2 SAMUEL 5:1-5
2 SAMUEL 5:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die leiers van al die stamme van Israel het na Dawid toe gekom in die stad Hebron en hulle het vir hom gesê: “Jy weet ons is jou mense. Toe Saul ons koning was, het jy ook vir Israel in die oorlog gelei, en die Here het vir jou gesê: “Jy moet 'n herder wees vir my volk Israel, jy moet koning wees oor my volk Israel.” Al die leiers van Israel het na die koning toe gekom in Hebron. Koning Dawid het met hulle 'n ooreenkoms gemaak by die tempel in Hebron. Hulle het vir Dawid gesalf om koning te wees oor Israel. Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 40 jaar lank koning. In Hebron het hy sewe jaar en ses maande regeer oor die Juda-stam en in Jerusalem het hy 33 jaar regeer oor die hele Israel en oor die Juda-stam.
2 SAMUEL 5:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE kom al die stamme van Israel na Dawid in Hebron, en hulle spreek en sê: Hier is ons, u been en u vlees is ons! Gister sowel as eergister toe Saul koning oor ons was, het ú Israel uit- en ingelei; en die HERE het aan u gesê: Jý moet my volk Israel oppas, en jý moet 'n vors wees oor Israel. So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom; en koning Dawid het met hulle 'n verbond in Hebron gesluit voor die aangesig van die HERE, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf. Dertig jaar was Dawid oud toe hy koning geword het; veertig jaar het hy geregeer. In Hebron het hy oor Juda sewe jaar en ses maande geregeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig jaar oor die hele Israel en Juda geregeer.
2 SAMUEL 5:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê: “Jy moet vir my volk Israel 'n herder wees; ja, jy moet heerser oor Israel wees!” So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. Dawid was dertig toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. In Hebron was hy sewe en 'n half jaar koning oor Juda, en in Jerusalem drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda.
2 SAMUEL 5:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Al die stamme van Israel het na Dawid in Hebron gekom en gesê: “Hier is ons – ons is u bloedfamilie. Selfs in die verlede, toe Saul oor ons koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die HERE het vir u gesê, ‘Jy sal herder wees van my volk Israel, en jy sal 'n leier word oor Israel.’ ” Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het koning Dawid voor die HERE 'n verbond met hulle gesluit in Hebron; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel. Dawid was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank regeer. In Hebron was hy koning oor Juda sewe jaar en ses maande lank, en in Jerusalem was hy koning oor die hele Israel en Juda drie-en-dertig jaar lank.
2 SAMUEL 5:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het al die stamme van Israel na Dawid in Hebron gekom en gespreek en gesê: Kyk, ons is jou been en jou vlees. Ook in die verlede, toe Saul koning oor ons was, was jy die een wat Israel uitgelei en ingebring het; en die HERE het vir jou gesê: Jy moet my volk Israel oppas, en jy moet 'n owerste oor Israel wees. Toe het al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom; en koning Dawid het 'n verbond met hulle gesluit in Hebron voor die aangesig van die HERE, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf. Dawid was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. In Hebron het hy sewe jaar en ses maande oor Juda geregeer; en in Jerusalem het hy drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda geregeer.
2 SAMUEL 5:1-5 Die Boodskap (DB)
Al die stamme van Israel se leiers het na Dawid in Hebron gekom. Hulle het vir hom gesê: “Ons is eintlik mos maar familie van u. Vroeër toe Saul nog ons koning was, was ú die een wat Israel altyd in die oorlog gelei het. Die Here het ook vir u gesê: Jý moet my volk Israel se herder wees. Jý moet die leier van Israel wees.” So het al die stamhoofde van Israel na die koning in Hebron gekom. Dawid het by die Here se altaar ’n ooreenkoms met hulle gesluit en hulle het hom koning gemaak oor Israel. Dawid was 30 toe hy koning geword het en hy het vir 40 jaar regeer. Oor Juda alleen het hy vir sewe en ’n half jaar in Hebron regeer en oor die hele Israel en Juda saam was hy vir 33 jaar koning in Jerusalem.
2 SAMUEL 5:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het al die stamme van Israel na Dawid in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal bloedverwante. ’n Lang tyd al, selfs destyds toe Saul ons koning was, was u eintlik maar die een wat Israel in gevegte gelei het. En die HERE het vir u gesê: ‘Jy sal die herder van my volk Israel wees. Jy sal heerser oor Israel wees.’” Dawid het toe daar in Hebron voor die HERE ’n ooreenkoms met die leiers van Israel gesluit, en hulle het hom as koning van Israel gesalf. Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het altesaam 40 jaar lank regeer. Hy het sewe en ’n half jaar in Hebron oor Juda regeer, en in Jerusalem 33 jaar oor Israel en Juda saam.