2 PETRUS 1:3-15

2 PETRUS 1:3-15 Bybel vir almal (ABA)

God is sterk en Hy het vir ons alles gegee wat ons nodig het om so te lewe dat ons Hom kan dien. Ons kán so lewe omdat ons Hom ken. Hy het ons gekies om aan Hom te behoort, want Hy is die Koning en Hy doen groot dinge. Hoekom het God belowe om vir ons kosbare en baie groot dinge te doen? Dit is omdat Hy so groot en sterk is. Hy het dit gedoen sodat julle vry kan wees en kan ophou om die slegte dinge te wil doen wat die mense van die wêreld graag wil doen, dinge wat hulle laat sterf. Dan sal julle mense word wat soos God is en wat lewe soos Hy. God het baie dinge vir julle gedoen, en daarom moet julle hard probeer om nie net te glo in Hom nie, maar ook om goeie dinge vir ander mense te doen en om wyse mense te wees. Julle moenie gou kwaad word nie, julle moet vas glo, julle moet vir God dien, julle moet lief wees vir mekaar, julle moet lief wees vir al die mense. As julle hierdie dinge doen en dit meer en meer doen, dan doen julle dinge wat vir mense kan help en dan sal julle slaag met alles wat julle doen omdat julle ons Here Jesus Christus goed ken. Want as 'n mens hierdie dinge nie doen nie, dan is hy soos iemand wat baie sleg sien, so sleg dat hy geestelik blind is. Ja, iemand wat nie hierdie dinge doen nie, het vergeet dat God hom gereinig het van die sondes wat hy voorheen gedoen het. My vriende, God het julle gekies en genooi om aan Hom te behoort. Daarom moet julle baie hard probeer om so te lewe dat almal kan sien dat julle aan God behoort. Julle moet so lewe, want dan sal julle aanhou glo en nie ontrou wees nie. As julle só lewe, dan sal God sê dat julle baie welkom is daar waar ons Here Jesus Christus vir altyd die Koning is en waar Hy regeer, Jesus Christus ons Redder. Julle weet hierdie dinge en julle is baie seker dat dit die waarheid is wat julle oor Christus gehoor het. Maar ek sal aanhou om vir julle te sê dat julle moet onthou wat ek hier vir julle geskryf het. Ek dink dit is reg dat ek vir julle moet sê dat julle moet onthou om aan hierdie dinge te dink, ek moet dit sê terwyl ek nog lewe. Want ek weet dat ek nie meer lank sal lewe nie, ons Here Jesus Christus het dit vir my gesê. Daarom sal ek hard probeer dat julle hierdie dinge altyd sal onthou, ook nadat ek gesterf het.

2 PETRUS 1:3-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet. Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is. En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek, omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou.

2 PETRUS 1:3-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is. Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek nog lewe. Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik aan my bekend gemaak. Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou.

2 PETRUS 1:3-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir 'n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is. Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense. Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus •Christus betref nie. Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is. Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. Ja, so sal toegang tot die ewige •koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word. Daarom sal ek julle altyd aan hierdie dinge bly herinner, al weet julle dit reeds, en al is julle reeds stewig in die bestaande waarheid gevestig. Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp, so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het. Daarom sal ek my ook daarvoor beywer dat julle hierdie dinge ná my heengaan steeds in herinnering sal kan roep.

2 PETRUS 1:3-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Soos sy goddelike krag aan ons alles gegee het wat tot lewe en godsaligheid behoort, deur die kennis van Hom wat ons geroep het tot heerlikheid en deug: Waardeur aan ons uitermate groot en kosbare beloftes gegee word, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verderf ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. En behalwe dit, met alle ywer, voeg by julle geloof deug by; en tot deugdekennis; En tot kennis selfbeheersing; en tot matigheid geduld; en geduldig godsaligheid; En aan die godsaligheid broederlike goedertierenheid; en tot broederlike goedhartigheid liefdadigheid. Want as hierdie dinge in julle is en toeneem, dan maak dit julle nie onvrugbaar of onvrugbaar in die kennis van onse Here Jesus Christus nie. Maar hy wat hierdie dinge kortkom, is blind en kan nie ver sien nie, en het vergeet dat hy gereinig is van sy ou sondes. Daarom, broeders, beywer julle om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle hierdie dinge doen, sal julle nooit val nie. Want so sal 'n ingang oorvloedig aan julle gedien word in die ewige koninkryk van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus. Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd aan hierdie dinge te herinner nie, al weet julle dit en staan vas in die huidige waarheid. Ja, ek dink dit is goed om, solank as wat ek in hierdie tabernakel is, jou op te wek deur jou in herinnering te bring; Omdat ek weet dat ek binnekort hierdie tabernakel van my moet aflê, soos onse Here Jesus Christus my getoon het. Verder sal ek my beywer dat julle ná my dood in staat sal wees om hierdie dinge altyd in gedagtenis te hou.

2 PETRUS 1:3-15 Die Boodskap (DB)

Die Here se hemelse krag het alles vir ons gegee wat ons nodig het om elke dag reg te leef en in ’n persoonlike verhouding met Hom te staan. Ons ken God nou op ’n totaal nuwe manier. Hyself wat so vol heerlikheid en grootheid is, het ons elkeen geroep om in Hom te glo. Toe Hy dit gedoen het, het Hy boonop die wonderlikste en die grootste beloftes aan ons gegee. Sy doel met hierdie hemelse geskenke is om julle in staat te stel om nee te kan sê vir elke versoeking. Gee dadelik pad wanneer julle eie begeertes julle op sleeptou wil neem agter verkeerde dinge aan. Dan kry julle al hoe meer deel aan God se karakter. Moenie ’n enkele oomblik agteroor sit nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke dag sterker word. Gaan só te werk:  Span julle in om altyd net die regte dinge te doen.  Saam met hierdie ywer moet julle ook kennis hê. Sorg dat julle die Here goed ken. Saam met kennis gaan selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes julle ooit onderkry nie.  Saam met selfbeheersing gaan standvastigheid. Hou aan glo. Staan sterk!  Saam met standvastigheid gaan ’n lewe wat God verheerlik. Maak God se Naam groot in alles wat julle doen. Saam met ’n lewe wat God verheerlik, gaan absolute lojaliteit teenoor ander gelowiges.  Saam met liefde vir ander gelowiges gaan liefde vir alle ander mense. Gee regtig om vir almal met wie julle elke dag te doen kry. As julle al hierdie dinge doen, as julle al hoe meer leef soos die Here dit van ons verwag, sal julle nooit verveeld rondsit nie. Dan sal daar nooit ’n dag verbygaan dat julle nie voluit vir ons Here Jesus Christus leef nie. Julle kennis van Hom sal sommer baie vrug dra in julle lewe. Gelowiges wat hierdie dinge nie hulle eie maak nie en wat nie voluit vir die Here leef nie, is soos mense met ’n oogprobleem. Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle is heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus hulle van al hulle sondes skoongewas het toe hulle tot bekering gekom het. My broers en susters, wys deur alles wat julle doen dat God julle na Hom toe geroep het. Wys dat God julle uitgekies het om in Hom te glo. Doen dit, dan sal julle nooit oor die sonde struikel nie. Dan sal julle met oop arms soos helde ontvang word in God se nuwe wêreld. Daar regeer ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vir altyd as Koning. Al weet julle alles wat ek vir julle gesê het, moet ek julle altyd weer van voor af daaraan herinner. Ook al staan julle vas in die Here se waarheid, moet ek nog ’n slag vir julle sê hoe om tot eer van die Here te leef. Dis my roeping om julle aan te moedig deur julle te herinner hoe om te leef so lank as wat ek nog hier is. Ongelukkig sal dit nie meer te lank wees nie, want my dood is voor die deur. Ons Here Jesus Christus het dit duidelik vir my gewys. Daarom skryf ek al hierdie dinge neer sodat julle selfs ná my dood kan onthou hoe julle moet leef.

2 PETRUS 1:3-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang! Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die neigings van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word. Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het. Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is. ’n Goeie leefstyl bring weer mee dat jy God beter leer ken. As ’n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer. Selfdissipline bring weer mee dat ’n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op ’n lewe naby aan God. ’n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal liefhet. Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie. Mense wie se lewe nie wys dat God se beloftes in hulle waar geword het nie, is blind, of – ten minste – kortsigtig. Hulle het klaar vergeet dat God hulle gereinig het van hulle vorige sondige leefstyl. Daarom, broers en susters, werk nog harder daaraan om met julle leefstyl te bewys dat God julle regtig geroep en gekies het. As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal julle sonder ophou en sonder dat iets julle hinder, kan deelneem aan die ewige koningsheerskappy van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Dis waarom ek julle altyd aan hierdie dinge sal herinner, al weet julle dit en al leef julle reeds noukeurig volgens die waarheid wat by julle is. Ek beskou dit inderdaad as my plig om julle hieraan te herinner so lank as wat ek nog lewe. Ons Here Jesus het dit egter aan my bekendgemaak dat ek binnekort gaan sterf. Daarom sal ek moeite doen om hierdie dinge aan julle te verduidelik. Ek wil hê julle moet dit onthou lank ná ek nie meer hier is nie.

2 PETRUS 1:3-15

2 PETRUS 1:3-15 AFR83