2 KONINGS 22:3-20

2 KONINGS 22:3-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die agtiende jaar van sy regering het Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja seun van Mesullam, na die huis van die Here toe gestuur met die opdrag: “Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld gereed kry wat ingebring is vir die huis van die Here, dié wat deur die drumpelwagte by die volk ingesamel is. Die geld moet oorhandig word aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg. Hulle moet daarmee die werkers betaal wat die huis van die Here moet herstel: die vakmanne, die bouwerkers, die messelaars; hulle moet hout en gekapte klip koop om die tempel te herstel. Daar hoef nie van hulle rekenskap gevra te word van die geld wat aan hulle oorhandig word nie, want hulle is betroubaar.” Die hoëpriester Gilkija sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die huis van die Here gekry.” Hy het die wetboek aan Safan oorhandig, en dié het dit gelees en by die koning verslag gaan doen: “U amptenare het die geld wat hiervoor in die tempel beskikbaar was, uitgetel en dit oorhandig aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg.” Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan. Toe die koning hoor wat die wetboek sê, het hy sy klere geskeur en opdrag gegee aan die priester Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja die hoofamptenaar van die koning: “Gaan raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van hierdie boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die eise van hierdie boek en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat daarin staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat teen ons gaan ontvlam, groot.” Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel, en sy het geantwoord: “So sê die Here die God van Israel: Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die oordele in die boek wat die koning van Juda gelees het, want hulle het My verlaat. Hulle het offers gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn ontvlam teen hierdie plek, die vlam sal nie geblus word nie. Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy jou klere geskeur en gehuil het voor My, en dat jy berou getoon het voor My, die Here, toe jy hoor wat Ek sê oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat verwoesting en straf oor hulle kom, sê die Here. Daarom sal Ek jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek bring, self beleef nie.”

2 KONINGS 22:3-20 Bybel vir almal (ABA)

In die agtiende jaar nadat Josia koning geword het, het hy sy sekretaris Safan seun van Asalja seun van Mesullam na die tempel gestuur en hy het vir Safan gesê: “Jy moet na die hoëpriester Gilkija toe gaan en vir hom sê hy moet die geld laat tel wat die mense gebring het en wat hulle vir die wagte by die deure van die tempel gegee het. Daarna moet hy die geld gee vir die voormanne wat die werk by die tempel moet laat doen, en hulle moet die geld gee vir die mense wat die tempel moet regmaak: die ambagsmanne en die bouers en die messelaars. Hulle moet ook gekapte klip koop om die tempel reg te maak. Maar Gilkija weet die werkers is eerlik, daarom moet hy vir die werkers sê hulle moenie kom sê wat hulle met die geld gedoen het nie.” Die hoëpriester het vir Safan gesê hy het in die tempel 'n boek gekry. In die boek was daar wette geskryf. Die hoëpriester het die boek vir Safan gegee, en Safan het dit gelees. Safan het teruggegaan na die koning toe en hy het vir hom gaan sê wat gebeur het. Hy het vir die koning gesê: “Die priesters het die geld uitgehaal wat in die tempel is, en hulle het dit gegee vir die voormanne wat die werk by die tempel moet laat doen. Die hoëpriester Gilkija het hierdie boek vir my gegee.” Safan het die boek vir die koning gelees. Toe die koning hoor wat daar in die boek geskryf is, het hy sy klere geskeur, en hy het gepraat met die hoëpriester Gilkija en met Agikam seun van Safan en met Akbor seun van Miga en met die sekretaris Safan en met Asaja, die hoof-amptenaar van die koning. Hy het vir hulle gesê: “Ek en die volk, al die mense van Juda, stuur julle om te gaan vra wat sê die Here oor die dinge wat geskryf is in hierdie boek wat hulle in die tempel gekry het. Ek dink die Here is baie kwaad vir ons omdat ons voorvaders nie gedoen het wat in hierdie boek oor ons geskryf is nie.” Die priester Gilkija, Agikam, Akbor, Safan en Asaja het toe na die profeet Gulda toe gegaan. Gulda was getroud met Sallum seun van Tikwa seun van Gargas. Gulda se man het die klere in die klerekamer van die paleis opgepas en hulle het