2 TIMOTEUS 4:6-22
2 TIMOTEUS 4:6-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT ek word alreeds as 'n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het. Beywer jou om gou na my te kom. Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessaloníka vertrek, Crescens na Galásië, Titus na Dalmásië. Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees. Tíchikus het ek na Éfese gestuur. As jy kom, moet jy die reismantel bring wat ek by Carpus in Troas laat bly het, en die boeke, veral die perkamente. Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld na sy werke! Jy moet ook vir hom oppas, want hy het ons woorde sterk teëgestaan. In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos. En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Groet Prisca en Áquila en die huis van Onesíforus. Erástus het in Korinthe gebly. Trófimus het ek siek in Miléte agtergelaat. Beywer jou om voor die winter te kom. Eubúlus en Pudens en Linus en Claudia en al die broeders groet jou. Mag die Here Jesus Christus met jou gees wees! Die genade sy met julle! Amen.
2 TIMOTEUS 4:6-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms. Probeer so gou moontlik na my toe kom, want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek. Kressens is na Galasië en Titus na Dalmasië toe. Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees. Tigikus het ek na Efese toe gestuur. As jy kom, moet jy die reismantel saambring wat ek by Karpus in Troas laat bly het, en ook die boeke, veral die perkamente. Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld vir wat hy gedoen het. Jy moet ook vir hom op jou hoede wees, want hy het ons prediking heftig teengewerk. Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie; almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor. En ek is uit die bek van die leeu gered. Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen. Groete aan Priscilla en Akwila en aan die huisgesin van Onesiforus. Erastus het in Korinte agtergebly; Trofimus het ek in Milete siek agtergelaat. Doen jou bes om nog voor die winter te kom. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die broers stuur vir jou groete. Die Here sal by jou wees. Die genade sal by julle wees!
2 TIMOTEUS 4:6-22 Bybel vir almal (ABA)
My tyd om te sterf, is nou baie naby. Ek is soos 'n drank-offer wanneer iemand dit uitgooi. Dit is nie maklik om in Christus te glo nie, dit is soos wanneer iemand boks of wanneer hy resies hardloop. Ek het die resies klaar gehardloop, ek het aangehou om te glo. Nou weet ek dat ek eendag die lourier-krans sal kry. Die Here besluit reg, Hy sal op daardie dag die kransie vir my gee. Hy is die Regter wat altyd reg besluit. Hy sal die kransie nie net vir my gee nie, Hy sal dit gee vir almal wat lief is vir Hom, vir almal wat wag dat Hy sal verskyn. Timoteus, jy moet hard probeer om gou na my toe te kom, want Demas het my alleen gelos. Hy het besluit dat hierdie wêreld vir hom die belangrikste is en hy het na die stad Tessalonika gegaan. Kressens het na die land Galasië gegaan en Titus het na die land Dalmasië gegaan. Dit is net Lukas wat nou by my is. Jy moet vir Markus gaan haal en jy moet hom saam met jou bring, want hy kan my baie goed help om my werk te doen. Ek het vir Tigikus na die stad Efese gestuur. Wanneer jy kom, dan moet jy die bo-kleed vir my saambring, ek het dit in Troas by Karpus gelos. Jy moet ook die boeke bring, die boekrolle van vel is die belangrikste wat jy moet saambring. Aleksander, die ambagsman wat met koper werk, het baie slegte dinge aan my gedoen. Die Here sal hom oordeel oor wat hy gedoen het. Pasop vir hom, want hy het altyd baie hard teen my gewerk en probeer keer dat mense glo wat ek sê. Toe ek die eerste maal in die hof gekom het omdat mense my beskuldig het, het niemand my gehelp nie, almal het my alleen gelos. Ek hoop dat die Here hulle nie sal straf nie. Maar die Here het my gehelp, Hy het my sterk gemaak. Daarom kon ek die goeie boodskap klaar bring en al die heidene kon dit hoor. Die Here het my gered van my vyande soos 'n mens iemand red van 'n leeu. En die Here sal my ook altyd red wanneer mense my wil laat swaarkry. Hy sal my veilig na die hemel bring waar Hy Koning is. Daarom moet ons die Here prys, altyd en altyd. Amen. Sê groete vir Priska en Akwila en die huisgesin van Onesiforus. Erastus het in die stad Korinte gebly. Ek het vir Trofimus in die stad Milete gelos, hy was siek. Jy moet gou na my toe kom, voor die winter. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander vriende stuur groete vir jou. Ek bid dat die Here by jou sal wees. Ek bid dat die Here genadig sal wees vir julle.
