HANDELINGE 1:20-26
HANDELINGE 1:20-26 Bybel vir almal (ABA)
Want in die Psalms is daar geskryf: “ Sy woonplek moet 'n woestyn word, daar moet niemand woon nie, “en “ iemand anders moet sy werk doen. “Ons moet nou 'n man kies in Judas se plek. Hy moet iemand wees wat die hele tyd by ons was toe die Here Jesus sy werk gedoen het op die aarde, van die tyd toe Johannes gedoop het totdat Jesus na die hemel gegaan het. Hy moet saam met ons 'n getuie wees dat Jesus weer lewe nadat Hy gesterf het. Ons moet so 'n persoon kies.” Hulle het toe twee manne se name genoem. Dit was Josef en Mattias. Josef se ander name was Barsabbas en Justus. Toe het hulle gebid en gevra: “Here, U ken almal se harte. U het een van hierdie twee manne gekies om in Judas se plek te werk en 'n apostel te wees. U moet vir ons wys wie dit is, want Judas het sy werk gelos en hy het na sy eie plek gegaan.” Hulle het lootjies getrek en die lootjie het gewys dit moet Mattias wees. Toe was Mattias ook 'n apostel saam met die elf apostels.
HANDELINGE 1:20-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want daar staan geskrywe in die boek van die Psalms: Laat sy woonplek woes word, en laat daar geen inwoner in wees nie! En: Laat 'n ander een sy opsienersamp neem. Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in- en uitgegaan het, van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is — van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding. En hulle het twee voorgestel: Josef wat genoem is Bársabas, met die bynaam van Justus, en Matthías. En hulle het gebid en gesê: U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee die een aan wat U uitverkies het om die lot van hierdie bediening en apostelskap te verkry, waarvan Judas afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek. Toe werp hulle die lot, en die lot het op Matthías geval; en hy is gekies om saam met die elf apostels te wees.
HANDELINGE 1:20-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
“In die boek van die Psalms staan daar: “Laat sy woonplek leeg word; laat niemand daarin woon nie, “en: “Laat 'n ander sy amp oorneem. “Daar moet dus nog 'n getuie van Jesus se opstanding by ons gevoeg word. Dit moet een van die manne wees wat saam met ons rondgegaan het die hele tyd toe die Here Jesus in die openbaar opgetree het, vandat Hy deur Johannes gedoop is totdat Hy van ons af in die hemel opgeneem is.” Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias. En die gelowiges het gebid: “Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies het om as apostel te dien in die plek wat Judas leeg gelaat het toe hy gegaan het na waar hy hoort.” Hulle het geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel.
HANDELINGE 1:20-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want daar staan in die Psalms geskryf: “ ‘Laat sy woonplek verlate word, en laat geen inwoner daarin bly nie.’ En: “ ‘Laat 'n ander sy amp as opsiener oorneem.’ “Daarom moet een van daardie manne wat die hele tyd saam met ons onderweg was terwyl die Here Jesus onder ons gekom en gegaan het, van die begin af, van die doop van Johannes af, tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is, saam met ons as 'n getuie van sy opstanding optree.” Hulle het toe twee voorgestel: Josef, bekend as Barsabbas, wat ook Justus genoem is, en Mattias. Daarop het hulle soos volg gebid: “U, Here, wat almal se harte ken, wys U uit hierdie twee die een aan wat U gekies het om die taak van hierdie diens van •apostel oor te neem, waarvan Judas afvallig geraak het, om na die plek te gaan wat hom toekom.” Toe het hulle geloot, en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels gevoeg.
HANDELINGE 1:20-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want daar is geskrywe in die boek van die Psalms: Laat sy woning woes word, en laat niemand daarin woon nie; Daarom, van hierdie manne wat saam met ons was al die tyd wat die Here Jesus onder ons in en uitgegaan het, Vanaf die doop van Johannes, tot daardie selfde dag dat hy van ons opgeneem is, moet iemand georden word om saam met ons 'n getuie van sy opstanding te wees. En hulle het twee aangestel, Josef wat Barsabas genoem is, met die bynaam Justus, en Mattias. En hulle het gebid en gesê: U, Here, wat die harte van alle mense ken, toon aan of U van hierdie twee gekies het, sodat hy deel kan neem aan hierdie bediening en apostelskap waaruit Judas oortree het, om na sy eie plek te gaan. En hulle het hul lote uitgegee; en die lot het op Mattias geval; en hy is saam met die elf apostels getel.
HANDELINGE 1:20-26 Die Boodskap (DB)
“In een van die psalms van Dawid staan daar: Laat sy grond leeg staan sodat niemand daar gaan bly nie. “Dawid het ook gesê: Iemand anders moet sy werk oorneem. “Judas se plek in ons kring van apostels is nou leeg. Ons moet iemand in sy plek kies. Maar dit moet iemand wees wat heeltyd saam met ons in Jesus se geselskap was, van daardie dag af toe Hy deur Johannes die Doper gedoop is totdat Hy hemel toe is.” Twee name is toe opgegee: Josef Barsabbas (sy bynaam was Justus) en Mattias. Toe het al die gelowiges gebid en gesê: “Here, U weet presies wat in mense se binneste aangaan. U ken ons almal deur en deur. Wie van hierdie twee mans wil U hê moet Judas se plek as apostel oorneem? Judas is hierdie wonderlike werk kwyt omdat hy nie na U geluister het nie.” Daarna het hulle lootjies getrek. Mattias is as die nuwe apostel gekies.
HANDELINGE 1:20-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Petrus het voortgegaan: “Dis presies soos dit in die Psalmboek geskryf staan: ‘Laat sy woonplek verlate word; laat niemand daar bly nie.’ “En op ’n ander plek: ‘Laat iemand anders sy toesigverantwoordelikheid oorneem.’ “Daarom moet ons nou iemand anders kies. Dit moet een van die mans wees wat die hele tyd toe die Here Jesus by ons was, ook saam met ons was – van die tyd toe Jesus heel aan die begin deur Johannes gedoop is, tot op die dag toe Hy van ons in die hemel opgeneem is. Die een wat gekies word, sal saam met ons ’n getuie wees van Jesus se opstanding.” Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias. Hulle bid toe saam dat die regte een verkies word. “Here,” het hulle gebid, “U ken elke hart. Wys ons watter een U gekies het om as apostel te dien in die plek van Judas wat ons in die steek gelaat het en na die plek toe is waar hy hoort.” Hulle het toe geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel.