2 SAMUEL 9:3-13

2 SAMUEL 9:3-13 Bybel vir almal (ABA)

Die koning het vir hom gevra: “Lewe daar nog iemand van die nageslag van Saul? Ek wil vir hom doen wat ek moet doen, ek het dit voor God belowe.” Siba het vir die koning gesê: “Daar is nog 'n seun van Jonatan. Maar sy bene is verlam.” Die koning het vir Siba gevra: “Waar is hy?” Siba het vir die koning gesê: “Hy is in die stad Lo-Dabar, in die huis van Makir seun van Ammiël.” Koning Dawid het mense gestuur en hy het vir Mefiboset laat haal by die huis van Makir seun van Ammiël in Lo-Dabar. Toe Mefiboset seun van Jonatan seun van Saul by Dawid kom, het hy laag gebuig met sy gesig teen die grond. Dawid het gesê: “Mefiboset.” En Mefiboset het gesê: “Hier is ek, wat kan ek vir jou doen?” Dawid het vir hom gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Ek wil vir jou doen wat ek moet doen, ek het dit vir jou pa Jonatan belowe. Ek gee vir jou al die grond wat jou oupa Saul gehad het. En jy kan elke dag saam met my eet.” Mefiboset het laag gebuig en gesê: “Hoekom wil jy vir my sorg? Ek beteken niks, ek is soos 'n dooie hond.” Die koning het vir Siba, die amptenaar van Saul, geroep en vir hom gesê: “Ek het alles wat aan Saul en sy hele familie behoort het, vir die seun van jou meneer Jonatan gegee. Jy moet vir hom in sy grond werk, jy en jou seuns en jou slawe, en jy moet die koring en die gars bring wat jy afgesny het, en die vrugte wat jy gepluk het, sodat jou meneer se seun kos sal hê om te eet. Mefiboset, die seun van jou meneer, moet elke dag saam met my eet.” Siba het 15 seuns gehad en 20 slawe. Siba het vir die koning gesê: “Ek sal alles doen wat Meneer die koning vir my gesê het sodat Mefiboset saam met die koning kan eet soos die koning se eie seuns.” Mefiboset het 'n klein seuntjie gehad. Sy naam was Mika. Mefiboset het in Jerusalem gewoon, want hy het elke dag saam met die koning geëet. Altwee sy bene was verlam.

2 SAMUEL 9:3-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die koning vra: Is daar nie nog iemand van die huis van Saul, dat ek die guns van God aan hom kan bewys nie? Toe sê Siba aan die koning: Daar is nog 'n seun van Jónatan, wat lam is aan altwee voete. En die koning vra hom: Waar is hy? Toe sê Siba aan die koning: Kyk, hy is in die huis van Magir, die seun van Ámmiël, in Lódebar. Daarop het koning Dawid gestuur en hom laat haal uit die huis van Magir, die seun van Ámmiël, uit Lódebar. Toe Mefibóset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, by Dawid inkom, het hy op sy aangesig geval en hom neergebuig. En Dawid het gesê: Mefibóset! En hy het geantwoord: Hier is u dienaar. En Dawid sê vir hom: Wees nie bevrees nie, want ek sal jou sekerlik guns bewys ter wille van jou vader Jónatan en al die grond van jou vader Saul aan jou teruggee, en jy self sal altyddeur aan my tafel brood eet. Toe buig hy en sê: Wat is u dienaar, dat u na 'n dooie hond soos ek is, omgesien het? En die koning het Siba, die dienaar van Saul, geroep en vir hom gesê: Alles wat Saul en sy hele huis gehad het, gee ek aan die seun van jou heer. En jy moet vir hom die grond bewerk, jy en jou seuns en jou slawe, en jy moet voedsel inbring, dat die seun van jou heer brood het om te eet; maar Mefibóset, die seun van jou heer, sal altyddeur aan my tafel brood eet. En Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad. Toe sê Siba aan die koning: Net soos my heer die koning sy dienaar beveel, so sal u dienaar doen; en Mefibóset het aan die tafel van Dawid geëet soos een van die koning se seuns. En Mefibóset het 'n jong seun gehad met die naam van Miga, en almal wat in die huis van Siba gewoon het, was Mefibóset se dienaars. En Mefibóset het in Jerusalem gewoon, want hy het altyddeur aan die koning se tafel geëet; en hy was lam aan altwee voete.

