2 SAMUEL 4:4-12
2 SAMUEL 4:4-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Saul se seun Jonatan het 'n seun gehad met misvormde voete. Hy was vyf jaar oud toe die tyding oor Saul en Jonatan hulle uit Jisreël bereik het. Sy oppasser het hom opgetel en gevlug, maar in haar haas om weg te kom, het die seuntjie geval en kreupel geword. Sy naam was Mefiboset. Regab en Baäna, die seuns van Rimmon uit Beërot, het geloop en op die hitte van die dag by Is-Boset se huis aangekom. Hy was juis besig om sy middagslapie te geniet. Daar het hulle die huis binnegegaan – gewoonlik het hulle koring gaan haal – en hom in die maag gesteek. Regab en Baäna, sy broer, het verbygeglip en die huis binnegegaan terwyl Is-Boset in sy slaapkamer op sy bed gelê het. Hulle het hom gesteek en doodgemaak, sy kop afgekap en dit saamgevat. Hulle het die hele nag met die pad van die Araba langs geloop en Is-Boset se kop vir Dawid in Hebron gebring. Hulle het vir die koning gesê: “Hier is die kop van Is-Boset, die seun van Saul, u vyand wat u lewe gesoek het. Die HERE het op hierdie dag vir my heer die koning wraak geneem op Saul en sy nageslag.” Dawid het Regab en sy broer Baäna, die seuns van Rimmon uit Beërot, geantwoord en vir hulle gesê: “So waar as die HERE leef, Hy wat my lewe uit alle nood gered het – die een wat vir my 'n berig gebring het, ‘Kyk, Saul is dood!’ terwyl hy gedink het hy bring goeie nuus, het ek gegryp en hom om die lewe gebring by Siklag, hom aan wie ek eintlik die loon van 'n boodskapper moes gee. Hoeveel te meer sal ek, wanneer goddelose manne 'n regverdige man in sy huis op sy bed vermoor, nie nou sy bloed van julle hande eis en julle van die aarde af verdelg nie?” Dawid het die jong manne opdrag gegee, en hulle het hulle om die lewe gebring. Hulle het hulle hande en voete afgekap en hulle by die dam by Hebron opgehang. Is-Boset se kop het hulle geneem en dit in Abner se graf by Hebron gesit.
2 SAMUEL 4:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Saul se seun Jonatan het ’n seun gehad met die naam Mefiboset wat van kindsbeen af kreupel was. Hy was vyf jaar oud toe Saul en Jonatan tydens die geveg by Jisreël gesneuwel het. Toe die nuus van die geveg die hoofstad bereik, het sy oppasser hom gegryp en gevlug. Maar terwyl sy hardloop, het sy gestruikel en die kind laat val sodat hy kreupel geword het. Op ’n dag, op die warmte van die middag, het Baäna en Rekab, seuns van Rimmon, na die huis van Is-Boset toe gegaan terwyl hy ’n middagslapie geniet het. Hulle het toegang tot die huis gekry deur voor te gee dat hulle koring kom haal, maar het Is-Boset in sy maag gesteek en gevlug. Hulle het die huis binnegekom terwyl hy op sy bed in sy slaapkamer geslaap het en hom doodgesteek. Hulle het selfs sy kop afgekap, dit saamgeneem en deur die nag al met die Jordaanvallei langs gegaan. Hulle het in Hebron aangekom en die kop vir Dawid aangebied. “Kyk!” sê hulle. “Hier is die kop van Is-Boset, die seun van u vyand Saul wat u wou doodmaak. Vandag het die HERE wraak geneem oor Saul en sy hele familie!” Maar Dawid sê vir Rekab en Baäna: “Ek maak ’n eed voor die HERE wat my van al my vyande verlos het. Een keer het iemand my kom vertel ‘Saul is dood’ omdat hy gedink het hy bring vir my goeie nuus. Maar ek het hom gegryp en daar by Siklag doodgemaak. Dit was sy beloning! Hoeveel te meer moet ek nie ook die lewe eis van bose manne wat ’n onskuldige man in sy huis op sy bed doodgemaak het nie?” Daarop het Dawid sy lyfwag beveel om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgekap en hulle liggame langs die dam by Hebron opgehang. Is-Boset se kop het hulle geneem en dit in Abner se graf in Hebron gaan begrawe.
