2 SAMUEL 24:1-25

2 SAMUEL 24:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Eendag was die Here weer kwaad vir die Israeliete. Die Here het vir Dawid laat besluit om iets te doen waaroor die Here die Israeliete kon straf. Hy het vir Dawid gesê: “Jy moet die mense van Israel en Juda tel.” Die koning het toe vir Joab, die hoof van die leër, gesê: “Jy moet asseblief deur al die stamme van Israel gaan, van die stad Dan tot by die stad Berseba, en jy moet die mense tel. Ek wil weet hoeveel hulle is.” Joab het vir die koning gesê: “Ek wens jou God die Here maak die volk 100 maal meer as wat hulle is. Ek wens dat die koning self sal sien dat dit so is. Maar, Meneer die koning, hoekom wil jy hierdie ding doen?” Maar die koning het gesê Joab en die offisiere móét dit doen, en hulle moes doen wat die koning gesê het. Hulle het weggegaan van die koning om die volk Israel te tel. Hulle het oor die Jordaan-rivier gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan naby die stad Aroër, suid van die stad wat in die vallei is. Daarna het hulle deur die land Gad gegaan en ook deur Jaser. Hulle het gekom in die land Gilead en in die land Tagtim-Godsi. En toe het hulle deur Dan-Jaän gegaan en oral tot by die stad Sidon. Daarna het hulle gekom by Tirus, die stad wat sterk mure het, en by al die stede van die Hewiete en Kanaäniete, en toe het hulle deur die Suid-land van Juda gegaan tot by die stad Berseba. So het hulle deur die hele land gegaan en ná nege maande en 20 dae het hulle weer aangekom in Jerusalem. Joab het vir die koning gesê hoeveel mense daar was. Daar was 800 000 manne van Israel wat oorlog kon maak, en daar was 500 000 manne van Juda. Maar nadat Dawid die volk laat tel het, het hy geweet dat hy verkeerd gedoen het. Hy het vir die Here gesê: “Here, ek het 'n groot sonde gedoen, maar vergewe asseblief my sonde, want ek het 'n baie dom ding gedoen.” Die profeet Gad was Dawid se siener. Toe Dawid die volgende oggend opstaan, het die Here vir Gad gesê: “Jy moet vir Dawid gaan sê Ek sê: Dawid, Ek noem drie dinge vir jou. Jy moet een kies, dan sal Ek dit met jou laat gebeur.” Gad het na Dawid toe gegaan en hy het vir Dawid die boodskap gebring en gesê: “Wil jy hê daar moet sewe jaar lank hongersnood wees in jou land, of wil jy drie maande lank vlug vir jou vyande wat jou volg en jaag, of wil jy hê daar moet drie dae lank pes wees in jou land? Jy moet besluit en vir my sê wat ek moet sê vir Hom wat my gestuur het.” Dawid het vir Gad gesê: “Ek het 'n groot probleem. Die Here moet met my doen wat Hy besluit, want Hy is baie genadig, maar Hy moenie my vir mense gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie.” Die Here het pes laat kom in die land Israel van die oggend tot die tyd wat Hy gesê het. Daar het 70 000 mense gesterf, van die stad Dan tot by die stad Berseba. Toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om die mense van die stad te laat sterf, het die Here besluit dat die straf moet ophou. Hy het vir die engel wat die mense laat sterf het, gesê: “Stop, dit is nou genoeg, laat sak jou hand.” Die engel van die Here was by die dorsvloer van die Jebusiet Arauna. Toe Dawid die engel sien wat die mense laat sterf, het hy vir die Here gesê: “Dit is ék wat sonde gedoen het, dit is ék wat verkeerd gedoen het. Wat het hierdie mense verkeerd gedoen? Niks. U moet mý en my familie straf.” Gad het daardie dag by Dawid gekom en vir hom gesê: “Jy moet gaan en jy moet vir die Here 'n altaar bou op die dorsvloer van die Jebusiet Arauna.” Dawid het gegaan soos Gad gesê het, hy het gaan doen wat die Here beveel het. Arauna het gekyk en gesien die koning en sy amptenare kom na hom toe. Arauna het uitgegaan en hy het voor die koning gebuig met sy gesig teen die grond. Hy het gevra: “Hoekom kom Meneer die koning na my toe?” Dawid het gesê: “Ek kom om jou dorsvloer te koop. Ek moet vir die Here 'n altaar bou sodat die mense kan ophou sterf.” Arauna het vir Dawid gesê: “Meneer die koning moet neem wat jy wil hê en jy moet offer wat jy wil offer. Kyk, hier is beeste vir die brand-offer en hier is die dors-sleë en die jukke vir brandhout. Koning, ek gee dit alles vir jou.” Die koning het vir Arauna gesê: “Nee, ek wil dit van jou koop, jy moet sê hoeveel ek moet betaal. Ek wíl dit doen. Ek sal nie vir my God die Here brand-offers bring as ek nie daarvoor betaal het nie.” Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop, hy het 50 sikkels silwer betaal. Dawid het daar 'n altaar vir die Here gebou en hy het brand-offers en ete-offers gebring. Die Here het sy offers vir die land aanvaar, en die mense van Israel het opgehou sterf.

