2 SAMUEL 17:1-29
2 SAMUEL 17:1-29 Bybel vir almal (ABA)
Agitofel het vir Absalom gesê: “Ek wil 12 000 manne kies en gereedmaak en ek wil vannag vir Dawid volg en jaag. Ek sal by hom kom wanneer hy moeg en moedeloos is, en ek sal hom groot laat skrik. Al die mense wat by hom is, sal vlug. Dan sal die koning alleen wees, en ek sal hom doodmaak. Dan sal ek al die mense na jou toe laat kom. Jy het een man gesoek, maar almal sal na jou toe kom, en al die mense sal veilig lewe.” Absalom en al die leiers van Israel het gedink dit is 'n goeie plan. Maar Absalom het gesê: “Roep asseblief ook vir Gusai van die stad Erek sodat ons kan hoor wat hy sê.” Toe Gusai by Absalom kom, sê Absalom vir hom wat Agitofel gesê het. Absalom vra toe vir Gusai: “Moet ons dit doen of nie, wat dink jy?” Gusai sê toe vir Absalom: “Vandag is Agitofel se plan nie goed nie. Jy ken jou pa en sy manne. Hulle kan goed veg en hulle is nou so kwaad soos 'n beer-wyfie in die veld wanneer iemand haar kleintjies doodgemaak het. Jou pa is 'n man wat baie weet van oorlog, hy sal nie by die ander mense slaap nie. Jy kan seker wees dat hy nou wegkruip in 'n sloot of 'n ander plek. Wanneer hulle vir julle begin aanval en party van jou manne sterf, en die mense hoor dit, dan sal hulle sê baie van Absalom se manne is dood. Dan sal almal bang word, ook die manne wat so dapper soos 'n leeu is, want al die Israeliete weet dat jou pa en die manne by hom goed kan veg. Daarom sê ek jy moet eers al die manne van Israel by jou laat bymekaarkom, almal van die stad Dan tot by die stad Berseba. Hulle moet so baie wees soos die sand by die see, en jy moet self saam met hulle gaan. Ons sal die koning kry waar hy is en ons sal so skielik by hom kom soos die dou wat op die grond val. Hy en nie een van die manne by hom sal aanhou lewe nie. Of as hy in 'n stad gaan woon het, dan sal al die manne van Israel toue om daardie stad vasmaak en hulle sal die stad wegsleep tot in die vallei. Daar sal nie een klip oorbly nie.” Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai se plan is beter as Agitofel se plan. Maar dit was die Here wat dit so laat gebeur het. Hy het dit besluit sodat die goeie plan van Agitofel nie kon slaag nie. Die Here het dit gedoen omdat Hy dit sleg wou laat gaan met Absalom. Gusai het vir die priesters Sadok en Abjatar gaan vertel van die plan wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het. Gusai het ook vir hulle vertel wat sy eie plan was. Gusai het gesê Sadok en Abjatar moet vinnig vir Dawid 'n boodskap stuur en vir hom sê: “Jy moenie vannag by die Jordaan- driwwe slaap nie, jy moet deur die rivier gaan. As jy dit nie doen nie, dan sal Absalom se mense jou daar kry en hulle sal jou en die mense by jou almal doodmaak.” Jonatan en Agimaäs het by Rogel-fontein gewag, want hulle was bang dat die mense hulle in Jerusalem sal sien. 'n Slavin het vir hulle die boodskap gebring wat hulle vir koning Dawid moes bring. Maar 'n jongman het hulle gesien en hy het vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het vinnig na 'n man se huis in die stad Bagurim gegaan. Daar was 'n put in die man se tuin, en hulle het in die put geklim. Die vrou het 'n doek styf oor die put getrek en sy het koringkorrels daaroor gegooi sodat niemand die put kon sien nie. Toe Absalom se manne by die vrou by haar huis kom, vra hulle vir haar waar Agimaäs en Jonatan is. Die vrou sê toe vir hulle: “Hulle het verbygegaan na die water.” Die manne het vir Agimaäs en Jonatan gaan soek, maar die manne kon hulle nie kry nie, en toe het die manne teruggegaan na Jerusalem. Nadat hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim en hulle het die boodskap vir koning Dawid gaan gee. Hulle het vir Dawid gesê: “Jy moet gereedmaak en jy moet vinnig deur die water gaan.” Hulle het vir Dawid gesê wat Agitofel se plan was. Dawid en al die mense wat by hom was, het gereedgemaak en hulle het deur die Jordaan-rivier begin gaan. Hulle het aangehou om deur te gaan totdat dit lig geword het. Almal was toe deur die Jordaan-rivier. Toe Agitofel sien Absalom wil nie doen wat hy gesê het nie, het hy sy donkie opgesaal en hy het gereedgemaak en teruggegaan na sy huis in die stad waar hy gewoon het. Hy het vir sy huisgesin gesê wat hulle moet doen, en toe het hy homself opgehang en hy het gesterf. Hulle het hom begrawe in sy pa se graf. Toe Dawid by die stad Maganajim kom, het Absalom deur die Jordaan-rivier gegaan, hy en al die manne van Israel saam met hom. Absalom het vir Amasa gekies en aangestel om die hoof van die leër te wees. Voorheen was Joab die hoof van die leër. Amasa was die seun van 'n man van die stad Jisreël. Die man se naam was Jitra. Jitra het geslaap by Abigal dogter van Nagas. Abigal was 'n suster van Seruja, Joab se ma. Die manne van Israel en Absalom het hulle tente opgeslaan in die land Gilead. Toe Dawid by Maganajim kom, was Sobi en Makir en Barsillai daar. Sobi was 'n seun van Nagas van die stad Rabba van die Ammoniete. Makir was 'n seun van Ammiël van die stad Lo-Dabar, en Barsillai was van die stad Rogelim in Gilead. Hulle het slaapmatte gebring en skottels en bakke en koring en gars en meel en gebraaide koring en boontjies en lensies en heuning en dikmelk en skape en bokke en beesmelk-kaas. Hulle het dit vir Dawid en die mense by hom gebring om te eet. Hulle het gesê: “Die mense het honger en moeg en dors geword in die woestyn.”
