2 KONINGS 20:1-21

2 KONINGS 20:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Koning Hiskia het in daardie tyd baie siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou familie sê wat jy wil hê hulle moet doen, want jy sal sterf, jy sal nie gesond word nie.” Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en hy het tot die Here gebid. Hy het gesê: “Ag, Here, dink asseblief daaraan dat ek gehoorsaam was aan U met my hele hart en dat ek altyd gedoen het wat U wil hê.” Hiskia het hard gehuil. Voordat Jesaja verby die oop stuk grond binne-in die stad geloop het, het die Here met hom gepraat. Die Here het vir hom gesê: “Jy moet omdraai en jy moet vir Hiskia, die koning van my volk, gaan sê: Ek, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en Ek het jou trane gesien. Ek sal jou gesond maak. Jy sal oormôre weer na die tempel kan gaan. Ek sal jou nog 15 jaar laat lewe. Ek sal jou en hierdie stad red van die koning van Assirië, Ek sal hierdie stad beskerm vir Myself en vir my dienaar Dawid.” Jesaja het toe gesê hulle moet 'n pleister van vye maak en hulle moet dit op die koning se seerplek sit sodat dit gesond kan word. Hiskia het gevra hoe hy sal weet dat die Here hom gesond sal maak sodat hy oormôre weer na die tempel kan gaan. Jesaja het gesê: “Die Here sal doen wat Hy gesê het, en dit sal vir jou die teken wees: Die son is al klaar laag, en die skaduwee op die trappe wys dat dit laat is. Moet die Here die skaduwee tien trappe vorentoe laat gaan of moet Hy dit tien trappe terug laat gaan?” Hiskia het gesê: “Die skaduwee kan maklik tien trappe vorentoe gaan. Nee, die skaduwee moet tien trappe teruggaan.” Die profeet Jesaja het tot die Here gebid, en die Here het die skaduwee tien trappe terug laat gaan op die trappe van koning Agas. Dit het gewys dat die son weer hoog in die lug is. Merodak-Baladan seun van Baladan was die koning van Babel. Hy het gehoor dat koning Hiskia siek is. Hy het eendag vir Hiskia briewe en presente gestuur. Hiskia het geluister na die boodskappers en hy het vir hulle alles gewys wat hy in sy stoorkamers gebêre het: die silwer en die goud, die balsem en die skoon olyf-olie, en ook sy hele wapenkamer, ja, alles wat in sy stoorkamers was. Hiskia het vir die boodskappers alles gewys wat in sy paleis en in sy hele land was. Die profeet Jesaja het na koning Hiskia toe gekom en hy het vir die koning gevra: “Wat het daardie manne gesê? Van watter land het hulle gekom?” Hiskia het vir hom gesê: “Hulle het van 'n ver land na my toe gekom, van die land Babel.” Jesaja het gevra: “Wat het hulle in jou paleis gesien?” Hiskia het gesê: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Ek het vir hulle alles gewys wat in my stoorkamers is.” Jesaja het vir Hiskia gesê: “Jy moet luister na wat die Here sê: Die soldate van Babel sal eendag alles kom vat wat in jou paleis is, alles wat jou voorvaders en jy bymekaargemaak het. Daar sal niks oorbly nie. Dit is wat die Here sê. En hulle sal party van jou eie seuns vat om in die koning van Babel se paleis te werk.” Hiskia het vir Jesaja gesê: “Ek het gehoor wat jy sê. Wat die Here gesê het, is goed.” Hiskia het ook gesê: “Ek hoop ons sal vrede hê en veilig wees so lank soos ek nog lewe.” Al die ander dinge wat Hiskia gedoen het, al die belangrike dinge wat hy gedoen het, en die dam en die watertonnel wat hy laat bou het toe hy die water in die stad gebring het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Hiskia het gesterf, en sy seun Manasse het koning geword ná hom.

