2 SAMUEL 12:1-10

2 SAMUEL 12:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter. Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.” Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, 'n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.” “Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete. “Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.

2 SAMUEL 12:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by Dawid gekom en hy het vir Dawid gesê: “Daar was twee mans in 'n stad, die een man was ryk en die ander man was arm. Die ryk man het groot troppe skape en bokke en beeste gehad. Die arm man het niks gehad nie, hy het net een klein skaap-ooitjie gehad wat hy gekoop het. Hy het die ooitjie grootgemaak, en sy het by hom grootgeword saam met sy kinders. Die ooitjie het geëet van sy bietjie kos en sy het uit sy beker gedrink en teen sy bors geslaap. Sy was vir hom soos 'n dogter. Daar kom toe 'n besoeker by die ryk man, en die ryk man was te suinig om van sy eie skape of bokke of beeste te slag om vir die besoeker kos te gee. Die ryk man vat toe die ooitjie van die arm man en hy slag haar en gee die vleis vir die man wat by hom gekom het.” Dawid het baie kwaad geword vir die ryk man. Hy het vir Natan gesê: “So seker soos die Here lewe, die man wat dit gedoen het, moet sterf. Hy het een ooitjie van die arm man gevat, maar hy moet vier ooitjies teruggee omdat hy hierdie verkeerde ding gedoen het, en omdat hy nie jammer was vir die arm man nie.” Toe sê Natan vir Dawid: “Jý is die ryk man. Die Here die God van Israel sê: Ek het jou gesalf om koning te wees van Israel en Ek het jou gered van Saul. Ek het jou koning laat word ná Saul en Ek het sy vroue vir jou gegee. Ek het jou koning laat word van Israel en Juda. En as dit te min was, dan sou Ek nog baie meer vir jou gegee het. Hoekom was jy ongehoorsaam aan My? Hoekom het jy iets gedoen waarvan Ek nie hou nie? Jy het vir Urija die Hetiet vermoor, jy het sy vrou vir jouself gevat en jy het hom laat doodmaak met die wapens van die Ammoniete. Daarom, daar sal altyd oorlog wees in jou familie, want jy het gewys dat jy dink Ek is nie belangrik nie. Jy het die vrou van Urija die Hetiet vir jouself gevat.

2 SAMUEL 12:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROM het die HERE Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom inkom, sê hy vir hom: Daar was twee manne in 'n sekere stad, die een was ryk en die ander arm. Die ryke het 'n groot menigte kleinvee en beeste gehad, maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en in die lewe gehou het, en wat by hom en saam met sy kinders groot geword het; dit het van sy stukkie brood geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap, en dit was vir hom soos 'n dogter. En toe daar besoek kom by die ryk man, het hy ontsien om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom gekom het, iets te berei; daarom het hy die ooilam van die arm man geneem en dit berei vir die man wat by hom gekom het. En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die HERE leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe! En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie. Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die HERE, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul; en Ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en Ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg. Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het. En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees.

2 SAMUEL 12:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom kom, het hy vir hom gesê: “Daar was twee mans in 'n sekere dorp. Die een was ryk en die ander was arm. Die ryk man het besonder baie kleinvee en beeste gehad, en die arm man het niks behalwe een klein ooilam gehad nie, wat hy gekoop het. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het by hom grootgeword saam met sy kinders. Sy het selfs van sy stukkie brood geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Sy was vir hom soos 'n dogter. Toe daar 'n besoeker by die ryk man opdaag, was hy te jammer om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom opgedaag het, iets voor te berei. Hy neem toe die ooilam van die arm man, en berei 'n ete voor vir die man wat by hom aangekom het.” Dawid het baie kwaad geword vir daardie man. Hy het vir Natan gesê: “So waar as die HERE leef, die man wat dit gedoen het, verdien die dood. Die ooilam moet hy viervoudig vergoed, omdat hy hierdie daad gedoen het en nie die arm man jammer gekry het nie.” Toe sê Natan vir Dawid: “Jy is die man! So sê die HERE, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat jou as koning gesalf het oor Israel, en Ek is die Een wat jou gered het uit die hand van Saul. Ek het vir jou die huis van jou heer gegee, en die vroue van jou heer in jou arms. Ek het vir jou die huis van Israel en Juda gegee. As dit te min was, sou Ek vir jou soveel meer kon byvoeg. Waarom het jy die woord van die HERE geminag deur kwaad te doen in my oë? Urija, die Hetiet, het jy met die swaard neergevel. Sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, en hom het jy deur die swaard van die Ammoniete vermoor. Daarom sal die swaard nooit van jou huis wyk nie, omdat jy My geminag het en die vrou van Urija, die Hetiet, geneem het om jou vrou te word.’

