HANDELINGE 13:1-52

HANDELINGE 13:1-52 Bybel vir almal (ABA)

Daar was profete en leermeesters in die gemeente in die stad Antiogië. Hulle was Barnabas en Simeon, Simeon se naam was ook Niger. Daar was ook Lucius van Sirene, Manaen wat grootgeword het saam met Herodes Antipas, wat oor 'n deel van Palestina regeer het, en ook Saulus. Terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Ek het vir Barnabas en Saulus gekies om werk vir My te doen, julle moet nou vir hulle aanstel om die werk te gaan doen.” Nadat die gemeente gevas en gebid het en hulle hande op Barnabas en Saulus gesit het, het die gemeente hulle gestuur om die werk te gaan doen. Toe die Heilige Gees vir Barnabas en Saulus gestuur het om te gaan preek, het hulle na die hawestad Seleukië gegaan en van daar het hulle met 'n skip na die eiland Siprus geseil. Toe hulle in die stad Salamis kom, het hulle aangehou om vir die mense die boodskap van God te bring in die sinagoges van die Jode. Johannes was ook by Barnabas en Saulus om hulle te help. Hulle het deur die hele eiland gegaan tot by die stad Pafos. Daar het hulle 'n man ontmoet, sy naam was Barjesus. Hy was 'n Joodse towenaar en 'n vals profeet. Barjesus was daar by die goewerneur, Sergius Paulus. Sergius Paulus was 'n verstandige man. Die goewerneur het toe vir Barnabas en Saulus laat roep omdat hy baie graag die boodskap oor God wou hoor. In die Griekse taal was die towenaar se naam Elimas. Hy het vir Barnabas en Saulus probeer keer omdat hy nie wou hê dat die goewerneur in Jesus moet glo nie. Maar die Heilige Gees was in Saulus, Saulus se ander naam was Paulus. Hy het reguit na Elimas gekyk. Paulus het vir hom gesê: “Jy is 'n kind van die duiwel. Jy bedrieg mense en jy doen net verkeerde dinge. Jy is 'n vyand van alles wat reg is, jy moet ophou om die reguit paaie van die Here krom te maak. Die Here sal nou teen jou wees en jy sal blind wees en jy sal 'n tyd lank nie die son kan sien nie.” Elimas het toe dadelik gedink dat dit donker geword het, soos onder 'n wolk, en hy het aangehou soek na mense wat sy hand kan neem om hom te lei. Toe die goewerneur sien wat gebeur het, het hy in Jesus geglo, en hy was baie verbaas oor wat die mense oor die Here geleer het. Paulus en sy vriende het met 'n skip weggeseil van die hawe van Pafos en hulle het aangekom by die stad Perge in die provinsie Pamfilië. Johannes het daar weggegaan van hulle en hy het teruggegaan na Jerusalem. Maar Paulus en die ander vriende het van Perge verder gegaan na die stad Antiogië in die provinsie Pisidië. Op die Sabbatdag het hulle in die sinagoge ingegaan en gaan sit. Nadat iemand 'n deel uit die Wette van Moses en 'n deel uit die boeke van die profete gelees het, het die leiers van die sinagoge iemand na Paulus en sy vriende toe gestuur om vir hulle te sê: “Vriende, as iemand van julle iets wil sê om die volk te bemoedig, dan moet julle nou praat.” Paulus het toe opgestaan en hy het met sy hand gewys dat hulle moet stilbly. Hy het gesê: “Israeliete, en julle ander wat vir God respekteer, julle moet luister na wat ek sê. Die God van hierdie volk Israel het ons voorouers gekies, en toe hulle vreemdelinge in die land Egipte was, het Hy die volk baie meer laat word. Hy het gewys hoe sterk Hy is en Hy het die volk Israel uitgelei uit Egipte. God was omtrent 40 jaar lank baie geduldig met hulle in die woestyn. Toe het God sewe volke in die land Kanaän verwoes en Hy het die land vir die Israeliete gegee om hulle land te wees, omtrent 450 jaar lank. En toe het God leiers gegee om oor hulle te regeer totdat Samuel, die profeet gekom het. En toe het die Israeliete 'n koning gevra, en God het Saul gegee om hulle koning te wees. Saul was die seun van Kis, 'n man uit die Benjamin-stam. Saul was 40 jaar lank koning. En nadat God vir Saul laat ophou het om koning te wees, het Hy vir Dawid gekies en aangestel om koning te wees oor die Israeliete. God het gesê: ‘ Ek het gesien dat Dawid, die seun van Isai, 'n man is wat lewe soos Ek wil hê. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’ God het vir Israel die Redder Jesus laat kom uit hierdie man se nageslag. Dit is wat God belowe het om te doen. Voordat Jesus met sy werk begin het, het Johannes vir die hele volk Israel gepreek. Johannes het gesê die mense moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. En toe Johannes aan die einde van sy werk gekom het, het hy baie maal gesê: ‘Wie dink julle is ek? Julle dink ek is die Een wat sal kom, soos God belowe het, maar ek is nie. Later sal daar Iemand kom, en ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.’ “Vriende, julle wat die nageslag van Abraham is, en julle ander wat vir God respekteer, God het vir ons hierdie boodskap gestuur dat Hy ons red. Want die mense wat in Jerusalem woon en hulle leiers wou nie glo dat Jesus die Redder is nie. Toe hulle vir Jesus ge-oordeel het, het hulle die woorde waar laat word wat die profete gesê het. Die Jode lees dit elke Sabbatdag in die boeke van die profete. Hierdie mense van Jerusalem en hulle leiers wou vir Jesus laat doodmaak, maar hulle kon nie sê hoekom hulle dit wou doen nie. Hulle het toe vir Pilatus gevra om te sê dat die soldate vir Jesus moet doodmaak. En nadat die Jode en hulle leiers alles gedoen het wat daar in die Ou Testament geskryf is oor Jesus, het vriende van Jesus Hom afgehaal van die kruis en hulle het Hom begrawe. Maar God het vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe. Jesus het in 'n lang tyd verskillende male verskyn aan die