2 SAMUEL 17:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het Agitófel vir Absalom gesê: Laat ek tog twaalfduisend man uitsoek en my klaarmaak en Dawid vannag agternajaag, dat ek hom kan oorval, terwyl hy moeg en slap van hande is, en hom verskrik; dan sal al die mense vlug wat by hom is, en ek sal net die koning neerslaan. En ek sal die hele volk na u terugbring: die terugkeer van almal hang af van die man wat u soek; die hele volk sal tevrede wees. En die woord was reg in die oë van Absalom en in die oë van al die oudstes van Israel. Maar Absalom het gesê: Roep tog ook Húsai, die Arkiet, en laat ons ook hoor wat hy sê. Toe Húsai by Absalom inkom, het Absalom met hom gespreek en gesê: So het Agitófel gespreek. Sal ons sy raad opvolg? So nie, spreek jy dan. En Húsai sê vir Absalom: Die raad wat Agitófel hierdie keer gegee het, is nie goed nie. Verder het Húsai gesê: U weet dat u vader en sy manne helde is en bitter van siel soos 'n beer wat van haar kleintjies beroof is in die veld; ook is u vader 'n krygsman, en hy sal nie by die volk vernag nie. Kyk, nou het hy hom weggesteek in een van die kuile of in een van die ander plekke, en as daar al by die begin enkele onder hulle val en die mense dit hoor, sal hulle sê: Die manskappe wat Absalom volg, het 'n neerlaag gely! Dan sal selfs hy wat 'n dapper man is, wat 'n hart het soos 'n leeu se hart, heeltemal versmelt; want die hele Israel weet dat u vader 'n held is, en dat dapper manne by hom is. Maar ek raai aan: Laat die hele Israel van Dan tot Berséba, soos sand wat aan die seestrand is in menigte, voltallig by u versamel word; en u moet persoonlik in die stryd trek. En as ons by hom kom in een van die plekke waar hy hom bevind, dan val ons op hom neer soos dou op die aarde val, sodat daar van hom en van al die manne wat by hom is, selfs nie een oorbly nie. En as hy hom in 'n stad terugtrek, moet die hele Israel toue aanbring na daardie stad, en ons sal dit wegsleep na die spruit totdat daar selfs geen klippie meer te vinde is nie. Toe sê Absalom en al die manne van Israel: Die raad van Húsai, die Arkiet, is beter as die raad van Agitófel. Maar die HERE het dit beskik om die goeie raad van Agitófel te verydel, sodat die HERE die onheil oor Absalom kon bring. En Húsai het aan Sadok en Ábjatar, die priesters, gesê: So en so het Agitófel Absalom en die oudstes van Israel aangeraai, maar so en so het ek aangeraai. Stuur dan nou gou, en laat Dawid weet: Vernag nie by die woestyndriwwe nie, maar trek sekerlik deur; anders word die koning en al die mense wat by hom is, vernietig. Intussen het Jónatan en Ahímaäs by die fontein Rogel gestaan, terwyl 'n diensmeisie gaan om vir hulle berig te bring; hulle moes dan weer gaan en dit aan koning Dawid oorbring. Want hulle moes hulle nie laat sien deur in die stad in te gaan nie. Maar 'n seun het hulle gesien en dit aan Absalom meegedeel. Toe gaan hulle twee haastig weg en kom by die huis van 'n man in Bahúrim wat 'n put op sy erf gehad het, en hulle het daarin afgesak. En die vrou het 'n doek geneem en dit bo-oor die put oopgetrek en graankorrels daarop uitgestrooi, sodat 'n mens niks kon merk nie. Toe Absalom se dienaars by die vrou in die huis kom, vra hulle: Waar is Ahímaäs en Jónatan? En die vrou sê vir hulle: Hulle het die watertjie deurgegaan. En hulle het gesoek maar niks gekry nie, en na Jerusalem teruggegaan. Nadat hulle weg was, het hulle uit die put opgeklim en verder gegaan en aan koning Dawid berig gebring en aan Dawid gesê: Maak julle klaar en trek gou die water deur, want so het Agitófel teen julle raad gegee. Daarop het Dawid hom klaargemaak, en al die mense wat by hom was, en die Jordaan deurgetrek. Teen dat dit die môre lig geword het, het selfs nie een ontbreek wat nie die Jordaan deurgetrek het nie. En toe Agitófel sien dat sy raad nie opgevolg is nie, saal hy die esel op en maak