2 SAMUEL 24:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam, en Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: Gaan tel Israel en Juda. Toe sê die koning vir Joab, die leërowerste, wat by hom was: Trek tog rond onder al die stamme van Israel, van Dan tot Berséba, en tel julle die volk, sodat ek die getal van die volk kan weet. En Joab het aan die koning gesê: Ja, mag die HERE u God by die volk honderd maal meer byvoeg as wat hulle ook al is, en die oë van my heer die koning dit sien; maar waarom het my heer die koning behae in hierdie saak? Maar die woord van die koning het die oorhand gehad oor Joab en die leërowerstes, en Joab het met die leërowerstes van die koning af uitgegaan om die volk Israel te tel. En hulle het deur die Jordaan gegaan en laer opgeslaan by Ároër, regs van die stad wat binne-in die dal van Gad lê, en tot by Jaéser. Verder het hulle in Gílead gekom en in die land Tagtim-Hodsi en na Dan-Jaän gekom en rondom na Sidon. En hulle het gekom by die vesting Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete, en hulle het uitgekom in die suide van Juda in Berséba. So het hulle dan deur die hele land rondgetrek en in Jerusalem aangekom aan die einde van nege maande en twintig dae. En Joab het die getal van die getelde volk aan die koning gegee; en Israel was agthonderdduisend weerbare manne wat die swaard uittrek, en die manne van Juda vyfhonderdduisend man. Maar Dawid se gewete het hom gekwel nadat hy die volk getel het, en Dawid het aan die HERE gesê: Ek het swaar gesondig deur wat ek gedoen het; HERE, vergeef dan nou tog die skuld van u kneg, want ek het baie dwaas gehandel. Toe Dawid die môre opstaan — die woord van die HERE het naamlik tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom en gesê: Gaan heen en spreek met Dawid: So sê die HERE: Drie dinge lê Ek jou voor; kies vir jou een daaruit, dat Ek jou dit kan aandoen — toe het Gad by Dawid gekom en dit aan hom bekend gemaak en aan hom gesê: Wil jy dat daar sewe jaar lank hongersnood in jou land kom, of wil jy drie maande lank vlug voor jou teëstanders uit dat hulle jou agtervolg, of moet daar drie dae lank pes wees in jou land? Ondersoek nou en sien watter antwoord ek my Sender moet bring. Daarop sê Dawid vir Gad: Ek is baie benoud; laat ons tog val in die hand van die HERE, want sy barmhartighede is groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie. En die HERE het 'n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentigduisend man gesterwe. Maar toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om dit te verwoes, het dit die HERE berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting onder die volk moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! Die engel van die HERE was toe by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet. Toe Dawid sien hoe die engel onder die volk doodslaan, het hy tot die HERE gespreek en gesê: Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie. Daarop kom Gad dieselfde dag by Dawid en sê vir hom: Gaan op, bou vir die HERE 'n altaar op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet. En Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad, soos die HERE beveel het. Toe Arauna opkyk en die koning met sy dienaars na hom sien oorkom, het Arauna uitgegaan en hom voor die koning met sy aangesig na die aarde gebuig. En Arauna het gesê: Waarom kom my heer die koning na sy dienaar? Daarop sê Dawid: Om die dorsvloer van jou te koop, om vir die HERE 'n altaar te bou, sodat die plaag onder die volk kan ophou. Maar Arauna sê vir Dawid: My heer die koning kan neem en offer wat goed is in sy oë, kyk, daar is die beeste as die brandoffer en die sleë en die trekgoed van die beeste as hout. Dit gee Arauna alles, o koning, aan die koning. Verder het Arauna aan die koning gesê: Mag die HERE u God 'n behae in u hê. Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan die HERE my God brandoffers bring nie. En Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer. Toe het Dawid daar vir die HERE 'n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring; en die HERE het Hom oor die land ontferm, en die plaag is van Israel afgewend.