mense wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou Jesus se getuies by die volk. En óns bring vir julle die goeie boodskap oor die dinge wat God vir ons voorouers belowe het. God het nou gedoen wat Hy belowe het, Hy het dit gedoen vir ons wat die nageslag van ons voorouers is. Hy het dit gedoen toe Hy vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe het, soos daar in die tweede Psalm geskryf is: “ Jy is my Seun, Ek is van vandag af jou Vader. “Ons wil ook vir julle die goeie boodskap bring dat God vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe het en dat Jesus nie weer sal sterf nie. God het dit so in die Ou Testament gesê: “ Ek sal vir julle die dinge gee wat Ek vir Dawid belowe het, en julle moet weet dat die dinge wat Ek belowe het, waar is. “Daarom sê Dawid ook in 'n ander Psalm: “ Ek is aan U gewy, U sal my nie laat sterf nie. “Dawid het sy mense gedien soos God besluit het, en toe het hy gesterf. Hulle het vir Dawid begrawe by sy voorvaders en daar het niks van hom oorgebly nie, sy liggaam het stof geword. Maar God het vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe, en sy liggaam het nie stof geword nie. Vriende, Jesus het dit alles gedoen, en daarom moet julle weet dat ons vir julle kan preek dat God sondes vergewe. Die Wette van Moses kon julle nie vryspreek nie, maar God vergewe ook al hierdie sondes. En God spreek elkeen vry wat in Jesus glo. Julle moet nou oppas dat die dinge wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie. Hulle het gesê: “ Julle wat dink dat die Here nie belangrik is nie, julle moet kyk na wat sal gebeur, julle moet verbaas wees en verdwyn want Ék sal nou iets doen, iets wat julle nie sal glo wanneer iemand dit vir julle vertel nie.” Terwyl Paulus en Barnabas uit die sinagoge gegaan het, het die mense hulle gevra om op die volgende Sabbatdag weer oor hierdie dinge te praat. En toe die vergadering in die sinagoge klaar was, het baie van die Jode en die ander mense saam met Paulus en Barnabas gegaan. Die ander mense het vir God gerespekteer omdat hulle die Jode se godsdiens aanvaar het. En Paulus en Barnabas het met hulle gepraat en vir hulle gesê hulle moet aanhou om te glo in die boodskap van God se genade. Die volgende Sabbatdag het amper al die mense in die stad saamgekom om te luister na die boodskap van die Here. Toe die Jode die baie mense sien, was hulle baie jaloers. Hulle het sleg gepraat van Paulus en hulle het elke maal met hom gestry oor die dinge wat hy gesê het. Maar Paulus en Barnabas was nie bang nie en hulle het gesê: “Dit was reg dat ons eers vir júlle die boodskap van God moes bring. Maar omdat julle dit nie glo nie, wys julle dat julle nie goed genoeg is om die ewige lewe te kry nie. Daarom gaan ons nou na die heidene. Want die Here het hierdie woorde vir ons gesê: “ Ek het jou gekies en aangestel om 'n lig te wees vir die ander volke, en jy moet vir hulle vertel dat Ek al die mense op die aarde wil red.” Toe die heidene hoor wat Paulus en Barnabas gesê het, was hulle baie bly en hulle het die Here geprys oor sy boodskap vir hulle. Die Here het mense gekies om die ewige lewe te kry, en al daardie mense het begin glo. Meer en meer mense rondom die stad Antiogië in Pisidië het die boodskap van die Here gehoor. Maar die Jode het gepraat met die belangrike vroue wat vir God respekteer, en met die belangrike mans in die stad. Die Jode het vir hulle gesê hulle moet téén Paulus en Barnabas wees. Ja, die Jode het begin om vir Paulus en Barnabas baie swaar te laat kry, en die Jode het hulle weggejaag van daardie plek. Paulus en Barnabas het die stof van hulle voete afgeskud om 'n teken te wees teen die Jode, en toe het hulle na die stad Ikonium gegaan. Die gelowiges het aangehou om bly te wees, en die Heilige Gees was in hulle.

HANDELINGE 13:1-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig; en hulle het ook Johannes as helper gehad. En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en 'n towenaar gevind, 'n valse profeet, 'n Jood met die naam van Bar-Jesus. Hy was by die goewerneur Sérgius Paulus, 'n verstandige man. Dié het Bárnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor. Maar Élimas die towenaar — want so word sy naam vertaal — het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof. Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son 'n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei. Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo. EN Paulus en sy metgeselle het afgevaar van Pafos en by Perge in Pamfílië gekom. En Johannes het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer. Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit. En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle 'n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan! Toe staan Paulus op, wink met die hand en sê: Israeliete en julle wat God vrees, luister! Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle bywoners in Egipteland was, en met 'n hoë arm hulle daaruit gelei. En omtrent veertig jaar lank het Hy hulle in die woestyn verdra. En sewe nasies het Hy in die land Kanaän uitgeroei en hulle land deur die lot aan hulle uitgedeel. En daarna omtrent vierhonderd-en-vyftig jaar lank het Hy rigters gegee tot op Samuel, die profeet. En van toe af het hulle 'n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank. En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, 'n man na my hart, wat al my welbehae sal doen. Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek, nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het. En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie. Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word. En al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie, tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word. En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dode opgewek. En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galiléa na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk. En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. En dat Hy Hom opgewek het uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie, het Hy só gespreek: Ek sal aan julle gee die heilige weldade van Dawid wat betroubaar is. Daarom sê Hy ook op 'n ander plek: U sal u Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie. Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien, maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie. Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie. Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie: Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie. En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word. En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly. En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor. Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is. Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie — kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U 'n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe. En die woord van die Here is deur die hele land verbrei. Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas 'n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf. Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan. En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.

HANDELINGE 13:1-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. Toe hulle op 'n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.” Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan. So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hulle het na Seleukië toe gegaan en daarvandaan na Siprus toe oorgevaar en in Salamis aangekom. Daar het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes by hulle gehad om hulle te help. Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle 'n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy 'n profeet is. Hy was by die goewerneur, Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die goewerneur het vir Barnabas en Saulus laat roep, want hy wou graag die woord van God hoor. Die towenaar, Elimas, soos hy in Grieks genoem is, het hulle egter teëgestaan omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo. Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son 'n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei. Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword. Paulus en sy reisgenote het met 'n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan. Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom. Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir die volk 'n woord van bemoediging het, praat maar.” Paulus het opgestaan, met 'n handbeweging aandag gevra en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister! Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle 'n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het. Hy het hulle deur sy groot mag daarvandaan uitgelei en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra. Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee. Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar lank geduur. “Daarna het Hy rigters oor die land laat regeer tot die tyd van die profeet Samuel. Toe die Israeliete daarna 'n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer. Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai 'n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer.’ Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom. Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop. En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.’ “Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur. Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan. En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring. Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. Maar God het Hom uit die dood opgewek. Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. “En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe: “Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee. “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: “Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het. “Daarom sê God ook op 'n ander plek: “U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. “En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders begrawe, en sy liggaam het vergaan. Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek. “Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie. Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie: “Kyk, julle verag God! Julle sal verstom staan en te gronde gaan, want in julle tyd doen Ek iets wat julle beslis nie sal glo as iemand dit vir julle vertel nie! ” Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel. Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou. Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, want so lui die Here se opdrag aan ons: “Ek het U gegee as 'n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde. ” Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan. Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.