2 SAMUEL 4:4-12 Bybel vir almal (ABA)
Saul se seun Jonatan het 'n seun gehad. Die seun se bene was verlam. Hy was vyf jaar oud toe hulle gehoor het wat met Saul en Jonatan gebeur het naby Jisreël. Die vrou wat die seun opgepas het, het hom geneem en gevlug, maar sy was so haastig om te vlug dat sy hom laat val het, en hy het verlam geword. Die seun se naam was Mefiboset. Rekab en Baäna, die seuns van Rimmon van die stad Beërot, het op die warmste tyd van die dag in die huis van Is-Boset ingekom toe hy die middag geslaap het. Hulle het gesê hulle bring koring en hulle het vir Is-Boset in sy maag gesteek en gevlug. Terwyl Is-Boset op sy bed in die slaapkamer gelê het, het hulle in die huis ingekom en hulle het hom doodgemaak. Hulle het sy kop afgesny en saamgeneem. Hulle het die hele nag op die pad deur die Jordaan-vallei geloop en hulle het Is-Boset se kop vir Dawid in Hebron gebring. Hulle het vir die koning gesê: “Hier is die kop van jou vyand Is-Boset seun van Saul wat jou wou doodmaak. Die Here het vandag vir Saul en sy nageslag gestraf oor wat hulle aan Meneer die koning gedoen het.” Dawid het die broers Rekab en Baäna, die seuns van Rimmon van die stad Beërot, geantwoord en hy het vir hulle gesê: “Luister, so seker soos die Here lewe wat my uit elke gevaar gered het, toe iemand vir my in Siklag kom vertel het dat Saul dood is, het hy gedink hy bring goeie nuus. Toe het ek hom gegryp en ek het hóm doodgemaak. Dit is wat ek vir hom gegee het vir sy goeie nuus. En wanneer skelms 'n onskuldige man in sy huis op sy bed doodgemaak het, wat moet ek doen? Ek moet julle straf omdat julle hom vermoor het en ek moet julle wegvee van die aarde.” Dawid het toe vir die jongmanne gesê om die twee manne dood te maak. Die jongmanne het dit gedoen en hulle het die twee manne se hande en voete afgekap. Hulle het die manne opgehang by die dam in Hebron. Hulle het die kop van Is-Boset geneem en hulle het dit begrawe in die graf van Abner in Hebron.
2 SAMUEL 4:4-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jónatan, die seun van Saul, het 'n seun gehad, lam aan altwee voete. Hy was vyf jaar oud toe die tyding aangaande Saul en Jónatan uit Jísreël gekom het, en sy oppasser het hom opgetel en gevlug; maar terwyl sy in haar haastigheid vlug, het hy geval en lam geword; en sy naam was Mefibóset. En die seuns van Rimmon, die Béërotiet, Regab en Báëna, het gegaan en by die huis van Isbóset gekom op die warmste van die dag toe hy in sy middagslaap lê. En hulle het daar ingekom tot binne-in die huis om koring te gaan haal en hom in die onderlyf gesteek; en Regab en sy broer Báëna het ontvlug. Hulle het naamlik die huis ingegaan, terwyl hy op sy bed in sy slaapkamer lê, en hom doodgeslaan en sy hoof afgekap; en hulle het sy hoof saamgeneem en die hele nag deur geloop met die pad van die Vlakte en die hoof van Isbóset na Dawid in Hebron gebring en aan die koning gesê: Hier is die hoof van Isbóset, die seun van Saul, u vyand wat u lewe gesoek het; maar die HERE het aan my heer die koning vandag wraak gegee op Saul en sy nageslag. Maar Dawid het Regab en sy broer Báëna, die seuns van Rimmon, die Béërotiet, geantwoord en aan hulle gesê: So waar as die HERE leef wat my siel uit alle benoudheid verlos het, hom wat aan my berig gebring en gesê het: Kyk, Saul is dood! — terwyl hy in sy eie oë was soos een wat 'n goeie boodskap bring — het ek gegryp en hom in Siklag gedood, aan wie ek eintlik boodskappersloon moes gegee het; hoeveel te meer sal ek dan nou nie, as goddelose mense 'n regverdige man in sy huis op sy bed vermoor, sy bloed van julle hand eis en julle van die aarde verdelg nie? Toe het Dawid die jongmanne bevel gegee, en dié het hulle gedood en hul hande en voete afgekap en hulle opgehang by die dam in Hebron; maar die hoof van Isbóset het hulle geneem en dit begrawe in die graf van Abner in Hebron.
2 SAMUEL 4:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Saul se seun Jonatan het 'n seun gehad met gebreklike voete. Hy was vyf jaar oud toe die tyding oor Saul en Jonatan uit Jisreël gekom het, en die vrou wat hom versorg het, het hom opgetel en gevlug, maar in haar haas het hy geval en so kreupel geword. Sy naam was Mefiboset. Rekab en Baäna, seuns van Rimmon die Beërotiet, het op die warmte van die dag, terwyl Is-Boset besig was om sy middagslapie te geniet, by sy huis aangekom. Hulle het tot binne in die huis gegaan onder die voorwendsel dat hulle koring kom aflewer, en hom in die maag gesteek. Daarna het hulle gevlug. Hulle het in die huis gekom en hom doodgesteek terwyl hy op sy bed in die slaapkamer aan die slaap was. Hulle het selfs sy kop afgekap en dit saamgevat. Die hele nag deur het hulle met die Jordaanvalleipad langs gestap en Is-Boset se kop na Dawid toe in Hebron gebring. Hulle het vir die koning gesê: “Hier is die kop van Is-Boset Saul se seun. Saul was u vyand en wou u doodmaak, maar vandag het die Here vir die koning wraak geneem oor Saul en sy nasate.” Toe sê Dawid vir Rekab en sy broer Baäna, seuns van Rimmon die Beërotiet: “Ek verklaar voor die Here, my bevryder uit elke lewensgevaar: Die man wat my in Siklag vertel het: ‘Saul is dood!’ het ek laat gryp en doodslaan as beloning vir so 'n boodskap, en hy het nogal gedink hy is iemand wat 'n goeie tyding bring. Hoeveel te meer sal ek nie, noudat skurke 'n onskuldige man op sy bed in sy huis doodgemaak het, sy moord op hulle wreek en hulle van die aarde af wegvee nie!” Toe het Dawid sy lyfwag beveel om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgesny en hulle by die dam van Hebron opgehang. Maar Is-Boset se kop het hulle gevat en in Abner se graf in Hebron gaan begrawe.
