2 SAMUEL 16:1-14
2 SAMUEL 16:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Dawid was nie ver oor die top van die berg nie, toe kom Siba daar na hom toe. Siba het vir Mefiboset gewerk. Siba het twee donkies by hom gehad. Op die saals van die donkies was daar 200 brode, 100 koeke rosyne, 100 koeke gedroogde vye en 'n velsak vol wyn. Die koning het vir Siba gevra: “Vir wie bring jy hierdie goed?” Siba het gesê: “Die donkies is vir die huisgesin van die koning, hulle moet op die donkies ry, die brood en vrugte is vir die manne om te eet, die wyn is vir iemand wat miskien moeg word in die woestyn.” Toe die koning vir Siba vra waar sy meneer is, sê Siba: “My meneer? Nee, hy is in Jerusalem. Hy dink die leiers van Israel sal hom vandag koning maak, soos sy oupa Saul was.” Die koning het toe vir Siba gesê: “Alles wat aan Mefiboset behoort het, is nou joune.” Siba het geantwoord: “Meneer die koning, ek buig voor jou. Ek hoop jy sal tevrede wees met my.” Toe koning Dawid by die stad Bagurim kom, het iemand van die familie van Saul uit die stad gekom. Dit was Simeï seun van Gera. Terwyl hy aankom, het Simeï aangehou om vir Dawid te vervloek. Hy het vir Dawid met klippe gegooi, en ook al die amptenare van koning Dawid en al die mense en al die manne wat langs die koning geloop het. Toe Simeï vir Dawid vervloek het, het hy gesê: “Gaan weg! Gaan weg! Jy is 'n moordenaar en 'n skurk! Die Here straf jou nou omdat jy Saul se familie almal vermoor het toe jy koning geword het ná hom. Nou het die Here jou seun Absalom laat koning word ná jou. Hy het dit gedoen omdat jy 'n moordenaar is.” Abisai seun van Seruja sê toe vir die koning: “Hoekom vervloek hierdie man vir Meneer die koning? Hy beteken niks, hy is soos 'n dooie hond. Mag ek sy kop gaan afkap?” Maar die koning het gesê: “Seuns van Seruja, ek en julle kan niks doen wanneer hy my vervloek nie. Dit is die Here wat vir hom gesê het hy moet vir Dawid vervloek. Niemand kan nou vir hom vra hoekom hy dit doen nie.” Dawid het vir Abisai en al die amptenare gesê: “Onthou, my eie seun wil hê ek moet sterf, daarom moet julle nou hierdie man van die Benjamin-stam los. Hy vervloek my omdat die Here gesê het hy moet dit doen. Die Here sien hoe swaar ek kry, miskien sal Hy dit weer goed laat gaan met my nadat die man my vandag vervloek het.” Dawid en sy manne het verder gegaan. Simeï het teen die kant van die berg langs die pad geloop en hy het aangehou om vir Dawid te vervloek en om klippe en stof na hulle te gooi. Die koning en al die mense by hom was baie moeg toe hulle by die Jordaan-rivier aankom, en Dawid het daar 'n bietjie gerus.
2 SAMUEL 16:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
NADAT Dawid van die top af 'n entjie verder getrek het, kom Siba, die dienaar van Mefibóset, meteens hom tegemoet met 'n paar opgesaalde esels en op hulle tweehonderd brode en honderd rosynekoeke en honderd somervrugte en 'n sak wyn. En die koning het Siba gevra: Wat wil jy hiermee maak? En Siba sê: Die esels is vir die huis van die koning om op te ry, en die brood en die somervrugte vir die dienaars om te eet, en die wyn vir die vermoeides in die woestyn om te drink. En die koning vra: Maar waar is die seun van jou heer? En Siba sê vir die koning: Kyk, hy het daar in Jerusalem gebly, want hy dink: Vandag sal die huis van Israel my vader se koningskap aan my teruggee. Daarop sê die koning vir Siba: Kyk, alles wat aan Mefibóset behoort, is joue. En Siba sê: Ek buig my neer! Mag ek genade vind in u oë, my heer die koning! En toe koning Dawid tot by Bahúrim gekom het, kom daarvandaan juis 'n man te voorskyn uit die geslag van die huis van Saul met die naam van Símeï, die seun van Gera; hy het uitgekom en gedurigdeur gevloek en Dawid en al die dienaars van koning Dawid met klippe gegooi, alhoewel al die mense en al die helde aan sy regter- en aan sy linkerkant was. En dit het Símeï gesê terwyl hy vloek: Weg, weg, jou bloedvergieter en jou deugniet! Die HERE het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom; en die HERE het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee, en hier is jy nou in jou ongeluk, omdat jy 'n bloedvergieter is. Toe vra Abísai, die seun van Serúja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan! Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja? As hy vloek, en as die HERE aan hom gesê het: Vloek Dawid! wie mag dan vra: Waarom maak jy so? Verder het Dawid aan Abísai en al sy dienaars gesê: Kyk, my seun wat uit my liggaam voortgekom het, soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet? Laat hom staan, dat hy vloek, want die HERE het hom dit beveel. Miskien sal die HERE my ellende aansien en sal die HERE my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref. Dawid en sy manne het toe met die pad getrek, terwyl Símeï al langs hom aan die kant van die berg gedurig loop en vloek, en al langs hom met klippe gooi en stof maak. En moeg het die koning en al die mense wat by hom was, by die Jordaan aangekom en daar asem geskep.