2 SAMUEL 12:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het Natan na Dawid toe gestuur. En hy het na hom gekom en vir hom gesê: Daar was twee manne in een stad; die een ryk en die ander arm. Die ryk man het baie kleinvee en beeste gehad: Maar die arm man het niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en opgevoed het, en dit het saam met hom en sy kinders grootgeword; dit het van sy eie spys geëet en uit sy eie beker gedrink en in sy boesem gelê en was vir hom soos 'n dogter. En daar het 'n reisiger na die ryk man gekom, en hy het gespaar om van sy eie kleinvee en van sy eie beeste te neem, om te sorg vir die reisiger wat na hom gekom het; maar hy het die lam van die arme man geneem en dit berei vir die man wat na hom toe gekom het. En Dawid se toorn het baie teen die man ontvlam; en hy sê vir Natan: So waar as die HERE leef, die man wat hierdie ding gedoen het, sal sekerlik sterwe. En hy moet die lam viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en omdat hy geen medelye gehad het nie. En Natan sê vir Dawid: Jy is die man. So sê die HERE, die God van Israel: Ek het jou as koning oor Israel gesalf en jou uit die hand van Saul gered; En Ek het aan jou die huis van jou heer en die vroue van jou heer in jou boesem gegee en die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou ek jou bowendien sulke en sulke dinge gegee het. Waarom het jy die gebod van die HERE verag om te doen wat verkeerd is in sy oë? jy het Uría, die Hetiet, met die swaard gedood en sy vrou as vrou geneem en hom met die swaard van die kinders van Ammon gedood. Nou dan sal die swaard nooit uit jou huis wyk nie; omdat jy my verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, vir jou as vrou geneem het.

2 SAMUEL 12:1-10 Die Boodskap (DB)

Die Here het Natan na Dawid toe gestuur. Toe hy by hom kom, sê hy vir hom: “Daar was twee mense in ’n dorp; die een was ryk en die ander een arm. Die ryk man het baie skape en beeste gehad, en die arm man net een ou ooilammetjie wat hy gekoop het toe sy nog baie klein was. Hy het haar hans grootgemaak. Sy het by hom en sy kinders in die huis grootgeword en van hulle paar stukkies brood geëet en uit dieselfde beker as hulle gedrink. Sy het baie keer op sy skoot gelê. Sy was soos ’n kind in die huis. “Op ’n dag kom daar toe iemand by die ryk man kuier. Hy was te jammer om een van sy eie skape of beeste te slag en ’n ete vir die kuiergas te kook. Hy vat toe die ooilam van die arm man en maak haar gaar.” Dawid was briesend kwaad vir die man wat so iets kon doen. Hy sê vir Natan: “So waar as die Here leef, die man wat dít gedoen het, moet die doodstraf kry! En daar moet vier van sy lammers gegee word in die plek van daardie een ooilam. Hoe kon die man so iets doen en nie eers jammer voel vir die arm man nie!” “Jý is daardie man!” sê Natan vir hom. “Die Here, die God van Israel, het vir jou hierdie boodskap gestuur. Hy het gesê: ‘Ek het jou koning laat word oor Israel, en Ek is die Een wat jou gehelp het teen Saul. Ek het vir jou alles gegee wat hy gehad het. Ek het vir jou sy harem ook gegee. Ek het vir jou die hele koninkryk van Israel en van Juda gegee. As dit te min was, kon Ek vir jou nog baie sulke dinge daar bygee! Hoekom het jy jou nie gesteur aan wat Ek, die Here, sê nie, en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija, die Hetiet, in die oorlog laat doodmaak en sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met ’n swaard van die Ammoniete! Nou gaan daar altyd moord en doodslag in jou huis wees omdat jy jou nie aan My gesteur het nie en Urija, die Hetiet, se vrou vir jou gevat het!’

2 SAMUEL 12:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe die profeet Natan na Dawid toe gestuur. Hy het by Dawid gekom en vir hom vertel: “In ’n bepaalde dorpie was daar twee mans. Die een was ryk en die ander arm. Die ryk man het troppe kleinvee en beeste besit. Die arm man het niks besit nie behalwe ’n klein ooilammetjie wat hy gekoop het. Hy het haar versorg en saam met sy kinders grootgemaak. Sy het van die oorskietkos geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot gelê. Sy was vir hom soos ’n dogter. Op ’n dag kom daar ’n besoeker by die huis van die ryk man aan. Hy wou nie ’n skaap uit sy eie kudde vang en as kos voorberei nie. Toe neem hy die arm man se ooilam, slag dit en berei dit voor vir die gas.” Dawid was woedend. “So seker as wat die HERE leef,” sê hy vir Natan, “die man wat dit gedoen het, verdien die dood! Hy moet met vier lammers vergoed vir die ooilam wat hy gevat het en ook omdat hy geen medelye gehad het nie.” Toe antwoord Natan vir Dawid: “Jy is daardie man! Die HERE, die God van Israel, sê: ‘Ek het jou tot koning van Israel gesalf en jou uit die mag van Saul gered. Ek het sy huis vir jou gegee, asook sy vroue en die koninkryke van Israel en Juda. En, as dit nie genoeg was nie, sou Ek jou nog baie meer gegee het. Hoekom het jy dan die woord van die HERE geminag en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard laat vermoor en sy vrou gevat. Jy het hom deur die swaard van die Ammoniete doodgemaak! Van nou af sal die swaard ’n permanente bedreiging vir jou familie inhou omdat jy My verag het en Urija se vrou vir jouself toegeëien het.