2 TIMOTEUS 2:7-19

2 TIMOTEUS 2:7-19 Bybel vir almal (ABA)

Jy moet goed dink oor wat ek vir jou sê, want die Here sal jou help om dit alles goed te verstaan. Jy moet altyd aan Jesus Christus dink. Hy was van die nageslag van Dawid, en God het Hom weer laat lewe. Dit is die goeie boodskap wat ek preek. En omdat ek hierdie goeie boodskap preek, het die mense my laat swaarkry en hulle het my soos 'n skelm toegesluit in die tronk. Maar hulle kan nie die boodskap van God in die tronk toesluit en dit keer nie. Daarom is ek tevrede en hou ek aan om te doen wat ek moet doen. God het mense gekies, en ek doen dit vir daardie mense. Ek wil hê dat Christus Jesus ook vir hulle moet red en dat hulle vir altyd by God kan wees, God wat Koning is. Wat ek nou wil sê, is waar: Christus het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. God het vir Christus weer laat lewe, daarom sal ons ook saam met Christus lewe. As ons aanhou om in Christus te glo, dan sal ons ook saam met Hom regeer soos konings. As ons nie vir mense wil sê dat ons aan Christus behoort nie, dan sal Christus sê dat ons nie aan Hom behoort nie. As ons ontrou is, dan sal Christus nog altyd doen wat Hy belowe het, want Hy kan nie anders wees as wat Hy is nie. Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die gelowiges te sê. Jy moet hulle ernstig waarsku, jy moet vir hulle sê dat God hoor wat jy sê. Jy moet hulle waarsku dat hulle nie met mekaar moet baklei oor woorde nie. Dit help niks wanneer mense so stry nie, en dit is sleg vir die mense wat hoor hoe hulle stry. Jy moet hard probeer om God só te dien dat Hy tevrede sal wees met jou werk. Jy moet só werk dat jy nie skaam sal wees daaroor nie. Jy moet op die regte manier vir die mense vertel van die waarheid. Jy moenie luister na die stories van mense wat niks weet van God nie. Mense wat daardie dinge sê, sal meer en meer verkeerde dinge doen. En die dinge wat hulle sê, sal verder en verder groei, soos kanker. Himeneus en Filetus het ook dieselfde dinge gesê. Hulle het gesê dat God die mense wat dood is, klaar weer laat lewe het. So het hulle opgehou om die waarheid te vertel en hulle het party mense laat ophou glo in Christus. Maar God het 'n fondament gebou wat vas staan. Daar is op die fondament geskryf: Die Here ken die mense wat aan Hom behoort en Elkeen wat die Naam van die Here gebruik en tot Hom bid, moet ophou om verkeerde dinge te doen.

2 TIMOTEUS 2:7-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles! Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid. Dit is 'n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie. HERINNER aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders. Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos 'n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om. Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.

2 TIMOTEUS 2:7-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan. Onthou altyd dat Jesus Christus, 'n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig. Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos 'n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang. Dit is 'n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie. Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner en vermaan hulle ernstig voor God om op te hou stry oor woorde. Dit het geen nut nie en is net skadelik vir die hoorders. Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as 'n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, 'n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig. Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige. Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer

2 TIMOTEUS 2:7-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dink na oor wat ek sê, want die Here sal jou insig gee in al hierdie dinge. Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, waarvoor ek verdrukking ly – selfs in boeie, soos 'n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie! Daarom verduur ek dit alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing in Christus Jesus met ewige heerlikheid kan verkry. Dié uitspraak is betroubaar: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef; as ons aanhou volhard, sal ons ook saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie. Herinner hulle aan hierdie dinge, en waarsku hulle ernstig voor God om nie te stry oor nuttelose woorde, wat dié wat dit aanhoor, ten gronde rig nie. Lê jou daarop toe om jou voor God te stel as iemand wat die toets deurstaan het, as 'n arbeider wat hom nie hoef te skaam nie, wat met die woord van die waarheid die reguit pad aandui. Vermy die goddelose, leë praatjies van mense, onder wie Himeneus en Filetus, want hulle sal toenemend goddeloos word, en hulle woorde sal soos 'n kanker versprei. Hulle het van die waarheid afgedwaal deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het, en sodoende gooi hulle sommige se geloof omver. Maar tog staan die fondament van God stewig, met hierdie inskripsie, “Die Here ken diegene wat aan Hom behoort” en, “Laat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, die rug op ongeregtigheid keer.”