2 SAMUEL 4:4-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jónatan, die seun van Saul, het 'n seun gehad wat kreupel was van sy voete. Hy was vyf jaar oud toe die tyding van Saul en Jónatan uit Jísreël gekom het, en sy verpleegster het hom opgeneem en gevlug; en terwyl sy haastig gevlug het, het hy geval en kreupel geword. En sy naam was Mefiboset. En die seuns van Rimmon, die Beërotiet, Regab en Baäna, het gegaan en teen die hitte van die dag by die huis van Isboset gekom, wat op 'n bed gelê het op die middag. En hulle het daar in die middel van die huis gekom, asof hulle koring sou gaan haal het; en hulle het hom onder die vyfde rib geslaan, en Regab en sy broer Baäna het vrygekom. Want toe hulle in die huis kom, het hy op sy bed in sy slaapkamer gelê, en hulle het hom geslaan en hom gedood en hom onthoof, en sy kop geneem en hulle die hele nag deur die vlakte getrek. En hulle het die hoof van Isbóset na Dawid in Hebron gebring en aan die koning gesê: Hier is die hoof van Isbóset, die seun van Saul, jou vyand wat jou lewe gesoek het; en die HERE het my heer die koning vandag gewreek aan Saul en sy nageslag. En Dawid het Regab en sy broer Baäna, die seuns van Rimmon, die Beërotiet, geantwoord en vir hulle gesê: So waar as die HERE leef, wat my siel uit alle benoudheid verlos het! Toe iemand dit vir my sê en gesê het: Kyk, Saul is dood omdat hy gedink het dat hy 'n goeie boodskap gebring het, het ek hom gegryp en hom in Siklag gedood, wat gedink het dat ek hom vir sy boodskap sou beloon het. Hoeveel te meer as goddelose mense 'n regverdige in sy huis op sy bed gedood het? Sal Ek dan nie nou sy bloed van jou hand eis en jou van die aarde af wegneem nie? En Dawid het sy jongmanne bevel gegee, en hulle het hulle gedood en hulle hande en hulle voete afgekap en hulle oor die dam in Hebron opgehang. Maar hulle het die kop van Isboset geneem en dit in die graf van Abner in Hebron begrawe.
2 SAMUEL 4:4-12 Die Boodskap (DB)
Behalwe Is-Boset was daar nog een man van Saul se familie oor. Sy naam was Mefiboset. Dit was Jonatan se seun. Sy bene was verlam. Toe die boodskap uit Jisreël kom dat Saul en Jonatan dood is, was hy maar vyf jaar oud. Die kinderoppasser het hom gegryp om weg te hardloop, maar sy was só haastig om weg te kom dat sy die kind laat val het. Van toe af is hy verlam. Rekab en Baäna, Rimmon van Beërot se twee seuns, het een middag na Is-Boset se huis gegaan. Dit was op die warmste tyd van die dag, en hy het ’n middagslapie geniet. Die twee het gemaak of hulle koring kom haal en het só tot binne-in die huis gekom. Hulle het Is-Boset doodgesteek en weer uitgeglip. Toe hulle in die huis ingekom het, het Is-Boset nog op sy bed in die slaapkamer gelê. Daar het hulle hom doodgesteek en sy kop afgekap. Hulle het sy kop gevat en die hele nag al met die Jordaanvallei langs geloop. Hulle het Is-Boset se kop vir koning Dawid in Hebron gevat en vir hom gesê: “Hier is die kop van Is-Boset, die seun van Saul, daardie vyand van u wat probeer het om u dood te maak. Die Here het vandag vir U Majesteit wraak geneem op Saul en sy kinders.” Maar Dawid het vir Rekab en Baäna, Rimmon van Beërot se twee seuns, gesê: “So waar as die Here leef, Hy wat my uit baie moeilikheid gehelp het: Toe ’n man in Siklag vir my kom sê het Saul is dood, het hý ook gedink hy bring vir my goeie nuus. Maar ek het hom laat vang en laat doodmaak. Dís die betaling wat hy gekry het vir sy boodskap. Wat dink julle gaan ek dan doen met skurke wat ’n onskuldige man in sy eie huis op sy bed vermoor? Ek gaan julle vir seker laat betaal vir sy dood en julle van die aarde af uitroei.” Dawid het vir sy soldate gesê om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgekap en die twee lyke by die fontein van Hebron opgehang vir almal om te sien. Is-Boset se kop het hulle in Abner se graf in Hebron gaan neersit.