HANDELINGE 13:1-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die plaaslike •gemeente in Antiogië was daar profete en leermeesters, onder andere Barnabas, Simeon bekend as Niger, Lucius van Sirene, Manaen, 'n jeugvriend van Herodes die tetrarg, en Saulus. Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur. So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees gestuur, en hulle het afgereis na Seleukië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. Toe hulle in Salamis aankom, het hulle die woord van God in die Joodse •sinagoges verkondig, met Johannes as hulle helper. Hulle het deur die hele eiland gereis tot in Pafos, waar hulle 'n sekere Joodse towenaar aangetref het, 'n vals profeet met die naam Barjesus. Hy was die metgesel van die prokonsul Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die prokonsul het Barnabas en Saulus laat roep, omdat hy graag die woord van God wou hoor. Maar die towenaar Elimas – want so word die naam Barjesus vertaal – het hulle teengestaan, omdat hy die prokonsul van die geloof wou weghou. Maar Saulus, oftewel Paulus, het hom stip aangekyk en, vervul met die Heilige Gees, gesê: “O, kind van die Duiwel, vyand van alle •geregtigheid, en vol allerlei listighede en elke soort bedrog – sal jy nie ophou om die reguit paaie van die Here te verdraai nie? Maar kyk, nou gaan die hand van die Here jou tref en jy sal 'n ruk lank blind wees en die son nie sien nie.” Onmiddellik het 'n mistigheid en duisternis hom oorval en hy het rondgestrompel en mense gesoek om hom aan die hand te lei. Toe die prokonsul sien wat gebeur het, het hy, verstom oor die leer van die Here, gelowig geword. Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en Perge in Pamfilië bereik. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer. Hulle het van Perge verder gegaan en by Antiogië in Pisidië aangekom, en op die Sabbat die •sinagoge binnegegaan en gaan sit. Ná die voorlesing van die Wet en die Profete, het die leiers van die sinagoge 'n boodskap na hulle gestuur met die woorde: “Broers, as julle 'n woord van bemoediging vir die volk het, sê dit!” Paulus het opgestaan, 'n handgebaar gemaak en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister! Die God van hierdie volk Israel het ons voorouers uitverkies, en het hulle tydens hulle verblyf as •vreemdelinge in Egipteland tot 'n volk verhef, hulle met 'n uitgestrekte arm daar uitgelei, en hulle ongeveer veertig jaar lank in die woestyn verduur. In die land Kanaän het Hy sewe nasies uitgedelg en hulle land as erfdeel aan ons voorouers gegee. Dit het ongeveer vierhonderd-en-vyftig jaar geduur. En daarna het Hy rigters gegee, tot by die profeet Samuel. Hierna het hulle aangedring op 'n koning, en God het Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, vir veertig jaar aan hulle gegee. Nadat God hom as koning verwyder het, het Hy Dawid tot hulle koning gemaak. Oor hom het Hy soos volg getuig, ‘In Dawid, die seun van Isai, het Ek 'n man na my hart gevind, wat al my wilsbesluite sal uitvoer. ’ Uit hierdie man se nageslag het God vir Israel, in ooreenstemming met sy belofte, Jesus as Verlosser voortgebring. Voor Jesus se openbare optrede het Johannes aan die hele volk Israel die doop van bekering verkondig. Toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê, ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie! Maar