hom klaar, en hy het na sy huis in sy stad gegaan en aan sy huis bevel gegee en homself verwurg. So het hy dan gesterwe; en hy is begrawe in die graf van sy vader. EN Dawid het al in Mahanáim aangekom terwyl Absalom deur die Jordaan trek, hy en al die manne van Israel saam met hom. En Absalom het Amása in Joab se plek oor die leër aangestel; en Amása was die seun van 'n man met die naam van Jitra, die Ismaeliet wat ingegaan het by Abígail, die dogter van Nahas, die suster van Serúja, Joab se moeder. En Israel en Absalom het laer opgeslaan in die land Gílead. Net toe Dawid in Mahanáim aankom, bring Sobi, die seun van Nahas, uit Rabba van die kinders van Ammon, en Magir, die seun van Ámmiël, uit Lódebar, en Barsíllai, die Gileadiet, uit Rógelim, beddegoed en skottels en erdegoed en koring en gars en meel en gebraaide koring en bone en lensies, ook gebraai, en heuning en dikmelk en kleinvee en kaas van beesmelk na Dawid om te eet, en na die mense wat by hom was, want hulle het gesê: Die mense het honger en is moeg en het dors geword in die woestyn.
2 SAMUEL 17:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Agitofel het verder vir Absalom gesê: “Laat ek tog twaalf afdelings uitsoek en klaarmaak om Dawid vannag nog agterna te sit. Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Ek sal verwarring in sy geledere skep, sodat die hele volk wat by hom is, sal vlug en ek die koning kan doodmaak waar hy alleen is. Dan sal ek die hele volk na u toe laat swaai. Nadat almal oorgeloop het, sal u die gunsteling wees en die hele volk sal eensgesind wees.” Die voorstel het aanneemlik gelyk vir Absalom en die leiers van Israel. Maar Absalom het gesê: “Roep eers vir Gusai die Erekiet. Laat ons ook hoor wat hý te sê het.” Gusai het ingekom, en Absalom het vir hom gesê: “Dit is die voorstel van Agitofel. Moet ons dit aanvaar of nie? Hoe dink jy?” Gusai het geantwoord: “Hierdie keer het Agitofel nie goeie raad gegee nie. U ken tog u vader en sy manskappe. Hulle is dapper vegters en hulle is boonop verbitter soos 'n beer wat in die veld van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n uitgeslape krygsman. Hy sal nie by die volk oornag nie. Ek is seker hy kruip nou weg in 'n sloot of op een of ander plek. As daar aan die begin al van u manskappe omkom en dit rugbaar word, sal daar gesê word: ‘Daar was 'n slagting onder die manne wat vir Absalom volg.’ Dan sal selfs die dapperste man, die man met leeuemoed, bang word, want die hele Israel weet u vader is 'n vegter en hy het dapper manne by hom. Nee, ek raai aan dat die hele volk oor die lengte en breedte van die land eers by u bymekaargeroep word: 'n menigte soos die sand van die see. Dan kan u persoonlik teen hom opruk. Waar hy ook al is, as ons by hom kom in een van die plekke, sak ons op hom toe soos mistige weer. Daar sal niks van hom oorbly nie, ook nie eers een van die manne by hom nie. As hy hom dalk in 'n stad terugtrek, moet die hele Israel toue oor die mure van daardie stad gooi en dit na die laagte toe wegsleep totdat daar nie meer 'n enkele klip oorbly nie.” Toe het Absalom en al die manskappe van Israel gesê: “Die raad van Gusai die Erekiet is beter as dié van Agitofel.” Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring. Daarna het Gusai die priesters Sadok en Abjatar ingelig: “Só het Agitofel vir Absalom en die volksleiers aangeraai, maar só was my raad. Stuur nou gou en laat weet vir Dawid hy moenie vannag in die woestynpas slaap nie. Hy moet beslis verder trek, anders word hy en sy hele leër uitgewis.” Omdat hulle nie in die stad gesien moes word nie, het Jonatan en Agimaäs ondertussen by Rogelfontein gewag. 'n Slavin het hulle gaan inlig, en hulle moes weer vir koning Dawid gaan inlig. 