HANDELINGE 11:15-17
HANDELINGE 11:15-17 Bybel vir almal (ABA)
“En toe ek begin praat, het die Heilige Gees in hulle gekom, soos die Gees in die begin ook in ons gekom het. Toe het ek die woorde van die Here onthou wat Hy gesê het: ‘Johannes het julle met water gedoop, maar Ek sal vir júlle doop met die Heilige Gees.’ Die mense het in die Here Jesus begin glo, soos ons in die Here Jesus begin glo het. Toe het God vir hulle die Heilige Gees gegee, soos God die Gees vir ons gegee het. Ja, God het dit gedoen, daarom kon ek nie vir God probeer keer nie.”
HANDELINGE 11:15-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?
HANDELINGE 11:15-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”
HANDELINGE 11:15-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En toe ek begin praat, het die Heilige Gees op hulle neergedaal, net soos aanvanklik ook op ons. Ek het egter die woord van die Here onthou, toe Hy gesê het, ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God sou verhinder?”
HANDELINGE 11:15-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe ek begin praat het, het die Heilige Gees op hulle geval, soos op ons in die begin. Toe het ek aan die woord van die Here gedink, hoe Hy gesê het: Johannes het wel met water gedoop; maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. Omdat God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons, wat in die Here Jesus Christus geglo het; wat was ek, dat ek God kon weerstaan?
HANDELINGE 11:15-17 Die Boodskap (DB)
“Ek het skaars met hulle oor die Here begin praat, toe kom die Heilige Gees oor hulle almal. Dit was net soos op pinksterdag toe die Heilige Gees oor ons hier in Jerusalem gekom het. “Hierdie gebeurtenis in Kornelius se huis het my laat dink aan die woorde van ons Here Jesus. Onthou julle hoe Hy vroeër vir ons gesê het: ‘Johannes doop julle wel met water, maar julle sal een van die dae met die Heilige Gees gedoop word’? “Nou vra ek julle: Wie is ek dan om in God se pad te staan? Hy het dieselfde hemelse Geskenk aan mense gegee wat nie Jode is nie as aan ons Jode wat in Jesus Christus glo. Hy is nou die Here oor ons almal se lewe.”
HANDELINGE 11:15-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek het net begin om die Goeie Nuus aan hulle te vertel, toe kom die Heilige Gees op hulle net soos op ons in die begin. Toe dink ek aan die woorde van die Here toe Hy gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar júlle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?”