2 TESSALONISENSE 2:10-12
2 TESSALONISENSE 2:10-12 Bybel vir almal (ABA)
Die slegte leier sal die mense wat verlore gaan, bedrieg met alles wat hy verkeerd doen. Die mense sal hom volg, want hulle het nie hulle harte oopgemaak nie en hulle het nie lief geword vir die ware goeie boodskap oor die Here Jesus nie. As hulle dit gedoen het, dan sou God hulle gered het. God het hierdie mense verkeerd laat dink en daarom glo hulle die slegte leier se leuens. En so sal God almal straf wat nie die ware goeie boodskap oor die Here Jesus geglo het nie. Dit is al die mense wat daarvan gehou het om verkeerde dinge te doen.
2 TESSALONISENSE 2:10-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
2 TESSALONISENSE 2:10-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.
2 TESSALONISENSE 2:10-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word.
2 TESSALONISENSE 2:10-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan; omdat hulle die liefde vir die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle 'n sterk dwaling stuur, dat hulle 'n leuen sou glo. Sodat almal veroordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
2 TESSALONISENSE 2:10-12 Die Boodskap (DB)
Hierdie goddelose figuur sal dit gebruik om mense te mislei. Hy sal almal wat hulle rug vir God gedraai het, aanspoor om die vieslikste sondes te doen. Dit gebeur omdat hulle die kans van ’n leeftyd deur hulle vingers laat glip het om in Christus te glo en sy verlossing te ervaar. God sal hulle toelaat om agter hierdie dwalings aan te hardloop sodat hulle al hierdie leuens uit die hel glo. Die uiteinde van almal wat weier om in die waarheid te glo en wat gekies het om hulle aan al wat sonde is oor te gee, is God se verskriklike straf.
2 TESSALONISENSE 2:10-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sy koms sal ook gepaardgaan met allerhande bose misleiding van dié wat verlore gaan. Hulle gaan verlore omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle verlossing aanvaar het nie. Daarom stuur God ’n kragtige dwaling na hulle sodat hulle die leuen glo. Só sal almal veroordeel word wat nie die waarheid geglo het nie, maar die kwaad gekies het.