2 TIMOTEUS 2:20-21
2 TIMOTEUS 2:20-21 Bybel vir almal (ABA)
In 'n groot huis is daar borde en bakke van goud en silwer, maar daar is ook dinge van hout en klei. 'n Mens gebruik party dinge wanneer daar 'n spesiale fees is, en 'n mens gebruik party dinge elke dag. 'n Mens moet jouself reinig van al die verkeerde dinge, jy moet wegbly van die verkeerde dinge. Dan sal jy wees soos 'n spesiale bord of bak. Jy sal dan gewy wees, en jou Eienaar sal jou goed kan gebruik, want jy sal dan enige iets kan doen wat goed is.
2 TIMOTEUS 2:20-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar in 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.
2 TIMOTEUS 2:20-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
In 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.
2 TIMOTEUS 2:20-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In 'n groot huis is daar nie net goue en silwervoorwerpe nie, maar ook voorwerpe van hout en klei – sommige is vir fatsoenlike gebruik, ander onfatsoenlik. As iemand homself dan gereinig het van hierdie dinge, sal hy 'n fatsoenlike voorwerp wees: afgesonder, bruikbaar vir die Eienaar, geskik vir elke goeie werk.
2 TIMOTEUS 2:20-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar in 'n groot huis is daar nie net voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en grond; en sommige tot eer en sommige tot oneer. As iemand hom dan hiervan reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, geheilig en geskik vir die heer se gebruik, en voorberei vir elke goeie werk.
2 TIMOTEUS 2:20-21 Die Boodskap (DB)
In ’n spoggerige huis kry ’n mens allerhande voorwerpe. Daar is pragtige goue of silwerbakke. Hulle word net by spesiale geleenthede uitgehaal en gebruik. Daar is ook bakke wat sommer van hout of klei gemaak is en wat elke dag gebruik word. Net so gaan dit in die geestelike lewe. As iemand ontslae geraak het van al die verkeerde dinge in sy lewe en God het hom vergewe, is hy so spesiaal soos een van daardie mooi, duur bakke. Hy sal net aan die Here behoort en sal reg staan sodat sy Here hom vir enigiets kan gebruik, net waarvoor sy Here hom nodig het.
2 TIMOTEUS 2:20-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In ’n rykmanshuis is sommige gebruiksartikels van goud en silwer, en ander weer van hout en klei. Die kosbare artikels word by spesiale geleenthede gebruik en die goedkoperes is vir gewone gebruik. As jy jouself skoon hou van die verkeerde, sal jy ’n kosbare item wees, ’n spesiale besitting van die Huiseienaar, een wat Hy nuttig kan gebruik en wat gereed is vir enige goeie taak.