2 KONINGS 20:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en Jesaja, die seun van Amos, die profeet, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie. Toe draai hy sy gesig na die muur, en hy het gebid tot die HERE en gesê: Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met 'n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween. En Jesaja het die middelste voorhof nog nie uitgegaan nie of die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: Draai om en sê vir Hiskía, die vors van my volk: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak; op die derde dag sal jy opgaan na die huis van die HERE. En Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg en jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Assirië red, en ook hierdie stad beskut ter wille van My en my kneg Dawid. Verder sê Jesaja: Bring 'n vyekoek; en hulle het dit gaan haal en op die sweer gesit, en hy het gesond geword. Hiskía het vir Jesaja gevra: Wat is die teken dat die HERE my gesond sal maak, en dat ek op die derde dag sal opgaan na die huis van die HERE? En Jesaja antwoord: Dit sal vir jou die teken van die kant van die HERE wees dat die HERE die woord sal volbring wat Hy gespreek het: Moet die skaduwee tien grade vooruit gaan, of moet dit tien grade agteruit gaan? Toe sê Jehiskía: Dit is maklik vir die skaduwee om tien grade te daal; nee, maar laat die skaduwee teruggaan, tien grade agteruit. En Jesaja, die profeet, het die HERE aangeroep, en Hy het die skaduwee op die grade waarlangs dit op die grade van Agas se sonnewyser gedaal het, laat teruggaan, tien grade agteruit. In dié tyd het Beródag-Báladan, die seun van Báladan, die koning van Babel, 'n brief en 'n geskenk aan Hiskía gestuur; want hy het gehoor dat Hiskía siek was. En Hiskía het na hulle geluister en hulle sy hele skathuis laat sien, die silwer en die goud en die speserye en die kosbare olie en sy wapenhuis en alles wat in sy skatkamers te vinde was; daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hiskía hulle nie laat sien het nie. Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskía en sê vir hom: Wat het hierdie manne gesê, en waarvandaan het hulle na u gekom? En Hiskía antwoord: Uit 'n ver land het hulle gekom, uit Babel. En hy sê: Wat het hulle in u huis gesien? En Hiskía antwoord: Alles wat in my huis is, het hulle gesien; daar is niks in my skatkamers wat ek hulle nie laat sien het nie. En Jesaja sê vir Hiskía: Hoor die woord van die HERE! Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders tot vandag toe opgehoop het, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die HERE. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel. Toe sê Hiskía vir Jesaja: Die woord van die HERE wat u gespreek het, is goed. Ook sê hy: Waarom dan nie, as daar maar vrede en bestendigheid in my dae sal wees! En die verdere geskiedenis van Hiskía en al sy magtige dade, en hoe hy die dam en die watervoor gemaak en die water in die stad gebring het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En Hiskía het ontslaap met sy vaders, en sy seun Manasse het in sy plek koning geword.

2 KONINGS 20:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.” Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil. Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê: “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan. Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.” Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword. Toe vra Hiskia vir Jesaja: “Wat is die teken dat die Here my sal gesond maak en dat ek oormôre weer na die huis van die Here toe sal gaan?” Jesaja het geantwoord: “Die Here gee jou die volgende teken dat Hy sal doen wat Hy gesê het: moet die skaduwee tien trappe vorentoe gaan of tien terugkom?” Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien trappe vorentoe te skuif. Nee, laat dit tien trappe terugkom.” Die profeet Jesaja het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas afgesak het, tien trappe laat terugskuif. In dié tyd het koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia toe gestuur omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte. Hiskia het die gesante te woord gestaan en hulle daarna al sy skatkamers gewys met die silwer, die goud, die kruie en die geurige olie, sy wapenkamer en alles wat in sy voorraadkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy koninkryk wat Hiskia die gesante nie laat sien het nie. Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra vir hom: “Wat het daardie mense gesê en waarvandaan kom hulle?” Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land, uit Babel.” “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja. En Hiskia antwoord: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Daar is niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie.” Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister wat sê die Here: Daar kom 'n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here. Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.” Hiskia het vir Jesaja gesê: “Die woord van die Here wat jy aan my oorgedra het, is goed.” Hiskia het bygevoeg: “As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is!” Die ander verhale oor Hiskia, oor sy moedige optrede en oor die dam en die kanaal wat hy gebou het om die water in die stad in te bring, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Hiskia is oorlede, en sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 20:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In dié tyd het Hiskia dodelik siek geword. Jesaja, seun van Amos, die profeet, het by hom aangekom en vir hom gesê: “So sê die HERE, ‘Gee die laaste opdragte oor jou huisgesin, want jy gaan sterf, jy sal nie leef nie.’ ” Hiskia het sy gesig na die muur gedraai, en tot die HERE gebid en gesê: “Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor U geleef het in getrouheid en met 'n onverdeelde hart, dat ek gedoen het wat goed is in u oë. ” Hiskia het toe bitterlik gehuil. Jesaja was nog nie by die middelste voorhof uit nie, toe die woord van die HERE tot hom kom en sê: “Draai om en sê vir Hiskia, die leier van my volk, ‘So sê die HERE, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek gaan jou gesond maak. Op die derde dag sal jy weer opgaan na die huis van die HERE. Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg, en jou en hierdie stad sal Ek uit die greep van die koning van Assirië red. Ek sal hierdie stad afskerm om my ontwil en ter wille van Dawid, my dienskneg. ” ’ ” Toe sê Jesaja: “Bring saamgeperste droë vye!” Hulle het dit gebring en op die sweer gesit; en hy het bly leef. Daarop vra Hiskia vir Jesaja: “Wat is die teken dat die HERE my gesond sal maak, en dat ek op die derde dag sal opgaan na die huis van die HERE?” Jesaja het geantwoord: “Dit sal vir jou van die HERE af die teken wees dat die HERE die woord wat Hy gespreek het, sal uitvoer: Moet die skaduwee tien eenhede vorentoe skuif, of moet dit tien eenhede terugskuif?” Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien eenhede vooruit te skuif. Nee, die skaduwee moet eerder tien eenhede terugskuif.” Toe het Jesaja, die profeet, die HERE aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds op die sonwyser van Agas afgesak het, tien eenhede laat terugskuif. In daardie tyd het Merodag-Baladan, seun van Baladan, die koning van Babilonië, briewe en 'n geskenk na Hiskia gestuur, want hy het gehoor dat Hiskia siek is. Hiskia het die boodskappers te woord gestaan en hulle sy hele skatkamer gewys – die silwer, die goud, die speserye en die kosbare olie – ook sy arsenaal en alles wat in sy voorraadkamers te vinde was. Daar was niks in sy paleis of in sy hele koninkryk wat Hiskia hulle nie gewys het nie. Jesaja, die profeet, het na koning Hiskia gekom en hom gevra: “Wat het hierdie manne gesê, en van waar af het hulle na jou toe gekom?” Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land het hulle gekom, uit Babilonië.” Jesaja vra toe: “Wat het hulle in jou paleis gesien?” Hiskia het geantwoord: “Alles wat in my paleis is, het hulle gesien. Daar is niks in my voorraadkamers wat ek nie vir hulle gewys het nie.” Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hoor die woord van die HERE, ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, weggedra sal word na Babel; daar sal niks oorbly nie,’ het die HERE gesê. ‘En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, en hulle sal paleisamptenare word in die paleis van die koning van Babilonië.’ ” Hiskia sê toe vir Jesaja: “Die woord van die HERE wat jy gespreek het, is goed.” Hy het gedink: Sal daar dan nie tog maar net vrede en bestendigheid in my tyd wees nie? Die verdere geskiedenis van Hiskia, al sy magtige dade, dat hy die dam en die tonnel gemaak, en die water na die stad gebring het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Hiskia het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Manasse het in sy plek koning geword.

2 KONINGS 20:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In daardie dae was Hiskia tot die dood toe siek. Toe kom die profeet Jesaja, die seun van Amos, na hom en sê vir hom: So spreek die HERE: Maak reg in jou huis; want jy sal sterwe en nie lewe nie. Toe draai hy sy aangesig na die muur en bid tot die HERE en sê: Ek smeek U, HERE, dink tog aan hoe ek voor U aangesig in waarheid en met 'n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskia het bitterlik gehuil. En voordat Jesaja in die middelste voorhof uitgegaan het, het die woord van die HERE tot hom gekom en gesê: Draai terug en sê vir Hiskía, die owerste van my volk: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek maak jou gesond; op die derde dag sal jy gaan op na die huis van die HERE. En Ek sal by jou dae vyftien jaar byvoeg; en Ek sal jou en hierdie stad red uit die hand van die koning van Assirië; en Ek sal hierdie stad beskut ter wille van My en ter wille van my kneg Dawid. En Jesaja sê: Neem 'n klomp vye. En hulle het geneem en dit op die sweer gesit, en hy het gesond geword. En Hiskía sê vir Jesaja: Wat sal die teken wees dat die HERE my sal genees en dat ek op die derde dag in die huis van die HERE sal opgaan? Toe sê