2 SAMUEL 24:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op 'n keer was die Here vertoorn op Israel. Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: “Gaan tel die Israeliete en die Judeërs.” Die koning het vir Joab, die hoof van die leër, wat by hom was, gesê: “Trek rond deur al die Israelitiese stamme van die noorde tot die suide en tel die volk. Ek wil weet hoeveel hulle is.” Joab het die koning geantwoord: “Selfs al sou die Here u God die volk honderd maal laat vermeerder en die koning sien dit self, watter genot sou dit u verskaf?” Toe die koning egter vir Joab en die leëroffisiere nadruklik so beveel, is hulle van hom af weg om die volk te tel. Hulle het deur die Jordaan gegaan en by Aroër suid van die stad by die spruit begin. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe en het hulle Gilead deurgegaan tot by die land onderkant Kades. Toe het hulle by Dan gekom en daarvandaan is hulle oor Sidon, waarna hulle by die vesting Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete gekom het. Toe is hulle af na Berseba toe in die suide van Juda. Hulle het die hele land deurreis en na nege maande en twintig dae weer in Jerusalem teruggekom, en Joab het die uitslag van die telling aan die koning gegee. Israel was ag honderd duisend weerbare man wat kon oorlog maak en Juda vyf honderd duisend. Nadat hy die volk laat tel het, het Dawid se gewete hom gekwel. Hy het teenoor die Here bely: “Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding, Here! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.” Nadat Dawid die oggend opgestaan het, het die profeet Gad, die siener van Dawid, na hom toe gekom. Die woord van die Here het tot Gad gekom en gesê: “Gaan sê vir Dawid: So het die Here gesê: Ek lê drie dinge aan jou voor. Kies vir jou een daarvan, dan sal Ek dit laat gebeur.” Gad het toe vir Dawid die boodskap gebring: “Wat wil jy liewer hê? Sewe jaar hongersnood in jou land, of drie maande waarin jy voor jou teenstanders vlug en hulle jou agtervolg, of drie dae lank pes in jou land? Oorweeg nou goed hoe ek Hom wat my gestuur het, moet antwoord.” Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in 'n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van 'n mens val nie.” Daarna het die Here 'n pes van die oggend af tot die aand onder Israel ingestuur. Van die noorde tot die suide het daar sewentig duisend gesterf. Net toe die engel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om dit te verdelg, het die Here besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf onder die volk aanrig, gesê: “Dis nou genoeg. Trek jou hand terug.” Die engel van die Here was toe net by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet. Terwyl Dawid die engel sien wat die volk tref, sê hy vir die Here: “Dit is ék wat gesondig het. Ja, ék het oortree. Wat het hierdie arme mense gedoen? Tree liewer op teen my en my familie.” Gad het daardie dag na Dawid toe gekom en vir hom gesê: “Gaan op en bou vir die Here 'n altaar op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.” Dawid het toe opgegaan soos die Here hom deur die woord van Gad beveel het. Toe Arauna afkyk en die koning en sy amptenare na hom toe sien aankom, gaan hy uit en buig diep voor die koning. “Waarom kom die koning na sy dienaar toe?” vra Arauna. “Om die dorsvloer van jou te koop en 'n altaar vir die Here daarop te bou, sodat die plaag van die volk af weggeneem kan word,” antwoord Dawid. Arauna het vir Dawid gesê: “U kan dit gerus maar vat, U Majesteit, en offer net wat u wil. Kyk, die beeste vir die offer is hier, en die dorsslee en die jukke is beskikbaar as brandhout. U Majesteit, Arauna gee dit alles aan die koning. Mag die Here u God u offer aanneem.” Hierop het die koning vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou teen die volle prys. Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir sowat ses honderd gram silwer gekoop. Hy het net daar 'n altaar vir die Here gebou en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hierna het die Here weer die gebede vir die land verhoor, en die plaag is uit Israel weggeneem.

