2 SAMUEL 1:17-27
2 SAMUEL 1:17-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het Dawid ’n klaaglied vir Saul en Jonatan geskryf. Later het hy beveel dat dit vir almal in Juda geleer moes word. Dit staan bekend as die Booglied, en is opgeteken in Die boek van die Opregte. Die sieraad van Israel is verslaan op die heuwels! Hoe het die dapper helde geval! Vertel dit nie in Gat nie, maak dit nie bekend in die strate van Askelon nie; anders sal die dogters van die Filistyne hulle verheug, die dogters van die onbesnedenes sal jubel. Berge van Gilboa, mag daar geen dou of reën op julle hange wees nie, want die skild van die dapperes is daar geskend, die skild van Saul is nie met olie ingesmeer nie. Sonder die bloed van die gesneuweldes, sonder die vet van die dapperes, het die boog van Jonatan nooit uit ’n geveg teruggekom, of die swaard van Saul van die slagveld af nie. Saul en Jonatan, geliefd en bemind, was in lewe of dood nie geskei nie. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus. Dogters van Israel, treur oor Saul. Hy het julle ryklik geklee en goue ornamente gegee. Hoe het die dapper manne in die geveg gesneuwel! Op die hoogtes is Jonatan verslaan! Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan! Jy was baie naby aan my. Jou liefde was vir my buitengewoon, dit oortref die liefde van vroue! Hoe het die dapper manne gesneuwel, met hulle oorlogswapens nog in die hand het hulle gesterf!
2 SAMUEL 1:17-27 Bybel vir almal (ABA)
Dawid het hierdie klaaglied gesing oor Saul en oor sy seun Jonatan. Hy het gesê die mense van Juda moet die lied leer. Hy het dit “Die Booglied” genoem en hy het gesê hulle moet dit skryf in die Boek van Jasar. “Land Israel, die vinnige, die mooi leier lê dood op jou berge, die manne wat oorlog moes maak, het gesterf. Julle moet dit nie vertel in die stad Gat nie, julle moenie daarvan praat op die strate van die stad Askelon nie, want dan sal die vroue van die Filistyne bly wees, die heidenvroue sal juig. Berge van Gilboa, daar moenie meer dou of reën op julle val nie, daar moenie koring of vrugte wees om te offer nie. Want daar op julle het die skilde vuil geword van die grond, die skilde van die mense wat oorlog moes maak, en daar het die skild van Saul bly lê, niemand het olyf-olie daarop gesmeer nie. Die pyl en boog van Jonatan het nie opgehou om raak te skiet nie, die swaard van Saul het aangehou om Filistyne te laat sterf. Ons was lief vir Saul en Jonatan, en hulle was vir ons mooi. Hulle is bymekaar nadat hulle gesterf het soos hulle bymekaar was toe hulle gelewe het. Hulle was vinniger as arende en sterker as leeus. Vroue van Israel, julle moet huil oor Saul, dit is hy wat vir julle mooi, bloedrooi klere laat aantrek het en wat vir julle goue juwele laat dra het op julle klere. Die manne wat oorlog moes maak, het gesterf. Jonatan lê dood op Gilboa-berg. My broer Jonatan, ek huil en treur oor jou. Jy was vir my baie kosbaar. Dit was wonderlik dat jy lief was vir my, wonderliker as dat vroue lief was vir my. Die manne wat oorlog moes maak, het gesterf, die manne wat die oorlog moes wen, is dood.”
2 SAMUEL 1:17-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Dawid hierdie klaaglied aangehef oor Saul en oor sy seun Jónatan, en hy het beveel om die kinders van Juda die Booglied te leer; kyk, dit is geskrywe in die Boek van die Opregte. Die sieraad, o Israel — op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval! Vertel dit nie in Gat, verkondig dit nie op die strate van Áskelon nie, sodat die dogters van die Filistyne hulle nie verheug, die dogters van die onbesnedenes nie jubel nie! Berge van Gilbóa, mag op julle geen dou en geen reën en geen velde van offergawes wees nie! Want daar is die skild van die helde weggegooi, die skild van Saul, sonder dat dit met olie gesalf is. Sonder die bloed van die gesneuweldes, sonder die vet van die helde het die boog van Jónatan nie agteruitgewyk en die swaard van Saul nie leeg teruggekeer nie. Saul en Jónatan, die bemindes en lieflikes, is in hulle lewe en in hulle dood nie geskeie nie. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus. Dogters van Israel, ween oor Saul, wat julle weelderig beklee het met skarlaken, wat goue versiersels aangebring het op julle gewaad. Hoe het die helde geval diep in die geveg! Jónatan lê verslaan op jou hoogtes. Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jónatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue. Hoe het die helde geval en die oorlogswapens verlore gegaan!
