HANDELINGE 12:1-4
HANDELINGE 12:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie tyd het koning Herodes die hand geslaan aan sommige uit die •gemeente, om hulle leed aan te doen. Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard laat doodmaak. En toe hy sien dat dit by die Jode byval vind, het hy verder gegaan en ook vir •Petrus gevange laat neem. Dit was die tyd van die Fees van die Ongesuurde Brood. Nadat hy hom laat arresteer het, het hy hom in die tronk laat gooi en oorgegee aan vier afdelings van vier soldate elk, met die bedoeling om hom ná die Pasga voor die volk te bring.
HANDELINGE 12:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In dié tyd het koning Herodes Agrippa party van dié wat aan die kerk behoort, laat arresteer en hulle mishandel. Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met ’n swaard laat vermoor. Toe Herodes sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan deur ook Petrus tydens die Fees van die Ongesuurde Brood te laat arresteer. Hy het hom in die tronk gesit en deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodes wou hom ná Paasfees in die openbaar verhoor.
HANDELINGE 12:1-4 Bybel vir almal (ABA)
In daardie tyd het koning Herodes party van die gelowiges gevang en hy het slegte dinge aan hulle gedoen. Hy het Jakobus, die broer van Johannes, laat doodmaak met 'n swaard. Toe Herodes sien dat die Jode dink dit is goed, het hy ook vir Petrus laat vang. Dit alles het gebeur toe dit die tyd van die Fees van die Ongesuurde Brood was. Nadat Herodes vir Petrus laat vang het, het Herodes hom in die tronk laat gooi en hy het Petrus vir vier groepe soldate gegee. Daar was vier soldate in elke groep. Die soldate moes vir Petrus oppas. Herodes wou vir Petrus ná die Paasfees voor die volk bring om hom te oordeel.
HANDELINGE 12:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen. En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring. En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode. Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die paasfees voor die volk te bring.
HANDELINGE 12:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
In dié tyd het koning Herodes party van die gemeentelede laat vang en hulle mishandel. Hy het vir Jakobus die broer van Johannes met die swaard laat doodmaak. Toe Herodes sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan en ook vir Petrus gevange laat neem. Dit het tydens die fees van die ongesuurde brood gebeur. Nadat Herodes vir Petrus laat vang het, het hy hom in die tronk gesit en hom deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodes wou hom ná die paasfees voor die volk bring.
HANDELINGE 12:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande uitgesteek om sommige van die gemeente te pla. En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard doodgemaak. En omdat hy gesien het dat dit die Jode behaag het, het hy verder gegaan om Petrus ook te neem. (Toe was die dae van ongesuurde brode.) En nadat hy hom gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en hom aan vier kwartiere soldate oorgegee om hom te bewaar; met die bedoeling om hom na Paasfees na die volk uit te bring.
HANDELINGE 12:1-4 Die Boodskap (DB)
In daardie tyd het koning Herodes begin om die gelowiges in Jerusalem wreed te vervolg. Hy het selfs vir Jakobus, die broer van Johannes, laat doodmaak. Die godsdienstige leiers van die Jode was baie bly daaroor. Dit het Herodes aangespoor om ook vir Petrus te laat vang en in die tronk te gooi. Dit was gedurende die paastyd. Herodes wou doodseker maak dat Petrus nie uit die tronk ontsnap nie. Daarom het hy vier groepe van vier soldate elk aangestel om hom dag en nag op te pas. Sodra die paasfees verby was, wou Herodes vir Petrus in die openbaar verhoor.