2 TIMOTEUS 4:6-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want ek word reeds as •drankoffer uitgegiet, en die tyd van my dood is naby. Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou. Nou wag die oorwinningskrans van •geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige Regter, op daardie dag vir my sal gee – en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat sy koms liefhet. Doen jou bes om gou na my toe te kom, want Demas het my verlaat: Hy het die huidige wêreld liefgekry, en na Thessalonika vertrek, Kressens na Galasië, en Titus na Dalmasië. Net Lukas is nog by my. Gaan haal vir Markus, en bring hom saam met jou, want hy is vir my baie nuttig in die bediening. Tigikus het ek na Efese gestuur. Wanneer jy kom, bring die mantel saam wat ek in Troas by Karpus agtergelaat het, en ook die •boekrolle, veral die perkamente. Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Die Here sal hom volgens sy dade vergeld. Wees ook jy op jou hoede vir hom, want hy het ons woorde heftig teengestaan. Tydens my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie; inteendeel, almal het my in die steek gelaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Die Here het my egter ondersteun en my versterk, sodat ek die verkondiging kon voltooi, en al die heidene dit kon hoor; en ek is uit die bek van die leeu gered. Die Here sal my van elke bose daad red, en Hy sal my verlos, met die oog op sy hemelse koninkryk. Aan Hom die heerlikheid vir ewig en ewig! •Amen. Stuur groete vir Priska en Akwila, en Onesiforus se huisgesin. Erastus het in Korinthe gebly, Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat. Doen jou bes om nog voor die winter te kom. Eubulus en Pudens en Linos en Claudia en al die broers stuur vir jou groete. Die Here bly met jou gees! Die genade bly met julle!
2 TIMOTEUS 4:6-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ek is nou gereed om geoffer te word, en die tyd van my vertrek is naby. Ek het 'n goeie stryd gestry, ek het my kursus voltooi, ek het die geloof behou. Van nou af is vir my weggelê 'n kroon van geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee, en nie aan my alleen nie, maar aan almal ook wat sy verskyning liefhet. Doen jou ywer om gou na my toe te kom. Want Demas het My verlaat, omdat hy hierdie teenswoordige wêreld liefgehad het, en het na Tessalonika vertrek; Crescens na Galasië, Titus tot Dalmatië. Net Lukas is by my. Neem Markus en bring hom saam, want hy is vir my nuttig vir die bediening. En Ek het Tigikus na Éfese gestuur. Die kleed wat ek by Karpus in Troas agtergelaat het, as jy kom, bring saam met jou, en die boeke, maar veral die perkamente. Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen: die Here vergeld hom volgens sy werke. Van wie moet jy ook sorg; want Hy het ons woorde grootliks weerstaan. By my eerste antwoord het niemand by my gestaan nie, maar almal het my verlaat; Maar die Here het by my gestaan en my versterk; sodat deur my die prediking ten volle geken kan word en al die heidene sou hoor; en ek is verlos uit die bek van die leeu. En die Here sal my verlos van elke bose werk en my bewaar tot in sy hemelse koninkryk; aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid. Amen. Groet Prisca en Aquila en die huisgesin van Onesiforus. Erastus het in Korinte gebly, maar Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat. Doen jou ywer om voor die winter te kom. Eubulus groet jou en Pudens en Linus en Claudia en al die broers. Die Here Jesus Christus wees met jou gees. Genade met jou. Amen. (Die tweede brief aan Timotheus, georden as die eerste biskop van die gemeente van die Efesiërs, is uit Rome geskryf toe Paulus die tweede keer voor Nero gebring is.)