Jesaja: Hierdie teken moet jy van die HERE hê, dat die HERE sal doen wat Hy gespreek het: sal die skaduwee tien grade vorentoe gaan of tien grade teruggaan? En Hiskia antwoord: Dit is 'n ligte ding vir die skaduwee om tien grade te daal; nee, maar laat die skaduwee tien grade agteruit gaan. En die profeet Jesaja het die HERE aangeroep, en Hy het die skaduwee tien grade agteruit gebring waarmee dit gedaal het in die wyserplaat van Agas. In dié tyd het Berodag-Bíladan, die seun van Baladan, die koning van Babel, briewe en geskenke aan Hiskia gestuur, want hy het gehoor dat Hiskia siek was. En Hiskía het na hulle geluister en hulle die hele huis van sy kosbare goed gewys, die silwer en die goud en die speserye en die kosbare salf en die hele huis van sy wapenrusting en alles wat in sy skatte gevind is en daar was niks in sy huis en in sy hele heerskappy wat Hiskía hulle nie laat sien het nie. Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskía en sê vir hom: Wat het hierdie manne gesê? en waarvandaan het hulle na jou gekom? En Hiskía sê: Hulle kom uit 'n ver land, uit Babel. En hy sê: Wat het hulle in jou huis gesien? En Hiskía antwoord: Al wat in my huis is, het hulle gesien; daar is niks onder my skatte wat ek dit nie laat sien het nie. En Jesaja sê vir Hiskia: Hoor die woord van die HERE. Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word; niks sal oorbly nie, spreek die HERE. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, moet hulle wegneem; en hulle sal eunugs wees in die paleis van die koning van Babel. Toe sê Hiskia vir Jesaja: Goed is die woord van die HERE wat jy gespreek het. En hy sê: Is dit nie goed as daar vrede en waarheid in my dae is nie? En die verdere geskiedenis van Hiskía en al sy magtige dade, en hoe hy 'n bad en 'n leiding gemaak en water in die stad ingebring het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En Hiskía het ontslaap met sy vaders, en sy seun Manasse het in sy plek geregeer.

2 KONINGS 20:1-21 Die Boodskap (DB)

In dié tyd het Hiskia baie ernstig siek geword. Die profeet Jesaja het hom gaan besoek en vir hom gesê: “Ek het vir jou ’n boodskap van die Here af. Hy sê jy moet jou sake in orde kry, want jy gaan nie weer gesond word nie.” Hiskia het op sy sy gedraai en na die muur gekyk. Toe het hy gebid: “Here, onthou tog dat ek altyd probeer doen het wat U wou hê.” Daarna het hy in trane uitgebars. Nog voordat Jesaja oor die middelste plein geloop het, het hy weer ’n boodskap van die Here gekry: “Gaan terug na Hiskia, my volk se leier, en sê vir hom: ‘Die Here, die God van Dawid, sê Hy het na jou gebed geluister en gesien hoe jy gehuil het. Hy sê: Ek het besluit om jou gesond te maak. Oormôre sal jy reeds weer tempel toe kan gaan. Ek sal jou nog vyftien jaar laat lewe en vir jou én vir Jerusalem beskerm teen die mag van die Assiriese koning. Ek doen dit om my eer te beskerm en ter wille van Dawid, wat vir My iemand baie spesiaal is.’” Jesaja vra toe: “Bring vir my saamgeperste droë vye.” Hulle het dit op die sweer gesit en Hiskia het gesond geword. Intussen het Hiskia vir Jesaja gevra: “Is daar ’n teken om te bevestig dat ek gesond sal word en weer tempel toe sal kan gaan?” Jesaja antwoord hom toe: “Ja, die Here het ’n teken gegee. Jy kan kies of die skaduwee op die trap tien trappe vorentoe of terug moet gaan.” Hiskia sê toe: “Die skaduwee beweeg die hele tyd vorentoe. Laat dit as ’n teken van die Here se belofte tien trappe terugbeweeg.” Jesaja het toe ernstig gebid en die Here het die skaduwee op die trappe wat Agas gebou het, tien trappe terug laat beweeg. Kort nadat Hiskia so siek was, het Merodag-Baladan, die koning van Babel, briewe en ’n geskenk na hom toe gestuur. Hy het gehoor van Hiskia se siekte en herstel. Hiskia het die afgevaardigdes hartlik ontvang en hulle in Jerusalem rondgewys. Hy het sy skatkamers vir hulle gewys, met al die goud en silwer, speserye en duur geurige olies daarin. Hy het die wapenstore en ander stoorkamers vir hulle gewys. Daar was eintlik niks wat hy nie vir hulle gewys het nie. Jesaja die profeet het toe na Hiskia toe gegaan en gevra wie die besoekers was en waarvandaan hulle gekom het. Hiskia het geantwoord: “Hulle kom uit die ver land, Babel.” “Nou wat het hulle alles in jou paleis gesien?” het Jesaja gevra. “Alles,” het Hiskia geantwoord, “daar is niks wat ek vir hulle weggesteek het nie.” Daarop sê Jesaja vir Hiskia: “Hier is ’n boodskap vir jou van die Here af: ‘Eendag sal dit gebeur dat al die skatte in jou paleis en alles wat die Judese konings voor jou versamel het, na Babel toe weggedra word. Niks sal hier oorbly nie. Jou eie seuns sal nog Babel toe geneem word om bediendes te word in die koning se paleis.’” Hiskia het Jesaja geantwoord: “Die boodskap van jou is reg so,” maar hy het by homself gedink: “Daar sal ten minste vrede en veiligheid wees so lank as wat ek leef.” Die res van Hiskia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Daar word ook vertel van die dam en watervoor wat hy laat bou het om water in die stad in te lei. Ná Hiskia se dood het sy seun, Manasse, in sy plek koning geword.