2 SAMUEL 24:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die toorn van die HERE het weer teen Israel ontbrand. Hy het Dawid teen hulle opgesteek met die woorde: “Gaan tel Israel en Juda.” Toe sê die koning vir Joab, die leëraanvoerder wat by hom was: “Gaan rond onder al die stamme van Israel, van Dan tot Berseba, en maak 'n opname van die manskappe, sodat ek kan weet hoeveel manskappe daar is.” Maar Joab het vir die koning gesê: “Mag die HERE u God by die manskappe nog 'n honderd maal soveel byvoeg as wat hulle is, terwyl my heer die koning dit sien! Maar, my heer die koning, waarom wil u dit so graag doen?” Die koning se woord het egter meer gewig gedra as dié van Joab en die leëraanvoerders, en Joab en die leëraanvoerders het van die koning af uitgegaan om 'n opname te maak van die manskappe in Israel. Hulle het die Jordaan oorgesteek en kamp opgeslaan by Aroër, suid van die dorp in die middel van die dal Gad, aan die kant van Jaeser. Daarna het hulle in Gilead ingegaan, na die streek van Tagtim-Godsi. Hulle het in Dan-Jaän aangekom en weggedraai na Sidon. Toe het hulle by die versterkte stad Tirus aangekom, en ook by al die dorpe van die Hewiete en Kanaäniete, en daarna uitbeweeg na die suide van Juda by Berseba. So het hulle rondgegaan deur die hele land, en ná nege maande en twintig dae weer in Jerusalem aangekom. Joab het die getal van die manskappe waarvan 'n opname gemaak is, aan die koning oorhandig: In Israel was daar agthonderdduisend weerbare manne gewapen met swaarde, en die weerbare manne van Juda was vyfhonderdduisend man. Maar Dawid se gewete het hom gepla nadat hy die manskappe getel het. Dawid sê toe vir die HERE: “Ek het ernstig gesondig deur wat ek gedoen het. HERE, skeld nou asseblief die sondeskuld van u dienskneg kwyt, want ek het baie dwaas opgetree.” Toe Dawid die volgende oggend opstaan, het die woord van die HERE tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom: “Gaan sê vir Dawid, ‘So sê die HERE: “Drie moontlikhede lê Ek aan jou voor; kies vir jou een daarvan, sodat Ek dit aan jou kan doen.” ’ ” Gad het by Dawid gekom en hom dit meegedeel. Hy het vir hom gesê: “Moet daar sewe jaar hongersnood oor jou in jou land kom; of moet jy drie maande lank op die vlug wees voor jou teenstanders, terwyl hulle jou agtervolg; of moet daar drie dae lank pessiekte wees in jou land? Oorweeg dit en kyk watter antwoord ek moet terugneem na Hom wat my gestuur het.” Toe sê Dawid vir Gad: “Ek is baie benoud. Mag ons tog in die hand van die HERE val, want groot is sy ontferming. Maar mag ek nie in die hande van mense val nie.” Die HERE het toe 'n pessiekte in Israel beskik, van die oggend af tot die vasgestelde tyd. Van Dan tot Berseba het sewentigduisend man gesterf. En toe die engel sy hand na Jerusalem uitsteek om dit te verwoes, was die HERE jammer oor die ramp. Hy sê toe vir die engel, wat besig was om verwoesting te saai onder die manskappe: “Dit is nou genoeg, trek jou hand terug!” Die •engel