HANDELINGE 13:21-23
HANDELINGE 13:21-23 Bybel vir almal (ABA)
En toe het die Israeliete 'n koning gevra, en God het Saul gegee om hulle koning te wees. Saul was die seun van Kis, 'n man uit die Benjamin-stam. Saul was 40 jaar lank koning. En nadat God vir Saul laat ophou het om koning te wees, het Hy vir Dawid gekies en aangestel om koning te wees oor die Israeliete. God het gesê: ‘ Ek het gesien dat Dawid, die seun van Isai, 'n man is wat lewe soos Ek wil hê. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’ God het vir Israel die Redder Jesus laat kom uit hierdie man se nageslag. Dit is wat God belowe het om te doen.
HANDELINGE 13:21-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En van toe af het hulle 'n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank. En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, 'n man na my hart, wat al my welbehae sal doen. Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek
HANDELINGE 13:21-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die Israeliete daarna 'n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer. Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai 'n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer.’ Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom.
HANDELINGE 13:21-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierna het hulle aangedring op 'n koning, en God het Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, vir veertig jaar aan hulle gegee. Nadat God hom as koning verwyder het, het Hy Dawid tot hulle koning gemaak. Oor hom het Hy soos volg getuig, ‘In Dawid, die seun van Isai, het Ek 'n man na my hart gevind, wat al my wilsbesluite sal uitvoer. ’ Uit hierdie man se nageslag het God vir Israel, in ooreenstemming met sy belofte, Jesus as Verlosser voortgebring.
HANDELINGE 13:21-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daarna het hulle 'n koning begeer, en God het aan hulle Saul, die seun van Cis, 'n man uit die stam van Benjamin, vir veertig jaar gegee. En nadat hy hom verwyder het, het hy vir hulle Dawid laat opstaan om hulle koning te wees; aan wie hy ook getuig en gesê het: Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, 'n man na my hart, wat al my wil sal vervul. Uit die nageslag van hierdie man het God volgens sy belofte vir Israel 'n Verlosser verwek, Jesus.
HANDELINGE 13:21-23 Die Boodskap (DB)
“In Samuel se tyd wou die volk ’n koning hê om oor hulle te regeer. God het Saul, die seun van Kis uit die stam van Benjamin, as koning aangestel. Hy het 40 jaar lank regeer. Nadat God hom van die toneel verwyder het, het Hy Dawid as die nuwe koning aangewys. God het van hom gesê: ‘Ek het oral gesoek totdat ek Dawid, Isai se seun, gekry het. Hy is iemand so reg na my hart. Hy sal alles doen wat Ek vir hom sê.’ “Uit Dawid se nageslag het God ’n Redder vir Israel laat voortkom. Sy naam is Jesus.
HANDELINGE 13:21-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe wou hulle ’n koning hê, en God het Saul, die seun van Kis, ’n man uit die stam Benjamin, vir 40 jaar aan hulle gegee. Nadat God hom verwyder het, het Hy Dawid vir hulle as koning voorsien. Van hom het God getuig: ‘Ek het Dawid, seun van Isai, gekry; hy is ’n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’ “Uit hierdie man se nageslag het God die beloofde Verlosser vir Israel, Jesus, laat voortkom!