2 PETRUS 1:9-11
2 PETRUS 1:9-11 Bybel vir almal (ABA)
Want as 'n mens hierdie dinge nie doen nie, dan is hy soos iemand wat baie sleg sien, so sleg dat hy geestelik blind is. Ja, iemand wat nie hierdie dinge doen nie, het vergeet dat God hom gereinig het van die sondes wat hy voorheen gedoen het. My vriende, God het julle gekies en genooi om aan Hom te behoort. Daarom moet julle baie hard probeer om so te lewe dat almal kan sien dat julle aan God behoort. Julle moet so lewe, want dan sal julle aanhou glo en nie ontrou wees nie. As julle só lewe, dan sal God sê dat julle baie welkom is daar waar ons Here Jesus Christus vir altyd die Koning is en waar Hy regeer, Jesus Christus ons Redder.
2 PETRUS 1:9-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet. Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.
2 PETRUS 1:9-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.
2 PETRUS 1:9-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is. Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. Ja, so sal toegang tot die ewige •koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word.
2 PETRUS 1:9-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar hy wat hierdie dinge kortkom, is blind en kan nie ver sien nie, en het vergeet dat hy gereinig is van sy ou sondes. Daarom, broeders, beywer julle om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle hierdie dinge doen, sal julle nooit val nie. Want so sal 'n ingang oorvloedig aan julle gedien word in die ewige koninkryk van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus.
2 PETRUS 1:9-11 Die Boodskap (DB)
Gelowiges wat hierdie dinge nie hulle eie maak nie en wat nie voluit vir die Here leef nie, is soos mense met ’n oogprobleem. Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle is heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus hulle van al hulle sondes skoongewas het toe hulle tot bekering gekom het. My broers en susters, wys deur alles wat julle doen dat God julle na Hom toe geroep het. Wys dat God julle uitgekies het om in Hom te glo. Doen dit, dan sal julle nooit oor die sonde struikel nie. Dan sal julle met oop arms soos helde ontvang word in God se nuwe wêreld. Daar regeer ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vir altyd as Koning.
2 PETRUS 1:9-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mense wie se lewe nie wys dat God se beloftes in hulle waar geword het nie, is blind, of – ten minste – kortsigtig. Hulle het klaar vergeet dat God hulle gereinig het van hulle vorige sondige leefstyl. Daarom, broers en susters, werk nog harder daaraan om met julle leefstyl te bewys dat God julle regtig geroep en gekies het. As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal julle sonder ophou en sonder dat iets julle hinder, kan deelneem aan die ewige koningsheerskappy van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.