2 TIMOTEUS 1:7-10
2 TIMOTEUS 1:7-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is, maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie
2 TIMOTEUS 1:7-10 Bybel vir almal (ABA)
God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen. Jy moenie skaam wees om vir mense te vertel van ons Here nie. En ook, jy moenie skaam wees oor my wat in die tronk is omdat ek aan die Here behoort nie. Nee, jy moet saam met my swaarkry wanneer jy die goeie boodskap vir mense bring, want God sal vir jou die krag gee om dit te doen. Toe God ons gered en gekies het, het Hy ons gewy om aan Hom te behoort. Hy het dit gedoen, maar nie omdat óns iets gedoen het nie. Nee, Hy het ons gered omdat Hy self besluit het om genadig te wees vir ons. Voordat die tyd begin het, het God besluit dat ons aan Christus Jesus moet behoort. En nou het God dit vir ons gewys sodat ons dit self kon sien. Christus Jesus het gekom, Hy is die Een wat ons red. Hy het die dood heeltemal oorwin toe Hy die goeie boodskap gebring het, die goeie boodskap wat duidelik vir ons wys wat die lewe is wat nooit sal ophou nie.
2 TIMOTEUS 1:7-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil 'n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.
2 TIMOTEUS 1:7-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
God het ons tog nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Moet jou dus nie skaam vir die getuienis van ons Here nie, ook nie vir my, sy gevangene, nie. Maar dra jou deel van die lyding vir die evangelie deur middel van die krag van God. Hy het ons verlos en geroep met 'n heilige roeping – nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade. Reeds van ewigheid af is dit in •Christus Jesus aan ons geskenk, en nou is dit geopenbaar deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus, wat die dood vernietig het, en die lewe en die onverganklikheid deur die evangelie aan die lig gebring het.
2 TIMOTEUS 1:7-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want God het ons nie 'n gees van vrees gegee nie; maar van krag en liefde en selfbeheersing. Skaam jy jou dan nie oor die getuienis van onse Here of vir my, sy gevangene nie, maar word deelagtig aan die verdrukkinge van die evangelie volgens die krag van God; wat ons gered het en ons geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons in Christus Jesus gegee is voordat die wêreld begin het, Maar dit word nou geopenbaar deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en lewe en onsterflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie.
2 TIMOTEUS 1:7-10 Die Boodskap (DB)
Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie. Moenie skaam wees om oor die Here te praat nie, net so min as wat jy skaam hoef te wees dat ek, as jou vriend, ter wille van Hom hier in die tronk sit. God sal vir jou die krag gee wat jy nodig het om die swaarkry wat Christenskap mag bring, saam met my te kan verdra. God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed is of so ’n goeie lewe lei nie, maar Hy het self besluit om dit te doen omdat Hy so goed vir ons wil wees, al verdien ons dit nie regtig nie. God het nog voor die wêreld begin het al besluit om so goed te wees vir almal wat aan Christus Jesus se kant staan. Christus Jesus, wat vir ons ons saak met God regmaak, het aarde toe gekom en nou kan ons almal duidelik sien hoe goed God vir ons is. Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het.
2 TIMOTEUS 1:7-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. Jy moet dus nooit skaam wees om van ons Here te getuig nie. En moet jou ook nie vir my skaam nie, al is ek ook in die tronk ter wille van Christus. Met die krag wat God jou gee, moet jy gereed wees om saam met my vir die uitdra van die Goeie Nuus te ly. Dit is God wat ons verlos en gekies het om ’n toegewyde lewe te lei. Hy het dit gedoen, nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat dit sy plan was lank voor die begin van die wêreld, naamlik om sy genade aan ons te bewys deur Christus Jesus. En nou het Hy dit alles aan ons duidelik gemaak deur die koms van Christus Jesus, ons Verlosser, wat die mag van die dood verbreek het en aan ons, deur die Goeie Nuus, die weg gewys het na die onverganklike lewe.