2 SAMUEL 9:3-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Is daar nie miskien iemand uit Saul se familie oor nie?” wou die koning weet. “Ek wil hom 'n besondere guns bewys.” “Daar is nog 'n kreupel seun van Jonatan,” was Siba se antwoord aan die koning. “Waar is hy?” vra die koning hom toe, en hy het geantwoord: “Hy is in die huis van Ammiël se seun Makir in Lo-Dabar.” Koning Dawid het hom toe laat haal uit Makir se huis in Lo-Dabar. Toe Mefiboset seun van Saul se seun Jonatan by Dawid kom, het hy op sy knieë geval voor Dawid en gebuig. “Mefiboset?” vra Dawid. “Ek is u onderdaan,” antwoord hy. Dawid sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie, want ek het besluit om jou onder my sorg te neem ter wille van Jonatan jou pa. Ek gaan al die grond van jou oupa Saul aan jou teruggee, en boonop sal jy van nou af by my aan huis eet.” Hy het weer voor Dawid gebuig en gesê: “Wat is ek tog dat u aandag gee aan 'n dooie hond soos ek?” Dawid het vir Siba die amptenaar van Saul geroep en hom beveel: “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee ek aan sy kleinseun. Jy en jou seuns en jou slawe moet vir hom die lande bewerk en die oes insamel sodat daar kos kan wees vir sy huishouding, en sodat hulle kan eet. Maar Mefiboset die kleinseun van Saul sal van nou af by my aan huis eet.” Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad. Hy het die koning geantwoord: “Ek is u onderdaan, ek sal doen net soos die koning my beveel het, en Mefiboset sal by u aan huis eet soos u eie kind.” Mefiboset het 'n klein seuntjie gehad wie se naam Miga was. Die hele huishouding van Siba moes vir Mefiboset bedien. Mefiboset, wie se voete gebreklik was, het in Jerusalem gebly, want hy het van toe af by die koning aan huis geëet.

2 SAMUEL 9:3-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die koning vra toe: “Is daar nog enigiemand oor van die huis van Saul, sodat ek aan hom guns kan bewys, soos ek voor God beloof het? ” Siba het die koning geantwoord: “Daar is nog 'n seun van Jonatan – hy het gebreklike voete.” Die koning vra toe vir hom, “Waar is hy?” waarop Siba toe vir die koning sê: “Hy is daar in die huis van Magir, seun van Ammiël, in Lo-Dabar.” Koning Dawid het hom toe laat haal uit Lo-Dabar, uit die huis van Magir, seun van Ammiël. Toe Mefiboset, seun van Jonatan, seun van Saul, by Dawid aankom, het hy neergeval met sy gesig teen die grond en diep neergebuig. Dawid sê toe: “Mefiboset?” Waarop hy antwoord: “Hier is ek, u dienaar!” Dawid het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want ek sal beslis aan jou guns bewys ter wille van Jonatan, jou vader. Ek sal aan jou al die grond van Saul, jou voorvader, teruggee. Jy self sal gereeld aan my tafel brood eet.” Hy het diep gebuig en gesê: “Wat is u dienaar, dat u aan die dooie hond wat ek is, aandag gee?” Die koning het Siba, die dienaar van Saul, ontbied en vir hom gesê: “Alles wat aan Saul en sy hele familie behoort het, gee ek aan die seun van jou heer. Jy moet vir hom die grond bewerk, jy en jou seuns en jou slawe. Jy moet die opbrengs inbring, sodat die seun van jou heer brood kan hê en hy dit kan eet. En die seun van jou heer, Mefiboset, sal gereeld brood eet aan my tafel. ” Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad. Siba het die koning geantwoord: “Ooreenkomstig alles wat my heer die koning sy dienaar beveel, presies so sal u dienaar optree.” Mefiboset het toe aan sy tafel geëet, soos een van die koning se seuns. Mefiboset het 'n jong seun gehad met die naam Miga. Al die bewoners van Siba se huis was Mefiboset se dienaars. Mefiboset het in Jerusalem bly woon, want hy was 'n gereelde gas aan die koning se tafel. Hy was kreupel; albei sy voete was misvormd.

2 SAMUEL 9:3-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê die koning: Is daar nog nie iemand uit die huis van Saul, dat ek die goedertierenheid van God aan hom kan bewys nie? Toe sê Siba aan die koning: Jónatan het nog 'n seun wat kreupel is op sy voete. Toe sê die koning vir hom: Waar is hy? Toe sê Siba aan die koning: Kyk, hy is in die huis van Magir, die seun van Ammiël, in Lodebar. Toe het koning Dawid gestuur en hom uit die huis van Magir, die seun van Ammiël, uit Lodebar gaan haal. Toe Mefiboset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, by Dawid kom, het hy op sy aangesig geval en eerbied gehad. En Dawid sê: Mefiboset! En hy antwoord: Daar is u dienaar! Toe sê Dawid vir hom: Moenie bevrees wees nie, want ek sal sekerlik guns aan jou bewys ter wille van jou vader Jónatan en jou die hele land van jou vader Saul teruggee; en jy moet gedurigdeur aan my tafel brood eet. En hy het gebuig en gesê: Wat is u dienaar, dat u so 'n dooie hond soos ek sou aansien? Toe roep die koning Siba, die dienaar van Saul, en sê vir hom: Ek het aan jou heer se seun alles gegee wat aan Saul en sy hele huis behoort het. Daarom moet jy en jou seuns en jou dienaars die land vir hom bewerk, en jy moet die vrugte inbring, sodat die seun van jou heer voedsel kan hê om te eet; maar Mefiboset, die seun van jou heer, sal altyd aan my tafel brood eet. En Siba het vyftien seuns en twintig dienaars gehad. Toe sê Siba vir die koning: Net soos my heer die koning sy dienaar beveel het, so moet u dienaar doen. Wat Mefiboset betref, sê die koning, hy sal aan my tafel eet soos een van die koning se seuns. En Mefiboset het 'n jong seun gehad met die naam van Miga. En almal wat in die huis van Siba gewoon het, was Mefiboset se dienaars. En Mefiboset het in Jerusalem gewoon, want hy het gedurigdeur aan die tafel van die koning geëet; en was lam aan albei sy voete.

2 SAMUEL 9:3-13 Die Boodskap (DB)

Die koning sê toe: “Is daar dalk nog iemand van Saul se familie oor? Ek sal graag goed wil wees vir so iemand, soos God vir my goed was.” Siba het die koning geantwoord: “Daar is nog ’n seun van Jonatan, maar hy loop swaar.” Die koning vra: “Waar is hy?” “Hy bly daar in Lo-Dabar,” sê Siba, “by Makir, Ammiël se seun.” Koning Dawid het mense na Lo-Dabar toe gestuur en hom by Makir se huis laat haal. Toe Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, by Dawid kom, het hy met sy gesig teen die grond gebuig. Dawid vra hom: “Is jy Mefiboset?” “Ja, dis ek. Ek is tot u diens,” antwoord hy. Dawid sê vir hom: “Moenie bang wees nie. Ek sal vir jou net goed wees omdat ek en jou pa, Jonatan, sulke goeie vriende was. Ek gaan al jou oupa Saul se grond vir jou teruggee, en jy kan altyd by my kom eet.” Hy het weer teen die grond gebuig en gesê: “U Majesteit, ek weet nie hoekom u dit vir my doen nie, want ek is niks meer werd as ’n dooie hond nie.” Dawid het toe vir Siba, die man wat vir Saul gewerk het, gesê: “Siba, ek gee nou al die grond en goed van Saul, jou vorige baas, en van sy familie vir hierdie kleinkind van hom. Jy en jou seuns en jou werkers moet die grond vir hom bewerk en vir hom oes sodat daar vir hom genoeg is om van te lewe. Mefiboset self kan altyd by my eet.” (Siba het vyftien seuns en twintig werkers gehad.) Siba sê toe vir die koning: “U Majesteit, ek sal alles doen wat u vir my gesê het.” Mefiboset het toe soos een van die koning se eie seuns gereeld in die paleis geëet. Mefiboset het ’n klein seuntjie gehad; sy naam was Miga. Al Siba se mense het vir Mefiboset gewerk, maar Mefiboset, wie se twee bene lam was, het in Jerusalem gebly sodat hy gereeld by die koning kon eet.

2 SAMUEL 9:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die koning vra hom toe: “Is daar iemand uit Saul se huis wat nog lewe? Ek wil graag ’n besondere guns aan hom bewys.” Siba het geantwoord: “Ja, een van Jonatan se seuns lewe nog, maar hy is kreupel.” “Waar is hy?” vra die koning. “In Lo-Dabar,” antwoord Siba, “in die huis van Makir seun van Ammiël.” Koning Dawid het Jonatan se seun toe uit Makir se huis laat haal. Sy naam was Mefiboset. Hy was Jonatan se seun en Saul se kleinseun. Toe hy by Dawid kom, het hy op sy knieë gegaan en laag gebuig. “Mefiboset?” het Dawid gevra. “Ja, dis ek, u dienaar,” het hy geantwoord. Dawid sê vir hom: “Moenie bang wees nie! Ek sal na jou omsien ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet.” Mefiboset het voor die koning gebuig. “Wie is u dienaar tog dat u so goed is vir ’n dooie hond soos ek?” het hy uitgeroep. Toe het die koning vir Siba, Saul se bestuurder, beveel: “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee ek nou aan sy kleinseun. Jy en jou seuns en jou slawe moet die landerye bewerk om kos te verskaf vir sy gesin. Mefiboset self sal egter hier in my paleis kom eet.” Siba, wat vyftien seuns en twintig slawe gehad het, het geantwoord: “U dienaar sal doen soos u my beveel het.” Van daardie dag af het Mefiboset gereeld aan Dawid se tafel geëet asof hy een van Dawid se eie seuns was. Mefiboset het ’n seuntjie met die naam Miga gehad. Van toe af was die hele huishouding van Siba dienaars van Mefiboset. Mefiboset self het egter in Jerusalem gebly omdat hy in die paleis geëet het. Al twee sy voete was verlam.