2 SAMUEL 16:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Dawid 'n entjie van die kruin af weg was, het Mefiboset se amptenaar Siba hom onverwags teëgekom. Op twee opgesaalde donkies het hy twee honderd brode, honderd pakkies rosyntjies en honderd pakkies voorvye en 'n kruik wyn gehad. “Wat het jy hier?” vra die koning vir hom, en Siba antwoord: “Die donkies is vir die koning-hulle om op te ry, en die brood en vye is kos vir u lyfwag; dié wat in die woestyn moeg word, kan die wyn drink.” “En waar is Saul se seun?” vra die koning. “Nee, hy sit in Jerusalem. Hy dink mos: vandag sal Israel die koningskap van my pa aan my teruggee,” antwoord Siba. Toe sê die koning: “Nou kyk, alles wat aan Mefiboset behoort, is nou joune.” “Ek sal altyd dankbaar bly,” sê Siba, “en ek hoop ek sal U Majesteit altyd tevrede stel.” Toe die koning by Bagurim kom, storm daar ewe skielik een van Saul se familielede op hom af. Sy naam was Simeï seun van Gera. So ver as hy gaan, het hy geloop en vloek. Hy het Dawid en al sy amptenare en die hele volk, ja, selfs al die dapper krygsmanne, links en regs onder die klippe gesteek. Terwyl hy loop en vloek, het Simeï uitgeroep: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar en jou skurk! Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou het die Here die koningskap aan jou seun Absalom gegee. Nou sit jy self in die ellende omdat jy 'n moordenaar is.” Toe vra Seruja se seun Abisai vir die koning: “Waarom vloek hierdie lae hond die koning? Laat ek sy kop vir hom gaan afkap.” “Seun van Seruja, dit het niks met my of met jou te doen nie,” was die koning se antwoord. “Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek! Niemand moet nou vra waarom hy dit doen nie.” Verder het die koning vir al sy amptenare en vir Abisai gesê: “My eie bloedkind soek my lewe. Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee. Miskien let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking.” Dawid en sy mense het toe pad langs verder getrek. Simeï het ál teen die berghang langs geloop en vloek en klippe gooi en stof opskop. Moeg het die koning en sy geselskap by die Jordaan aangekom en daar 'n bietjie gerus.
2 SAMUEL 16:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dawid het nog net 'n entjie van die kruin van die berg af weggetrek, toe kom Siba, die dienaar van Mefiboset, hom skielik tegemoet met 'n paar opgesaalde donkies, gelaai met tweehonderd brode, 'n honderd blokke saamgeperste rosyne, honderd somervrugte en 'n kruik wyn. Die koning vra toe vir Siba: “Wat wil jy hiermee doen?” Siba het geantwoord: “Die donkies is vir die koning se huisgesin om op te ry, die brood en die somervrugte is vir die dienaars om te eet, en die wyn is vir hulle wat in die woestyn uitgeput raak, om te drink.” “En waar is die seun van jou heer?” vra die koning toe, waarop Siba die koning antwoord: “Kyk, hy het in Jerusalem gebly, want hy het gesê, ‘Vandag gee die huis van Israel die koningskap van my vader aan my terug.’ ” Toe sê die koning vir Siba: “Kyk, alles wat aan Mefiboset behoort, is nou joune.” Siba het gesê: “Ek buig in eerbied. Mag ek genade vind in u oë, my heer die koning.” Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom daar skielik 'n man uit die dorp, 'n verlangse familielid van Saul; sy naam was Simeï, seun van Gera. Terwyl hy uitkom, skel hy en gooi klippe na Dawid en al die amptenare van koning Dawid, al was die mense en al die krygsmanne aan sy regter- en aan sy linkerkant. Dit is wat Simeï al skellend gesê het: “Uit hier! Uit hier, jou moordenaar, jou skobbejak! Die HERE het al die bloedvergieting in die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom. Die HERE het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee. En hier sit jy nou met jou eie teenspoed, omdat jy 'n moordenaar is.” Abisai, seun van Seruja, sê toe vir die koning: “Waarom skel hierdie dooie hond my heer die koning uit? Laat ek tog daarheen gaan en sy kop afkap.” Maar die koning het geantwoord: “Hoe moet ek julle verstaan, seuns van Seruja? Hy skel so omdat die HERE vir hom gesê het, ‘Skel Dawid uit!’ Wie kan dan sê, ‘Waarom maak jy so?’ ” Dawid het vir Abisai en al sy dienaars gesê: “Kyk, my seun wat ek self verwek het, soek my lewe – hoeveel te meer dan nou hierdie Benjaminiet? Laat hom met rus; laat hom skel as die HERE dit vir hom gesê het. Miskien sien die HERE my trane raak en laat die HERE weer vir my die goeie terugkeer in die plek van Simeï se geskel op hierdie dag.” Dawid en sy manne het padlangs gehou, en Simeï het naby hom al langs die rant gestap, terwyl hy loop en skel en klippe en los grond in sy rigting gooi. Die koning en al die mense by hom het uitgeput by die Jordaan aangekom en daar asem geskep.
