2 SAMUEL 2:12-32

2 SAMUEL 2:12-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Abner, seun van Ner, en die volgelinge van Saul se seun Is-Boset het van Maganajim af uitgetrek na Gibeon. Joab, seun van Seruja, en die volgelinge van Dawid het ook uitgetrek en hulle by die dam by Gibeon teëgekom. Die een groep het aan die een kant van die dam gaan sit en die ander groep aan die ander kant van die dam. “Laat die jong manne bietjie opstaan en voor ons kragte meet,” sê Abner toe vir Joab; waarop Joab antwoord: “Laat hulle opstaan.” Hulle het opgestaan en is in die verbykom afgetel: twaalf vir Benjamin – dit was vir Saul se seun Is-Boset – en twaalf van Dawid se volgelinge. Elkeen het sy teenstander aan die kop beetgekry en sy swaard in die ander se sy gesteek. Saam het hulle geval. Daarom word daardie plek wat by Gibeon is, die veld van Hassurim genoem. Die geveg was daardie dag besonder straf, maar Abner en die manne van Israel is verslaan deur die volgelinge van Dawid. Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was so vlug van voet soos een van die gaselle in die veld. Asael is agter Abner aan. Hy het nie links of regs afgewyk in sy agtervolging van Abner nie. Abner het omgekyk en gevra: “Is dit jy, Asael?” Hy sê toe: “Dit is ek!” Abner sê toe vir hom: “Draai links of regs weg, en pak een van die jong manne! Vat vir jou sy wapenrusting!” Maar Asael wou nie van agter hom wegdraai nie. Abner sê toe weer vir Asael: “Gee pad hier agter my! Waarom moet ek jou platslaan? Hoe sal ek dan jou broer Joab in die oë kan kyk?” Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterkant van die vegspies in die maag, sodat die vegspies by sy rug uitkom. Hy het net daar geval en op die plek gesterf. Daarna het almal wat aangekom het by die plek waar hy geval en gesterf het, gaan staan. Maar Joab en Abisai het Abner agternagesit. Toe die son besig was om onder te gaan, kom hulle by die Amma-heuwel, wat oos van Giag lê, op pad na die woestyn van Gibeon. Die manne van Benjamin het in een groep agter Abner stelling ingeneem. Hulle het op die top van 'n heuwel gaan staan. Abner roep toe na Joab. Hy het gesê: “Moet die swaard dan vir altyd verteer? Besef jy nie dat dit uiteindelik net bitterheid bring nie? Gaan jy dan nooit vir die manskappe sê om die agtervolging van hulle broers te staak nie?” Joab antwoord toe: “So waar as God leef, as jy nie gepraat het nie, sou die manskappe almal eers teen die môre teruggeval het van die gejaag agter hulle broers aan.” Joab het daarna op die •ramshoring geblaas, en al die manskappe het gaan staan. Hulle het nie meer die Israeliete agtervolg nie, en ook nie verder geveg nie. Abner en sy manne het daardie hele nag deur die Araba getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek, die hele voormiddag getrek en in Maganajim aangekom. Joab het teruggekeer van sy agtervolging van Abner en al die manskappe byeengebring. Van die volgelinge van Dawid het negentien man en Asael ontbreek. Maar die volgelinge van Dawid het onder die Benjaminiete 'n slagting aangerig: Van die manne van Abner was driehonderd-en-sestig dood. Hulle het Asael gedra en hom in sy vader se graf wat by Betlehem is, neergelê. Joab en sy manne het daarna die hele nag getrek, en toe dit lig word, was hulle in Hebron.