kyk, ná my kom iemand wie se sandale ek nie werd is om van sy voete los te maak nie. ’ “Broers, kinders van Abraham se geslag, en die godvresendes onder julle, aan ons is die boodskap van hierdie verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het Hom nie herken nie; en deur Hom te veroordeel, het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag gelees word, in vervulling laat gaan. Alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon vind nie, het hulle tog by •Pilatus daarop aangedring dat Hy tereggestel word. Toe hulle alles uitgevoer het wat oor Hom geskryf staan, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dood opgewek. In die loop van baie dae het Hy verskyn aan hulle wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gereis het en wat nou as sy getuies teenoor die volk optree. En ons verkondig aan julle die goeie boodskap dat God die belofte wat aan die voorvaders gemaak is, vir ons, hulle kinders, vervul het deurdat Hy Jesus laat opstaan het, soos daar in die tweede psalm geskryf staan: “ ‘Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.’ “En omdat Hy Hom uit die dood sou opwek, sodat Hy nooit weer na ontbinding terugkeer nie, het Hy soos volg gesê: “ ‘Ek sal aan julle die heilige en betroubare beloftes van Dawid gee.’ “Daarom sê Hy ook in 'n ander psalm: “ ‘U sal u Heilige nie ontbinding laat beleef nie.’ “Want Dawid het, nadat hy sy eie geslag volgens God se raadsbesluit gedien het, gesterf, en is by sy voorvaders begrawe – en hy het ontbinding beleef; maar Hy vir wie God opgewek het, het nie ontbinding beleef nie. Julle moet dus weet, broers, dat dit deur hierdie Man is dat die vergewing van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die •Wet van Moses nie geregverdig kon word nie. Sorg dat wat in die Profete gesê is, nie met julle gebeur nie: “ ‘Kyk, julle spotters, staan verstom en gaan ten gronde! Want in julle tyd doen Ek iets, 'n daad wat julle beslis nie sal glo as iemand dit vir julle vertel nie.’ ” Toe Paulus en Barnabas buite kom, het die mense gesmeek dat hierdie dinge op die volgende Sabbat ook aan hulle vertel word. Toe die sinagoge verdaag het, het baie van die Jode en die godsdienstige proseliete Paulus en Barnabas gevolg, wat met hulle gepraat en hulle oortuig het om in die genade van God te bly leef. Die volgende Sabbat het byna die hele stad byeengekom om die woord van die Here te hoor. Toe die Jode die skare sien, is hulle vervul met naywer, en het hulle dit wat Paulus gesê het, teengestaan en belaster. Maar Paulus en Barnabas het prontuit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar aangesien julle dit verwerp en julleself nie die ewige lewe werd ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidennasies. Want so het die Here dit aan ons opgedra: “ ‘Ek het jou aangewys as 'n lig vir die nasies, sodat jy verlossing kan bring tot aan die uiteindes van die aarde.’ ” Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur die hele landstreek versprei. Die Jode het egter die godsdienstige vroue uit die vooraanstaande kringe en ook die leiers van die stad aangehits, en hulle het 'n vervolging teen Paulus en Barnabas ontketen en hulle uit hulle gebied verdryf. Hulle het toe die stof van hulle voete afgeskud as getuienis teen die stad en na Ikonium vertrek. Die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.

