HANDELINGE 13:1-3
HANDELINGE 13:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Daar was profete en leermeesters in die gemeente in die stad Antiogië. Hulle was Barnabas en Simeon, Simeon se naam was ook Niger. Daar was ook Lucius van Sirene, Manaen wat grootgeword het saam met Herodes Antipas, wat oor 'n deel van Palestina regeer het, en ook Saulus. Terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Ek het vir Barnabas en Saulus gekies om werk vir My te doen, julle moet nou vir hulle aanstel om die werk te gaan doen.” Nadat die gemeente gevas en gebid het en hulle hande op Barnabas en Saulus gesit het, het die gemeente hulle gestuur om die werk te gaan doen.
HANDELINGE 13:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan.
HANDELINGE 13:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. Toe hulle op 'n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.” Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.
HANDELINGE 13:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die plaaslike •gemeente in Antiogië was daar profete en leermeesters, onder andere Barnabas, Simeon bekend as Niger, Lucius van Sirene, Manaen, 'n jeugvriend van Herodes die tetrarg, en Saulus. Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur.
HANDELINGE 13:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou was daar in die gemeente wat in Antiogië was sekere profete en leraars; soos Barnabas en Simeon wat Niger genoem word, en Lucius van Cirene en Manaen wat by Herodes die viervors grootgemaak is, en Saul. Terwyl hulle die Here dien en vas, het die Heilige Gees gesê: Skei Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het. En nadat hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, het hulle hulle weggestuur.
HANDELINGE 13:1-3 Die Boodskap (DB)
Die gemeente in Antiogië het ’n klompie knap leiers gehad wat oor die gawe beskik het om God se wil bekend te maak. Barnabas, Simeon (hy is ook “swart Simeon” genoem), Lusius uit Sirene, Manaen, ’n stiefbroer van Herodes en ook Saulus het die gelowiges geleer hoe om tot God se eer te leef. Op ’n dag, terwyl hulle besig was om te vas en ernstig tot die Here te bid, het die Heilige Gees vir hulle kom sê: “Julle moet Barnabas en Saulus nou losmaak van hulle werk in die gemeente. Daar wag ’n nuwe taak op hulle.” Die gelowiges het toe klaar gevas en gebid en daarna het hulle hulle hande op Barnabas en Saulus gesit om hulle aan die Here op te dra. Daarop het die gelowiges van hulle afskeid geneem.
HANDELINGE 13:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die gemeente in Antiogië was daar profete en leraars: Barnabas, Simeon met die noemnaam Niger, Lucius van Sirene, Manaen, wat saam met koning Herodes Antipas grootgeword het, en Saulus. ’n Keer toe hulle bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.” Ná nog vas en gebed is hulle die hande opgelê en het die gemeente hulle weggestuur.