gewoon in die nuwe deel van Jerusalem. Gilkija en die ander mans het met haar gepraat, en sy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Julle moet vir die man wat julle gestuur het, gaan sê die Here sê: Ek sal dit sleg laat gaan met hierdie plek en met die mense wat hier woon. Alles sal gebeur wat geskryf is in die boek wat die koning gelees het. Ek sal dit doen omdat hulle weggegaan het van My en omdat hulle wierook gebrand het vir ander gode. Ek het kwaad geword oor al die dinge wat hulle gedoen het. Ek sal hierdie plek straf en Ek sal nie ophou nie. Die koning van Juda het vir julle gestuur om te vra wat die Here sê. Julle moet vir die koning gaan sê: Ek, die Here, het gesien dat jy hartseer en ontsteld geword het en dat jy jou voor My verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek gesê het. Ek het gesê hier sal nie meer mense woon nie en Ek sal die plek laat verwoes. Ek het gesien dat jy jou klere geskeur het en Ek het gehoor hoe jy huil. Daarom sal dit goed gaan met jou totdat Ek jou laat sterf en jy begrawe is. Jy sal nie self sien wanneer Ek dit sleg laat gaan met hierdie plek nie.” Gilkija en die ander mans het vir die koning gaan sê wat die profeet gesê het.

2 KONINGS 22:3-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En in die agttiende jaar van koning Josía het die koning Safan, die skrywer, die seun van Asália, die seun van Mesúllam, in die huis van die HERE gestuur en gesê: Gaan op na Hilkía, die hoëpriester, en laat hy die geld optel wat in die huis van die HERE gebring is, wat die drumpelwagters versamel het uit die volk, en laat hulle dit oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat aangestel is oor die huis van die HERE, sodat hulle dit kan gee aan die wat die werk doen, wat in die huis van die HERE is om die bouvallige plekke van die huis te herstel, aan die skrynwerkers en bouers en messelaars, en om hout en gekapte klippe te koop om die huis te herstel. Maar daar is nie met hulle afgereken oor die geld wat in hulle hand gegee is nie, want hulle het met getrouheid gehandel. Toe sê die hoëpriester Hilkía vir Safan, die skrywer: Ek het die wetboek in die huis van die HERE gevind; en Hilkía het die boek aan Safan gegee, en hy het dit gelees. Daarna het Safan, die skrywer, by die koning gekom en die koning antwoord gebring en gesê: U dienaars het die geld uitgeskud wat in die huis te vinde was, en dit oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat aangestel is oor die huis van die HERE. Daarop gee Safan, die skrywer, die koning te kenne en sê: Die priester Hilkía het my 'n boek gegee. En Safan het dit aan die koning voorgelees. En toe die koning die woorde van die wetboek hoor, het hy sy klere geskeur; en die koning het bevel gegee aan Hilkía, die priester, en Ahíkam, die seun van Safan, en Agbor, die seun van Migája, en Safan, die skrywer, en Asája, die dienaar van die koning, en gesê: Gaan raadpleeg die HERE vir my en vir die volk en vir die hele Juda oor die woorde van hierdie boek wat gevind is; want die grimmigheid van die HERE is groot wat teen ons ontvlam het, omdat ons vaders nie geluister het na die woorde van hierdie boek om te handel volgens alles wat ons voorgeskrywe is nie. Toe gaan die priester Hilkía en Ahíkam en Agbor en Safan en Asája na die profetes Hulda, die vrou van Sallum, die seun van Tikwa, die seun van Harhas, die klerebewaarder — sy het in Jerusalem in die Nuwe Stad gewoon — en hulle het met haar gespreek. En sy sê aan hulle: So spreek die HERE, die God van Israel: Sê aan die man wat julle na my gestuur het — so spreek die HERE: Kyk, Ek bring 'n onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die woorde van die boek wat die koning van Juda gelees het; omdat hulle My verlaat en vir ander gode offerrook laat opgaan het, om My met al hul handewerk te terg; daarom sal my grimmigheid ontvlam teen hierdie plek en nie uitgeblus word nie. Maar aan die koning van Juda wat julle stuur om die HERE te raadpleeg, aan hom moet julle só sê: So spreek die HERE, die God van Israel: Wat die woorde betref wat jy gehoor het — omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van die HERE verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners gespreek het, dat hulle 'n voorwerp van verbasing en vervloeking sal word, en omdat jy jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ék ook verhoor, spreek die HERE. Daarom, kyk, Ek sal jou by jou vaders versamel, en jy sal met vrede in jou graf versamel word, en jou oë sal al die onheil nie aansien wat Ek oor hierdie plek bring nie. En hulle het die koning antwoord gebring.