2 SAMUEL 2:12-32 Bybel vir almal (ABA)

Abner seun van Ner en die manne van Is-Boset seun van Saul het van die stad Maganajim na die stad Gibeon gegaan. Joab seun van Seruja en die manne van Dawid het ook gegaan en hulle het vir Abner en sy manne by die Gibeon-dam gekry. Abner en die manne van Is-Boset het aan die een kant van die dam gaan sit, en Joab en die manne van Dawid het aan die ander kant van die dam gaan sit. Toe sê Abner vir Joab: “Kom ons laat die jongmanne eers speel, dan kyk ons.” Joab het gesê: “Goed, hulle mag dit doen.” Toe het twaalf van die manne van Benjamin en Is-Boset en twaalf van die manne van Dawid opgestaan en hulle het vorentoe gekom. Elke jongman het die kop gegryp van die jongman wat voor hom was en hy het hom met sy swaard in die sy gesteek, en hulle het saam gesterf. Dit is hoekom hulle hierdie plek in Gibeon noem die “Swaard-veld.” Die oorlog het toe begin, en die manne het daardie dag hard geveg. Die manne van Dawid het vir Abner en die manne van Israel gewen. Daar was drie seuns van Seruja. Hulle was Joab en Abisai en Asael. Asael het so vinnig soos 'n gasel gehardloop. Hy het Abner gevolg en gejaag en hy het nie weggedraai nie. Abner het omgekyk en gevra: “Is dit jy, Asael?” Asael het gesê: “Ja, dit is ek.” Toe sê Abner vir Asael: “Jy moet wegdraai en jy moet met een van die jongmanne veg, dan kan jy sy wapens en klere vir jouself vat.” Maar Asael wou nie wegdraai agter Abner nie. Abner het weer gesê: “Jy moet wegdraai agter my. Ek wil jou nie doodmaak nie, want dan sal ek nie in jou broer Joab se oë kan kyk nie.” Maar Asael wou nie wegdraai nie, en Abner het hom toe met die agterkant van sy spies deur sy maag gesteek. Die spies het by Asael se rug uitgekom, en hy het daar geval en gesterf. Elkeen wat by die plek gekom het waar Asael geval en gesterf het, het gaan staan. Joab en Abisai het aangehou om vir Abner te jaag. Die son het ondergegaan toe hulle by die Elmboog-heuwel kom, naby die fontein langs die pad na die Gibeon-woestyn. Die Benjamin-manne het by Abner bymekaargekom en hulle het daar bo-op die heuwel saam gereedgestaan om te veg. Maar Abner het vir Joab geskree: “Moet ons aanhou om mekaar dood te maak? Jy moet dit weet: Alles sal slegter en slegter word as ons aanhou veg. Wanneer sal jy vir jou manne sê hulle moenie aanhou om hulle broers te jaag nie?” Joab het toe gesê: “As jy nie gepraat het nie, dan sou die manne aangehou het om hulle broers te jaag tot die oggend toe. Dit is so seker soos God lewe.” Joab het die ramshoring geblaas, en al die manne het gaan staan. Hulle het nie meer die Israel-manne gejaag en aangehou veg nie. Abner en sy manne het daardie hele nag deur die Jordaan-vallei geloop. Hulle het oor die rivier gegaan en hulle het die volgende middag by die stad Maganajim gekom. Nadat Joab opgehou het om vir Abner te jaag, het hy al die manne laat bymekaarkom. Negentien van Dawid se manne was nie daar nie, en Asael was ook nie daar nie. Maar Dawid se manne het 360 van Abner se manne doodgemaak. Hulle het Asael opgetel en hom begrawe in sy pa se graf in Betlehem. Joab en sy manne het die hele nag geloop en hulle het in Hebron gekom toe dit lig word.

2 SAMUEL 2:12-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Abner, die seun van Ner, met die dienaars van Isbóset, die seun van Saul, het uitgetrek uit Mahanáim na Gíbeon. Joab, die seun van Serúja, en die dienaars van Dawid het ook uitgetrek. En toe hulle mekaar ontmoet by die dam van Gíbeon, het hulle gaan sit aan weerskante van die dam. En Abner sê vir Joab: Laat die jongmanne hulle tog regmaak en voor ons speel. En Joab sê: Laat hulle regmaak. Toe het hulle opgestaan, en twaalf is vir Benjamin afgetel, naamlik vir Isbóset, die seun van Saul; en twaalf van die dienaars van Dawid. Maar die een het die ander aan die hoof gegryp, en die een se swaard was in die sy van die ander, sodat hulle saam geval het; daarom noem hulle dié plek Veld van Swaardskerptes, wat by Gíbeon is. En dieselfde dag het die geveg buitengewoon hewig geword, maar Abner en die manne van Israel is verslaan voor die dienaars van Dawid. En daar was drie seuns van Serúja: Joab en Abísai en Ásahel; en Ásahel was lig op sy voete soos een van die gemsbokke wat in die veld is. En Ásahel het Abner agternagejaag sonder om in sy koers regs of links agter Abner weg te draai. Toe kyk Abner agter hom om en sê: Is dit jy, Ásahel? En hy antwoord: Dit is ek. En Abner sê vir hom: Draai uit na jou regter- of linkerhand en gryp vir jou een van die jongmanne en neem sy uitrusting vir jou. Maar Ásahel wou nie agter hom wegdraai nie. En Abner sê nog 'n keer vir Ásahel: Jy moet padgee agter my; waarom moet ek jou teen die grond slaan? Hoe sou ek dan my aangesig kan ophef voor jou broer Joab? Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterent van die spies in die onderlyf, sodat die spies agter hom uitkom en hy daar neerval en op die plek sterwe. En almal het bly staan wat aankom by die plek waar Ásahel geval en gesterwe het. Maar Joab en Abísai het Abner agternagejaag, en die son het ondergegaan toe hulle by die heuwel Amma kom wat teenoor Giag lê, aan die pad na die woestyn van Gíbeon. En die kinders van Benjamin het agter Abner byeengekom en saam een skare geword, en hulle het gaan staan op die top van 'n sekere heuwel. Toe roep Abner na Joab en sê: Moet die swaard dan vir ewig verteer? Weet jy nie dat dit oplaas bitter sal wees nie? En hoe lank sal jy nie aan die manskappe sê dat hulle moet omdraai agter hulle broers vandaan nie? En Joab antwoord: So waar as God leef, waarlik, as jy nie gespreek het nie, sou die manskappe môre eers weggetrek het, elkeen agter sy broer vandaan. Toe blaas Joab op die ramshoring, en al die manskappe het stilgestaan en Israel nie langer agternagejaag en nie verder meer geveg nie. Daarop het Abner en sy manne daardie hele nag die Vlakte deurgegaan en deur die Jordaan getrek en deur die hele Bitron en in Mahanáim aangekom. En Joab het omgedraai agter Abner weg en al die manskappe versamel. En van Dawid se dienaars is negentien man en Ásahel vermis. Maar die dienaars van Dawid het van Benjamin, naamlik onder die manne van Abner, geslaan — driehonderd-en-sestig man het gesterwe. En hulle het Ásahel opgetel en hom in die graf van sy vader, wat in Betlehem was, begrawe; en Joab en sy manne het die hele nag deur getrek, sodat dit vir hulle in Hebron lig geword het.

2 SAMUEL 2:12-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Abner seun van Ner het met Is-Boset se soldate van Maganajim af na Gibeon toe opgeruk. Joab seun van Seruja het hulle met Dawid se soldate tegemoet getrek en hulle by die Gibeondam gekry. Joab-hulle het aan die een kant van die dam gaan sit, en die ander aan die oorkant. Abner skreeu toe vir Joab: “Laat die jong manne eers hier voor ons 'n oorlogspel kom speel!” “Hulle kan dit maar doen,” was Joab se antwoord. Twaalf man het toe namens Benjamin en Is-Boset na vore gekom, en so ook twaalf van Dawid se soldate. Maar elkeen het sy opponent aan die hare beetgekry en met die swaard onder die ribbes gesteek, en hulle het gelyk omgekom. Daarom word dié plek in Gibeon die Ribbebeensdeel genoem. Daardie dag het daar toe 'n hewige geveg ontwikkel, en Abner en die manskappe van Israel is deur Dawid se soldate verslaan. Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was vinnig soos 'n wildsbok. Hy het Abner agternagesit en knaend op sy spoor gebly. Abner het vir hom oor sy skouer gevra: “Is dit jy, Asael?” “Ja, dis ek,” was die antwoord. Abner sê toe vir hom: “As jy agter 'n uitrusting aan is, draai weg in enige rigting, oorrompel enige jong soldaat en vat syne.” Maar hy wou nie wegdraai nie. Abner het weer vir hom gesê: “Gee pad agter my! Waarom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek jou broer Joab in die oë kan kyk?” Maar hy het bly weier om weg te draai. Toe steek Abner hom sommer na agter toe met die spies in die maag, sodat dit by sy rug uitkom. Asael het net daar in sy spore dood neergesak. Elkeen wat op die plek gekom het waar hy geval het, het 'n oomblik gaan staan. Daarna het Joab en Abisai vir Abner agternagesit. Sononder het hulle by die Elmboogrant aangekom, regoor die fontein langs die pad na Gibeon se weiveld toe. Die Benjaminiete het almal bo-op die rant gestaan en in 'n bondel agter Abner saamgedrom. Toe skreeu Abner vir Joab: “Moet die swaard aanhou verteer? Besef jy nie dat die uiteinde net bitterheid is nie? Wanneer gaan jy eendag die manskappe beveel om nie meer hulle broers te agtervolg nie?” Joab het geantwoord: “Waarlik, God weet dit, as jy nie nou gepraat het nie, sou ons die volk tot môreoggend laat veg het, en dit nogal broer teen broer.” Toe het Joab die ramshoring geblaas. Al die manskappe het gaan staan en Israel nie meer agtervolg nie en hulle het nie verder geveg nie. Abner en sy manskappe het die nag deur met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek en Maganajim al met die Bitronloop langs bereik. Joab het die agtervolging van Abner gestaak en die manskappe bymekaargeroep. Toe hulle Dawid se soldate tel, was daar behalwe Asael nog negentien man kort. Dawid se vegters het egter baie Benjaminiete verslaan. Onder Abner se soldate alleen was drie honderd en sestig dood. Joab-hulle het vir Asael opgetel en in die familiegraf in Betlehem gaan begrawe. Hierna het Joab en sy soldate die hele nag deur getrek en ligdag was hulle in Hebron.

2 SAMUEL 2:12-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Abner, seun van Ner, en die volgelinge van Saul se seun Is-Boset het van Maganajim af uitgetrek na Gibeon. Joab, seun van Seruja, en die volgelinge van Dawid het ook uitgetrek en hulle by die dam by Gibeon teëgekom. Die een groep het aan die een kant van die dam gaan sit en die ander groep aan die ander kant van die dam. “Laat die jong manne bietjie opstaan en voor ons kragte meet,” sê Abner toe vir Joab; waarop Joab antwoord: “Laat hulle opstaan.” Hulle het opgestaan en is in die verbykom afgetel: twaalf vir Benjamin – dit was vir Saul se seun Is-Boset – en twaalf van Dawid se volgelinge. Elkeen het sy teenstander aan die kop beetgekry en sy swaard in die ander se sy gesteek. Saam het hulle geval. Daarom word daardie plek wat by Gibeon is, die veld van Hassurim genoem. Die geveg was daardie dag besonder straf, maar Abner en die manne van Israel is verslaan deur die volgelinge van Dawid. Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was so vlug van voet soos een van die gaselle in die veld. Asael is agter Abner aan. Hy het nie links of regs afgewyk in sy agtervolging van Abner nie. Abner het omgekyk en gevra: “Is dit jy, Asael?” Hy sê toe: “Dit is ek!” Abner sê toe vir hom: “Draai links of regs weg, en pak een van die jong manne! Vat vir jou sy wapenrusting!” Maar Asael wou nie van agter hom wegdraai nie. Abner sê toe weer vir Asael: “Gee pad hier agter my! Waarom moet ek jou platslaan? Hoe sal ek dan jou broer Joab in die oë kan kyk?” Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterkant van die vegspies in die maag, sodat die vegspies by sy rug uitkom. Hy het net daar geval en op die plek gesterf. Daarna het almal wat aangekom het by die plek waar hy geval en gesterf het, gaan staan. Maar Joab en Abisai het Abner agternagesit. Toe die son besig was om onder te gaan, kom hulle by die Amma-heuwel, wat oos van Giag lê, op pad na die woestyn van Gibeon. Die manne van Benjamin het in een groep agter Abner stelling ingeneem. Hulle het op die top van 'n heuwel gaan staan. Abner roep toe na Joab. Hy het gesê: “Moet die swaard dan vir altyd verteer? Besef jy nie dat dit uiteindelik net bitterheid