HANDELINGE 11:1-30
HANDELINGE 11:1-30 Bybel vir almal (ABA)
Die apostels en die ander gelowiges in die provinsie Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die boodskap van God aanvaar het. En toe Petrus in Jerusalem gekom het, het party Joodse Christene met Petrus begin stry en gesê: “Jy het na mense toe gegaan wat nie besny is nie, en jy het saam met hulle geëet.” Toe het Petrus begin om vir hulle alles mooi te verduidelik. Hy het gesê: “Ek was besig om in die stad Joppe te bid, toe ek iets gesien het, soos in 'n droom. Ek het gesien dat iets soos 'n groot stuk lap uit die hemel afkom na my toe, en dit het gelyk of iemand die lap aan die vier hoeke vasgehou het. Toe ek goed kyk, het ek gesien in die lap is daar diere wat vier pote het en wat op die aarde bly, daar was ook wilde diere en diere wat kruip en voëls. En ek het gehoor dat Iemand vir my sê: ‘Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.’ Maar ek het geantwoord: ‘Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is of wat onrein is nie.’ Maar die Persoon het die tweede maal uit die hemel vir my gesê: ‘God het hierdie diere rein gemaak. Jý moenie sê dit is onrein nie.’ Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap met alles daarin opgetrek in die hemel in. En skielik het daar drie mans by die huis gestaan, die huis waarin ons was. Kornelius het hulle van Sesarea na my toe gestuur. En die Heilige Gees het vir my gesê om saam met hulle te gaan en nie te stry nie. Hierdie ses gelowiges van die stad Joppe het ook saam met my gegaan, en ons het in die huis van Kornelius ingegaan. Kornelius het vir ons vertel dat hy gesien het 'n engel staan in sy huis, en die engel het vir hom gesê: ‘Jy moet iemand na Joppe stuur en vir Simon vra om saam te kom hiernatoe. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Simon sal dinge vir jou vertel, en as jy daarna luister, dan sal God vir jou en vir almal in jou huis red.’ “En toe ek begin praat, het die Heilige Gees in hulle gekom, soos die Gees in die begin ook in ons gekom het. Toe het ek die woorde van die Here onthou wat Hy gesê het: ‘Johannes het julle met water gedoop, maar Ek sal vir júlle doop met die Heilige Gees.’ Die mense het in die Here Jesus begin glo, soos ons in die Here Jesus begin glo het. Toe het God vir hulle die Heilige Gees gegee, soos God die Gees vir ons gegee het. Ja, God het dit gedoen, daarom kon ek nie vir God probeer keer nie.” Toe die Joodse gelowiges hierdie dinge gehoor het, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “Dit is nou so: God het ook vir die heidene gehelp om te verander sodat hulle kan lewe soos God wil hê hulle moet lewe.” Nadat Stefanus gesterf het, het die Jode vir die gelowiges baie swaar laat kry en hulle het die gelowiges uit die land gejaag. Die gelowiges het deur die land gegaan, party het tot by die land Fenisië gegaan en ander het na die eiland Siprus en die stad Antiogië gegaan, en hulle het die boodskap van Christus net vir Jode gebring. Party van hierdie gelowiges het van die eiland Siprus en van die stad Sirene na die stad Antiogië gekom. Hulle het ook gesels met die Jode wat Grieks gepraat het, en hulle het die goeie boodskap van die Here Jesus vir daardie Jode gebring. Die Here het hulle gehelp, en baie mense het in die Here begin glo en hulle het begin lewe soos Hy wil hê hulle moet lewe. Die gemeente in Jerusalem het gehoor wat daar in Antiogië gebeur het, en hulle het vir Barnabas gestuur om na Antiogië te gaan. Toe Barnabas daar kom en hy sien hoe goed God vir hulle was, was hy bly en het hy aangehou om hulle almal te bemoedig om aan te hou om die Here Jesus te dien, soos hulle besluit het om te doen. Barnabas was 'n goeie man, die Heilige Gees was in hom en hy het sterk in die Here Jesus geglo. Baie mense in die stad het in die Here Jesus begin glo. Barnabas het toe na die stad Tarsus gegaan om vir Saulus te soek. Toe Barnabas vir Saulus kry, het hy hom na Antiogië gebring. Hulle was daar 'n hele jaar lank saam in die gemeente en hulle het vir baie mense in die stad geleer. Daar in Antiogië het die mense die gelowiges “Christene” genoem. Dit was die eerste maal dat mense die gelowiges “Christene” genoem het. In hierdie tyd het daar profete van Jerusalem na Antiogië gekom. Een van hulle, sy naam was Agabus, het opgestaan toe die Heilige Gees vir hom gesê het hy moet 'n boodskap bring. Hy het gesê dat daar 'n groot hongersnood oor die hele wêreld sal kom. In die tyd toe Claudius die keiser was, was daar so 'n hongersnood. Die gelowiges het toe besluit dat elkeen van hulle so baie geld sou gee soos wat hy kon gee. Hulle wou dit dan stuur na die land Judea om vir die gelowiges daar te sorg. Hulle het dit toe gedoen, hulle het vir Barnabas en Saulus gestuur om die geld na die ouderlinge in Jerusalem te bring.
