2 PETRUS 1:1-4
2 PETRUS 1:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie brief kom van Simon Petrus, ’n dienskneg en apostel van Jesus Christus. Ek skryf aan julle almal wat dieselfde kosbare geloof as ons het. Julle het hierdie geloof ontvang van Jesus Christus, ons God en Verlosser. Hý het julle regverdig verklaar. Mag die genade en vrede van God steeds meer en meer julle deel wees deurdat julle God en Jesus Christus ons Here regtig ken. Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang! Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die neigings van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word.
2 PETRUS 1:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Simeon Petrus, is 'n dienaar en apostel van Jesus Christus. Ek skryf hierdie brief vir julle wat ook soos ons glo in Jesus Christus. Dit is Christus wat vir ons almal in Hom laat glo en daardie geloof in Hom is kosbaar. Hy is ons God en ons Redder en Hy laat julle almal ook so glo in Hom. Ons bid dat God genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle baie vrede sal gee. Hy sal dit doen omdat julle vir God en Jesus ons Here reg leer ken het. God is sterk en Hy het vir ons alles gegee wat ons nodig het om so te lewe dat ons Hom kan dien. Ons kán so lewe omdat ons Hom ken. Hy het ons gekies om aan Hom te behoort, want Hy is die Koning en Hy doen groot dinge. Hoekom het God belowe om vir ons kosbare en baie groot dinge te doen? Dit is omdat Hy so groot en sterk is. Hy het dit gedoen sodat julle vry kan wees en kan ophou om die slegte dinge te wil doen wat die mense van die wêreld graag wil doen, dinge wat hulle laat sterf. Dan sal julle mense word wat soos God is en wat lewe soos Hy.
2 PETRUS 1:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SÍMEON Petrus, 'n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so 'n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.
2 PETRUS 1:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Simon Petrus, 'n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.
2 PETRUS 1:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Simeon •Petrus, 'n dienskneg en •apostel van Jesus •Christus, aan dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het, deur die •geregtigheid van ons God en Verlosser, Jesus Christus: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here. Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir 'n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is.
2 PETRUS 1:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Simon Petrus, 'n dienskneg en 'n apostel van Jesus Christus, aan hulle wat soos ons die kosbare geloof verkry het deur die geregtigheid van God en ons Verlosser, Jesus Christus: Genade en vrede word vir julle vermenigvuldig deur die kennis van God en van Jesus, onse Here, Soos sy goddelike krag aan ons alles gegee het wat tot lewe en godsaligheid behoort, deur die kennis van Hom wat ons geroep het tot heerlikheid en deug: Waardeur aan ons uitermate groot en kosbare beloftes gegee word, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verderf ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.
2 PETRUS 1:1-4 Die Boodskap (DB)
Van Simon Petrus. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus. Hy het my as een van sy apostels aangestel. God is baie goed. Daarom het Hy en ons Verlosser, Jesus Christus, dit so beskik dat julle glo. Omdat God vir julle baie goed is, glo julle nou, net soos ek. Ek bid dat God se oorvloedige goedheid en vrede julle lewens sal oorspoel! Mag julle kennis van God en van Jesus ons Here julle help om al hierdie hemelse gawes meer te beleef. Die Here se hemelse krag het alles vir ons gegee wat ons nodig het om elke dag reg te leef en in ’n persoonlike verhouding met Hom te staan. Ons ken God nou op ’n totaal nuwe manier. Hyself wat so vol heerlikheid en grootheid is, het ons elkeen geroep om in Hom te glo. Toe Hy dit gedoen het, het Hy boonop die wonderlikste en die grootste beloftes aan ons gegee. Sy doel met hierdie hemelse geskenke is om julle in staat te stel om nee te kan sê vir elke versoeking. Gee dadelik pad wanneer julle eie begeertes julle op sleeptou wil neem agter verkeerde dinge aan. Dan kry julle al hoe meer deel aan God se karakter.