2 KONINGS 20:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het hom gaan besoek. Hy gee toe hierdie boodskap aan die koning: “Dit is wat die HERE sê: Kry jou sake in orde, want jy gaan sterf. Jy sal nie bly leef nie.” Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gedraai en tot die HERE gebid: “O HERE, onthou tog hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly en om dit te doen wat vir U reg is.” Daarna het Hiskia in trane uitgebars en bitterlik gehuil. Jesaja was skaars weg, toe sê die HERE vir hom: “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: ‘Dit is wat die HERE, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en jou trane gesien. Ek sal jou gesond maak. Oor drie dae sal jy uit die bed opstaan en na die tempel van die HERE toe gaan. Ek sal nog vyftien jaar by jou lewe voeg, en Ek sal jou en hierdie stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal die stad beskerm om my ontwil en ter wille van my dienaar Dawid.’” Toe sê Jesaja vir Hiskia se dienaars: “Gaan maak ’n pap van vye!” Hulle het dit gedoen, dit op die sweer gesit en Hiskia het daarna beter gevoel. Hiskia het vir Jesaja gesê: “Watter teken sal die HERE my gee om te bevestig dat Hy my sal gesond maak sodat ek oor drie dae weer in die tempel van die HERE kan ingaan?” Jesaja antwoord hom: “Dit is die teken wat die HERE vir jou gee om te bevestig dat Hy sal doen wat Hy beloof het: Wil jy hê dat die skaduwee tien trappe vorentoe moet gaan of tien trappe agteruit?” “Die skaduwee beweeg altyd vorentoe,” antwoord Hiskia. “Laat dit liewer agteruit gaan.” Die profeet Jesaja vra toe vir die HERE om dit te doen en die HERE het die skaduwee op die trappe van Agas tien trappe agteruit laat gaan. Kort hierna het Merodak-Baladan, seun van Baladan en koning van Babel, goeie wense en ’n geskenk aan Hiskia gestuur omdat hy verneem het dat Hiskia baie siek was. Hiskia het die gesante verwelkom en alles in sy skatkamers vir hulle gewys: die silwer, die goud, die speserye en die reukolies. Hy het hulle ook geneem om sy wapens en ander skatte te sien. Daar was niks in sy paleis of koninkryk wat Hiskia nie vir hulle gewys het nie. Daarna gaan die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra hom: “Wat wou hierdie manne hê? Waar kom hulle vandaan?” Hiskia antwoord hom: “Hulle kom van ’n ver land, van Babel af.” “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja. “Hulle het alles gesien,” antwoord Hiskia. “Ek het vir hulle alles gewys wat ek besit, al my skatte.” Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister na die boodskap van die HERE: Die tyd sal aanbreek wanneer alles wat jy besit, al die skatte wat jou voorgangers tot vandag toe versamel het, na Babel weggevoer sal word. Niks sal daarvan oorbly nie, sê die HERE. Sommige van jou nageslag sal in ballingskap weggevoer word. Hulle sal as ontmandes in die paleis van die koning van Babel diens doen.” Toe sê Hiskia vir Jesaja: “Hierdie boodskap wat jy van die HERE bring, is goed.” Maar die koning het gedink: “Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees.” Die ander gebeurtenisse tydens sy regering, sy dapper dade en hoe hy die dam gebou het en ’n kanaal wat die water in die stad ingebring het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. Toe Hiskia sterf, het sy seun Manasse hom opgevolg.