2 PETRUS 3:1-18

2 PETRUS 3:1-18 Bybel vir almal (ABA)

My vriende, dit is die tweede brief wat ek vir julle skryf. In hierdie brief en ook in die eerste brief wil ek vir julle help om reg te dink sodat julle kan onthou wat die gewyde profete voorheen gesê het. Julle moet ook die wette van die Here en Redder onthou, die wette wat Hy vir die apostels gegee het om vir julle te gee. Dit is belangrik dat julle dit moet weet: In die laaste dae van die wêreld sal daar mense kom wat baie sal spot met ander mense. Hulle sal spot en hulle sal die slegte dinge doen wat hulle graag wil doen. Hulle sal sê: “Die Here het belowe dat Hy weer sal kom, maar hoekom het Hy nog nie gekom nie? Want ons voorvaders het lank gelede gesterf, maar alles bly dieselfde soos dit van die begin af was toe God alles gemaak het.” Die mense wat spot, sal hierdie dinge sê, want hulle wil nie onthou dat die hemel lank gelede klaar daar was en dat die aarde uit die water gekom het nie. God het gesê dit moet so wees. Hy het die aarde uit die water laat kom. God het gesê die water moet oor die wêreld van daardie tyd vloei en dit moet die wêreld verwoes. Dit is ook God wat gesê het dat die hemel en die aarde wat nou daar is, nog daar moet wees en dat Hy dit sal verbrand op die oordeelsdag wanneer Hy die sondaars vir altyd sal laat sterf. Maar my vriende, julle moenie hierdie een ding vergeet nie. Een dag is vir die Here soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar is vir Hom soos een dag. Party mense dink dat die Here 'n lang tyd neem om te doen wat Hy belowe het. Maar dit is nie waar nie. Nee, die Here is jammer vir julle, want Hy wil nie hê dat party mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat al die mense moet lewe soos Hy wil hê hulle moet lewe. Maar die dag van die Here sal kom wanneer niemand sal dink dat dit sal gebeur nie. Daardie dag sal kom soos 'n dief wat kom wanneer niemand dink dat hy sal kom nie. Op daardie dag sal dit baie hard raas en dreun, en die hemel sal verdwyn. Die sterre in die lug sal smelt en verdwyn. Die Here weet wat almal op die aarde gedoen het en Hy sal hulle oordeel. God sal al hierdie dinge so laat verdwyn, daarom moet julle ook julle hele lewe aan God wy en daarom moet julle Hom dien. Julle moet wag vir die dag van God, julle moet wens dat die dag gou sal kom. Op daardie dag sal die hemel en die sterre verbrand en smelt en verdwyn. Maar ons wag vir die nuwe hemel en nuwe aarde wat God belowe het, daar sal mense altyd doen wat God wil hê. Daarom, my vriende, terwyl julle wag dat hierdie dinge sal gebeur, moet julle heeltemal reg lewe. Julle moet probeer om nie dinge te doen waaroor julle skaam sal moet wees nie, en julle moet in vrede lewe. Julle moet ook weet dat ons Here geduldig is omdat Hy mense wil red. Hy het vir ons liewe vriend, Paulus, wysheid gegee, en Paulus het ook hierdie dinge vir julle geskryf. Hy het dit ook in al sy briewe geskryf, briewe waarin hy oor hierdie dinge gepraat het. In sy briewe is daar party dinge wat 'n mens moeilik verstaan. Mense wat nog nie alles verstaan wat gelowiges moet weet nie en mense wie se geloof nog nie sterk genoeg is nie, verstaan hierdie moeilike dinge verkeerd. Hulle verstaan die ander boeke van die Bybel ook verkeerd. Omdat hulle dit doen, sal hulle verlore gaan. My vriende, julle weet klaar dat hierdie dinge later sal gebeur. Daarom moet julle baie goed oppas, want daar is mense wat nie gehoorsaam is aan die wette van God nie. Julle moenie dat hulle vir julle ook laat lewe soos hulle lewe nie, want dan sal julle nie meer seker wees van die dinge wat julle glo nie. Nee, julle moet aanhou om meer en meer te glo in die genade van ons Here en Redder, Jesus Christus, en om Hom beter te leer ken. Daarom moet ons Hom prys, nou en vir altyd. Amen.

2 PETRUS 3:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIT is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe. In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek, sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser. Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf. Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.

2 PETRUS 3:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skrywe. In albei het ek geprobeer om julle weer helder te laat dink deur julle te herinner aan die woorde wat vroeër deur die heilige profete verkondig is, asook aan die gebod van die Here en Verlosser wat deur julle apostels aan julle oorgedra is. Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot en sê: “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af.” Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en 'n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het. En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het. Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met 'n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. Maar ons leef in die verwagting van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe. En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word. So het ons geliefde broer Paulus immers ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskrywe. Hy skryf dit ook in al sy briewe waarin hy oor hierdie saak handel. Daar is dinge in sy briewe wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onstandvastige mense gee daaraan 'n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang. Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie. Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Amen.