HANDELINGE 11:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het. En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet. En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê: Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in 'n verrukking van sinne het ek 'n gesig gesien: 'n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos 'n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom. En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel. En ek hoor 'n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet! Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie. En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel. En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was. En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan. En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word; hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word. En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk. DIE wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen. En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het. En die hand van die Here was met hulle, en 'n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer. En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë. Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly; want hy was 'n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en 'n aansienlike skare is aan die Here toegebring. Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring. En hulle het 'n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan 'n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem. En in dié dae het daar profete van Jerusalem na Antiochíë afgekom. En een van hulle met die naam van Ágabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar 'n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius. En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon. En dit het hulle ook gedoen en dit deur Bárnabas en Saulus aan die ouderlinge gestuur.
HANDELINGE 11:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het. Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.” Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit: “Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering 'n gesig gesien het,” het hy gesê. “Ek het iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom. Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls. Ek het toe 'n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’ Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’ 'n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’ Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek. “Terselfdertyd het daar drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aangekom waar ons tuis was. Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek en hierdie ses broers is toe saam met hulle, en ons het in Kornelius se huis ingegaan. Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. Hy het 'n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’ “Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?” Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.” Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie. Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het. Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het. Die berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik, en hulle het vir Barnabas na Antiogië toe gestuur. Toe hy daar kom, was hy bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, en hy het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. Barnabas was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees en met 'n vaste geloof. 'n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring, en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem. In dié tyd het daar profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom. Een van hulle, met die naam Agabus, is deur die Gees gelei om te voorspel dat 'n groot hongersnood die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur. Die gelowiges het toe besluit dat elkeen na sy vermoë sou bydra tot 'n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges wat in Judea woon, gestuur sou word. Hulle het dit gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.
HANDELINGE 11:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die •apostels en die broers dwarsdeur Judea het gehoor dat ook die heidene die woord van God aanvaar het. Toe •Petrus na Jerusalem opgegaan het, het diegene wat besny is, met hom geargumenteer en gesê: “Jy was by onbesnede mans aan huis en het saam met hulle geëet.” Daarop het Petrus dit soos volg stap vir stap vir hulle begin uitlê: “Ek was in die stad Joppe besig om te bid, en in ekstase het ek 'n visioen gesien: iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en wat aan sy vier hoeke uit die hemel neergelaat word; en dit het tot by my gekom. En ek het aandagtig daarna gekyk, en opgemerk, en viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere, asook voëls van die hemel gesien. Ek het ook 'n stem vir my hoor sê, ‘Staan op, Petrus, slag en eet!’ Maar ek het geantwoord, ‘Onder geen omstandighede nie, Here! Want niks wat besoedel of •onrein is, het al ooit by my mond ingegaan nie.’ Die stem het toe 'n tweede keer uit die hemel geantwoord, ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.’ Dit het drie maal gebeur, en toe is alles weer in die hemel opgetrek. En kyk, skielik het daar drie mans wat van Caesarea af na my gestuur is, aangekom by die huis waar ons was. En die Gees het vir my gesê dat ek sonder aarseling saam met hulle moes gaan. Hierdie ses broers het toe saam met my gegaan en ons het die man se huis binnegegaan. Daarop het hy ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het wat vir hom sê, ‘Stuur manne na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy sal vir jou 'n boodskap meedeel waardeur jy verlos sal word – jy en jou hele huis.’ En toe ek begin praat, het die Heilige Gees op hulle neergedaal, net soos aanvanklik ook op ons. Ek het egter die woord van die Here onthou, toe Hy gesê het, ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God sou verhinder?” Toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: “So het God dus ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.” Die gelowiges dan, wat uitmekaar gedryf is as gevolg van die verdrukking wat oor Stefanus ontstaan het, het so ver as Fenisië, Ciprus en Antiogië getrek, en die woord aan niemand anders nie as net aan die Jode verkondig. Maar toe party van hulle, mans uit Ciprus en Sirene, in Antiogië kom, het hulle ook met die Helleniste gepraat en die evangelie van die Here Jesus aan hulle verkondig. Die hand van die Here was oor hulle, en 'n groot aantal het gelowig geword en na die Here gedraai. Die berig oor hulle het die •gemeente in Jerusalem ter ore gekom, en hulle het Barnabas gestuur om na Antiogië te gaan. Toe hy daar aankom en die genade van God sien, was hy bly en het almal aangemoedig om met vaste voorneme van hart aan die Here getrou te bly. Hy was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees en geloof. En 'n aansienlike skare is vir die Here bygevoeg. Hierna het Barnabas na Tarsus vertrek om Saulus op te soek. Hy het hom opgespoor en hom na Antiogië gebring. Hulle was 'n hele jaar lank saam met die gemeente en het 'n aansienlike skare onderrig. In Antiogië is die dissipels vir die eerste keer Christene genoem. In daardie tyd het daar profete uit Jerusalem na Antiogië gekom. En een van hulle, met die naam Agabus, het na vore gekom en deur die Heilige Gees voorspel dat 'n swaar hongersnood oor die hele wêreld sou kom. Dit het in die tyd van Claudius gebeur. Die dissipels het daarom besluit dat elkeen van hulle volgens vermoë 'n bydrae sou stuur vir die versorging van die broers wat in Judea woon. En hulle het dit gedoen deur die bydrae saam met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge te stuur.
HANDELINGE 11:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het. En toe Petrus na Jerusalem opgekom het, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis, en gesê: U het by die onbesnedenes ingegaan en saam met hulle geëet. Maar Petrus het die saak van die begin af ingeoefen en dit op bevel aan hulle uitgelê en gesê: Ek was in die stad Joppe besig om te bid, en in 'n beswyming het ek 'n visioen gesien: 'n sekere houer wat neerdaal soos 'n groot laken, met vier hoeke uit die hemel neergelaat; en dit het selfs tot my gekom: Toe ek my oë vasgemaak het, het ek dit oorweeg en die viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere en voëls van die hemel gesien. En ek het 'n stem vir my hoor sê: Staan op, Petrus! slag en eet. Maar ek het gesê: Nie so nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingekom nie. Maar die stem het my weer uit die hemel geantwoord: Wat God gereinig het, moet jy nie onheilig noem nie. En dit het drie maal gebeur: en almal is weer in die hemel opgetrek. En kyk, daar was dadelik reeds drie manne wat in die huis gekom het waar ek was, van Cesaréa na my gestuur. En die Gees het my beveel om saam met hulle te gaan sonder om te twyfel. En hierdie ses broers het my vergesel, en ons het in die man se huis ingegaan. En hy het ons laat sien hoe hy 'n engel in sy huis gesien het wat staan en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en roep Simon, wie se van Petrus is; Wie sal jou woorde vertel waardeur jy en jou hele huis gered sal word? En toe ek begin praat het, het die Heilige Gees op hulle geval, soos op ons in die begin. Toe het ek aan die woord van die Here gedink, hoe Hy gesê het: Johannes het wel met water gedoop; maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. Omdat God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons, wat in die Here Jesus Christus geglo het; wat was ek, dat ek God kon weerstaan? Toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: Dan het God ook aan die heidene bekering tot die lewe gegee. En die wat verstrooi was deur die vervolging wat oor Stefanus ontstaan het, het tot by Fenicië en Ciprus en Antiogië getrek en die woord aan niemand verkondig nie, behalwe aan die Jode alleen. En sommige van hulle was manne van Ciprus en Cirene, wat, toe hulle in Antiogië gekom het, met die Grieke gespreek en die Here Jesus verkondig het. En die hand van die Here was met hulle, en 'n groot aantal het geglo en hulle tot die Here bekeer. Toe het die tyding van hierdie dinge tot die ore gekom van die gemeente wat in Jerusalem was, en hulle het Bárnabas uitgestuur om tot by Antiogië te gaan. Toe hy gekom het en die genade van God gesien het, was hy bly en het hulle almal vermaan dat hulle met 'n voorneme van hart die Here sou aanhang. Want hy was 'n goeie man en vol van die Heilige Gees en van geloof, en baie mense is bygevoeg tot die Here. Toe het Bárnabas na Tarsus vertrek om Saulus te soek. En toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië gebring. En dit het gebeur dat hulle 'n hele jaar lank by die gemeente vergader en baie mense geleer het. En die dissipels is eers in Antiogië Christene genoem. En in hierdie dae het profete van Jerusalem na Antiogië gekom. En daar het een van hulle met die naam van Agabus opgestaan en deur die Gees te kenne gegee dat daar 'n groot armoede oor die hele wêreld sou wees, wat gebeur het in die dae van Claudius Caesar. Toe het die dissipels, elkeen volgens sy vermoë, besluit om hulp te stuur aan die broeders wat in Judéa gewoon het. Wat hulle ook gedoen het, en dit aan die ouderlinge gestuur deur die hand van Barnabas en Saul.