van die HERE was toe naby die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet. Dawid het met die HERE gepraat toe hy die engel sien wat die manskappe tref. Hy het gesê: “Kyk, ek is die een wat gesondig het, ek is die een wat afgedwaal het. Hierdie manne is maar kleinvee. Wat het hulle gedoen? Laat u hand asseblief teen my en my familie wees.” Gad het dieselfde dag nog by Dawid gekom en vir hom gesê: “Gaan op na die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, en rig vir die HERE daar 'n altaar op.” Dawid het, soos die HERE deur Gad opdrag gegee het, opgegaan, en toe Arauna afkyk en die koning en sy dienaars na hom sien aankom, het hy uitgegaan en voor die koning diep neergebuig met sy gesig teen die grond. Arauna sê toe: “Waarom kom my heer die koning na sy dienaar?” Daarop antwoord Dawid: “Om die dorsvloer by jou te koop, om vir die HERE 'n altaar te bou, sodat die plaag van die manskappe afgewend kan word.” Arauna het egter vir Dawid gesê: “My heer die koning kan neem en offer soos wat goed is in sy oë. Kyk, daar is die beeste vir 'n •brandoffer, en die dorssleë en jukke van die beeste as brandhout. Dit alles, o koning, skenk Arauna aan die koning.” Arauna het ook vir die koning gesê: “Mag die HERE u God u aanvaar!” Maar die koning het Arauna geantwoord: “Nee! Want ek gaan dit beslis by jou koop teen 'n prys. Ek gaan nie aan die HERE my God brandoffers bring sonder uitgawes nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkel silwer. Dawid het daar vir die HERE 'n altaar gebou en brandoffers en •maaltydoffers gebring. Die HERE het toe die smeekbedes vir die land verhoor, en die plaag is van Israel afgewend.

2 SAMUEL 24:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En weer het die toorn van die HERE teen Israel ontvlam, en Hy het Dawid teen hulle aangehits om te sê: Gaan tel Israel en Juda. Want die koning het aan Joab, die leërowerste, wat by hom was, gesê: Gaan nou deur al die stamme van Israel, van Dan tot Berséba, en tel die volk, dat ek die getal van die volk kan weet. Toe sê Joab vir die koning: Nou moet die HERE jou God honderdvoudig by die volk voeg, hoeveel hulle ook al is, en dat die oë van my heer die koning dit kan sien; maar waarom het my heer die koning behae in hierdie saak? Maar die woord van die koning het die oorhand gekry oor Joab en die leërowerstes. En Joab en die leërowerstes het van die koning af weggetrek om die volk Israel te tel. En hulle het deur die Jordaan getrek en laer opgeslaan in Aroër, aan die regterkant van die stad wat in die middel van die Gadrivier lê, en na Jaser toe. Toe het hulle in Gílead gekom en in die land Tahtimhodsi; en hulle het by Danjaan gekom en omtrent by Sidon, En hulle het by die vesting Tirus gekom en by al die stede van die Hewiete en Kanaäniete, en hulle het uitgetrek na die suide van Juda, tot by Berséba. En toe hulle deur die hele land getrek het, het hulle aan die einde van nege maande en twintig dae in Jerusalem aangekom. En Joab