HANDELINGE 13:1-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Nou was daar in die gemeente wat in Antiogië was sekere profete en leraars; soos Barnabas en Simeon wat Niger genoem word, en Lucius van Cirene en Manaen wat by Herodes die viervors grootgemaak is, en Saul. Terwyl hulle die Here dien en vas, het die Heilige Gees gesê: Skei Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het. En nadat hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, het hulle hulle weggestuur. Hulle het toe, uitgestuur deur die Heilige Gees, na Seleucia vertrek; en daarvandaan het hulle na Ciprus gevaar. En toe hulle in Salamis was, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig; en hulle het ook Johannes as hul bedienaar gehad. En toe hulle deur die eiland gegaan het tot by Pafos, het hulle 'n sekere towenaar, 'n valse profeet, 'n Jood gevind met die naam van Barjesus. Hy was saam met die adjunk van die land, Sergius Paulus, 'n verstandige man; wat Barnabas en Saul geroep het en die woord van God wou hoor. Maar Elimas, die towenaar (want so is sy naam deur uitlegging) het hulle teëgestaan en probeer om die plaasvervanger van die geloof af te keer. Toe het Saulus, (wat ook Paulus genoem word), vervul met die Heilige Gees, sy oë op hom gerig, en gesê: O vol van alle listigheid en alle onheil, kind van die duiwel, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die regte weë van die Here te verdraai nie? En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en vir 'n tyd lank nie die son sien nie. En dadelik het 'n mis en 'n duisternis op Hom geval; en hy het rondgegaan en sommige gesoek om hom aan die hand te lei. Toe die plaasvervanger toe hy sien wat gebeur het, het hy geglo, verbaas oor die leer van die Here. En toe Paulus en sy geselskap van Pafos losgemaak het, het hulle by Perge in Pamfilië aangekom; en Johannes het van hulle af weggegaan en na Jerusalem teruggekeer. Maar toe hulle van Perge af vertrek het, het hulle in Antiogië in Pisidië gekom en op die sabbatdag in die sinagoge ingegaan en gaan sit. En ná die voorlesing van die wet en die profete het die owerstes van die sinagoge na hulle gestuur om te sê: Manne en broeders, as julle 'n woord van vermaning vir die volk het, sê verder. Toe staan Paulus op en wink met sy hand en sê: Manne van Israel en julle wat God vrees, luister. Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle as vreemdelinge in Egipteland gewoon het, en Hy het hulle met 'n hoë arm daaruit uitgelei. En omtrent die tyd van veertig jaar het Hy hulle maniere in die woestyn toegelaat. En nadat hy sewe nasies in die land Kanaän vernietig het, het hy hulle land deur die lot aan hulle verdeel. En daarna het hy aan hulle regters gegee omtrent vierhonderd-en-vyftig jaar lank tot by die profeet Samuel. En daarna het hulle 'n koning begeer, en God het aan hulle Saul, die seun van Cis, 'n man uit die stam van Benjamin, vir veertig jaar gegee. En nadat hy hom verwyder het, het hy vir hulle Dawid laat opstaan om hulle koning te wees; aan wie hy ook getuig en gesê het: Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, 'n man na my hart, wat al my wil sal vervul. Uit die nageslag van hierdie man het God volgens sy belofte vir Israel 'n Verlosser verwek, Jesus. Toe Johannes eers voor sy koms die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het. En toe Johannes sy weg voltooi het, sê hy: Wie dink julle is Ek? Ek is nie hy nie. Maar kyk, daar kom een agter my aan wie se skoene van sy voete ek nie waardig is om los te maak nie. Manne en broeders, kinders van die geslag van Abraham, en elkeen onder julle wat God vrees, aan julle is die woord van hierdie verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes, omdat hulle Hom nie geken het nie, en ook nie die stemme van die profete wat elke sabbatdag gelees word nie, hulle het dit vervul deur Hom te veroordeel. En al het hulle geen doodsoorsaak by Hom gevind nie, het hulle tog vir Pilatus gevra dat Hy gedood moes word. En nadat hulle alles vervul het wat van hom geskrywe is, het hulle hom van die boom afgehaal en in 'n graf neergelê. Maar God het hom uit die dood opgewek: En hy is baie dae lank gesien van die wat saam met Hom opgetrek het van Galiléa na Jerusalem, wat sy getuies vir die volk is. En ons verkondig aan julle die blye boodskap dat die belofte wat aan die vaders gemaak is, God het dit aan ons, hulle kinders, vervul deurdat Hy Jesus weer opgewek het; soos ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. En aangaande dat Hy hom uit die dode opgewek het, om nou nie meer tot verderflikheid terug te keer nie, het hy op hierdie wyse gesê: Ek sal jou die vaste barmhartighede van Dawid gee. Daarom sê Hy ook in 'n ander psalm: U mag u Heilige nie toelaat om verderwing te sien nie. Want Dawid het, nadat hy sy eie geslag deur die wil van God gedien het, aan die slaap geval en by sy vaders neergelê en verderwing gesien. Maar hy wat God weer opgewek het, het geen verderf gesien nie. Laat dit dan aan julle bekend wees, manne en broeders, dat deur hierdie man die vergewing van sondes aan julle verkondig word. En deur Hom word almal wat glo, geregverdig uit alle dinge waaruit julle nie geregverdig kon word deur die wet van Moses nie. Pas dan op dat dit nie oor julle kom waarvan daar deur die profete gespreek is nie; Kyk, julle veragters, en verwonder julle en vergaan, want Ek doen 'n werk in julle dae, 'n werk wat julle nooit sal glo nie, al sou iemand dit aan julle verkondig. En toe die Jode uit die sinagoge uitgegaan het, het die heidene gesmeek dat hierdie woorde die volgende sabbat aan hulle verkondig moes word. En toe die gemeente opgebreek is, het baie van die Jode en godsdienstige proseliete vir Paulus en Bárnabas gevolg, wat met hulle gepraat het en hulle oorreed het om in die genade van God te bly. En die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van God te hoor. Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met afguns vervul en het teen die dinge gespreek wat deur Paulus gespreek is, weerspreek en lasterlik. Toe het Paulus en Bárnabas vrymoedig geword en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God eers tot julle gespreek moes word; Want so het die Here ons beveel en gesê: Ek het jou gestel as 'n lig vir die heidene, sodat jy tot redding sou wees tot aan die eindes van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly en het die woord van die Here verheerlik; en almal wat tot die ewige lewe bestem was, het geglo. En die woord van die Here is in die hele land bekend gemaak. Maar die Jode het die vroom en eerbare vroue en die hoofmanne van die stad aangehits en vervolging teen Paulus en Bárnabas laat opkom en hulle uit hulle grondgebied verdryf. Maar hulle het die stof van hulle voete teen hulle afgeskud en by Ikonium gekom. En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.

HANDELINGE 13:1-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die gemeente in Antiogië was daar profete en leraars: Barnabas, Simeon met die noemnaam Niger, Lucius van Sirene, Manaen, wat saam met koning Herodes Antipas grootgeword het, en Saulus. ’n Keer toe hulle bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.” Ná nog vas en gebed is hulle die hande opgelê en het die gemeente hulle weggestuur. Deur die Heilige Gees uitgestuur, het Barnabas en Saulus na Seleukië toe afgegaan en daarvandaan na die eiland Siprus toe oorgevaar. In Salamis aangekom, het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes as helper gehad. Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle ’n Joodse towenaar teëgekom het, ’n vals profeet met die naam Barjesus. Hy was saam met die goewerneur, Sergius Paulus, wat ’n verstandige man was. Die goewerneur het Barnabas en Saulus genooi om die woord van God van hulle te hoor. Die towenaar Elimas (sy naam word só vertaal) het hulle egter teengestaan omdat hy die goewerneur wou weghou van die Christelike geloof. Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom stip aangekyk en gesê: “Duiwelskind! Jy loop oor van al wat skelmstreek en bedrogspul is! Vyand van alles wat reg is! Sal jy nooit ophou om die reguit paaie van die Here vol kronkels te maak nie? Nou is die strawwende hand van die Here op jou. Jy sal blind word en die son ’n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het hy net mistigheid en donkerte gesien, en hy het rondgetas en gesoek na iemand om sy gids te wees. Toe die goewerneur sien wat gebeur het, het hy gelowig geword, en hy was verstom oor die Christelike leer. Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en by Perge in Pamfilië vasgemeer. Daar het Johannes hulle verlaat en teruggegaan Jerusalem toe. Barnabas en Paulus het egter die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië aangekom. Op die Sabbatdag het hulle die sinagoge binnegegaan en gaan sit. Ná die gebruiklike voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir ons ’n woord van bemoediging het, kom praat!” Paulus het opgestaan en met ’n handbeweging aandag gevra en gesê: “Geagte Israeliete en julle ander wat vir die ware God ontsag het, luister. “Die God van hierdie volk Israel het ons voorgeslag uitgekies en hulle voorspoedig gemaak toe hulle in Egipte as uitlanders gewoon het. Hy het hulle kragtig