2 SAMUEL 24:21-25
2 SAMUEL 24:21-25 Bybel vir almal (ABA)
Hy het gevra: “Hoekom kom Meneer die koning na my toe?” Dawid het gesê: “Ek kom om jou dorsvloer te koop. Ek moet vir die Here 'n altaar bou sodat die mense kan ophou sterf.” Arauna het vir Dawid gesê: “Meneer die koning moet neem wat jy wil hê en jy moet offer wat jy wil offer. Kyk, hier is beeste vir die brand-offer en hier is die dors-sleë en die jukke vir brandhout. Koning, ek gee dit alles vir jou.” Die koning het vir Arauna gesê: “Nee, ek wil dit van jou koop, jy moet sê hoeveel ek moet betaal. Ek wíl dit doen. Ek sal nie vir my God die Here brand-offers bring as ek nie daarvoor betaal het nie.” Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop, hy het 50 sikkels silwer betaal. Dawid het daar 'n altaar vir die Here gebou en hy het brand-offers en ete-offers gebring. Die Here het sy offers vir die land aanvaar, en die mense van Israel het opgehou sterf.
2 SAMUEL 24:21-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Arauna het gesê: Waarom kom my heer die koning na sy dienaar? Daarop sê Dawid: Om die dorsvloer van jou te koop, om vir die HERE 'n altaar te bou, sodat die plaag onder die volk kan ophou. Maar Arauna sê vir Dawid: My heer die koning kan neem en offer wat goed is in sy oë, kyk, daar is die beeste as die brandoffer en die sleë en die trekgoed van die beeste as hout. Dit gee Arauna alles, o koning, aan die koning. Verder het Arauna aan die koning gesê: Mag die HERE u God 'n behae in u hê. Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan die HERE my God brandoffers bring nie. En Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer. Toe het Dawid daar vir die HERE 'n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring; en die HERE het Hom oor die land ontferm, en die plaag is van Israel afgewend.
2 SAMUEL 24:21-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Waarom kom die koning na sy dienaar toe?” vra Arauna. “Om die dorsvloer van jou te koop en 'n altaar vir die Here daarop te bou, sodat die plaag van die volk af weggeneem kan word,” antwoord Dawid. Arauna het vir Dawid gesê: “U kan dit gerus maar vat, U Majesteit, en offer net wat u wil. Kyk, die beeste vir die offer is hier, en die dorsslee en die jukke is beskikbaar as brandhout. U Majesteit, Arauna gee dit alles aan die koning. Mag die Here u God u offer aanneem.” Hierop het die koning vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou teen die volle prys. Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir sowat ses honderd gram silwer gekoop. Hy het net daar 'n altaar vir die Here gebou en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hierna het die Here weer die gebede vir die land verhoor, en die plaag is uit Israel weggeneem.
2 SAMUEL 24:21-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Arauna sê toe: “Waarom kom my heer die koning na sy dienaar?” Daarop antwoord Dawid: “Om die dorsvloer by jou te koop, om vir die HERE 'n altaar te bou, sodat die plaag van die manskappe afgewend kan word.” Arauna het egter vir Dawid gesê: “My heer die koning kan neem en offer soos wat goed is in sy oë. Kyk, daar is die beeste vir 'n •brandoffer, en die dorssleë en jukke van die beeste as brandhout. Dit alles, o koning, skenk Arauna aan die koning.” Arauna het ook vir die koning gesê: “Mag die HERE u God u aanvaar!” Maar die koning het Arauna geantwoord: “Nee! Want ek gaan dit beslis by jou koop teen 'n prys. Ek gaan nie aan die HERE my God brandoffers bring sonder uitgawes nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkel silwer. Dawid het daar vir die HERE 'n altaar gebou en brandoffers en •maaltydoffers gebring. Die HERE het toe die smeekbedes vir die land verhoor, en die plaag is van Israel afgewend.
2 SAMUEL 24:21-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Arauna sê: Waarom het my heer die koning na sy dienaar gekom? En Dawid het gesê: Om vir jou die dorsvloer te koop, om vir die HERE 'n altaar te bou, sodat die plaag van die volk teruggehou kan word. Toe sê Arauna vir Dawid: Laat my heer die koning neem en offer wat vir hom goed is; kyk, hier is osse vir brandoffer, en dorsgereedskap en ander gereedskap van die osse vir hout. Al hierdie dinge het Arauna as 'n koning aan die koning gegee. En Arauna sê aan die koning: Die HERE jou God het jou aangeneem. Toe sê die koning vir Arauna: Nee! maar ek sal dit sekerlik van jou teen 'n prys koop; en ek sal aan die HERE my God geen brandoffers bring van wat my niks kos nie. En Dawid het die dorsvloer en die osse vir vyftig sikkels silwer gekoop. En Dawid het daar 'n altaar vir die HERE gebou en brandoffers en dankoffers gebring. So het die HERE dan vir die land gebid, en die plaag is van Israel afgeweer.
2 SAMUEL 24:21-25 Die Boodskap (DB)
Arauna vra toe: “U Majesteit, waarom kom u na my toe?” “Ek wil jou dorsvloer koop om vir die Here ’n altaar te bou,” sê Dawid vir hom, “sodat die pessiekte wat die mense doodmaak, kan ophou.” “Vat dit, U Majesteit,” sê Arauna vir Dawid, “offer net wat u wil. U kan my beeste slag en die dorsslee en jukke vir vuurmaakhout gebruik. U Majesteit, Arauna gee dit alles vir u. En mag die Here u offer aanvaar.” “Nee, Arauna,” sê Dawid, “ek gaan jou definitief die volle prys betaal. Ek kan nie vir die Here my God offer sonder dat dit my iets gekos het nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir 50 silwerstukke by hom gekoop. Dawid het daar vir die Here ’n altaar gebou en offerdiere geslag. Party het hy heeltemal verbrand en die ander is vir die heilige ete gaargemaak. Die Here het toe die mense se gebede beantwoord en die pessiekte laat ophou.
2 SAMUEL 24:21-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hoekom kom my heer na sy dienaar toe?” vra Arauna. Dawid het geantwoord: “Ek het gekom om jou dorsvloer te koop om daar ’n altaar vir die HERE te bou sodat die HERE die plaag kan stop.” “Vat dit gerus vir u, my heer die koning. Offer daar wat u wil,” sê Arauna vir Dawid. “Hier is ook osse vir die brandoffer. Die dorsslee en jukke kan u gebruik as brandhout. Ek, Arauna, gee dit alles vir die koning. Mag die HERE u God u offer aanvaar.” Maar die koning het geantwoord: “Nee, Arauna, ek dring daarop aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die HERE my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die osse vir omtrent 600 gram silwer gekoop. Dawid het daar ’n altaar opgerig tot eer van die HERE en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het die HERE die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou.