2 SAMUEL 15:23-37
2 SAMUEL 15:23-37 Bybel vir almal (ABA)
Almal in die land het hard gehuil, en al die mense het saamgegaan. Die koning het deur die Kedron-vallei gegaan en al die mense het verder geloop op die pad na die woestyn. En toe kom Sadok ook, en saam met hom was al die Leviete wat die verbondskis van God dra. Hulle het die kis van God neergesit. Abjatar het ook gekom, en hulle het gewag totdat al die mense uit die stad is. Maar toe sê die koning vir Sadok: “Jy moet die kis van God terugneem na die stad. As die Here genadig is vir my en as Hy my laat terugkom, dan sal ek die kis en sy staanplek weer sien. Maar as die Here sê Hy hou nie van my nie, hier is ek, dan moet Hy met my doen wat Hy wil doen.” Die koning het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet kyk wat gebeur. Gaan terug na die stad, jy moenie bekommerd wees nie. Jou seun Agimaäs en Abjatar se seun Jonatan is altwee by julle. Ek sal wag by die plek waar 'n mens deur die Jordaan-rivier na die woestyn kan gaan. Ek sal daar wag totdat julle vir my 'n boodskap stuur en vir my laat weet wat gebeur.” Sadok en Abjatar het die kis van God teruggeneem na Jerusalem en hulle het daar gebly. Dawid het teen die Olyf-berg opgegaan. Hy het geloop en huil. Daar was 'n doek oor sy kop en hy was kaalvoet. Al die mense by hom het doeke oor hulle koppe gegooi en hulle het geloop en huil. Toe Dawid hoor dat Agitofel ook by die mense is wat wil hê dat Absalom koning moet word, het hy gebid: “Here, laat Agitofel se planne asseblief misluk.” En toe Dawid bo-op die berg kom, het hy daar voor God gebuig. Gusai van die stad Erek het daar na hom toe gekom. Gusai het sy klere geskeur en daar was grond op sy kop. Dawid het vir Gusai gesê: “As jy saam met my gaan, dan sal dit vir my moeilik wees, maar jy sal my help as jy teruggaan na die stad en help dat Agitofel se planne nie slaag nie. Jy moet vir Absalom sê: ‘Koning, ek werk nou vir jou. Ek het altyd vir jou pa gewerk, maar nou werk ek vir jou.’ Die priesters Sadok en Abjatar sal daar naby jou wees. Jy moet vir hulle alles vertel wat jy in die paleis hoor. Hulle twee seuns is daar by hulle. Dit is Sadok se seun Agimaäs en Abjatar se seun Jonatan. Julle moet hulle stuur om vir my alles te sê wat julle hoor.” Dawid se vriend Gusai het in die stad gekom toe Absalom daar aankom.
2 SAMUEL 15:23-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die hele land het hardop gehuil terwyl al die mense verbytrek; en die koning het deur die spruit Kidron getrek; en al die mense het deurgetrek op pad na die woestyn. En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra, en hulle het die ark van God neergesit — Ábjatar het ook opgetrek — totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het. Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die HERE, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy woning laat sien. Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie — hier is ek! Laat Hy met my doen soos goed is in sy oë. Verder het die koning aan die priester Sadok gesê: U is tog siener? Gaan in vrede na die stad terug, en julle twee seuns, Ahímaäs, jou seun, en Jónatan, die seun van Ábjatar, met julle saam. Kyk, ek vertoef by die woestyndriwwe totdat daar 'n woord van julle kom om my in te lig. En Sadok en Ábjatar het die ark van God teruggebring na Jerusalem en daar gebly. En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en ween; en sy hoof was bedek, en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by hom was, hulle het elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween. Nadat aan Dawid meegedeel is: Agitófel is onder die samesweerders met Absalom saam, het Dawid gesê: O HERE, verydel tog die raad van Agitófel! En toe Dawid tot bo-op die top kom, waar hulle God aanbid het, ontmoet Húsai, die Arkiet, hom daar, met geskeurde rok en grond op sy hoof. En Dawid sê vir hom: As jy saam met my verder gaan, sal jy my tot 'n las wees. Maar as jy teruggaan na die stad en vir Absalom sê: U dienaar, o koning, wil ek wees; tevore was ek wel u vader se dienaar, maar nou is ek u dienaar — dan kan jy vir my die raad van Agitófel verydel. En is die priesters Sadok en Ábjatar nie daar saam met jou nie? Alles wat jy dan hoor uit die huis van die koning, moet jy aan Sadok en Ábjatar, die priesters, te kenne gee. Kyk, hulle twee seuns is daar by hulle, Ahímaäs van Sadok en Jónatan van Ábjatar, en deur hulle moet julle alles wat julle verneem, aan my laat weet. Daarop het Húsai, die vriend van Dawid, in die stad gekom, terwyl Absalom aankom na Jerusalem.
2 SAMUEL 15:23-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Al die mense, al die inwoners van die stad, het hardop geloop en huil. Die hele volk en die koning het deur Kedronspruit getrek en toe het die volk in die rigting van die woestyn koers gekies. Sadok en al die Leviete wat die verbondsark van God gedra het, was by die koning. Abjatar het ook saamgekom. Hulle het die ark van God neergesit totdat die volk uit die stad was. Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien. Maar as die Here sou te kenne gee: ‘Ek is nie meer tevrede met jou nie,’ sal ek dit aanvaar. Dan kan Hy met my maak soos Hy dit goedvind.” Verder het die koning vir die priester Sadok gesê: “Sien jy hoe staan sake? Gaan gerus terug stad toe; ook jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Die twee seuns moet saam met julle teruggaan. En onthou, ek sal by die woestynpas wag totdat ek van julle hoor.” Daarna het Sadok en Abjatar die ark van God na Jerusalem toe teruggevat en daar gebly. Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop. Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim. Toe aan Dawid gesê is: “Agitofel is tussen die samesweerders by Absalom,” het hy gebid: “Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie.” Toe Dawid op die kruin kniel in die rigting van die ark van God het Gusai die Erekiet onverwags by hom aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Dawid het vir hom gesê: “As jy saamgaan, sal jy vir my 'n oorlas wees. Maar as jy teruggaan stad toe en vir Absalom sê: ‘U Majesteit, ek is u onderdaan; ek was in u vader se diens, maar van hierdie oomblik af is ek u onderdaan,’ kan jy vir my Agitofel se raad tot niet maak. Kyk, die priesters Sadok en Abjatar sal daar by jou wees. Alles wat jy uit die paleis hoor, moet jy hulle vertel. Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar, en wat julle ook al hoor, kan julle vir my met hulle laat weet.” Gusai die vriend van Dawid het toe die stad ingegaan, en Absalom was op pad na Jerusalem toe.
2 SAMUEL 15:23-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die hele landstreek het heeltyd hardop gehuil terwyl al die mense verbygaan. Toe die koning deur die Kidrondal gaan, was al die mense ook besig om daar deur te trek op pad na die woestyn. Kyk, ook Sadok was daar, en al die Leviete saam met hom wat die verbondsark van God dra. Hulle het die ark van God neergesit, en Abjatar het offers gebring totdat al die mense die trek uit die stad voltooi het. Die koning sê toe vir Sadok: “Neem die ark van God terug na die stad. As ek guns vind in die oë van die HERE, sal Hy my laat terugkeer en my weer die ark en sy staanplek laat sien. Maar as Hy sou sê, ‘Ek is nie tevrede met jou nie,’ wel, ek is gereed; Hy kan met my doen wat goed is in sy oë.” Die koning het verder vir Sadok, die priester, gesê: “Sal jy op die uitkyk bly? Gaan in vrede terug na die stad, jy en jou seun Agimaäs, en Jonatan, seun van Abjatar – julle twee se seuns moet by julle wees. Wees op die uitkyk. Ek sal by die deurgaanplekke na die woestyn vertoef totdat daar van julle af berig kom om my op hoogte te bring.” Sadok en Abjatar het toe die ark van God teruggeneem na Jerusalem, en hulle het daar gebly. Terwyl Dawid teen die hang van die Olyfberg opgaan, het hy gehuil en sy kop bedek. Hy het kaalvoet geloop. Al die mense wat by hom was, elkeen van hulle, het ook hulle koppe bedek en het gehuil terwyl hulle teen die berg opgaan. Dawid is meegedeel: “Agitofel is onder die samesweerders by Absalom.” Daarop sê Dawid: “Laat Agitofel se raad tog dwaasheid wees, HERE.” Toe Dawid by die kruin kom, waar mens voor God in aanbidding buig, kyk, daar kom Gusai, 'n man uit Ereg, hom tegemoet met sy kleed geskeur en grond op sy kop. Dawid sê toe vir hom: “As jy saam met my oorgaan, sal jy vir my 'n las wees; maar as jy na die stad terugkeer en vir Absalom sê, ‘Ek is u dienaar, o koning; ek was voorheen die dienaar van u vader, maar nou is ek u dienaar,’ kan jy vir my die raad van Agitofel ondergrawe. Is die priesters Sadok en Abjatar nie saam met jou daar nie? Elke berig wat jy kry uit die koninklike paleis, kan jy aan die priesters Sadok en Abjatar oordra. Kyk, daar by hulle is hulle twee seuns, Agimaäs van Sadok en Jonatan van Abjatar. Julle moet elke berig wat julle deur hulle kry, na my stuur.” Gusai, die vriend van Dawid, het toe by die stad aangekom, terwyl Absalom Jerusalem binnegaan.
2 SAMUEL 15:23-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die hele land het met 'n groot stem geween, en die hele volk het deurgetrek; en die koning het self ook deur die spruit Kidron getrek, en die hele volk het deurgetrek in die rigting van die woestyn. En kyk, Sadok, en al die Leviete was saam met hom wat die verbondsark van God gedra het; en hulle het die ark van God neergesit; en Abjatar het opgetrek totdat die hele volk klaar was om die stad uit te trek. Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug na die stad; as ek guns vind in die oë van die HERE, sal Hy my terugbring en my dit sowel as sy woonplek wys. Maar as hy so sê: Ek het geen behae in jou nie; kyk, hier is ek, laat hy aan my doen soos dit goed is in hom. Die koning het ook vir Sadok, die priester, gesê: Is jy nie 'n siener nie? keer in vrede terug na die stad, en jou twee seuns saam met jou, jou seun Ahímaäs en Jónatan, die seun van Abjatar. Kyk, ek sal vertoef in die vlakte van die woestyn totdat daar 'n woord van jou kom om my te verklaar. Daarom het Sadok en Abjatar die ark van God teruggebring na Jerusalem, en hulle het daar gebly. En Dawid het met die opgang van die Olyfberg opgegaan en geween terwyl hy opklim, en hy het sy hoof bedek, en hy het kaalvoet gegaan; hulle het opgegaan. En een het Dawid meegedeel en gesê: Agitofel is onder die samesweerders saam met Absalom. En Dawid sê: HERE, verander tog die raad van Agitofel in dwaasheid. En toe Dawid op die top van die berg gekom het, waar hy God aanbid het, kom Husai, die Arkiet, hom tegemoet met geskeurde mantel en grond op sy hoof. Aan wie Dawid gesê het: As jy saam met my voortgaan, sal jy vir my 'n las wees. Maar as jy na die stad terugkeer en vir Absalom sê: Ek sal jou dienaar wees, o koning; soos ek tot nou toe jou vader se dienaar was, so sal ek nou ook jou dienaar wees; dan kan jy vir my die raad van Agitofel verslaan. En het jy nie saam met jou die priesters Sadok en Abjatar nie? daarom moet jy alles wat jy uit die huis van die koning hoor, dit aan Sadok en Abjatar, die priesters, vertel. Kyk, hulle het hulle twee seuns daar by hulle, Ahimaäs, die seun van Sadok, en die seun van Jonatan Abjatar; en deur hulle moet julle na My toe stuur alles wat julle kan hoor. Husai, die vriend van Dawid, het toe in die stad gekom, en Absalom het in Jerusalem gekom.
2 SAMUEL 15:23-37 Die Boodskap (DB)
Die hele omgewing se mense het hardop gestaan en huil toe al Dawid se manskappe so verbytrek. Die koning is toe self ook saam met sy mense deur Kidronspruit in die rigting van die woestyn. Sadok en al die Leviete was ook in die groep. Hulle het die verbondsark van God by hulle gehad en dit op ’n plek neergesit waar Abjatar offerdiere verbrand het totdat almal wat saam met Dawid gegaan het, uit die stad was. Die koning sê toe vir Sadok: “Vat die ark van God terug stad toe. Miskien sal die Here vir my goed wees en my laat terugkom sodat ek die ark en die plek waar hy staan, weer sal sien. As die Here besluit Hy wil my nie meer hê nie, is dit goed so. Hy kan dan maar met my maak wat Hy wil.” Dawid het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet sake vir my dophou. Gaan rustig terug stad toe saam met Abjatar en julle twee seuns Agimaäs en Jonatan. Ek sal by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei wag totdat julle vir my laat weet wat aangaan.” Sadok en Abjatar het die verbondsark van God teruggevat Jerusalem toe en daar gebly. Dawid het die hele tyd geloop en huil toe hy teen die Olyfberg se rant opgegaan het. Hy was kaalvoet en hy het sy gesig toegehou. Almal wat saam met hom was, het ook kaalvoet geloop en huil en hulle gesigte toegehou. Iemand het vir Dawid vertel dat Agitofel saam met Absalom was in sy geheime plan. Dawid het maar net gesê: “Ag Here, steek tog ’n stokkie voor Agitofel se raad.” Toe Dawid bo-op die Olyfberg kom waar die mense gewoonlik bid, wag Gusai, die Erekiet, daar vir hom. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Dawid sê vir hom: “As jy saam met my gaan, gaan jy net in my pad wees. Maar as jy teruggaan stad toe, kan jy my help en die planne van Agitofel dwarsboom. Sê vir Absalom jy wil vir hom werk. Sê vir hom jy het voorheen vir my gewerk, maar nou is hy jou baas. Die twee priesters, Sadok en Abjatar, sal ook in Jerusalem wees. Sê vir hulle alles wat jy in die paleis hoor. Hulle twee seuns, Agimaäs en Jonatan, sal ook daar wees en hulle sal vir my alles kom sê wat julle uitvind.” Gusai, Dawid se ou vriend, het teruggegaan. Toe hy in die stad kom, kom Absalom ook daar aan.
2 SAMUEL 15:23-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was groot droefheid in die stad en daar is hardop gehuil toe die koning en sy volgelinge verbytrek. Hulle het deur die Kidronvallei gegaan op pad na die woestyn toe. Sadok en al die Leviete wat die ark van die verbond van God dra, was ook by. Hulle het die ark van God langs die pad neergesit totdat almal uit die stad was. Dawid beveel toe vir Sadok: “Neem die ark van God terug na die stad toe. As die HERE my genadig is, sal Hy my terugbring om weer die ark en die heiligdom te sien. Maar as Hy sê: ‘Ek is nie met jou tevrede nie,’ sal ek aanvaar wat Hy ook al besluit.” Die koning sê toe vir Sadok die priester: “Kyk, jy is mos ’n siener! Gaan vreedsaam terug stad toe, jy en jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Jy sal sien dat ek by die driwwe na die woestyn toe wag totdat ek van julle hoor wat in Jerusalem gebeur.” Sadok en Abjatar het toe die ark van God na Jerusalem toe teruggeneem en daar gebly. Dawid het met die pad geloop wat teen die Olyfberg opgegaan het en het die hele tyd gehuil. Sy kop was toegemaak en hy was kaalvoet as ’n teken van rou. Die mense saam met hom het ook hulle koppe toegemaak en gehuil terwyl hulle teen die skuinste opgegaan het. Iemand het vir Dawid gesê: “Agitofel, u raadgewer, is deel van Absalom se sameswering.” Toe bid Dawid: “O HERE, dwarsboom tog die raad van Agitofel!” Toe Dawid die kruin bereik, het hy daar voor God gebuig. Gusai die Erekiet het onverwags daar aangekom met klere wat geskeur is en grond op sy kop. Maar Dawid sê vir hom: “As jy saam met my gaan, sal jy vir my ’n las wees. Gaan terug na Jerusalem toe en sê vir Absalom: ‘Ek is u onderdaan, Koning. Ek was eers in u pa se diens, maar nou is ek tot u diens.’ Dan kan jy Agitofel se raad dwarsboom. Sadok en Abjatar, die priesters, is daar tot jou beskikking. Sê vir hulle watter planne in die paleis beraam word. Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar. Enigiets wat jy hoor, kan jy deur middel van hulle vir my laat weet.” Dawid se vriend Gusai het in Jerusalem aangekom net toe Absalom die stad binnekom.