2 SAMUEL 1:17-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dawid het toe die volgende klaaglied oor Saul en sy seun Jonatan gesing. Hy het opdrag gegee dat hierdie booglied aan die inwoners van Juda geleer moet word. Die lied is ook opgeteken in die Boek van die Opregte. “Jou trots, Israel – op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval! Moet dit nie in Gat vertel nie; moet dit ook nie bekend maak in Askelon se strate nie, anders sal die Filistynse meisies bly wees en die dogters van die heidene jubel. Gilboaberge! Offerland! Nóg dou, nóg reën vir julle! Waarlik, dáár is die heldeskild besoedel. Saul se skild – dit is nie met olie ingesmeer nie maar met bloed van gesneuweldes, met vet van helde! Jonatan se boog – dit het pal gestaan. Saul se swaard – dit het sy werk goed gedoen. Saul en Jonatan, geliefde en beminde mense – in lewe en sterwe nie geskei nie. Hulle was vinniger as arende, sterker as leeus. Israelitiese dogters, julle moet huil oor Saul! Hy het julle beklee met sierlike klere, goue sierade het hy daarop laat aanbring. Hoe het die helde geval? In die hitte van die stryd! Jonatan lê verslaan op die hoogtes. Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou. Hoe het die helde geval? Met die wapen in die hand het hulle omgekom!”
2 SAMUEL 1:17-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarna het Dawid hierdie treurlied gesing oor Saul en sy seun Jonatan. Hy het die nageslag van Juda aangesê om dit, Die Booglied, te leer. Kyk, dit staan geskryf in die Boekrol van die Opregte. “Die uitnemendste, o Israel, lê deurboor op jou hoogtes. Hoe het die helde geval! “Maak dit nie in Gat bekend nie, versprei die nuus nie in die strate van Askelon nie; anders verheug die dogters van die Filistyne hulle, anders jubel die dogters van die onbesnedenes. “Berge by Gilboa, mag daar geen dou, geen reën op julle val nie, mag daar nie landerye wees wat •wydingsgeskenke lewer nie. Want daar is die skilde van helde besoedel, die skild van Saul, sonder dat dit gesalf is met olie. “Vir die bloed van gesneuweldes, vir die vet van helde, het die boog van Jonatan nooit teruggedeins nie; die swaard van Saul het nooit leeg teruggekeer nie. “Saul en Jonatan, geliefd en innemend, is in lewe en dood nie geskei nie. Hulle was vinniger as arende, sterker as leeus. “Dogters van Israel, huil oor Saul, hy wat julle in karmosynrooi geklee, met juwele versier het, wat julle klere met goue juwele getooi het. “Hoe het die helde geval midde in die stryd! Jonatan is op jou hoogtes deurboor. Ek is terneergedruk oor jou, Jonatan, my broer. Jy was baie dierbaar vir my. Wonderlik was jou liefde vir my, nog meer as die liefde van vroue. “Hoe het die helde geval, en is die oorlogswapens verloor!”
2 SAMUEL 1:17-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Dawid het met hierdie klaaglied oor Saul en oor sy seun Jónatan geweeklaag: (Hy het hulle ook beveel om die kinders van Juda te leer hoe die boog gebruik word; kyk, dit is geskrywe in die boek Jaser.) Die skoonheid van Israel is op u hoogtes gedood; hoe het die helde geval! Vertel dit nie in Gat nie, maak dit nie bekend op die strate van Askelon nie; dat die dogters van die Filistyne nie bly wees nie, dat die dogters van die onbesnedenes nie triomfeer nie. Berge van Gilboa, laat daar geen dou wees nie, en laat daar geen reën op julle wees of velde van offerandes nie; want daar is die skild van die magtiges, die skild van Saul, daar weggegooi asof hy nie gesalf is nie olie. Van die bloed van die gesneuweldes, van die vet van die helde, het die boog van Jónatan nie teruggedraai nie, en die swaard van Saul het nie leeg teruggekeer nie. Saul en Jónatan was lieflik en aangenaam in hulle lewens, en in hulle dood was hulle nie verdeeld nie: hulle was vinniger as arende, hulle was sterker as leeus. Dogters van Israel, ween oor Saul, wat vir julle skarlakenrooi en ander lekkernye beklee het, wat goue versierings op julle kleed aangetrek het. Hoe het die magtiges in die middel van die geveg geval! Jonatan, jy is gedood op jou hoogtes. Ek is benoud oor jou, my broer Jonatan; baie aangenaam was jy vir my; jou liefde vir my was wonderlik, verby die liefde van vroue. Hoe het die magtiges geval en die oorlogswapens vergaan!
2 SAMUEL 1:17-27 Die Boodskap (DB)
Dawid het ’n treurlied oor Saul en sy seun Jonatan gedig. Die lied se naam is “Die Boog”. Dit is opgeteken in die Boek van die helde. Dawid het gesê al die mense van Juda moet dit leer. Dit klink só: Israel, op jou berge lê jou beste manne dood! Die helde het geval! Vertel dit nie in Askelon, in Gat nie; hou dié nuus dig vir elke mens op straat! Want anders is die heidene weer bly, hou die Filistyne se vroue ’n fees! Gilboaberg, jou vervloekte plek! Ek wens dit dou nooit op jou nie, ek hoop dit reën nooit op jou hoë weiveld nie. Op jóú lê daar ’n held se skild in die grond getrap. Dis Saul se skild vol bloed. Niemand sal dit ooit weer by die huis met olie smeer nie. Jonatan se boog het altyd raak geskiet. Ja, jy kon maar weet: wanneer hy en Saul hulle swaarde uittrek, dan loop die bloed! Saul en Jonatan, sy seun - die mense was baie lief vir hulle. Hulle was altyd bymekaar; nou is hulle ook saam in die dood. Hulle was so vinnig soos valke, so dapper soos leeus. Vroue van Israel, julle moet huil oor Saul, oor die man wat vir julle die mooiste klere en juwele gegee het. Die helde het geval toe die geveg op sy kwaaiste was. Op die berge van Israel lê Jonatan se lyk! Ek is so hartseer oor jou, my broer, my heel beste vriend. Jou vriendskap was vir my meer werd as al die vroue se liefde. Die helde het geval; hulle wapens is tot niet.
2 SAMUEL 1:17-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het Dawid ’n klaaglied vir Saul en Jonatan geskryf. Later het hy beveel dat dit vir almal in Juda geleer moes word. Dit staan bekend as die Booglied, en is opgeteken in Die boek van die Opregte. Die sieraad van Israel is verslaan op die heuwels! Hoe het die dapper helde geval! Vertel dit nie in Gat nie, maak dit nie bekend in die strate van Askelon nie; anders sal die dogters van die Filistyne hulle verheug, die dogters van die onbesnedenes sal jubel. Berge van Gilboa, mag daar geen dou of reën op julle hange wees nie, want die skild van die dapperes is daar geskend, die skild van Saul is nie met olie ingesmeer nie. Sonder die bloed van die gesneuweldes, sonder die vet van die dapperes, het die boog van Jonatan nooit uit ’n geveg teruggekom, of die swaard van Saul van die slagveld af nie. Saul en Jonatan, geliefd en bemind, was in lewe of dood nie geskei nie. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus. Dogters van Israel, treur oor Saul. Hy het julle ryklik geklee en goue ornamente gegee. Hoe het die dapper manne in die geveg gesneuwel! Op die hoogtes is Jonatan verslaan! Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan! Jy was baie naby aan my. Jou liefde was vir my buitengewoon, dit oortref die liefde van vroue! Hoe het die dapper manne gesneuwel, met hulle oorlogswapens nog in die hand het hulle gesterf!