2 SAMUEL 16:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Dawid 'n entjie verby die top van die heuwel was, kom Siba, die dienaar van Mefiboset, hom tegemoet, met 'n paar esels opgesaal, en daarop twee honderd brode en honderd trosse rosyne en honderd van somervrugte, en 'n bottel wyn. Toe sê die koning vir Siba: Wat bedoel jy hiermee? Toe sê Siba: Die esels is vir die koning se huis om op te ry; en die brood en somervrugte vir die jongmanne om te eet; en die wyn, sodat die wat moeg is in die woestyn, kan drink. Toe sê die koning: En waar is die seun van jou heer? Toe sê Siba aan die koning: Kyk, hy bly in Jerusalem, want hy het gesê: Vandag sal die huis van Israel die koningskap van my vader aan my terugbring. Toe sê die koning vir Siba: Kyk, joune is alles wat aan Mefiboset behoort. Toe sê Siba: Ek smeek u nederig dat ek genade in u oë mag vind, my heer, o koning! En toe koning Dawid in Bahurim kom, kyk, daar het 'n man uit die geslag van die huis van Saul uitgekom met die naam van Símeï, die seun van Gera; En hy het Dawid en al die dienaars van koning Dawid met klippe gegooi, en die hele volk en al die helde was aan sy regter- en aan sy linkerkant. En so het Simeï gesê toe hy gevloek het: Gaan uit, gaan uit, bloedman en betroubare man! Die HERE het al die bloed van die huis van Saul in wie se plek jy geregeer het, op jou teruggegee; en die HERE het die koningskap oorgegee in die hand van jou seun Absalom; Toe sê Abisai, die seun van Seruja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? laat my tog oorgaan en sy hoof afhaal. Toe sê die koning: Wat het ek met julle te doen, seuns van Seruja? laat hom dan vloek, want die HERE het vir hom gesê: Vloek Dawid! Wie sal dan sê: Waarom het jy so gedoen? Toe sê Dawid vir Abísai en aan al sy dienaars: Kyk, my seun wat uit my ingewande voortgekom het, soek my lewe; hoeveel te meer kan hierdie Benjaminiet dit nou doen? laat hom staan, en laat hom vloek; want die HERE het hom beveel. Miskien sal die HERE na my ellende kyk, en dat die HERE my vandag goed sal vergelde vir sy vloek. En terwyl Dawid en sy manne op die pad gegaan het, het Símeï langs die heuwel getrek, teenoor hom en vloek terwyl hy gegaan het en hom met klippe gegooi en stof gegooi. En die koning en al die mense wat by hom was, het moeg gekom en hulle daar verkwik.
2 SAMUEL 16:1-14 Die Boodskap (DB)
Net toe Dawid oor die top van die Olyfberg is, kom hy af op Siba, die man wat vir Mefiboset in die huis werk. Hy het ’n hele span donkies wat opgesaal was, by hom gehad. Op die donkies was 200 brode, 100 pakke rosyntjies, ’n klomp ryp vrugte en ’n groot kruik wyn. “Wat wil jy daarmee maak?” vra die koning hom. “Die donkies is vir die koning se gesin om op te ry en die brood en die vrugte is vir die manne. Die wyn is vir dié wat gedaan raak in die woestyn,” antwoord Siba. “En waar is Saul se kleinseun?” vra die koning. “Nee, hy het in Jerusalem agtergebly,” sê Siba. “Hy dink mos die Israeliete gaan hom vandag weer koning maak soos sy oupa was.” Toe sê die koning vir Siba: “In daardie geval is al Mefiboset se goed nou joune.” “Baie, baie dankie, U Majesteit,” sê Siba, “u is baie goed vir my.” Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom een van Saul se familie uit die dorp uit. Sy naam was Simeï. Hy was Gera se seun. Sommer met die uitkomslag begin hy vir Dawid en sy amptenare vloek en hulle met klippe gooi waar hulle tussen die soldate en sy beste vegters staan. Hy vloek en skree vir Dawid: “Voertsek, jou moordenaar! Jou lae vent! Die Here betaal jou nou terug vir al Saul se mense wat jy laat doodmaak het toe jy die koningskap gesteel het! Die Here het nou vir Absalom koning gemaak en jy’s in die moeilikheid oor jy ’n moordenaar is!” Abisai, Seruja se seun, sê vir Dawid: “Maar waar kom dié dooie hond daaraan om my koning so te vloek? Laat ek soontoe gaan en sy kop vir hom inmekaar slaan!” Maar die koning sê: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Laat die man vloek. Miskien het die Here vir hom gesê hy moet my vloek. Wie kan dan vir hom sê: ‘Hoekom doen jy dit?’” Dawid sê toe verder vir Abisai en al sy amptenare: “My bloedeie kind wil my doodmaak. Wat moet ’n mens dan van hierdie Benjaminiet verwag? Los hom uit. Laat hy maar vloek. Dalk het die Here vir hom gesê hy moet dit doen. Wie weet, dalk sien die Here my moeilikheid raak en gee Hy my later iets goeds vir die gevloek wat ek vandag moet verduur.” Dawid en sy mense het padlangs verder geloop. Simeï het al teen die rant geloop. Hy het nog steeds gevloek en hulle met klippe en kluite gegooi. Die koning en al die mense wat saam met hom was, was stokflou toe hulle in die Jordaanvallei ingaan. Daar het die koning eers ’n bietjie gerus.
2 SAMUEL 16:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dawid was net oor die kruin van die heuwel toe Siba, die bestuurder van Mefiboset se eiendom, hom onverwags teëkom. Hy het twee donkies by hom gehad, gelaai met 200 brode, 100 trosse rosyntjies, 100 houers vrugte en ’n sak vol wyn. “Wat wil jy met al hierdie goed doen?” vra die koning vir Siba. Siba antwoord: “Die donkies is vir u gesin om op te ry, die brood en vrugte is vir u manskappe om te eet. Die wyn is vir hulle wat in die wildernis uitgeput raak.” “Waar is Mefiboset?” vra die koning hom. “Hy het in Jerusalem agtergebly,” antwoord Siba. “Hy dink: ‘Vandag sal Israel die koninkryk van my oupa Saul vir my teruggee.’” “O, so!” sê die koning vir Siba. “Alles wat Mefiboset besit, gee ek nou vir jou!” “Ek buig voor u in dankbaarheid, my heer die koning,” antwoord Siba. “Mag ek altyd u guns geniet.” Toe Dawid en sy geselskap by Bagurim aankom, kom ’n man uit die dorp en vloek hulle so ver as wat hy gaan. Sy naam was Simeï, seun van Gera en ’n lid van Saul se familie. Hy het klippe gegooi na die koning en sy amptenare, asook na die dapper krygsmanne wat links en regs van die koning was. Terwyl hy klippe gooi, skree hy: “Maak dat jy wegkom, jou moordenaar, jou skurk! Die HERE vergeld jou nou omdat jy Saul en sy familie uitgeroei en in sy plek koning geword het. Nou gee die HERE dit aan jou seun Absalom, terwyl die onheil jou tref omdat jy ’n moordenaar is!” “Hoekom laat u toe dat hierdie lae hond my heer die koning vloek?” vra Abisai, seun van Seruja, vir die koning. “Laat ek tog sy kop van hom gaan afkap!” “Nee!” sê die koning. “Dit het niks met my of julle te doen nie, seuns van Seruja. Hy vloek so omdat die HERE vir hom gesê het ‘Vloek Dawid’. Laat hy dit maar doen. Wie kan dan vra: ‘Hoekom doen jy dit?’” Dawid sê verder vir Abisai en die amptenare: “My eie seun probeer my doodmaak. Hoeveel te meer hierdie Benjaminiet? Los hom uit en laat hom vloek, want die HERE het vir hom gesê om dit te doen. Dalk sal die HERE my swaarkry raaksien en my seën as gevolg van hierdie vervloekings.” Dawid en sy mense het verder getrek. Simeï het op die oorkantse heuwel gelyk met hulle geloop en gedurig bly vloek, klippe gegooi en stof opgeskop. Die koning en sy geselskap het moeg by hulle bestemming aangekom en daar gerus.