2 TIMOTEUS 4:6-22 Die Boodskap (DB)
My tyd word nou ook min. Ek het nie meer lank om te lewe nie, dan gaan my lewe ’n offer vir God word. As jy die lewe met ’n wedloop kan vergelyk, kan jy sê dat ek daardie wedloop goed gehardloop het. Ek het dit klaargemaak en tot aan die einde het ek op God bly vertrou. Ek het ’n prys vir die wedloop gewen. God sal vir my die prys gee wat sal sê dat my saak met Hom heeltemal reg is. Wanneer God besluit om die prysuitdeling te hou, sal die Here, wat die pryse regverdig sal uitdeel, vir my my prys gee. Nie net ek sal ’n prys kry nie, maar almal wat daarna uitsien dat Christus Jesus weer moet kom. Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom. Demas is Tessalonika toe. Hy is nie meer by my nie, want hy het te lief geraak vir die dinge waarvan God nie hou nie. Kressens is Galasië toe en Titus is Dalmasië toe. Nog net Lukas is by my. As jy kom, moet jy ook vir Markus saambring. Hy kan baie vir my en vir die werk van die Here doen. Ek het Tigikus Efese toe gestuur. Onthou ook asseblief om my jas en my boeke saam te bring as jy weer kom. My jas het ek by Karpus in Troas laat lê. Aleksander, die kopersmid, het my ’n groot klomp skade aangedoen. Die Here sal wel met hom afreken. Julle moet ook versigtig wees vir hom, want hy het sy bes probeer om alles wat ons sê belaglik te probeer maak. Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos. Mag die Here hulle nie kwalik neem daaroor nie. Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel en al die nie-Jode kon ook van God hoor. En ek is byna deur ’n leeu opgevreet, maar is gelukkig betyds gered. Die Here sal my beskerm teen elkeen wat my aanval en wil seermaak. Ek sal uiteindelik saam met Hom in die hemel wees waar Hy regeer. Hy moet vir ewig grootgemaak word. So sal dit wees. Sê asseblief groete vir Priscilla en Akwila asook vir almal in die gesin van Onesiforus. Erastus het in Korinte gebly en Trofimus het siek geword; ek moes hom toe in Milete los. Probeer asseblief om na my toe te kom voor die winter hier is. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander Christene sê ook groete. Mag die Here by jou bly en mag Hy baie goed wees vir julle, ver meer as wat julle verdien.
2 TIMOTEUS 4:6-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wat my betref, word my lewe alreeds uitgegiet as ’n offer aan God. Die tyd van my dood is op hande. Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly. En nou wag die prys vir my: die lourierkrans vir ’n lewe in gehoorsaamheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy terugkeer. En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na sy heerlike verskyning. Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom. Demas het my verlaat omdat hy verlief geraak het op die dinge van hierdie lewe en toe na Tessalonika vertrek het. Kressens is weg na Galasië en Titus na Dalmasië. Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees. Ek het Tigikus na Efese toe gestuur. Wanneer jy kom, onthou om die bokleed wat ek by Karpus in Troas agtergelaat het, saam te bring. Bring ook my boeke, en veral my perkamente. Aleksander die kopersmid het my baie skade aangedoen, maar die Here sal hom oordeel vir wat hy gedoen het. Wees versigtig vir hom, want hy het alles teengestaan wat ons gesê het. Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die nie-Joodse nasies dit kan hoor. En Hy het my van ’n gewisse dood gered. Ja, en die Here sal my verlos van enige kwaad en my veilig in sy hemelse koninkryk bring. Aan God kom die heerlikheid toe, vir ewig en ewig. Amen. Groete aan Priscilla en Akwila en Onesiforus se gesin. Erastus het in Korinte agtergebly en Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat. Doen jou bes om voor die winter te kom. Eubulus stuur vir jou groete, en so ook Pudens, Linus, Claudia en al die broers en susters. Mag die Here met jou gees wees. Mag God se genade met julle wees.