2 PETRUS 1:5-11
2 PETRUS 1:5-11 Bybel vir almal (ABA)
God het baie dinge vir julle gedoen, en daarom moet julle hard probeer om nie net te glo in Hom nie, maar ook om goeie dinge vir ander mense te doen en om wyse mense te wees. Julle moenie gou kwaad word nie, julle moet vas glo, julle moet vir God dien, julle moet lief wees vir mekaar, julle moet lief wees vir al die mense. As julle hierdie dinge doen en dit meer en meer doen, dan doen julle dinge wat vir mense kan help en dan sal julle slaag met alles wat julle doen omdat julle ons Here Jesus Christus goed ken. Want as 'n mens hierdie dinge nie doen nie, dan is hy soos iemand wat baie sleg sien, so sleg dat hy geestelik blind is. Ja, iemand wat nie hierdie dinge doen nie, het vergeet dat God hom gereinig het van die sondes wat hy voorheen gedoen het. My vriende, God het julle gekies en genooi om aan Hom te behoort. Daarom moet julle baie hard probeer om so te lewe dat almal kan sien dat julle aan God behoort. Julle moet so lewe, want dan sal julle aanhou glo en nie ontrou wees nie. As julle só lewe, dan sal God sê dat julle baie welkom is daar waar ons Here Jesus Christus vir altyd die Koning is en waar Hy regeer, Jesus Christus ons Redder.
2 PETRUS 1:5-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet. Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.
2 PETRUS 1:5-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.
2 PETRUS 1:5-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense. Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus •Christus betref nie. Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is. Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. Ja, so sal toegang tot die ewige •koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word.
2 PETRUS 1:5-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En behalwe dit, met alle ywer, voeg by julle geloof deug by; en tot deugdekennis; En tot kennis selfbeheersing; en tot matigheid geduld; en geduldig godsaligheid; En aan die godsaligheid broederlike goedertierenheid; en tot broederlike goedhartigheid liefdadigheid. Want as hierdie dinge in julle is en toeneem, dan maak dit julle nie onvrugbaar of onvrugbaar in die kennis van onse Here Jesus Christus nie. Maar hy wat hierdie dinge kortkom, is blind en kan nie ver sien nie, en het vergeet dat hy gereinig is van sy ou sondes. Daarom, broeders, beywer julle om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle hierdie dinge doen, sal julle nooit val nie. Want so sal 'n ingang oorvloedig aan julle gedien word in die ewige koninkryk van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus.
2 PETRUS 1:5-11 Die Boodskap (DB)
Moenie ’n enkele oomblik agteroor sit nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke dag sterker word. Gaan só te werk: Span julle in om altyd net die regte dinge te doen. Saam met hierdie ywer moet julle ook kennis hê. Sorg dat julle die Here goed ken. Saam met kennis gaan selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes julle ooit onderkry nie. Saam met selfbeheersing gaan standvastigheid. Hou aan glo. Staan sterk! Saam met standvastigheid gaan ’n lewe wat God verheerlik. Maak God se Naam groot in alles wat julle doen. Saam met ’n lewe wat God verheerlik, gaan absolute lojaliteit teenoor ander gelowiges. Saam met liefde vir ander gelowiges gaan liefde vir alle ander mense. Gee regtig om vir almal met wie julle elke dag te doen kry. As julle al hierdie dinge doen, as julle al hoe meer leef soos die Here dit van ons verwag, sal julle nooit verveeld rondsit nie. Dan sal daar nooit ’n dag verbygaan dat julle nie voluit vir ons Here Jesus Christus leef nie. Julle kennis van Hom sal sommer baie vrug dra in julle lewe. Gelowiges wat hierdie dinge nie hulle eie maak nie en wat nie voluit vir die Here leef nie, is soos mense met ’n oogprobleem. Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle is heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus hulle van al hulle sondes skoongewas het toe hulle tot bekering gekom het. My broers en susters, wys deur alles wat julle doen dat God julle na Hom toe geroep het. Wys dat God julle uitgekies het om in Hom te glo. Doen dit, dan sal julle nooit oor die sonde struikel nie. Dan sal julle met oop arms soos helde ontvang word in God se nuwe wêreld. Daar regeer ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vir altyd as Koning.
2 PETRUS 1:5-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het. Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is. ’n Goeie leefstyl bring weer mee dat jy God beter leer ken. As ’n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer. Selfdissipline bring weer mee dat ’n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op ’n lewe naby aan God. ’n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal liefhet. Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie. Mense wie se lewe nie wys dat God se beloftes in hulle waar geword het nie, is blind, of – ten minste – kortsigtig. Hulle het klaar vergeet dat God hulle gereinig het van hulle vorige sondige leefstyl. Daarom, broers en susters, werk nog harder daaraan om met julle leefstyl te bewys dat God julle regtig geroep en gekies het. As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal julle sonder ophou en sonder dat iets julle hinder, kan deelneem aan die ewige koningsheerskappy van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.