bring nie? Gaan jy dan nooit vir die manskappe sê om die agtervolging van hulle broers te staak nie?” Joab antwoord toe: “So waar as God leef, as jy nie gepraat het nie, sou die manskappe almal eers teen die môre teruggeval het van die gejaag agter hulle broers aan.” Joab het daarna op die •ramshoring geblaas, en al die manskappe het gaan staan. Hulle het nie meer die Israeliete agtervolg nie, en ook nie verder geveg nie. Abner en sy manne het daardie hele nag deur die Araba getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek, die hele voormiddag getrek en in Maganajim aangekom. Joab het teruggekeer van sy agtervolging van Abner en al die manskappe byeengebring. Van die volgelinge van Dawid het negentien man en Asael ontbreek. Maar die volgelinge van Dawid het onder die Benjaminiete 'n slagting aangerig: Van die manne van Abner was driehonderd-en-sestig dood. Hulle het Asael gedra en hom in sy vader se graf wat by Betlehem is, neergelê. Joab en sy manne het daarna die hele nag getrek, en toe dit lig word, was hulle in Hebron.

2 SAMUEL 2:12-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Abner, die seun van Ner, en die dienaars van Isboset, die seun van Saul, het van Mahanaim na Gíbeon uitgetrek. En Joab, die seun van Seruja, en die dienaars van Dawid het uitgegaan en mekaar by die bad van Gibeon ontmoet; en hulle het gaan sit, die een aan die een kant van die bad en die ander aan die ander kant van die bad. Toe sê Abner vir Joab: Laat die jongmanne nou opstaan en voor ons speel. En Joab sê: Laat hulle opstaan. Toe het daar opgestaan en deurgetrek volgens getal twaalf van Benjamin, wat aan Isboset, die seun van Saul, behoort het, en twaalf van die dienaars van Dawid. En hulle het elkeen sy maat aan die kop gegryp en sy swaard in die sy van hom gesteek; daarom het hulle saam neergeval. Daarom is daardie plek Helkat-Hassurim genoem wat in Gíbeon is. En daar was 'n baie hewige geveg daardie dag; en Abner en die manne van Israel is geslaan voor die dienaars van Dawid. En daar was drie seuns van Seruja daar, Joab en Abísai en Asahel; en Asahel was so lig van voete soos 'n wilde gemsbok. En Asahel het Abner agternagejaag; en toe hy gegaan het, het hy nie regs of links van Abner af weggedraai nie. Toe kyk Abner agter hom en sê: Is jy Asahel? En hy antwoord: Ek is. Toe sê Abner vir hom: Draai jou af na jou regter- of linkerhand, en gryp een van die jongmanne aan en neem sy wapenrusting vir jou. Maar Asahel wou nie afwyk om hom te volg nie. En Abner sê weer vir Asahel: Gaan weg van my agtervolg; waarom moet ek jou teen die grond slaan? hoe moet ek dan my aangesig voor jou broer Joab hou? Maar hy het geweier om af te wyk; daarom het Abner hom met die agterpunt van die spies onder die vyfde rib geslaan, sodat die spies agter hom uitgekom het; en hy het daar neergeval en op dieselfde plek gesterf. Ook Joab en Abísai het Abner agternagejaag, en die son het ondergegaan toe hulle by die heuwel Amma kom wat voor Gia lê, op pad na die woestyn Gibeon. En die kinders van Benjamin het agter Abner aan vergader en een bende geword en op die top van 'n heuwel gaan staan. Toe roep Abner Joab en sê: Sal die swaard vir ewig verteer? Weet jy nie dat dit aan die einde bitterheid sal wees nie? hoe lank sal dit dan duur voordat jy die volk beveel om terug te keer van agter hulle broers aan? Toe sê Joab: So waar as God leef, as jy nie gespreek het nie, dan het die volk sekerlik in die môre opgetrek, elkeen van sy broer agterna. Daarop het Joab op die basuin geblaas, en die hele volk het stilgestaan en Israel nie meer agternagesit en nie meer geveg nie. En Abner en sy manne het daardie hele nag deur die vlakte gegaan en deur die Jordaan getrek en die hele Bitron deurgetrek, en hulle het in Mahanaim gekom. En Joab het teruggekeer van agter Abner af, en toe hy die hele volk bymekaar laat kom het, het daar negentien man en Asahel ontbreek aan die dienaars van Dawid. Maar die dienaars van Dawid het van Benjamin en van Abner se manne verslaan, sodat drie honderd en sestig man gesterf het. En hulle het Asahel opgeneem en hom begrawe in die graf van sy vader wat in Betlehem was. En Joab en sy manne het die hele nag deurgetrek en teen dagbreek in Hebron aangekom.

