2 TIMOTEUS 3:10-13
2 TIMOTEUS 3:10-13 Bybel vir almal (ABA)
Maar jy het begin om te doen wat ek doen, want jy leer vir die mense en jy lewe soos ek, jy maak dieselfde planne wat ek maak, jy glo soos ek, jy is geduldig, jy is lief vir mense en jy hou aan om te doen wat jy moet doen. Jy doen dit ook wanneer mense jou verdruk en jou laat swaarkry. Dieselfde het met my gebeur in die stede Antiogië, Ikonium en Listra. Ek het op baie maniere swaargekry, en die Here het my uit al my probleme gered. Al die mense wat aan Christus Jesus behoort en wat wil lewe soos God wil hê, sal swaarkry, en mense wat sleg is en wat ander mense bedrieg, sal nog slegter word. Hulle sal ander mense verlei, en ander mense sal húlle verlei.
2 TIMOTEUS 3:10-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Antiochíë, in Ikónium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos. En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
2 TIMOTEUS 3:10-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding, in vervolging en ontbering soos my te beurt geval het in Antiogië, Ikonium en Listra. Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.
2 TIMOTEUS 3:10-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jy het my egter nougeset nagevolg in leer, lewenswandel, voorneme, geloof, geduld, liefde en volharding, in vervolging en lyding, soos wat ek in Antiogië, Ikonium en Listra ervaar het. Watter vervolgings ek ook al verduur het – die Here het my van alles gered! Almal wat godvresend in •Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. Slegte mense en bedrieërs sal van kwaad tot erger gaan, deurdat hulle ander mislei, en mislei word.
2 TIMOTEUS 3:10-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar jy het my leer, lewenswyse, voorneme, geloof, lankmoedigheid, liefde, geduld, ten volle geken, Vervolgings, beproewings wat oor my gekom het in Antiogië, in Ikonium, in Listre; watter vervolgings het ek verduur, maar uit hulle almal het die Here my gered. Ja, en almal wat godvrugtig in Christus Jesus wil lewe, sal vervolg word. Maar bose mense en verleiers sal erger en erger word, hulle verlei en verlei word.
2 TIMOTEUS 3:10-13 Die Boodskap (DB)
Timoteus, jy ken my baie goed. Jy weet alles wat ek vir mense vertel van God en Christus. Jy weet hoe ek leef, wat ek van die lewe wil hê, hoe ek op Jesus vertrou en hoeveel tyd ek vir ander mense het. Jy ken ook my liefde vir ander en weet hoe geduldig ek met mense kan wees. Ook my seerkry en swaarkry ter wille van Jesus ken jy. Jy onthou mos nog wat met my in Antiogië, Ikonium en Listra gebeur het. Hoe het hulle my nie probeer seermaak en vervolg nie! Maar die Here self het daarvoor gesorg dat ek veilig uit al hierdie dinge gekom het. Elkeen wat Jesus s’n is en wat lewe soos God van hom verwag, moet weet dat hy ook vervolg sal word. Die rede is dat die slegte mense nie skielik beter gaan word nie. Die klomp skelms gaan net woester en slegter word. Dit is ’n bose kringloop. Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het.
2 TIMOTEUS 3:10-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar jy, Timoteus, het my onderrig getrou gevolg, hoe ek lewe en wat my doel in die lewe is. Jy ken my geloof en hoe lank ek al gely het. Jy ken my liefde en my geduld en verdraagsaamheid. Jy weet hoeveel vervolging en lyding ek verduur het. Jy weet alles van hoe ek vervolg is in Antiogië, Ikonium en Listra, maar die Here het my uit alles verlos. Ja, en almal wat ’n toegewyde lewe in verbondenheid aan Christus Jesus wil lei, sal vervolg word. Maar bose mense en swendelaars sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle sal aanhou om mense te mislei, en hulle sal self mislei word.