2 PETRUS 1:1-2
2 PETRUS 1:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Simeon Petrus, is 'n dienaar en apostel van Jesus Christus. Ek skryf hierdie brief vir julle wat ook soos ons glo in Jesus Christus. Dit is Christus wat vir ons almal in Hom laat glo en daardie geloof in Hom is kosbaar. Hy is ons God en ons Redder en Hy laat julle almal ook so glo in Hom. Ons bid dat God genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle baie vrede sal gee. Hy sal dit doen omdat julle vir God en Jesus ons Here reg leer ken het.
2 PETRUS 1:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SÍMEON Petrus, 'n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so 'n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!
2 PETRUS 1:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Simon Petrus, 'n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!
2 PETRUS 1:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Simeon •Petrus, 'n dienskneg en •apostel van Jesus •Christus, aan dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het, deur die •geregtigheid van ons God en Verlosser, Jesus Christus: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here.
2 PETRUS 1:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Simon Petrus, 'n dienskneg en 'n apostel van Jesus Christus, aan hulle wat soos ons die kosbare geloof verkry het deur die geregtigheid van God en ons Verlosser, Jesus Christus: Genade en vrede word vir julle vermenigvuldig deur die kennis van God en van Jesus, onse Here
2 PETRUS 1:1-2 Die Boodskap (DB)
Van Simon Petrus. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus. Hy het my as een van sy apostels aangestel. God is baie goed. Daarom het Hy en ons Verlosser, Jesus Christus, dit so beskik dat julle glo. Omdat God vir julle baie goed is, glo julle nou, net soos ek. Ek bid dat God se oorvloedige goedheid en vrede julle lewens sal oorspoel! Mag julle kennis van God en van Jesus ons Here julle help om al hierdie hemelse gawes meer te beleef.
2 PETRUS 1:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie brief kom van Simon Petrus, ’n dienskneg en apostel van Jesus Christus. Ek skryf aan julle almal wat dieselfde kosbare geloof as ons het. Julle het hierdie geloof ontvang van Jesus Christus, ons God en Verlosser. Hý het julle regverdig verklaar. Mag die genade en vrede van God steeds meer en meer julle deel wees deurdat julle God en Jesus Christus ons Here regtig ken.