2 SAMUEL 2:12-32 Die Boodskap (DB)

Abner, die seun van Ner, het met Is-Boset se manskappe van Maganajim af na Gibeon toe gegaan. Joab, die seun van Seruja, en Dawid se manskappe het ook uitgetrek en hulle by Gibeonsfontein gekry. Die twee groepe het weerskante van die poel water gaan sit. Abner sê toe vir Joab: “Kom ons laat van die jongmanne die ding hier voor ons uitspook.” “Dis goed so,” sê Joab. Hulle laat toe twaalf manne vorentoe kom wat vir die stam van Benjamin en Is-Boset moet veg, en twaalf wat vir Dawid moet veg. Toe hulle mekaar pak, gryp elkeen die ander een aan die hare en hulle steek mekaar gelyk met die swaard in die sy sodat hulle almal saam dood neerslaan. (Dis hoekom hulle die plek daar by Gibeon Klipmesdeel noem.) Daar het toe ’n woeste geveg uitgebreek. Abner en die manne van Israel het die slegste daarvan afgekom teen Dawid se manskappe. Al drie Seruja se seuns, Joab, Abisai en Asael, was in die geveg. Asael was so rats soos ’n ribbok. Toe Abner begin weghardloop, sit Asael hom agterna en bly op sy hakke, maak nie saak watter kant toe Abner draai nie. Abner kyk toe om en skree vir hom: “Is jý die een wat agter my aan is, Asael?” Asael skree terug: “Ja, dis ek!” Abner skree vir hom: “Hou op om my te jaag! Vang een van die jongmanne en vat sý wapens!” Maar Asael wou niks weet van wegdraai nie. Abner skree toe weer vir hom: “Gee pad hier agter my! Ek gaan jou doodmaak! Hoe sal ek dan weer jou broer Joab in die oë kan kyk?” Maar Asael wou nie hoor nie. Toe steek Abner hom so hard met die spies in sy maag dat die steel by sy rug uitkom. Asael het net daar dood neergeslaan. Almal wat verbygehardloop het, het gaan staan daar waar Asael dood gelê het. Maar Joab en Abisai het op Abner se spoor gebly. Toe die son sak, kom hulle by Ammabult aan wat oos van Giag op pad na Gibeon se weivelde lê. Die manne van Benjamin het by Abner saamgekom en in ’n digte bondel op een van die koppies gaan staan. Toe skree Abner: “Joab! Moet ons dan vir altyd aanhou veg? Jy weet goed waar dit gaan eindig: almal gaan bitter kwaad en ongelukkig wees! Hoekom sê jy nie vir jou manne hulle moet ophou om hulle eie mense te jaag en dood te maak nie?” Toe skree Joab terug: “So waar as God leef, as jy net vroeër gepraat het, het ons vanmôre al opgehou om mekaar aan te val!” Joab het op ’n ramshoring geblaas. Die manne het gaan staan en opgehou om die Israeliete te jaag. Die geveg het daar opgehou. Abner en sy manne het daardie hele nag getrek. Hulle is deur die Jordaanvallei en oor die rivier. Hulle het eers laat die volgende môre by Maganajim aangekom. Nadat Joab opgehou het om Abner te jaag, het hy die manskappe almal bymekaargeroep. Die negentien man en Asael was al wat makeer het van Dawid se soldate. Maar Dawid se soldate het 360 van die mense van Benjamin doodgemaak wat saam met Joab was. Hulle het Asael se lyk gevat en hom in sy familiegraf by Betlehem gaan begrawe. Daarna het Joab en sy manne dwarsdeur die nag getrek en die volgende môre toe dit lig word, in Hebron aangekom.