'n Jong seun het hulle egter gesien en Absalom daarvan vertel. Maar dié twee het weggeglip en by 'n man in Bagurim gaan wegkruip. In sy agterplaas was daar 'n put en hulle het daarin geklim. Sy vrou het 'n doek oor die put gespan en graan daar oor gegooi sodat niemand onraad kon merk nie. Absalom se manne het by die huis aangekom en vir die vrou gevra: “Waar is Agimaäs en Jonatan?” Sy het hulle geantwoord: “Hulle is hiervandaan rivier se kant toe.” Nadat die manne tevergeefs gesoek het, is hulle terug Jerusalem toe. Toe hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim en vir Dawid gaan sê: “Trek gou deur die rivier, want Agitofel se raad is gevaarlik vir u.” Die koning en die hele volk by hom het klaargemaak en deur die Jordaan getrek tot ligdag, totdat almal deur die Jordaan was. Toe Agitofel sien sy raad word nie gevolg nie, het hy sy donkie opgesaal en na sy huis toe in sy tuisdorp gery. Daar het hy sy sake gereël en homself opgehang en gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe. Dawid het na Maganajim toe gegaan onderwyl Absalom en die hele Israel deur die Jordaan getrek het. Absalom het vir Amasa in Joab se plek oor die leër aangestel. Amasa was die seun van 'n sekere Ismaeliet Jeter wat gemeenskap gehad het met Abigal dogter van Nagas. Sy was 'n suster van Seruja, Joab se ma. Israel en Absalom het laer opgeslaan in Gilead. Toe Dawid in Maganajim aankom, is daar vir hom beddegoed gebring deur Sobi seun van Nagas van die Ammonitiese stad Rabba, en Makir seun van Ammiël van die stad Lo-Dabar, en Barsillai die Gileadiet van Rogelim. Hulle het toe die slaapplek reggemaak. Daar was ook nog erdebakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies. Hulle het ook heuning, bokmelk en beesmelkkaas gebring sodat Dawid en sy mense kon eet en drink, want hulle het geweet die mense het moeg en honger en dors geword in die woestyn.
2 SAMUEL 17:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Agitofel het ook vir Absalom gesê: “Laat ek twaalfduisend man uitsoek en gereedmaak, en Dawid vannag agternasit. Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Ek sal hom die skrik op die lyf jaag, en dan sal al die mense by hom vlug. Ek sal die koning alleen neervel en al die mense na jou terugbring. Met dié dat almal terugkeer, behalwe die man wat jy soek, sal al die mense ongedeerd wees.” Die voorstel was reg in die oë van Absalom en al die oudstes van Israel. Absalom het egter gesê: “Ontbied ook vir Gusai, die man uit Ereg, sodat ons kan hoor wat ook hy te sê het.” Toe Gusai by Absalom kom, het Absalom vir hom gesê: “Dit is die voorstel wat Agitofel gemaak het. Moet ons sy voorstel volg? Indien nie, praat jy dan!” Gusai sê toe vir Absalom: “Die raad wat Agitofel gegee het, is hierdie keer nie goed nie.” Gusai sê toe daarby: “U ken self u vader en sy manne: Hulle is helde, en hulle is so omgekrap soos 'n beer in die veld wat van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n krygsman; hy sal nie by die mense slaap nie. Kyk, nou skuil hy in een van die klowe of in een van die ander plekke. As daar van u manne aan die begin val, sal dié wat dit hoor, sê, ‘Daar was 'n slagting onder die manskappe wat Absalom volg.’ Dan sal selfs die moed van 'n onverskrokke man, met die hart van 'n leeu, heeltemal wegsmelt, omdat die hele Israel weet dat u vader 'n held is en dat daar by hom onverskrokke manne is. Ja, my raad is: Laat die hele Israel, van Dan tot Berseba, so baie soos die sand wat langs die see is, onverwyld by u byeenkom, met u wat persoonlik aan die stryd deelneem. Ons sal op hom afkom in een van die plekke waar hy hom bevind, en dan sak ons op hom toe soos dou op die grond val. Daar sal van hom niks oorbly nie, ook van die manne by hom sal selfs nie een oorbly nie. En as hy hom in 'n stad terugtrek, sal die hele Israel toue bring na daardie stad, en ons sal dit wegsleep tot in die spruit, totdat daar nie meer 'n enkele klippie te vinde is nie.” Absalom en al die manne van Israel sê toe: “Die raad van Gusai, die man uit Ereg, is beter as die raad van Agitofel.” Die HERE het besluit om Agitofel se goeie raad te dwarsboom, sodat die HERE 'n ramp oor Absalom kon bring. Gusai het vir Sadok en Abjatar, die priesters, gesê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die oudstes van Israel gegee het, en dit is die raad wat ek gegee het. Stuur dan nou gou iemand en laat weet vir Dawid, ‘Moenie die nag by die deurgaanplekke na die woestyn oorbly nie, maar trek beslis verder; anders word die koning en al die mense by hom verslind.’ ” Jonatan en Agimaäs het by En-Roghel gereed gestaan, en 'n slavin sou gaan en aan hulle die boodskap oordra. Hulle moes dan gaan en koning Dawid inlig. Hulle kon dit immers nie waag om die stad binne te gaan en sodoende gesien te word nie. Maar 'n jong man het hulle gesien en vir Absalom gaan vertel. Hulle twee het toe haastig padgegee en by die huis aangekom van 'n man in Bagurim wat 'n put in sy binnehof gehad het. Hulle het daarin afgeklim, en die vrou het 'n doek geneem, dit oor die opening van die put getrek en gort daarop uitgesprei, sodat niks opgemerk kon word nie. Toe Absalom se dienaars by die vrou in haar huis kom, vra hulle: “Waar is Agimaäs en Jonatan?” Maar die vrou het hulle geantwoord: “Hulle het deur die waterkuil gegaan.” Die dienaars het gesoek, maar niks gekry nie, en toe teruggegaan na Jerusalem. Nadat hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim, verder gegaan en aan koning Dawid berig gebring. Hulle het vir Dawid gesê: “Maak gereed en gaan gou deur die water, want dit is die raad wat Agitofel oor julle gegee het.” Dawid en al die mense by hom het toe gereedgemaak en die Jordaan oorgesteek. Teen ligdag die oggend was daar nie een oor wat nie die Jordaan oorgesteek het nie. En Agitofel, hy het intussen gesien dat sy raad nie gevolg word nie. Toe saal hy die donkie op, maak gereed en gaan na sy huis in sy tuisdorp. Hy het opdragte gegee oor sy huisgesin, en homself opgehang. Hy is dood en is in sy vader se graf neergelê. Dawid het in Maganajim aangekom. En Absalom het deur die Jordaan getrek, hy en al die manne van Israel saam met hom. Absalom het Amasa oor die leër aangestel in Joab se plek. Amasa was die seun van 'n man met die naam Jeter, 'n Ismaeliet wat by Abigal ingegaan het. Sy was 'n dogter van Nagas, die suster van Seruja, die moeder van Joab. Israel en Absalom het kamp opgeslaan in die gebied van Gilead. Toe Dawid in Maganajim aankom, was Sobi, seun van Nagas uit Rabba van die Ammoniete, en Magir, seun van Ammiël uit Lo-Dabar, en Barsillai, 'n man van Gilead wat uit Rogelim kom, daar gereed met 'n bed, met bakke, kleipotte, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies, lensies, gebraaide koring, heuning, dikmelk, kleinvee, en kaas gemaak van beesmelk. Hulle het dit alles vir Dawid en die mense by hom gebring om te eet, “want,” het hulle gesê, “die mense sal honger en moeg en dors wees in die woestyn”.
2 SAMUEL 17:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Verder het Agitofel vir Absalom gesê: Laat my nou twaalf duisend man uitkies, en ek sal opstaan en Dawid in hierdie nag agtervolg. En Ek sal op hom afkom terwyl hy moeg en swak van hande is, en Ek sal hom verskrik; en al die mense wat by hom is, sal vlug; en ek sal net die koning verslaan. En Ek sal die hele volk na jou terugbring; die man wat jy soek, is asof almal teruggekeer het; so sal die hele volk in vrede wees. En die woord het Absalom en al die oudstes van Israel goed behaag. Toe sê Absalom: Roep tog ook Husai, die Arkiet, en laat ons net so hoor wat hy sê. En toe Húsai by Absalom kom, het Absalom met hom gespreek en gesê: Agitofel het so gespreek; moet ons doen volgens sy woord? Indien nie; praat jy. En Húsai sê vir Absalom: Die raad wat Agitofel gegee het, is in hierdie tyd nie goed nie. Want, het Husai gesê, jy ken jou vader en sy manne, dat hulle