2 TIMOTEUS 3:1-9

2 TIMOTEUS 3:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Maar jy moet weet dat dit sleg sal gaan in hierdie laaste dae van die wêreld. Mense sal selfsugtig wees en hulle sal baie lief wees vir geld. Hulle sal lief wees om te spog en hulle sal hoogmoedig wees. Hulle sal slegte dinge sê van ander mense, hulle sal ongehoorsaam wees aan hulle ouers en hulle sal ondankbaar wees. Hulle sal nie vir God wil dien nie, hulle sal vir niemand lief wees nie en hulle sal met niemand vrede wil maak nie. Hulle sal slegte dinge sê van ander mense, hulle sal doen wat hulle wil doen, hulle sal wild wees, hulle sal niks wil doen wat goed is nie. Hulle sal verraaiers wees, hulle sal nie dink voordat hulle iets doen nie, hulle sal dink hulle is wonderlike mense, hulle sal lief wees om te doen wat vir hulle lekker is, hulle sal nie lief wees vir God nie. Dit sal miskien lyk of hierdie mense vir God dien, maar hulle sal nie lewe soos mense wat vir God dien nie. Jy moet wegbly van daardie mense. Want dit is daardie soort mense wat vals is wanneer hulle in huise inkom en wat dan die vroue alles laat glo wat hulle vir hulle leer, die vroue wat graag enige iets glo. Dit is vroue wat baie sonde gedoen het en wat altyd graag baie meer dinge wil hê. Hierdie vroue wil altyd meer leer, maar hulle weet nooit wat die waarheid van God is nie. Die mense wat vir die vroue leer, probeer keer dat hulle die waarheid hoor, soos Jannes en Jambres vir Moses probeer keer het. Hulle is mense wat nie meer reg kan dink nie, hulle geloof beteken niks. Maar hulle is dwase en hulle sal nie kan doen wat hulle wil doen nie. Almal sal kan sien dat hulle dwaas is, soos almal ook gesien het dat Jannes en Jambres dwaas is.

2 TIMOTEUS 3:1-9 Die Boodskap (DB)

Een ding moet julle nie vergeet nie: dit sal verskriklik gaan net voor die Here weer kom. Ek gaan ’n lysie maak van wat mense dan alles sal doen. Elkeen sal net aan homself dink en niks vir ander omgee nie. Geld gaan vir hulle alles in hulle lewe word. Hulle gaan ’n klomp grootmonde wees wat dink hulle is beter as ander mense. Hulle sal nie omgee om ander mense baie seer te maak met hulle beledigings nie en hulle sal hulle nie meer steur aan hulle ouers nie. Hulle sal ondankbaar wees en niks vir God omgee nie. Liefde sal nie deel uitmaak van hulle woordeskat nie, maar hulle sal alte goed weet hoe om ’n wrok teen ander te dra, of om lelike stories oor ander te versprei. Hulle sal spesialiseer daarin om net te doen wat hulle wil sonder om om te gee wat gaan gebeur, selfs al beteken dit dat hulle op so ’n manier mense buitengewoon seermaak. Moenie vir hulle voorstel om iets goeds te doen nie, want hulle haat dit. Jy sal hulle glad nie kan vertrou nie, want hulle sal jou om die eerste draai in die rug steek. Hulle sal nie omgee om deur hulle optrede ander mense in gevaar te stel nie en boonop sal hulle dink dat hulle baie beter is as ander mense. Hulle sal die poele van plesier kies eerder as vir God. Van buite af sal dit lyk of hulle kerkmense is, maar aan hulle binnekant sal hulle dolleeg wees, sonder God en sy krag. Bly weg van hierdie tipe mense af. Party van hulle gaan bly as gaste in die huis van gelowiges. Hulle bewerk dit dan so dat ’n vrou wat byvoorbeeld maklik iets glo, aan hulle lippe begin hang. Omdat so ’n vrou nie ’n sterk persoonlikheid het nie, pla die dinge wat sy in die verlede gedoen het haar en buitendien begeer sy allerhande lelike dinge. Hierdie vroue stel altyd vreeslik belang om iets nuuts te hoor, maar hulle kom nooit by die waarheid uit nie en weet ook nie wat waar is en wat nie waar is nie. Net soos Jannes en Jambres, die towenaars van die farao, Moses se teëstanders was, so is hierdie mense die waarheid se teëstanders. Hulle is deurmekaar en heeltemal van die spoor af, veral as dit oor die dinge van die geloof gaan. Hierdie mense sal nie baie ver kom nie. Mense sal deur hulle sien soos hulle destyds deur Jannes en Jambres gesien het. Hulle sal sien dat hierdie mense nie weet waarvan hulle praat nie.