2 KONINGS 22:3-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die agtiende jaar van sy regering het Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja seun van Mesullam, na die huis van die Here toe gestuur met die opdrag: “Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld gereed kry wat ingebring is vir die huis van die Here, dié wat deur die drumpelwagte by die volk ingesamel is. Die geld moet oorhandig word aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg. Hulle moet daarmee die werkers betaal wat die huis van die Here moet herstel: die vakmanne, die bouwerkers, die messelaars; hulle moet hout en gekapte klip koop om die tempel te herstel. Daar hoef nie van hulle rekenskap gevra te word van die geld wat aan hulle oorhandig word nie, want hulle is betroubaar.” Die hoëpriester Gilkija sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die huis van die Here gekry.” Hy het die wetboek aan Safan oorhandig, en dié het dit gelees en by die koning verslag gaan doen: “U amptenare het die geld wat hiervoor in die tempel beskikbaar was, uitgetel en dit oorhandig aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg.” Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan. Toe die koning hoor wat die wetboek sê, het hy sy klere geskeur en opdrag gegee aan die priester Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja die hoofamptenaar van die koning: “Gaan raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van hierdie boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die eise van hierdie boek en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat daarin staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat teen ons gaan ontvlam, groot.” Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel, en sy het geantwoord: “So sê die Here die God van Israel: Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die oordele in die boek wat die koning van Juda gelees het, want hulle het My verlaat. Hulle het offers gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn ontvlam teen hierdie plek, die vlam sal nie geblus word nie. Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy jou klere geskeur en gehuil het voor My, en dat jy berou getoon het voor My, die Here, toe jy hoor wat Ek sê oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat verwoesting en straf oor hulle kom, sê die Here. Daarom sal Ek jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek bring, self beleef nie.”

2 KONINGS 22:3-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die agttiende regeringsjaar van koning Josia het die koning vir Safan, seun van Asalja, seun van Mesullam, die sekretaris, na die huis van die HERE gestuur met die opdrag: “Gaan op na Gilkija, die hoëpriester, en laat hy die geld gereedkry wat in die huis van die HERE ingebring is, die geld wat die deurwagters by die volk ingesamel het. Hulle moet dit oorhandig aan die voormanne wat aangestel is by die huis van die HERE, sodat hulle dit op hulle beurt vir die manne kan gee wat die werk doen, dié wat in die huis van die HERE is om die bouvallige plekke in die •tempel te herstel, aan die skrynwerkers, die bouers en die messelaars, om hout en gekapte klip te koop vir die herstel van die tempel.” Daar is egter nie van hulle rekenskap geëis oor die geld wat aan hulle oorhandig is nie, want hulle was betroubaar in hulle werk. Gilkija, die hoëpriester, sê toe vir Safan, die sekretaris: “Dié •boekrol met die wet het ek in die huis van die HERE gevind.” Gilkija het die boekrol vir Safan gegee, en hy het dit gelees. Toe Safan, die sekretaris, by die koning kom, het hy aan die koning verslag gedoen en gesê: “U dienaars het die geld wat in die tempel gevind is, uitgeskud en dit oorhandig aan die werksmense wat aangestel is by die huis van die HERE.” Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: “Hier is 'n boekrol wat Gilkija, die priester, vir my gegee het.” Safan lees dit toe vir die koning. Toe die koning die woorde van die boekrol met die wet hoor, het hy sy klere geskeur. Die koning het Gilkija, die priester, en ook Agikam, seun van Safan, Agbor, seun van Miga, Safan, die sekretaris, en Asaja, die koning se dienaar, hierdie opdrag gegee: “Gaan raadpleeg die HERE namens my en die volk en die hele Juda oor die woorde van hierdie boekrol wat gevind is, want die HERE se woede wat teen ons ontvlam het, is groot, omdat ons voorouers nie gehoorsaam was aan die woorde van hierdie boekrol deur nie op te tree ooreenkomstig alles wat daarop geskryf is nie.” Gilkija, die priester, Agikam, Agbor, Safan en Asaja het toe na Gulda, die profetes, gegaan. Sy was die vrou van Sallum, seun van Tikwa, seun van Gargas, die toesighouer oor die priesterklere. Sy het in Jerusalem, in die nuwe stadsdeel gebly. Hulle het met haar gaan praat, en sy het vir hulle gesê: “So sê die HERE, die God van Israel, ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het, so sê die HERE: “Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek en sy inwoners – al die woorde van die boekrol wat die koning van Juda gelees het – omdat hulle My verlaat het, en vir ander gode offers verbrand en My gevolglik uitgetart het met al hulle handewerk. My woede het teen hierdie plek ontvlam en dit sal nie geblus word nie.” ’ En vir die koning van Juda, wat julle gestuur het om die HERE te raadpleeg, vir hom moet julle so sê, ‘So sê die HERE, die God van Israel: “Wat die woorde betref wat jy gehoor het – omdat jou hart sag is, en jy jouself voor die HERE verootmoedig het toe jy gehoor het wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners gesê het, dat hulle 'n skrikbeeld en vervloeking sal word, en omdat jy jou klere geskeur en voor My gehuil het, sal Ek ook luister,” is die uitspraak van die HERE. “ Daarom, kyk, Ek gaan jou met jou voorouers verenig; jy sal in vrede in jou graf met hulle verenig word, en jou oë sal nie al die onheil sien wat Ek oor hierdie plek gaan bring nie.” ’ ” Hulle het toe aan die koning verslag gedoen.

2 KONINGS 22:3-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die agtiende jaar van koning Josia het die koning Safan, die seun van Asalja, die seun van Mesullam, die skrywer, na die huis van die HERE gestuur om te sê: Gaan op na die hoëpriester Hilkía, dat hy die silwer kan optel wat in die huis van die HERE gebring word, wat die deurwagters van die volk bymekaargemaak het. En laat hulle dit gee in die hand van die doeners van die werk wat toesig oor die huis van die HERE het; en laat hulle dit gee aan die doeners van die werk wat in die huis van die HERE is, om die skeure te herstel van die huis, aan skrynwerkers en bouers en messelaars, en om hout en gekapte klip te koop om die huis te herstel. Maar van die geld wat in hulle hand gegee is, is daar nie met hulle gereken nie, omdat hulle getrou gehandel het. Toe sê die hoëpriester Hilkía aan die skrywer Safan: Ek het die wetboek in die huis van die HERE gevind. En Hilkía het die boek aan Safan gegee, en hy het dit gelees. En Safan, die skrywer, het na die koning gekom en die koning laat weet en gesê: U dienaars het die geld bymekaargemaak wat in die huis gevind is, en dit oorgegee in die hand van die wat die werk doen wat toesig hou van die huis van die HERE. En Safan, die skrywer, het die koning te kenne gegee en gesê: Die priester Hilkía het vir my 'n boek gegee. En Safan het dit voor die koning gelees. En toe die koning die woorde van die wetboek hoor, het hy sy klere geskeur. En die koning het die priester Hilkía en Ahikam, die seun van Safan, en Akbor, die seun van Migaja, en Safan, die skrywer, en Asaja, die dienaar van die koning, bevel gegee en gesê: Gaan julle, vra die HERE vir my en vir die volk en vir die hele Juda oor die woorde van hierdie boek wat gevind word; want groot is die toorn van die HERE wat teen ons ontvlam, omdat ons vaders nie geluister het nie en na die woorde van hierdie boek, om te doen volgens alles wat oor ons geskrywe is. Toe gaan die priester Hilkía en Ahikam en Akbor en Safan en Asája na die profetes Hulda, die vrou van Sallum, die seun van Tikwa, die seun van Harhas, die klerebewaarder; (nou het sy in Jerusalem in die kollege