2 KONINGS 23:1-3
2 KONINGS 23:1-3 Die Boodskap (DB)
Nadat Josia die boodskap gehoor het, het hy ’n vergadering met die leiers van Juda en Jerusalem belê. Hy en al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, die belangrikes én die onbelangrikes, asook die priesters en die profete het na die tempel toe gegaan. Daar het hy vir hulle die hele wetboek voorgelees wat Gilkija in die tempel gekry het. Josia het toe op die koning se ereplek gaan staan en met die Here ’n ooreenkoms gesluit. Hy het belowe om met volle oorgawe alles te doen wat die Here volgens die wetboek vra. Die hele volk het hulle ook tot die ooreenkoms verbind.
2 KONINGS 23:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Die koning het boodskappers gestuur en hy het gesê die leiers van Juda en Jerusalem moet bymekaarkom by hom. Hy het na die tempel gegaan. Al die leiers van Juda en Jerusalem was saam met hom, en ook die priesters en die profete en al die mense, die belangrike én die onbelangrike mense. Hy het vir hulle gelees wat geskryf is in die verbondsboek wat die hoëpriester in die tempel gekry het. Daarna het die koning by die pilaar gaan staan. Hy het belowe dat Hy die Here altyd sal dien en dat hy alles sal doen wat die wette van die Here sê. Hy het belowe om te doen wat die Here wil hê en om die verbond te hou waaroor daar in die boek geskryf is. Al die mense het dit saam met die koning belowe.
2 KONINGS 23:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het die koning gestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom versamel. En die koning het opgegaan in die huis van die HERE en al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem saam met hom, en die priesters en die profete en die hele volk, klein en groot; en hy het al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die HERE gevind is, voor hulle ore gelees. En die koning het op die verhoog gaan staan en die verbond voor die aangesig van die HERE gesluit om die HERE te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met die hele hart en met die hele siel te onderhou, om die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te bevestig. En die hele volk het toegetree tot die verbond.
2 KONINGS 23:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die afvaardiging het so aan die koning gerapporteer, en hy het al die leiers van Juda en Jerusalem by hom laat bymekaarkom. Daarna is die koning na die huis van die Here toe met al die mense van Juda by hom en ook die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het hy alles aan hulle voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het wat in die huis van die Here gekry is. Toe het die koning op sy plek gaan staan en 'n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. Die hele volk het die verbond aanvaar.
2 KONINGS 23:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die koning het boodskappers uitgestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom byeengebring. Die koning het toe opgegaan na die huis van die HERE; al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem was saam met hom, ook die priesters en die profete, ja, die hele volk, van klein tot groot. Ten aanhore van hulle almal het hy al die woorde van die •boekrol met die verbond wat in die huis van die HERE gevind is, voorgelees. Daarna het die koning by die pilaar gaan staan en voor die HERE die verbond gesluit. Hulle het onderneem om die HERE te volg, om sy gebooie, sy bepalings en sy vaste voorskrifte met hulle hele hart en hulle hele wese na te kom, deur die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boekrol geskryf is, gestand te doen. Die hele volk het tot die verbond toegetree.
2 KONINGS 23:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die koning het gestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom versamel. En die koning het opgegaan na die huis van die HERE, en al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem saam met hom, en die priesters en die profete en die hele volk, klein en groot, en hy het gelees in hulle hoor al die woorde van die boek van die verbond wat in die huis van die HERE gevind is. En die koning het by 'n gedenksteen gaan staan en 'n verbond gesluit voor die aangesig van die HERE om agter die HERE aan te wandel en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge te onderhou met hulle hele hart en met hulle hele siel, om die woorde van hierdie verbond uit te voer wat is in hierdie boek geskryf. En die hele volk het by die verbond gestaan.
2 KONINGS 23:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe roep die koning al die leiers van Juda en Jerusalem bymekaar. Die koning het opgegaan na die HERE se tempel toe. Saam met hom het al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, asook die priesters en die profete, almal, klein en groot, gegaan. Daar het die koning die hele boek van die verbond wat in die tempel van die HERE gekry is, voorgelees. Die koning neem toe sy plek in langs die pilaar en het die verbond voor die HERE hernu. Hy het onderneem om die HERE te volg deur al sy voorskrifte, bepalings en gebooie met hart en siel te gehoorsaam. So het hy al die voorwaardes van hierdie verbond soos dit in die boekrol geskryf was, bekragtig. Die hele volk het hulle ook tot die verbond verbind.