2 SAMUEL 2:12-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n dag lei Abner die troepe van Is-Boset, seun van Saul, van Maganajim af teen Gibeon. Joab, seun van Seruja, het met Dawid se troepe uit Hebron getrek en Abner by die Gibeondam ontmoet. Die twee groepe het weerskante van die dam stelling ingeneem. Toe maak Abner ’n voorstel aan Joab: “Kom, laat ’n paar van ons soldate ’n vertoning gee van man-teen-man-gevegte.” “Goed, laat hulle dit doen,” stem Joab in. Twaalf man uit elke kant, dié van Is-Boset en dié van Dawid, is gekies om teen mekaar te veg. Maar elkeen het sy teenstander aan die hare gegryp en sy swaard deur die ander een se ribbes gesteek sodat almal van hulle gesterf het. Daarna is die plek die Veld van Swaarde genoem. Daarna het die twee leërs mekaar aangeval. Teen die einde van die dag het Dawid se manskappe vir Abner en die leër van Israel verslaan. Joab, Abisai en Asael, die drie seuns van Seruja, was ook daardie dag daar. Asael kon so vinnig soos ’n wildsbok hardloop, en hy het Abner agternagesit. Hy het hom meedoënloos agtervolg. Toe Abner omkyk, roep hy uit: “Is dit jy, Asael?” “Ja, dis ek,” antwoord hy. “Draai weg van my af,” sê Abner. “Pak liewer een van die jonger manne en vat sy wapens.” Maar Asael het geweier en het volgehou om hom te agtervolg. Abner het weer vir hom geskree: “Hou op om my te agtervolg! Hoekom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek weer jou broer Joab in die oë kan kyk?” Maar Asael wou nie kopgee nie. Abner het toe sy spies agtertoe deur sy agtervolger Asael se maag gesteek sodat dit by sy rug uitgekom het. Hy het op die grond geval en gesterf. Elkeen wat daar verbygekom het, het gaan stilstaan by die plek waar Asael doodgemaak is. Joab en Abisai het egter vir Abner bly agternasit. Teen sononder kom hulle aan by die heuwel Amma naby Gia op die pad na die wildernis van Gibeon. Daar bo-op die rant het Abner se manskappe uit Benjamin hulle rondom Abner geskaar en stelling ingeneem. Abner skree toe vir Joab: “Moet ons altyd ons verskille met die swaard oplos? Besef jy nie dit sal net tot bitterheid lei nie? Wanneer gaan jy vir jou manskappe sê hulle moet ophou om hulle broers te agtervolg?” Joab antwoord: “So waar as wat God leef, as jy nie nou gepraat het nie, sou die manskappe eers teen die oggend opgehou het om hulle broers te agtervolg.” Joab het toe op die ramshoring laat blaas en sy manskappe het die agtervolging van Israel gestaak. Abner en sy manskappe het deur die nag met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en die oggend verder getrek totdat hulle by Maganajim aangekom het. Toe Joab die agtervolging staak, het hy sy soldate bymekaargeroep. Benewens Asael het net negentien gekort. Aan die kant van Abner het 360 man, almal uit Benjamin, gesneuwel. Joab en sy manskappe het die liggaam van Asael na Betlehem toe geneem en hom in die familiegraf begrawe. Daarna het hulle die hele nag deur getrek en Hebron teen dagbreek bereik.