gewoon;) en hulle het met haar gepraat. Toe sê sy vir hulle: So spreek die HERE, die God van Israel: Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: So sê die HERE: Kyk, Ek bring onheil oor hierdie plek en oor die inwoners daarvan, al die woorde van die boek wat die koning van Juda gelees het. Omdat hulle My verlaat het en vir ander gode rook laat opgaan het, om My te terg met al die werke van hulle hande; daarom sal my toorn teen hierdie plek ontvlam en nie geblus word nie. Maar aan die koning van Juda wat julle gestuur het om die HERE te raadpleeg, so moet julle vir hom sê: So spreek die HERE, die God van Israel: Aangaande die woorde wat jy gehoor het; Omdat jou hart teer was en jy jou voor die aangesig van die HERE verneder het, toe jy gehoor het wat Ek teen hierdie plek en teen die inwoners daarvan gespreek het, dat hulle 'n wildernis en 'n vloek sou word, en jou klere geskeur en voor die oë geween het en ek; Ek het jou ook verhoor, spreek die HERE. Kyk daarom, Ek sal jou by jou vaders versamel, en jy sal in vrede in jou graf versamel word; en jou oë sal nie al die onheil sien wat Ek oor hierdie plek sal bring nie. En hulle het die koning weer laat weet.

2 KONINGS 22:3-20 Die Boodskap (DB)

In die agtiende jaar wat Josia koning was, het hy die staatsekretaris Safan na die tempel toe gestuur. Hy het vir hom gesê: “Gaan sê vir die hoëpriester Gilkija hy moet al die geld tel wat die mense tempel toe gebring het en wat die deurwagte bymekaargemaak het. Die geld moet na die kontrakteurs gaan wat moet sorg dat die tempelgebou herstel word. Hulle moet die geld gebruik om die vakmanne te betaal wat die herstelwerk doen. Hulle sal skrynwerkers, bouers en messelaars moet huur en hout en gekapte bouklippe moet koop om die tempel te herstel. Dis nie nodig om boek te hou van die geld wat vir die kontrakteurs gegee word nie, want hulle is betroubare mense.” Toe Safan daar by hom kom, sê die hoëpriester Gilkija vir hom: “Ek het die wetboek in die Here se tempel gekry!” Gilkija het toe die boekrol vir Safan gegee en hy het dit gelees. Daarna is Safan na die koning toe terug om verslag te doen: “Ons het die geld vir die kontrakteurs gegee om met die herstelwerk aan die tempel te begin. Maar daar is nog iets, U Majesteit. Die hoëpriester het hierdie boekrol vir my gegee.” Safan het dit toe vir Josia voorgelees. Toe Josia hoor wat in die wetboek staan, het hy van ontsteltenis sy klere geskeur. Hy het dadelik ’n afvaardiging saamgestel wat uit Gilkija die hoëpriester en vier senior amptenare bestaan het. Hy het vir hulle gesê: “Gaan praat namens my en die hele volk met die Here oor wat in hierdie boek staan. Ons voorouers het hulle nie aan die boek se inhoud gesteur nie. Die Here moet woedend wees vir ons omdat ons nie gedoen het wat in die boek staan nie.” Hulle is toe na die profetes Gulda toe wat in die nuwe deel van Jerusalem gewoon het. Haar man was Sallum, wat verantwoordelik was vir die klerestoor by die tempel. Gilkija-hulle het haar vertel hoekom hulle daar was. Sy het hulle geantwoord: “Hier is ’n boodskap van die Here vir die man wat julle gestuur het. Gaan sê vir hom die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan die stad en sy mense vernietig, net soos dit in die boek staan wat julle gelees het. Hulle het opgehou om My te vereer en ander goed begin dien wat glad nie gode is nie. Ek is woedend daaroor. My woede is soos ’n vuur wat nie meer geblus kan word nie.’” Sy het egter ook gesê: “Hier is ’n persoonlike boodskap van die Here af vir Josia, na aanleiding van die boodskap wat ek nou net vir julle gegee het. Die Here sê vir hom: ‘Ek het gesien hoe jy op die boodskap van die wetboek gereageer het, hoe ontsteld jy was en hoe jy jou klere geskeur en voor My gehuil het toe jy sien watter oordeel die stad en sy mense gaan tref. Omdat jy jou voor My verneder het en jammer is oor alles, sal Ek sorg dat die oordeel jóú nie tref nie. Jy sal gewoonweg sterf en in vrede begrawe word, sonder om die oordeel oor Jerusalem te beleef.’” Gilkija-hulle het die boodskap vir Josia gebring.

