2 TIMOTEUS 2:15-19
2 TIMOTEUS 2:15-19 Bybel vir almal (ABA)
Jy moet hard probeer om God só te dien dat Hy tevrede sal wees met jou werk. Jy moet só werk dat jy nie skaam sal wees daaroor nie. Jy moet op die regte manier vir die mense vertel van die waarheid. Jy moenie luister na die stories van mense wat niks weet van God nie. Mense wat daardie dinge sê, sal meer en meer verkeerde dinge doen. En die dinge wat hulle sê, sal verder en verder groei, soos kanker. Himeneus en Filetus het ook dieselfde dinge gesê. Hulle het gesê dat God die mense wat dood is, klaar weer laat lewe het. So het hulle opgehou om die waarheid te vertel en hulle het party mense laat ophou glo in Christus. Maar God het 'n fondament gebou wat vas staan. Daar is op die fondament geskryf: Die Here ken die mense wat aan Hom behoort en Elkeen wat die Naam van die Here gebruik en tot Hom bid, moet ophou om verkeerde dinge te doen.
2 TIMOTEUS 2:15-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos 'n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om. Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.
2 TIMOTEUS 2:15-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as 'n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, 'n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig. Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige. Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid.”
2 TIMOTEUS 2:15-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Lê jou daarop toe om jou voor God te stel as iemand wat die toets deurstaan het, as 'n arbeider wat hom nie hoef te skaam nie, wat met die woord van die waarheid die reguit pad aandui. Vermy die goddelose, leë praatjies van mense, onder wie Himeneus en Filetus, want hulle sal toenemend goddeloos word, en hulle woorde sal soos 'n kanker versprei. Hulle het van die waarheid afgedwaal deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het, en sodoende gooi hulle sommige se geloof omver. Maar tog staan die fondament van God stewig, met hierdie inskripsie, “Die Here ken diegene wat aan Hom behoort” en, “Laat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, die rug op ongeregtigheid keer.”
2 TIMOTEUS 2:15-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Leer om jou beproef voor God te stel, 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg verdeel. Maar vermy onheilige en ydele praatjies, want dit sal vermeerder tot meer goddeloosheid. En hulle woord sal eet soos 'n kanker; van wie is Himeneus en Filetus; wat hulle met betrekking tot die waarheid gedwaal het deur te sê dat die opstanding reeds verby is; en die geloof van sommige omverwerp. Maar die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is. En: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, van die ongeregtigheid afwyk.
2 TIMOTEUS 2:15-19 Die Boodskap (DB)
Doen jou bes om jou werk so te doen dat God trots sal voel op jou. Dan sal jy nie skaam hoef te voel omdat jy die boodskap van die Here so vir ander vertel dat hulle kan leer wat die waarheid regtig is nie. Moenie jou tyd mors met allerhande praatjies waarvan God niks hou nie, want wie hulle daarmee besig hou, sal net al hoe verder van God afdwaal. Die dinge wat hulle vertel, sal mense geestelik baie seermaak, soos iemand wat kanker kry en al hoe sieker word. Himeneus en Filetus is so, want hulle het ook die spoor heeltemal byster geraak en ken nie meer die waarheid nie. Hulle kom met die storie dat mense al klaar uit die dood opgestaan het. So breek hulle party mense se geloof tot in die grond af. Maar die fondament wat God self gelê het, kan niemand verskuif nie. Dit staan vas. Op die fondament staan geskryf: “Die Here ken almal wat Syne is,” en: “Elkeen wat openlik sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbly van alles wat verkeerd is.”
2 TIMOTEUS 2:15-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ’n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik. Vermy goddelose en dwase gepraat wat net tot verdere goddeloosheid lei. Hierdie soort praatjies versprei soos kanker. Himeneus en Filetus is voorbeelde hiervan. Hulle het die pad van die waarheid verlaat met hulle bewering dat die opstanding van die dooies alreeds plaasgevind het. Daarmee het hulle die geloof van sommige ondermyn. Maar God se waarheid staan vas soos ’n fondamentsteen met die volgende inskripsie: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Dié wat beweer dat hulle aan die Here behoort, moet wegdraai van alle boosheid.”