2 TESSALONISENSE 3:6-9
2 TESSALONISENSE 3:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ons Here Jesus Christus het vir my gesê ek moet julle waarsku: Julle moet wegbly van al die gelowiges wat lui is en wat nie lewe soos ons vir hulle gesê het nie. Want julle weet baie goed wat julle moet doen as julle soos ons wil lewe. Ons was nie lui toe ons by julle gebly het nie. Ons het by niemand kos gebedel nie, ons het daarvoor betaal. Ons het elke dag en nag hard gewerk en gesweet, want ons wou nie vir een van julle vra om vir ons te sorg nie. Ons is apostels van die Here, en daarom kon ons vir julle gevra het om vir ons te sorg. Maar ons het dit nie gedoen nie, want ons wou vir julle wys dat 'n mens vir homself moet sorg. Ons wou hê julle moet ook doen soos ons gedoen het.
2 TESSALONISENSE 3:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as 'n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.
2 TESSALONISENSE 3:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie. Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle 'n las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle 'n voorbeeld wees wat julle moet volg.
2 TESSALONISENSE 3:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar ons beveel julle in die Naam van ons Here Jesus Christus, broers, dat julle elke broer moet vermy wat hom onordelik gedra, en nie optree volgens die oorlewering wat hulle van ons ontvang het nie. Julle weet tog self hoe nodig dit is dat julle ons voorbeeld volg. Ons het ons immers nie onordelik onder julle gedra nie; ons het niemand se brood sonder betaling geëet nie, maar met swoeg en sweet, bedags en snags gewerk, sodat ons vir niemand van julle 'n las sou wees nie – nie dat ons nie die reg daartoe gehad het nie, maar sodat ons onsself vir julle as voorbeeld kon stel om na te volg.
2 TESSALONISENSE 3:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou beveel ons julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle julle onttrek van elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. Want julle weet self hoe julle ons behoort te volg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; En ons het niemand se brood verniet geëet nie; maar nag en dag met arbeid en moeite gedoen, sodat ons niemand van julle verskuldig sou wees nie. Nie omdat ons nie krag het nie, maar om onsself vir julle 'n voorbeeld te maak om ons te volg.
2 TESSALONISENSE 3:6-9 Die Boodskap (DB)
Broers en susters, in die Naam van ons Here Jesus Christus sê ek reguit vir julle om weg te bly van daardie mense in die kerk wat in sonde lewe en hulle nie steur aan dit wat julle by my geleer het nie. Julle onthou hoe ons opgetree het toe ons by julle was. Ons het vir julle die regte voorbeeld gestel wat julle kan navolg. Ons het nie op julle nek gelê en verwag dat julle die hele tyd vir ons kos en geld moes gee nie. Nee, ons het dag en nag met ons eie hande gewerk sodat ons nie ’n las vir julle sou wees nie. Natuurlik sou ons van julle kon verwag om vir ons te sorg. Maar ons het nie op ons regte aangedring nie. Nee, ons het besluit om julle te kom dien. Op hierdie manier het ons vir julle ’n voorbeeld gestel.
2 TESSALONISENSE 3:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, ons beveel julle in die Naam van die Here Jesus Christus om julle te onttrek aan elke medegelowige wat leeglê en wat nie leef soos julle by ons geleer het nie. Julle weet dat julle ons voorbeeld moet volg. Ons het tog nie by julle leeggelê of bedelbrood van enigeen geëet nie. Inteendeel, ons het dag en nag hard gewerk en geswoeg om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie. Nie dat ons nie op versorging aanspraak kon maak nie, maar ons wou onsself as ’n voorbeeld vir julle stel om te volg.