2 KONINGS 22:3-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die agtiende jaar van sy regering het koning Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja en kleinseun van Mesullam, na die tempel van die HERE toe gestuur. Hy het hom beveel: “Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld tel wat die poortwagters ingesamel het by die mense wat die HERE se tempel besoek het. Gee hierdie geld aan die toesighouers van die werk aan die HERE se tempel. Hulle moet dit gebruik om die werkers wat die tempel herstel, te betaal. Dit is vir die skrynwerkers, bouers en messelaars en vir die aankoop van hout en gekapte klip om die tempel te herstel. Die toesighouers hoef nie rekenskap te gee van die geld wat hulle ontvang nie, want hulle is betroubaar.” Gilkija die hoëpriester sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die tempel van die HERE gekry!” Gilkija het die wetboek vir Safan gegee en hy het dit gelees. Safan het by die koning gaan verslag doen: “U amptenare het die geld wat by die tempel van die HERE ingesamel is aan die werkers en toesighouers by die tempel gegee.” Safan sê ook vir die koning: “Die priester Gilkija het vir my ’n boekrol gegee.” Safan lees toe vir die koning wat daarin staan. Toe die koning hoor wat in die wetboek geskryf staan, skeur hy sy klere. Hy beveel die priester Gilkija, Agikam seun van Safan, Akbor seun van Miga, die staatsekretaris Safan en die koning se hoofamptenaar Asaja: “Gaan en raadpleeg die HERE namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor dit wat geskryf is in die boekrol wat gevind is. Die HERE se toorn het teen ons ontvlam omdat ons voorvaders ongehoorsaam was aan die voorskrifte in hierdie boekrol. Ons het nie opgetree volgens wat in die boekrol van ons vereis word nie.” Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja gaan toe na die nuwe deel van Jerusalem om die profetes Gulda te raadpleeg. Sy was die vrou van Sallum seun van Tikwa en kleinseun van Gasra, die klerebewaarder. Hulle het haar ingelig en sy antwoord hulle: “Dit is wat die HERE, die God van Israel, sê: ‘Gaan en sê vir die man wat vir julle gestuur het. Dit is wat die HERE sê: Ek bring onheil oor hierdie stad en sy inwoners, net soos dit in die boekrol staan wat die koning van Juda gelees het. Want my volk het My verlaat deur aan ander gode offers te bring en My uit te tart met al die maaksels van hulle eie hande. My toorn brand teen hierdie plek en dit sal nie geblus word nie. “‘Maar gaan na die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die HERE te raadpleeg en sê vir hom: Dit is wat die HERE, die God van Israel, sê aangaande die boodskap wat jy so pas gehoor het: Jy was berouvol en het jouself voor die HERE verneder toe jy hoor wat Ek gesê het oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat die land ontvolk en vervloek sal word. Jy het jou klere geskeur en voor My gehuil as teken van berou. Ek het jou inderdaad gehoor, sê die HERE. Daarom sal Ek jou in vrede laat sterf en in vrede laat begrawe word. Jy sal nie al die onheil wat Ek oor hierdie plek gaan bring, self beleef nie.’” Hulle het toe hierdie boodskap aan die koning oorgedra.