2 TIMOTEUS 2:7-19 Die Boodskap (DB)

Dink mooi na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om dit alles reg te verstaan. Moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. Koning Dawid was sy voorvader. Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak. Dit is die kern van die goeie boodskap wat ek vir julle vertel. Daarvoor kry ek swaar, al moet ek soos die een of ander krimineel geboei hier in die tronk sit. Gelukkig kan niemand ooit God se boodskap met kettings vasmaak en in ’n tronk gooi nie. Daarom gee ek nie om om swaar te kry nie. Ek doen dit ter wille van die mense wat God gekies het. So kan hulle saak met God ook reg wees omdat hulle Jesus s’n is en kan hulle voel hoe wonderlik dit is om ’n Christen te wees. Dit is iets wat niemand van ons kan wegvat nie. Dit sal vir ewig duur. Ek praat die waarheid: as ons saam met Jesus gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef. As ons nie moed verloor nie, maar vasbyt, sal ons ook eendag saam met Hom heers. As ons egter sê dat ons Hom nie wil ken nie, sal Hy dieselfde van ons sê. As ons Hom egter in die steek laat en nie so getrou is soos ons moet wees nie ... sal Hy ons sowaar nooit in die steek laat nie, want dit is net nie hoe Hy is nie. Herinner die gelowiges gedurig aan hierdie dinge. Waarsku hulle met God as getuie dat die stryery oor wat sekere woorde kwansuis sou beteken ’n einde moet kry. Dit bring ’n mens nêrens nie en bou nie dié wat daarna luister op nie, maar breek hulle eerder af. Doen jou bes om jou werk so te doen dat God trots sal voel op jou. Dan sal jy nie skaam hoef te voel omdat jy die boodskap van die Here so vir ander vertel dat hulle kan leer wat die waarheid regtig is nie. Moenie jou tyd mors met allerhande praatjies waarvan God niks hou nie, want wie hulle daarmee besig hou, sal net al hoe verder van God afdwaal. Die dinge wat hulle vertel, sal mense geestelik baie seermaak, soos iemand wat kanker kry en al hoe sieker word. Himeneus en Filetus is so, want hulle het ook die spoor heeltemal byster geraak en ken nie meer die waarheid nie. Hulle kom met die storie dat mense al klaar uit die dood opgestaan het. So breek hulle party mense se geloof tot in die grond af. Maar die fondament wat God self gelê het, kan niemand verskuif nie. Dit staan vas. Op die fondament staan geskryf: “Die Here ken almal wat Syne is,” en: “Elkeen wat openlik sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbly van alles wat verkeerd is.”

2 TIMOTEUS 2:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp. Onthou voortdurend dat Jesus Christus uit koning Dawid se nageslag gebore is en dat Hy uit die dood opgewek is. Dit is die Goeie Nuus wat ek verkondig. En omdat ek hierdie Goeie Nuus verkondig, ly ek en is ek soos ’n misdadiger in kettings geslaan. Maar die woord van God kan nie vasgeketting word nie. Ek is bereid om vir dié wat deur God gekies is, enigiets te verduur as dit vir hulle deur Christus Jesus verlossing en ewige heerlikheid sal bring. Hierdie woord is absoluut waar: As ons saam met Hom sterf, sal ons ook saam met Hom lewe. As ons verdrukking ly, sal ons saam met Hom regeer. As ons Hom ontken, sal Hy ons ook ontken. Maar as ons ontrou is – Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie ontken nie. Herinner almal aan hierdie dinge, en vermaan hulle in God se Naam om op te hou met ’n bakleiery oor woorde. Sulke argumente is nutteloos en kan die mense ruïneer wat dit aanhoor. Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ’n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik. Vermy goddelose en dwase gepraat wat net tot verdere goddeloosheid lei. Hierdie soort praatjies versprei soos kanker. Himeneus en Filetus is voorbeelde hiervan. Hulle het die pad van die waarheid verlaat met hulle bewering dat die opstanding van die dooies alreeds plaasgevind het. Daarmee het hulle die geloof van sommige ondermyn. Maar God se waarheid staan vas soos ’n fondamentsteen met die volgende inskripsie: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Dié wat beweer dat hulle aan die Here behoort, moet wegdraai van alle boosheid.”