helde is, en hulle is geskaaf in hul gemoed soos 'n beer wat van haar kleintjies in die veld beroof is; en jou vader is 'n man van oorlog en wil nie loseer by die mense. Kyk, hy is nou weggesteek in die een of ander kuil of op 'n ander plek; en as sommige van hulle eers omvergewerp word, sal elkeen wat dit hoor, sê: Daar is 'n slagting onder die volk wat Absalom volg. En ook 'n dapper man wie se hart is soos die hart van 'n leeu, sal heeltemal smelt; want die hele Israel weet dat jou vader 'n held is, en die wat by hom is, dapper manne. Daarom raai ek aan dat die hele Israel in die algemeen by jou versamel word, van Dan tot Berséba, soos die sand wat by die see is in menigte; en dat jy op jou eie in die geveg gaan. So sal ons hom teëkom op 'n plek waar hy gevind sal word, en ons sal op hom aansteek soos die dou op die grond val; en van hom en van al die manne wat by hom is, sal daar nie net een oorbly nie. Verder, as hy in 'n stad beland is, moet die hele Israel toue na daardie stad bring, en ons sal dit in die rivier trek totdat daar nie een klein klippie gevind word nie. En Absalom en al die manne van Israel het gesê: Die raad van Húsai, die Arkiet, is beter as die raad van Agitofel. Want die HERE het besluit om die goeie raad van Agitofel te verslaan, met die doel dat die HERE onheil oor Absalom sou bring. Toe sê Húsai vir Sadok en vir die priesters Abjatar: So en so het Agitofel vir Absalom en die oudstes van Israel raad gegee; en so en so het ek raad gegee. Stuur dan nou gou en sê vir Dawid en sê: Moenie vanaand in die vlaktes van die woestyn bly nie, maar trek gou deur; dat die koning nie verslind word en al die mense wat by hom is nie. En Jónatan en Ahimaäs het by Enrogel gebly; want hulle kon nie gesien word om in die stad in te kom nie en hulle het gegaan en dit aan koning Dawid vertel. Maar 'n seun het hulle gesien en dit vir Absalom vertel; maar hulle het albei vinnig weggegaan en by 'n man se huis in Bahurim gekom, wat 'n put in sy voorhof gehad het; waarheen hulle afgegaan het. En die vrou het geneem en 'n deksel oor die opening van die put uitgesprei en gemaalde koring daarop uitgesprei; en die saak was nie bekend nie. En toe die dienaars van Absalom by die vrou in die huis kom, sê hulle: Waar is Ahímaäs en Jónatan? En die vrou sê vir hulle: Hulle het oor die waterspruit gegaan. En toe hulle gesoek het en hulle nie kon kry nie, het hulle na Jerusalem teruggekeer. En nadat hulle weggetrek het, het hulle uit die put opgekom en gegaan en dit aan koning Dawid vertel en aan Dawid gesê: Staan op en trek gou oor die water, want so het Agitofel teen jou beraadslaag. Daarna het Dawid klaargemaak en al die manskappe wat by hom was, en hulle het deur die Jordaan getrek; En toe Agitofel sien dat sy raad nie gevolg is nie, het hy sy esel opgesaal en opgestaan en hom huis toe gegaan na sy huis, na sy stad, en sy huisgesin in orde gebring en homself opgehang en gesterwe en is begrawe in die graf van sy vader. Dawid het toe in Mahanaim gekom. En Absalom het deur die Jordaan getrek, hy en al die manne van Israel saam met hom. En Absalom het Amasa aangestel as leërowerste in die plek van Joab; en Amasa was 'n man se seun met die naam van Jitra, 'n Israeliet, wat ingegaan het by Abigail, die dogter van Nahas, die suster van Seruja, die moeder van Joab. En Israel en Absalom het laer opgeslaan in die land Gílead. En toe Dawid in Mahanáim aankom, het Sobi, die seun van Nahas, uit Rabba van die kinders van Ammon, en Magir, die seun van Ammiël, uit Lodebar, en Barsillai, die Gileadiet van Rogelim, Bring beddings en komme en erdekruike en koring en gars en meel en gebraaide koring en boontjies en lensies en gebraaide peulgewasse, en heuning en botter en skape en kaas van koeie vir Dawid en vir die mense wat by hom was, om te eet; want hulle het gesê: Die volk is honger en moeg en dors in die woestyn.