het die som van die getal van die volk aan die koning oorgegee, en daar was in Israel agt honderd duisend dapper manne wat die swaard uittrek; en die manne van Juda was vyf honderd duisend man. En Dawid se hart het hom getref nadat hy die volk getel het. Toe sê Dawid aan die HERE: Ek het grootliks gesondig deur wat ek gedoen het; want ek het baie dwaas gedoen. Want toe Dawid in die môre opstaan, het die woord van die HERE tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom en gesê: Gaan sê vir Dawid: So spreek die HERE: Ek bied jou drie dinge; kies vir jou een van hulle, dat ek dit aan jou kan doen. Toe kom Gad na Dawid en vertel hom en sê vir hom: Sal daar sewe jaar van hongersnood oor jou kom in jou land? Of sal jy drie maande voor jou vyande vlug terwyl hulle jou agtervolg? of dat daar drie dae pes in jou land is? gee nou raad en kyk watter antwoord ek sal gee aan hom wat my gestuur het. Toe sê Dawid vir Gad: Ek is in 'n groot benoudheid; laat ons nou in die hand van die HERE val; want sy barmhartighede is groot, en laat my nie in die hand van mense val nie. Toe het die HERE 'n pes oor Israel gestuur van die môre af tot op die vasgestelde tyd; En toe die engel sy hand teen Jerusalem uitsteek om dit te verwoes, het die HERE hom van die onheil bekeer en aan die engel wat die volk verdelg het, gesê: Dit is genoeg, hou tog jou hand vas. En die Engel van die HERE was by die dorsplek van Arauna, die Jebusiet. En Dawid het met die HERE gespreek toe hy die engel sien wat die volk slaan, en gesê: Kyk, ek het gesondig en ek het goddeloos gedoen; maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? laat u hand tog teen my en teen die huis van my vader wees. En Gad het daardie dag by Dawid gekom en vir hom gesê: Gaan op, bou vir die HERE 'n altaar op op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet. En Dawid het, volgens die woord van Gad, opgetrek soos die HERE beveel het. En Arauna het gekyk en die koning en sy dienaars na hom sien aankom; en Arauna het uitgegaan en voor die koning gebuig met sy aangesig op die grond. En Arauna sê: Waarom het my heer die koning na sy dienaar gekom? En Dawid het gesê: Om vir jou die dorsvloer te koop, om vir die HERE 'n altaar te bou, sodat die plaag van die volk teruggehou kan word. Toe sê Arauna vir Dawid: Laat my heer die koning neem en offer wat vir hom goed is; kyk, hier is osse vir brandoffer, en dorsgereedskap en ander gereedskap van die osse vir hout. Al hierdie dinge het Arauna as 'n koning aan die koning gegee. En Arauna sê aan die koning: Die HERE jou God het jou aangeneem. Toe sê die koning vir Arauna: Nee! maar ek sal dit sekerlik van jou teen 'n prys koop; en ek sal aan die HERE my God geen brandoffers bring van wat my niks kos nie. En Dawid het die dorsvloer en die osse vir vyftig sikkels silwer gekoop. En Dawid het daar 'n altaar vir die HERE gebou en brandoffers en dankoffers gebring. So het die HERE dan vir die land gebid, en die plaag is van Israel afgeweer.

