2 TIMOTEUS 3:13-17
2 TIMOTEUS 3:13-17 Bybel vir almal (ABA)
en mense wat sleg is en wat ander mense bedrieg, sal nog slegter word. Hulle sal ander mense verlei, en ander mense sal húlle verlei. Maar jy, Timoteus, jy moet aanhou om die dinge te glo wat jy geleer het, dinge wat jy weet is waar, want jy weet wie dit vir jou geleer het. Jy ken die Ou Testament vandat jy 'n kind was en jy het daaruit geleer dat die Here 'n mens red as hy in Christus Jesus glo. Die hele Ou Testament kom van God, en 'n mens kan dit gebruik om vir mense te leer, om hulle te waarsku, om vir hulle te sê dat hulle verkeerd doen en dat hulle reg moet lewe. As jy dit doen, dan sal iemand wat aan God behoort, baie goed weet om elke goeie ding te kan doen.
2 TIMOTEUS 3:13-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
2 TIMOTEUS 3:13-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei. Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.
2 TIMOTEUS 3:13-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Slegte mense en bedrieërs sal van kwaad tot erger gaan, deurdat hulle ander mislei, en mislei word. Maar jy, bly jy by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het, en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.
2 TIMOTEUS 3:13-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar bose mense en verleiers sal erger en erger word, hulle verlei en verlei word. Maar bly jy in die dinge wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het; En dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid. Sodat die man van God volmaak kan wees, volkome toegerus vir alle goeie werke.
2 TIMOTEUS 3:13-17 Die Boodskap (DB)
Die klomp skelms gaan net woester en slegter word. Dit is ’n bose kringloop. Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ’n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is. Jy weet mos wie dit alles vir jou geleer het. Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou. Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk.
2 TIMOTEUS 3:13-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar bose mense en swendelaars sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle sal aanhou om mense te mislei, en hulle sal self mislei word. Maar jý, bly getrou aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het. Jy ken die Heilige Skrif van kindsbeen af en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek. Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.