2 PETRUS 3:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hierdie brief, geliefdes, is reeds die tweede een wat ek aan julle skryf. In beide probeer ek om, deur middel van herinnering, julle helder denke aan te wakker, sodat julle die woorde kan onthou wat voorheen deur die heilige profete uitgespreek is, en ook die opdrag van ons Here en Verlosser wat julle •apostels deurgegee het. Julle moet veral dit weet: In die laaste dae sal spotters met hulle gespot opdaag – mense wat hulle lewens volgens hulle eie drange inrig, en vra: “Wat het geword van die belofte van sy koms? Sedert die vaders ontslaap het, bly alles steeds soos dit van die begin van die skepping af was.” Hulle ignoreer dit willens en wetens dat daar lank reeds hemele bestaan, en ook 'n aarde, wat deur die woord van God uit water en deur water tot stand gekom het. En deur hierdie dinge is die antieke wêreld deur water oorstroom, en het dit vergaan, maar die huidige hemele en die aarde word deur dieselfde woord vir vuur opsy gesit; dit word bewaar vir die oordeelsdag en die vernietiging van die goddeloses. Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Die dag van die Here sal egter kom soos 'n dief, 'n dag waarop die hemele met 'n gedruis tot 'n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word. As al hierdie dinge so sal vergaan, watter besondere mense moet julle dan nie wees nie – mense wat 'n heilige lewe lei en godvresend leef, wat na die aanbreek van die dag van God uitsien, en dit probeer bespoedig. Dit is die dag waarop die hemele, deurdat dit verbrand word, sal vergaan, en die elemente sal uitbrand en wegsmelt. Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde, waar •geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, omdat julle hierdie dinge verwag, streef ernstig daarna om deur Hom in vrede, vlekkeloos en onberispelik bevind te word. En beskou die lankmoedigheid van ons Here as 'n geleentheid tot verlossing, soos ook ons geliefde broer Paulus, volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak. Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet – wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus •Christus.

2 PETRUS 3:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hierdie tweede brief, geliefdes, skryf ek nou aan julle; in beide wat Ek julle reine gedagtes opwek ter herinnering: Sodat julle gedagtig kan wees aan die woorde wat tevore deur die heilige profete gespreek is, en aan die gebod van ons, die apostels van die Here en Verlosser: Om dit eerstens te weet, dat daar in die laaste dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel, en gesê: Waar is die belofte van sy koms? want vandat die vaders ontslaap het, gaan alles voort soos van die begin van die skepping af. Daarom weet hulle gewilliglik nie, dat deur die woord van God die hemele van ouds was en die aarde uit die water en in die water gestaan het. Waardeur die wêreld wat toe was, oorstroom van water, vergaan het: Maar die hemele en die aarde wat nou is, word deur dieselfde woord vir vuur bewaar teen die dag van oordeel en verderf van goddelose mense. Maar, geliefdes, moenie hierdie een ding onkundig wees nie, dat een dag by die Here is soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie sy belofte nie, soos sommige dit vertraging ag; maar is lankmoedig teenoor ons, en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag; waarin die hemele met 'n groot gedruis sal verbygaan en die elemente sal versmelt met vurige hitte, ook sal die aarde en die werke wat daarop is, verbrand word. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, watter soort mense behoort julle te wees in alle heilige wandel en godsaligheid, Op soek na en haas na die koms van die dag van God, waarin die hemele wat aan die brand is, sal vergaan en die elemente sal smelt in vurige hitte? Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle na sulke dinge wag, beywer julle dat julle in vrede, vlekkeloos en onberispelik deur Hom bevind mag word. En reken dat die lankmoedigheid van onse Here redding is; soos ons geliefde broeder Paulus ook volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het; Soos ook in al sy briewe, wat daarin spreek oor hierdie dinge; waarin sommige dinge moeilik is om te verstaan, wat die ongeleerdes en onstabiele, net soos die ander Skrifte, tot hulle eie verderf wring. Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vantevore weet, pas op dat julle ook nie, wat deur die dwaling van die goddelose weggelei word nie, uit julle eie standvastigheid val. Maar groei in genade en in die kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die eer toe, nou en tot in ewigheid. Amen.

2 PETRUS 3:1-18 Die Boodskap (DB)

My liewe vriende, julle weet dat dit reeds die tweede brief is wat ek aan julle skryf. Net soos in die vorige brief wil ek hê dat julle nou ook baie mooi moet luister en reg dink. Doen die volgende: Luister na alles wat die profete van die Here vir julle sê. En luister ook na die voorskrifte wat ons Here en Verlosser deur julle apostels vir julle gegee het. Onthou, gedurende die laaste dae hier op aarde sal daar spotters op die toneel verskyn. Hulle sal leef net soos hulle wil. Hierdie spul sal ook spottende dinge sê soos: “En wanneer gaan die wederkoms nogal plaasvind? Ons voorvaders is al dood en begrawe. Hulle het hulle dood gewag op die wederkoms, maar net mooi niks het nog verander nie. Alles gaan steeds op dieselfde ou trant aan, net soos dit van die begin af was.” Die mense wat sulke goed sê, vergeet ewe gerieflik ’n paar belangrike dinge oor God. Hulle vergeet dat God lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak het. Hy het dit gedoen deur net ’n woord te sê. En hulle vergeet ook hoe God daarna die wêreld deur ’n reuse-oorstroming vernietig het. Dis dieselfde hemel en aarde waarin ons nou elke dag leef en wat gereed gehou word vir die groot vuur. God moet net ’n woord sê, dan breek die oordeelsdag aan wanneer Hy al die goddelose mense eens en vir altyd sal skuldig bevind en vernietig. My liewe vriende, moenie dink dat God van ons mensgemaakte kalenders afhanklik is nie. Dit is glad nie so nie. Vir God is een dag net so goed soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar net soos een dag. Daarom is Hy glad nie laat vir sy afspraak met die wêreld nie, al dink party spotters so. Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal sy woord hou. Op die oomblik is God net geduldig met julle almal. Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Niemand weet wanneer die Here na ons toe terugkom nie. Dit sal onverwags wees, net so onverwags soos ’n dief wat iewers in ’n huis inbreek. Op daardie dag sal die hemelruim bokant julle inmekaarstort, die sterre en die planete sal tot ’n hoop as verbrand, en die aarde met alles daarop sal vergaan. Julle weet dat al die dinge waarvan ek praat enige oomblik kan plaasvind. Daarom moet julle al hoe meer doen wat God vra. Gryp elke kans aan! Wys dat julle net aan Hom behoort. Sien uit na die dag waarop die Here terugkom. Leef so dat God die datum van sy terugkeer sal vervroeg. Leef daardie groot dag nader! Op daardie dag sal die hemelruim in vlamme verbrand en al die sterre en planete in ’n oomblik wegsmelt. Ons hou met alles in ons vas aan die belofte dat ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad is, presies net soos God belowe het. Daar sal God se wil seëvier. Wat ’n wonderlike vooruitsig! My liewe broers en susters, omdat julle uitsien na alles wat in God se nuwe wêreld op julle wag, moet julle julle bes doen om so te leef dat julle God se hart altyd bly maak. Daar moenie eens ’n vuil kolletjie sonde in julle lewens te sien wees nie. Sorg dat julle eendag in vrede voor Hom kan staan, sonder enige skuldige gewetens. Die Here is baie geduldig met ons. Gelukkig! Hy gee ons nog ’n kans om ons lewens behoorlik reg te kry. Kom ons gryp dit met albei hande aan. Dit is presies wat Paulus, daardie broer van ons vir wie ons almal so lief is, ook vir julle geskryf het. In al sy briewe wat oor die wederkoms handel, skryf hy oor hierdie dinge. Nou ja, ek moet erken dat sommige van die dinge wat Paulus skryf moeilik is om te verstaan. Daarom dat daardie dwase wat nie begryp waaroor dit alles gaan nie, sy woorde so maklik verdraai. Maar dit is niks vreemds nie, want hulle verdraai die hele Bybel. Daarom wag daar groot moeilikheid op hulle. My liewe broers en susters, ek het julle nou behoorlik gewaarsku teen die mense wat die goeie nuus verdraai. Nou weet julle vooruit wat alles op julle wag. Pas op vir hulle! Moenie deur hulle sondes en skewe leringe meegesleur word nie. Staan sterk in julle geloof. Leef net elke dag nog meer uit die liefdevolle goedheid wat ons Here en ons Verlosser, Jesus Christus, vir julle gee. En moet nooit ophou om meer en meer oor Hom te leer nie. Aan ons Here behoort al die heerlikheid, nou en vir altyd. Vir seker!

2 PETRUS 3:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skryf. In albei het ek probeer om julle weer helder te laat dink deur julle geheue te verfris. Ek wil hê julle moet die woorde onthou van die profete wat aan God toegewy was. Onthou ook wat ons Here en Verlosser julle deur julle apostels beveel het. Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is. Hulle sal soos volg redeneer: “Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was.” Hulle vergeet opsetlik dat God lank gelede met sy woord die hemele geskep het, en dat Hy die aarde uit water laat opkom het en met water omring het. En dit is ook met water dat Hy die destydse wêreld oorstroom en laat vergaan het. God het presies só – deur sy woord – beskik dat die hemele en die aarde deur vuur verteer sal word op die dag waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ’n dief. Dan sal die hemele met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan Hom lewe! Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt. Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ’n nuwe aarde, soos God belowe het. Dáár sal almal voor God reg lewe. Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. Lewe in vrede met God. En onthou: Die Here se geduld is ’n geleentheid om verlos te word. Dis presies soos Paulus, ons geliefde broer, aan julle geskryf het met die wysheid wat God hom gegee het. Hy praat hieroor in al sy briewe. Sommige van die opmerkings in sy briewe is moeilik om te verstaan. Oningeligtes en mense sonder beginsels verdraai sy briewe, soos hulle dit trouens ook met ander dele van die Skrif doen. Só bewerk hulle hulle eie ondergang. Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie saamgesleep word deur die dwaling van hierdie slegte mense nie. Ek wil nie hê dat julle julle eie standvastigheid verloor nie. Sorg liewer dat julle steeds groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.