2 SAMUEL 24:1-25 Die Boodskap (DB)

Die Here het weer ’n keer vir die Israeliete kwaad geword. Toe het Hy Dawid teen hulle opgesteek en gesê: “Gaan hou ’n sensus in Israel en Juda.” Die koning het vir Joab, sy groot generaal, gesê: “Gaan by al die stamme van Israel langs, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, en skryf al die manskappe op. Ek wil weet hoeveel is daar wat kan veg.” Joab het die koning geantwoord: “Kyk, ek hoop die Here u God maak die manskappe ’n honderd maal meer as wat hulle alreeds is, en ek hoop dit gebeur nog in u leeftyd; maar U Majesteit, hoekom wil u ’n sensus hou?” Maar die koning het Joab en die ander offisiere van die weermag doodgepraat. Hulle het toe van die paleis af gegaan om die sensus te gaan hou. Hulle het oor die Jordaanrivier gegaan en by die spruit suid van die dorp Aroër begin tel. Daarna is hulle na Gad en Jaeser toe. Hulle het noord deur Gilead gegaan tot by Kades in die rigting van die Hetiete se land. Daarvandaan het hulle na Dan-Jaän gegaan en toe wes na Sidon gedraai. Hulle is suid na Tirus, die stad met die muur om, en van daar af is hulle na al die dorpe van die Hewiete en Kanaäniete. Hulle is by al die dorpe langs tot in die suide van Juda by Berseba. Hulle het die hele land deurgegaan. Dit het nege maande en twintig dae gevat voor hulle weer terug was in Jerusalem. Joab het die getal van die manne wat kon veg, vir die koning gegee: daar was 800 000 in Israel en 500 000 in Juda. Na die sensus het Dawid se gewete hom begin pla. Hy het vir die Here gaan sê: “Dis ’n verkeerde ding wat ek gedoen het, Here; vergewe my asseblief dat ek so onnosel was.” Die volgende môre toe Dawid opstaan, kom die profeet Gad na hom toe. Hy moes altyd vir Dawid sê wat die Here wil hê. Hierdie keer moes hy vir Dawid gaan sê: “Die Here sê jy kan kies wat Hy met jou moet doen: moet daar drie jaar hongersnood wees in jou land, of wil jy drie maande vlug vir jou vyande, of moet daar vir drie dae ’n pessiekte in jou land wees? Dink mooi daaroor, dan sê jy vir my wat ek vir die Here moet gaan sê.” Dawid het vir Gad gesê: “Ek is diep in die moeilikheid! Al wat ek kan sê, is: ek wil nie aan mense uitgelewer wees nie. Laat ons liewer aan die Here uitgelewer wees, want Hy sal ons jammer kry.” Die Here het daardie môre ’n pessiekte in Israel laat uitbreek wat vir drie dae aangehou het. In die hele land is daar 70 000 mense dood. Toe die doodsengel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om ook dáár dood en verwoesting te saai, het die Here spyt gekry oor die verskriklike ramp en gesê: “Wag, dis nou genoeg. Moenie verder gaan nie.” Die engel van die Here was op daardie stadium by ’n groot klipplaat waar Arauna, ’n Jebusiet, sy koring dors. Toe Dawid sien hoe die engel die mense platslaan, sê hy vir die Here: “Dis ék wat gesondig het. Dis ék wat verkeerd gedoen het. Hierdie arme mense verdien dit nie om soos skape geslag te word nie. Straf my en my familie liewer.” Gad het dieselfde dag na Dawid toe gekom en gesê: “Gaan bou ’n altaar vir die Here op daardie klipplaat waar Arauna die Jebusiet sy koring dors.” Dawid het toe na die klipplaat toe opgeklim soos die Here vir hom gesê het in die boodskap wat Gad gebring het. Toe Arauna afkyk en sien die koning en sy amptenare is op pad na hom toe, het hy gegaan en met sy gesig teen die grond voor die koning gebuig. Arauna vra toe: “U Majesteit, waarom kom u na my toe?” “Ek wil jou dorsvloer koop om vir die Here ’n altaar te bou,” sê Dawid vir hom, “sodat die pessiekte wat die mense doodmaak, kan ophou.” “Vat dit, U Majesteit,” sê Arauna vir Dawid, “offer net wat u wil. U kan my beeste slag en die dorsslee en jukke vir vuurmaakhout gebruik. U Majesteit, Arauna gee dit alles vir u. En mag die Here u offer aanvaar.” “Nee, Arauna,” sê Dawid, “ek gaan jou definitief die volle prys betaal. Ek kan nie vir die Here my God offer sonder dat dit my iets gekos het nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir 50 silwerstukke by hom gekoop. Dawid het daar vir die Here ’n altaar gebou en offerdiere geslag. Party het hy heeltemal verbrand en die ander is vir die heilige ete gaargemaak. Die Here het toe die mense se gebede beantwoord en die pessiekte laat ophou.