2 SAMUEL 17:1-29 Die Boodskap (DB)
Agitofel sê toe ook nog vir Absalom: “Laat my toe om 12 000 man uit te soek, dan sit ek Dawid dadelik agterna, sommer vannag nog. Ek sal hom aanval terwyl hy moeg en sy moed in sy skoene is. Ek sal hom só skrikmaak dat al sy manskappe wat by hom is, sal weghardloop. Dan maak ek net die koning dood. Ek sal al sy mense agter u kry. Hulle sal almal agter u staan soos hulle agter daardie man wat u soek, gestaan het. Almal sal gelukkig wees.” Absalom en al die leiers van Israel het gedink dis ’n goeie plan. Toe sê Absalom: “Roep ’n bietjie vir Gusai, die Erekiet, dat ons hoor wat hý te sê het.” Toe Gusai inkom, sê Absalom vir hom: “Dis wat Agitofel gesê het. Moet ons dit doen? As jy nie saamstem nie, moet jy praat.” Gusai sê toe: “Agitofel se plan is hierdie keer nie so goed nie. U ken u pa en sy manne: hulle is baie dapper en hulle is nou so kwaai soos ’n wilde beer wie se kleintjies afgeneem is. U pa is ’n ou soldaat: hy sal nie vannag by die manskappe slaap nie. U kan seker wees hy kruip weg in ’n klipskeur of so ’n plek. As van Agitofel se manne doodgemaak word in die eerste aanval, sal daar ’n storie versprei dat daar sommer baie van Absalom se mense dood is. Dan sal selfs die dapper manne wat vir g’n duiwel stuit nie, se moed hulle begewe, want al die Israeliete weet dat u pa ’n vegter is en dat daar dapper manne by hom is. “My plan sal wees om eers al die Israeliete wat kan veg, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, bymekaar te maak. Maak soveel manne bymekaar as wat daar sandkorrels op die seestrand is. Gaan veg u dan self saam met hulle. Dan kan ons hom op enige plek aanval. Ons sal op hom toesak soos ’n bui reën op ’n land. Wegkomkans sal daar nie vir hom of enige van die manne by hom wees nie. En as hy in ’n stad met mure om is, bring al die Israeliete toue en ons sleep daardie hele stad in die vallei in. Van daardie stad sal daar nie een klip op die ander oorbly nie.” Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai die Erekiet se plan is beter as Agitofel s’n. Dit was eintlik maar die Here wat besluit het om Agitofel se goeie plan in die wiele te ry, want Hy wou hê ’n ramp moet Absalom tref. Gusai het vir Sadok en Abjatar, die twee priesters, gaan sê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het en dit is die raad wat ek gegee het. Laat weet dadelik vir Dawid hy moenie vannag by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei slaap nie. Hy moet deur die rivier gaan, anders is dit klaarpraat met die koning en die mense by hom.” Jonatan en Agimaäs het by Rogelfontein gewag, want niemand moes hulle in die stad sien nie. ’n Slavin sou vir hulle die boodskap bring, en hulle sou dit dan weer vir koning Dawid vat. Maar ’n jong seun het hulle gesien en dit vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het so vinnig moontlik padgegee na die huis van iemand in Bagurim wat ’n put in sy binnehof gehad het. Hulle het in die put afgeklim en die vrou het ’n doek oor die put gespan. Sy het garsmeel op die doek gegooi en dit oopgekrap sodat niemand iets sou agterkom nie. Die manne van Absalom het in die vrou se huis ingegaan en vir haar gevra waar Agimaäs en Jonatan is. Sy het geantwoord: “Hulle is daar by die kraal verby af rivier toe.” Die manne het gesoek, maar niks gekry nie. Hulle is toe weer terug Jerusalem toe. Na hulle weg is, het Jonatan en Agimaäs uit die put geklim en vir koning Dawid gaan sê watter plan Agitofel vir Absalom gegee het, en dat hy daarom baie gou deur die rivier moes gaan. Dawid en al die mense by hom het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek. Die volgende môre toe dit lig word, was almal deur die rivier. Toe Agitofel sien die mense volg nie sy raad nie, het hy sy donkie opgesaal, sy goedjies gevat en na die dorp toe gery waar hy gebly het. Hy het vir sy huismense ’n paar laaste goed gesê wat hulle moet doen en homself toe opgehang. Hy is dood en hulle het hom in die familiegraf begrawe. Dawid het in Maganajim aangekom net toe Absalom en al die manne van Israel deur die Jordaanrivier trek. Absalom het vir Amasa aangestel as generaal in Joab se plek. (Amasa se pa was ’n man met die naam Jeter, ’n Israeliet wat met Abigal getroud was. Abigal was Nagas se dogter. Sy was weer ’n suster van Seruja, Joab se ma.) Die Israeliete en Absalom het in die Gileadstreek kamp opgeslaan. Toe Dawid daar in Maganajim aankom, het Sobi en Makir en Barsillai na hom toe gekom. (Sobi was Nagas se seun wat van Rabba van die Ammoniete af gekom het; Makir was Ammiël se seun uit Lo-Dabar, en Barsillai was ’n man van Gilead wat van Rogelim af gekom het.) Hulle het vir Dawid en sy mense beddegoed, breekgoed, bakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies, heuning en dikmelk, bokmelkkaas en beesmelkkaas gebring. Hulle het gesê: “Die mense het seker honger en moeg en dors geraak in die Jordaanvallei.”
