HANDELINGE 15:7-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe daar 'n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof.
HANDELINGE 15:7-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Na 'n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.
HANDELINGE 15:7-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe 'n hewige woordestryd ontstaan, het •Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my al van die vroeë dae af onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. En God, die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het. Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur die geloof gereinig.
HANDELINGE 15:7-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe daar baie twis was, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Manne en broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons gekies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sou hoor, en glo. En God, wat die harte ken, het vir hulle getuig en aan hulle die Heilige Gees gegee, net soos Hy aan ons gedoen het; En maak geen verskil tussen ons en hulle nie, en reinig hulle harte deur die geloof.
HANDELINGE 15:7-9 Die Boodskap (DB)
By dié vergadering het die een persoon na die ander gesê hoe hy oor die besnydenis dink. Uiteindelik, na lang debatte, het Petrus opgestaan en gesê: “Broers, julle weet mos hoe God my ’n ruk gelede na mense toe gestuur het wat nie Jode is nie. Ek moes die goeie nuus oor Jesus aan hulle gaan vertel sodat hulle ook tot bekering kon kom. God, wat tot in ons binneste kan kyk, het gesien dat hulle regtig tot geloof gekom het. Daarom het Hy die Heilige Gees na hulle toe gestuur, net soos Hy vroeër met ons gedoen het. “God maak nie onderskeid tussen mense van verskillende volke nie. Hy trek niemand voor nie. Daarom het Hy ook daardie mense wat nie Jode is nie, nuut gemaak omdat hulle in Jesus glo.
HANDELINGE 15:7-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Geagte broers, julle weet dat God my van die vroeë dae af al uit julle geledere gekies het om deur my prediking die nie-Jode die Goeie Nuus te laat hoor en tot geloof te laat kom. En God, wat die harte ken, het bevestig dat die Goeie Nuus ook vir nie-Jode bedoel is deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan ons. Hy het dus geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.