2 SAMUEL 24:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die woede van die HERE het weer teen Israel ontvlam. Hy het Dawid beïnvloed. “Gaan tel die Israeliete en die Judeërs,” het die HERE vir hom gesê. Die koning sê toe vir Joab, bevelvoerder van die leër: “Gaan deur die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, en tel die volk. Ek wil weet hoeveel mense daar is.” Maar Joab het die koning geantwoord: “Mag die HERE u God in u leeftyd nog die volk honderd maal meer maak as nou! Maar watter bevrediging kan dit u verskaf?” Die koning het egter Joab en sy offisiere verplig. Hulle het toe gegaan om die volk Israel te gaan tel. Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en begin by Aroër suid van die dorp by die droë waterloop. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe. Hulle het Gilead deurgegaan tot by die land anderkant Kades en Dan, en daarvandaan verby Sidon. Daarna het hulle by die vesting van Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete langs gekom. Toe het hulle na die suide van Juda, so ver as Berseba, gegaan. Hulle het die hele land deurkruis en hulle opdrag na nege maande en twintig dae voltooi en na Jerusalem toe teruggekeer. Joab het aan die koning verslag gedoen oor die sensus. Daar was 800 000 manne van weerbare ouderdom in Israel en 500 000 in Juda. Nadat Dawid die sensusopname laat maak het, het sy gewete hom begin pla. Hy bely toe teenoor die HERE: “Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het. Vergeef tog my oortreding, HERE, want ek het ’n baie dwase ding gedoen.” Die volgende oggend, nadat Dawid opgestaan het, het die profeet Gad, die siener van Dawid, na hom toe gekom. Die woord van die HERE het na Gad gekom. Dit het gesê: “Gaan sê vir Dawid: ‘Dit is wat die HERE sê: Ek gee jou drie keuses. Kies een van die volgende strawwe en Ek sal dit laat gebeur.’” Gad het toe na Dawid toe gegaan en gevra: “Wat sal jy verkies? Drie jaar hongersnood in jou land, drie maande vlug voor jou vyande uit terwyl hulle jou agtervolg, of drie dae pes in jou land? Dink hieroor en laat my weet wat om die HERE te antwoord.” “Ek is in ’n hoek gedryf!” sê Dawid vir Gad. “Laat ek liewer in die hande van die HERE val, want sy genade is groot. Moenie dat ek in die hande van mense val nie.” Die HERE stuur toe daardie oggend ’n pes oor Israel wat tot op die bestemde tyd geduur het. Oor die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, het 70 000 mense gesterf. Die engel was op die punt om Jerusalem te verwoes, maar die HERE het besluit om nie verder te gaan nie. Hy sê vir die engel wat die verwoesting gebring het: “Hou op! Dit is genoeg!” Op daardie oomblik was die engel van die HERE by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet. Toe Dawid die engel sien wat die mense tref, sê hy vir die HERE: “Ek is die een wat gesondig het. Dis ek wat oortree het. Maar hierdie arme mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? Laat u hand eerder teen my en my familie wees!” Nog daardie dag kom Gad na Dawid toe en sê vir hom: “Gaan bou ’n altaar vir die HERE op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.” Dawid het gedoen soos die HERE deur Gad beveel het. Toe Arauna sien dat die koning en sy amptenare na hom toe kom, het hy hom tegemoetgegaan en diep voor die koning gebuig. “Hoekom kom my heer na sy dienaar toe?” vra Arauna. Dawid het geantwoord: “Ek het gekom om jou dorsvloer te koop om daar ’n altaar vir die HERE te bou sodat die HERE die plaag kan stop.” “Vat dit gerus vir u, my heer die koning. Offer daar wat u wil,” sê Arauna vir Dawid. “Hier is ook osse vir die brandoffer. Die dorsslee en jukke kan u gebruik as brandhout. Ek, Arauna, gee dit alles vir die koning. Mag die HERE u God u offer aanvaar.” Maar die koning het geantwoord: “Nee, Arauna, ek dring daarop aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die HERE my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die osse vir omtrent 600 gram silwer gekoop. Dawid het daar ’n altaar opgerig tot eer van die HERE en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het die HERE die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou.