2 PETRUS 1:16-21
2 PETRUS 1:16-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus •Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.
2 PETRUS 1:16-21 Bybel vir almal (ABA)
Ons het vir julle vertel dat ons Here Jesus Christus sterk is en dat Hy weer sal kom. Dit was nie slim stories wat ander mense gemaak het en wat ons geglo het nie. Nee, ons het self gesien dat Jesus Christus sterk is en alles kan doen. God die Vader het vir Jesus eer gegee en God het vir Jesus Koning gemaak. God is self die Groot Koning, en Hy het gesê: “ Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly.” En ons het self gehoor dat God uit die hemel praat, ons het dit gehoor toe ons saam met Jesus op die gewyde berg was. Daarom weet ons dat die boodskappe wat die profete gebring het, regtig waar is. Dit sal goed wees as julle luister na die profete se boodskappe, want daardie boodskappe is soos 'n lamp wat in die donker skyn totdat die dag kom wanneer Christus weer sal kom. Dan sal Hy in julle harte sy lig laat skyn soos die môrester skyn. Dit is belangrik dat julle dit moet weet: Die profete van die Ou Testament het nie self die dinge gedink wat hulle gesê het nie. Want die profete het hulle boodskap gebring, nie omdat hulle self daardie dinge wou sê nie, nee, die Heilige Gees het mense laat sê wat God sê.
2 PETRUS 1:16-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.
2 PETRUS 1:16-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos 'n lamp wat in 'n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.
2 PETRUS 1:16-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ons het nie listig uitgedinkde fabels gevolg toe ons die krag en koms van onse Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie, maar ons was ooggetuies van sy majesteit. Want hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe so 'n stem uit die voortreflike heerlikheid na Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En hierdie stem wat uit die hemel gekom het, het ons gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. Ons het ook 'n meer seker woord van profesie; waarop julle goed moet doen dat julle ag gee soos op 'n lig wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die dagster in julle harte opgaan. Om dit eerstens te weet, dat geen profesie van die Skrif van enige eie uitlegging is nie. Want die profesie het in die ou tyd nie deur die wil van 'n mens gekom nie, maar heilige manne van God het gespreek soos hulle deur die Heilige Gees gedrywe is.
2 PETRUS 1:16-21 Die Boodskap (DB)
Onthou julle nog hoe ons vroeër met julle gepraat het oor die krag van ons Here Jesus Christus en oor sy terugkeer na die aarde toe? Ons het glad nie vir julle gejok, of ’n klomp stories uit ons duim gesuig nie. Natuurlik nie. Ons het immers met ons eie oë gesien watter groot dinge Jesus Christus gedoen het toe Hy nog op aarde was. Onthou julle toe Christus op die berg saam met Moses en Elia was? God het vir Christus daar met groot eer en heerlikheid bekroon. Die Allerhoogste het uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Ek is baie bly oor Hom.” Op daardie heilige berg het ek met my eie ore God se stem gehoor. Hierdie gebeure daar op die berg het elke woord wat die profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lig wat in die donker skyn. Julle moet ook aan hulle woorde vashou totdat die volle lig van God in julle lewe skyn. Soos die môrester wat wys dat die dag aangebreek het, sal Hy self die donker wegvat uit julle binneste. Onthou, dit wat die profete in die Bybel sê, het hulle nie self uitgedink nie, want geen ware profesie kom ooit van mense af nie. Nee, die Heilige Gees het presies vir hulle gewys wat hulle oor God moes sê. Hy het hulle aangevuur om oor Hom te praat.
2 PETRUS 1:16-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons het ons verseker nie op mites verlaat toe ons vir julle vertel het van die krag van ons Here Jesus Christus en sy terugkeer nie. Met ons eie oë het ons Hom in al sy koninklike prag gesien. Dis mos Hý wat eer en heerlikheid van God die Vader ontvang het toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Hý is my Seun wat Ek van harte liefhet; Hy is ’n kind so na my hart!” Ons het self hierdie stem uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. Dit laat die boodskap van die profete vir ons nog vaster staan. Luister baie mooi na hulle woorde, want dis soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn – totdat Christus verskyn en sy helder lig julle harte verlig. Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie. Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het.