2 SAMUEL 17:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Agitofel het toe by Absalom aangedring: “Laat my tog 12 000 man kies en vannag nog vir Dawid agternajaag. Ek sal hom inhaal terwyl hy moeg en moedeloos is. Hy en sy manskappe sal paniekbevange wees en sal almal vlug sodat ek die koning kan doodmaak waar hy alleen oor is. Ek sal al die mense na u toe oorhaal, soos ’n bruid wat terugkom na haar man, behalwe die een man na wie u soek. Die hele volk sal dan vrede hê.” Hierdie plan het vir Absalom en al die ander leiers van Israel goed geklink. Maar toe sê Absalom: “Bring Gusai die Erekiet in sodat ons kan hoor wat hy hiervan sê.” Toe Gusai inkom, vertel Absalom hom wat Agitofel aanbeveel het. Daarna vra hy: “Wat dink jy hiervan? Moet ons Agi-tofel se raad volg? Indien nie, wat beveel jy aan?” “Ek dink Agitofel het hierdie keer ’n fout begaan,” sê Gusai. “U weet dat u pa en sy manne dapper vegters is en op hierdie oomblik so aggressief is soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Onthou tog dat u pa ’n deurwinterde soldaat is. Hy sal nie by sy troepe oornag nie. Hy kruip waarskynlik alreeds weg in een van die klowe of op ’n ander plek. En dan, sou daar in die begin al sommige manne omkom, sal daar paniek onder u troepe ontstaan sodat daar gesê sal word: ‘Daar was ’n groot slagting onder die manskappe van Absalom.’ Dan sal selfs die dapperstes van hulle bang word, selfs al het hulle die hart van ’n leeu. Onthou, die hele Israel weet u pa is baie dapper en dat sy manskappe heldhaftige krygers is. “Ek beveel aan dat u die hele Israel, van Dan tot Berseba, oproep, ’n menigte so talryk soos die sand by die see. Dan moet u self die troepe lei. Wanneer ons dan vir Dawid kry, waar hy ook al is, sak ons op hom toe soos dou op die grond val. Dan sal daar niks van hom of een van sy manne oorbly nie. En as hy dalk na ’n stad toe vlug, kan die hele Israel toue gaan haal en die stad wegsleep tot in die naaste vallei sodat daar nie meer ’n klip oorbly nie.” Toe sê Absalom en die leiers van Israel: “Gusai se raad is beter as dié van Agitofel.” Dis die HERE wat gesorg het dat die goeie raad van Agitofel verydel word omdat die HERE onheil oor Absalom wou bring. Gusai het toe Sadok en Abjatar, die priesters, ingelig oor wat Agitofel gesê het en wat hy aanbeveel het. “Maak gou!” het hy gesê. “Laat weet vir Dawid dat hy nie vannag by die driwwe na die woestyn moet oornag nie. Hy moet dadelik deurtrek, anders kan hy en sy hele leër uitgewis word.” Jonatan en Agimaäs het by die Rogelfontein gewag. ’n Slavin het die boodskap vir koning Dawid aan hulle gebring, want iemand sou hulle dalk sien as hulle die stad binnegaan. Maar ’n jong seun het hulle tog gesien en het vir Absalom gaan sê. Hulle het egter weggekom en hulle na ’n huis in Bagurim gehaas. Die man het ’n put in sy binneplaas gehad en hulle het daarin gaan wegkruip. Die man se vrou het ’n doek oor die put gegooi en graan daarop gestrooi om in die son droog te word. Niemand sou hulle daar verwag nie. Toe Absalom se manne daar aankom, vra hulle vir die vrou: “Waar is Agimaäs en Jonatan?” Sy het geantwoord: “Hulle het die spruit oorgesteek.” Absalom se manne het oral rond gesoek, maar kon hulle nie kry nie, en is terug na Jerusalem toe. Toe hulle weer weg is, het die twee jong manne uit die put geklim en hulle na Dawid toe gehaas. “Julle moet vannag nog gou die Jordaanrivier oorsteek!” sê hulle. Hulle vertel toe wat Agitofel aanbeveel het. Dawid en al sy mense het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek sodat hulle almal teen dagbreek aan die ander kant was. Intussen het Agitofel agtergekom dat sy advies nie aanvaar is nie. Hy het toe sy donkie opgesaal en na sy huis in sy tuisdorp gegaan. Daar het hy finale opdragte aan sy familie gegee en homself gaan ophang. Hy het gesterf en is in die familiegraf begrawe. Dawid het by Maganajim aangekom. Absalom en die hele leër van Israel het deur die Jordaanrivier getrek. Absalom het Amasa in Joab se plek as bevelvoerder van sy leër aangestel. Amasa was Joab se neef. Sy pa was Jeter, ’n Ismaeliet. Sy ma, Abigal dogter van Nagas, was ’n suster van Joab se ma Seruja. Die leër van Israel en Absalom het in Gilead kamp opgeslaan. Toe Dawid by Maganajim uitkom, het Sobi seun van Nagas van Rabba, ’n Ammoniet; en Makir seun van Ammiël van Lo-Dabar; en Barsillai die Gileadiet van Rogelim slaapmatte en erdepotte vir hulle gebring. Hulle het ook koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies, asook heuning, botter, skape en kaas vir Dawid en sy mense saamgebring. Hulle het gesê: “Julle moet almal baie moeg en honger en dors wees na julle lang tog deur die woestyn.”