HANDELINGE 11:1-30 Die Boodskap (DB)
Die nuus oor God se werk onder mense wat nie Jode is nie, het soos ’n veldbrand versprei. Die ander apostels en die gelowiges in Judea het ook daarvan te hore gekom. Toe Petrus kort daarna weer in Jerusalem aankom, het sekere gemeentelede wat nog die besnydenis en ander Joodse gebruike streng onderhou het, hom voor stok gekry. Hulle was ongelukkig omdat hy in iemand se huis ingegaan het wat nie besny was nie en boonop saam met hom geëet het. Hulle het dit reguit vir Petrus gesê. Petrus het verduidelik wat gebeur het: “Ek was een middag in Joppe besig om te bid toe ek ’n hemelse gesig sien. Voor my oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor my afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere en ook ’n klomp reptiele en voëls. Ek hoor toe ’n stem wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet!’ “‘Oor my dooie liggaam. Ek sal dit nooit doen nie, Here,’ het ek geantwoord. ‘Ek het nog nooit iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie. Ons Jode eet nie sulke kos nie.’ “Die stem het ’n tweede keer uit die hemel met my gepraat en gesê: ‘As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.’ “Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in. “Op daardie oomblik het daar drie mans opgedaag by die huis waar ek gebly het. Hulle is uit Sesarea gestuur om my te kom haal. Die Heilige Gees het toe vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan. Ek en hierdie ses broers by my is toe na Kornelius se huis in Sesarea. Daar het hy ons vertel hoe ’n engel aan hom verskyn het. Die engel het vir hom gesê: ‘Stuur mense Joppe toe en laat haal vir Petrus. Hy sal vir jou sê hoe jy en jou huisgesin in die regte verhouding met God kan kom.’ “Ek het skaars met hulle oor die Here begin praat, toe kom die Heilige Gees oor hulle almal. Dit was net soos op pinksterdag toe die Heilige Gees oor ons hier in Jerusalem gekom het. “Hierdie gebeurtenis in Kornelius se huis het my laat dink aan die woorde van ons Here Jesus. Onthou julle hoe Hy vroeër vir ons gesê het: ‘Johannes doop julle wel met water, maar julle sal een van die dae met die Heilige Gees gedoop word’? “Nou vra ek julle: Wie is ek dan om in God se pad te staan? Hy het dieselfde hemelse Geskenk aan mense gegee wat nie Jode is nie as aan ons Jode wat in Jesus Christus glo. Hy is nou die Here oor ons almal se lewe.” Toe die gemeentelede dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God se Naam geprys en gesê: “’n Wonderwerk het gebeur! God se goedheid het nou ook by mense buite ons eie volksgrense uitgekom. Hy gee nou ook nuwe lewe aan hulle wanneer hulle tot bekering kom.” As gevolg van die vervolging van die kerk in Jerusalem net na Stefanus se dood het party gelowiges na plekke soos Fenisië, Siprus en Antiogië gevlug. Hulle het die Woord van die Here daar met ander Jode gaan deel. Sekere gelowiges wat uit Siprus en Sirene gekom het, het egter daar in die stad Antiogië begin om met mense wat nie Jode was nie oor die Here Jesus te praat. Die Here se groot krag het deur hierdie gelowiges gewerk sodat ’n groot groep mense in ’n kort tydjie tot bekering gekom het. Hulle het hulle sondes laat staan en volgelinge van Jesus geword. Toe hierdie nuus die Jerusalemgemeente bereik, het hulle vir Barnabas na Antiogië toe gestuur om te kyk of die nuwe gelowiges darem doen wat God vra. Hy was aangenaam verras toe hy daar aankom en sien wat God besig was om in hulle lewe te doen. Barnabas het hulle opgewonde aangespoor om die Here met alles in hulle te dien en aan Hom getrou te bly. Barnabas was ’n goeie man met ’n sterk geloof in God. Almal kon sien dat die Heilige Gees se groot krag deur hom gewerk het. Hy het besluit om in Antiogië te bly en die gelowiges te help om die goeie nuus daar uit te dra. Baie mense het as gevolg van sy werk begin glo. Na ’n ruk het Barnabas besluit om Saulus te gaan opsoek en hom te oorreed om in Antiogië te kom werk. Hy is na Tarsus toe, waar hy vir Paulus raakgeloop het. Paulus was dadelik bereid om saam met hom in Antiogië te kom werk. Hulle twee het die volgende jaar lank daar saamgewerk. Hulle het die mense geleer wat dit beteken om in Christus te glo. Hier in Antiogië is die volgelinge van Jesus die eerste maal Christene genoem. In dié tyd het ’n paar boodskappers van die Here uit Jerusalem na Antiogië gekom. Een van hulle, ’n man met die naam Agabus, is deur die Heilige Gees gelei om vir hulle te sê dat ’n groot hongersnood binnekort die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook gebeur in die tyd toe Claudius die keiser van die Romeinse Ryk was. Die volgelinge van Jesus in Antiogië het besluit om die gelowiges in Judea te help.Hulle het elke bietjie geld wat hulle kon afknyp vir hulle broers en susters in die Here in Jerusalem opsy gesit. Toe het hulle vir Barnabas en Saulus met al die geld na Jerusalem toe gestuur. Daar het hulle twee dit vir die leiers van die kerk gegee.