daarvandaan uitgelei. Hy het hulle in die woestyn ongeveer 40 jaar lank geduldig verdra. Daarna het Hy sewe nasies in Kanaän uitgewis en hulle land as erfporsie aan die Israeliete gegee. Dit alles het ongeveer 450 jaar geneem. Daarna het Hy rigters voorsien tot die tyd van die profeet Samuel. Toe wou hulle ’n koning hê, en God het Saul, die seun van Kis, ’n man uit die stam Benjamin, vir 40 jaar aan hulle gegee. Nadat God hom verwyder het, het Hy Dawid vir hulle as koning voorsien. Van hom het God getuig: ‘Ek het Dawid, seun van Isai, gekry; hy is ’n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’ “Uit hierdie man se nageslag het God die beloofde Verlosser vir Israel, Jesus, laat voortkom! Voor sy koms het Johannes die bekeringsdoop aan die hele volk Israel verkondig. En toe Johannes aan die einde van sy bediening gekom het, het hy gesê: ‘Dink julle miskien ek is die Messias? Nee, ek is nie! Die Messias kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy sandale los te maak nie.’ “Geagte volksgenote, seuns uit die geslag van Abraham, en julle ander wat vir God ontsag het, aan óns het God die boodskap van hierdie verlossing gestuur! Die mense in Jerusalem en hulle leiers het die uitsprake van die profete in vervulling laat gaan deur Jesus tot die dood te veroordeel. Hulle het Hom nie herken nie en ook nie besef dat dit Hy is oor wie die profete geskryf het nie, al word dit elke Sabbatdag voorgelees. Hulle kon geen grond vir die doodvonnis kry nie, maar nogtans het hulle Pilatus gevra om Hom te laat doodmaak. “Nadat hulle alles gedoen het wat oor sy lyding in die Skrif geskryf staan, het hulle Hom van die kruis afgehaal en in ’n grafkamer neergelê. Maar God het Hom uit die dood opgewek! Jesus het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. “En nou verkondig ek en Barnabas hierdie Goeie Nuus aan julle: God het die belofte aan ons voorgeslagte waar laat word. Hy het dit vir ons, hulle nageslag, vervul deur Jesus te laat opstaan. So staan dit dan ook in die tweede psalm oor Jesus geskryf: ‘Jy is my Seun; Ék het jou vandag verwek.’ “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit tot niet gaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: ‘Ek sal vir julle die beloftes vervul wat Ek betroubaar aan Dawid toegesê het.’ “Daarom sê God ook elders: ‘U sal nie toelaat dat die Een wat aan U toegewy is tot niet gaan nie.’ Dit verwys nie na Dawid nie, want hy het tog gesterf nadat hy die mense van sy eie tyd gedien het soos God beskik het. Hy is by sy voorgeslagte begrawe, en sy liggaam hét tot niet gegaan. Nee, die verwysing is na Iemand anders: Hóm het God opgewek, sý liggaam het nie tot niet gegaan nie. “Daarom, geagte volksgenote, moet julle goed weet wat nou aan julle verkondig word: vergewing van sondes deur Jesus! Julle kon nie deur die wet van Moses God se vryspraak verkry nie, maar deur Jesus word elkeen wat glo, deur God vrygespreek. Pas dan op dat wat in die profete gesê is, nie op julle van toepassing word nie: ‘Sien dit tog raak, julle veragters! Staan verstom en gaan te gronde! Want in julle tyd doen Ek iets, iets wat julle beslis nie sal glo nie, selfs nie as iemand dit vir julle vertel nie.’” Terwyl Paulus en Barnabas die sinagoge verlaat, het die mense hulle gevra om die volgende Sabbatdag meer van dié dinge te vertel. Ná die sinagogediens het baie van die Jode en van die nie-Jode wat proseliete geword het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié twee het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou. Die volgende Sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om hulle die woord van die Here te hoor preek. Toe die Jode die skares sien, het hulle jaloers geword. Hulle het Paulus beledig en alles teengestaan wat hy gesê het. Paulus en Barnabas het toe reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, wend ons ons nou tot die nie-Jode. “Immers met hierdie woorde het die Here ons ’n opdrag gegee: ‘Ek het Jou gegee as ’n lig vir die nie-Joodse nasies sodat Jy verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.’” Toe die nie-Jode dit hoor, was hulle baie bly en hulle het die woord van die Here toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur daardie hele streek versprei. Maar die Jode het vooraanstaande vroue wat vir die ware God ontsag gehad het, asook toonaangewende burgers van die stad, opgesweep. Hulle het ’n betoging teen Paulus en Barnabas bewerk, en hulle uit die streek weggejaag. Hulle het toe, as protes teen die stad, die stof van hulle voete afgeskud en Ikonium toe gegaan. Die gelowiges was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.