HANDELINGE 11:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat ook nie-Jode die woord van God aangeneem het. Toe Petrus in Jerusalem aankom, het die Joodse gelowiges hom gekritiseer: “Jy het nie-Jode besoek en jy het selfs saam met hulle geëet!” Petrus het toe begin om vir hulle alles mooi uiteen te sit: “Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geestesvervoering ’n gesig gesien het,” het hy gesê. “Iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, het uit die hemel afgekom. En dit het tot by my gekom. Toe ek in die doek kyk, sien ek daarin allerhande aardse diere, wilde diere en reptiele, en ook voëls. Toe hoor ek ’n stem wat vir my sê: ‘Staan op, Petrus! Slag en eet!’ “‘Nooit nie, Here!’ het ek geantwoord. ‘Iets wat onrein is, het nog nooit my mond binnegegaan nie.’ “’n Tweede keer het ’n stem uit die hemel gereageer: ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.’ “Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek. Presies op daardie tydstip het drie mans wat van Sesarea af gestuur was, by die huis aangekom waar ons tuis was. Die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moet gaan, en dat ek nie moet aarsel omdat hulle nie-Jode is nie. Ek het toe saam met hierdie ses medegelowiges gegaan, en ons het die man wat my laat haal het, se huis binnegegaan. Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het wat vir hom sê: ‘Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy het ’n boodskap vir jou waardeur jy verlos sal word, jy en jou hele huishouding!’ “Ek het net begin om die Goeie Nuus aan hulle te vertel, toe kom die Heilige Gees op hulle net soos op ons in die begin. Toe dink ek aan die woorde van die Here toe Hy gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar júlle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?” Toe hulle dit hoor, het hulle stil geraak. Hulle het God begin prys en gesê: “God het selfs nie-Jode tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.” Dié wat uit Jerusalem gevlug het oor die vervolging ná Stefanus se dood, het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan. Hulle het die evangelie verkondig, maar net aan Jode. Daar was egter sekere Sipriese en Sireniese mans wat in Antiogië gekom en ook aan die Griekssprekendes die Goeie Nuus verkondig het dat Jesus die Here is. Die Here het hulle werk geseën sodat ’n groot aantal tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het. Toe die gemeente in Jerusalem hoor wat gebeur het, het hulle Barnabas Antiogië toe gestuur. Toe hy daar kom en sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, was hy bly. Hy het hulle almal aangespoor om lojaal aan die Here te bly. Barnabas was ’n goeie man, vol van die Heilige Gees en van geloof. ’n Aansienlike groep mense is na die Here toe gebring. Barnabas is daarna Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. Toe hy hom kry, het hy hom Antiogië toe gebring. En so het dit gekom dat hulle twee ’n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en ’n taamlike klomp mense onderrig het. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem. ’n kleinseun van Herodes die Grote. In dié tyd het profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom. Een van hulle, met die naam Agabus, het tydens ’n byeenkoms opgestaan en is deur die Gees gelei om te voorspel dat ’n groot hongersnood die hele Romeinse wêreld gaan tref. (Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur.) Die gelowiges in Antiogië het toe besluit dat elkeen van hulle na sy vermoë sou bydra tot ’n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges in Judea gestuur sou word. Hulle het dit toe gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gesuur.