2 KONINGS 17:9-15
2 KONINGS 17:9-15 Die Boodskap (DB)
Die Israeliete het al die tyd in die geheim dinge gedoen wat die Here nie goedgekeur het nie. Hulle het: heidense heiligdomme gebou waar hulle ook al gebly het, van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad; op elke rantjie en onder al die groen bome klippilare en heilige Asjerapale ingeplant; net soos die mense wat voor hulle in die land gewoon het, offers by die heilige plekke gebrand (só het hulle die Here al hoe kwater gemaak vir hulle); vieslike afgode vereer, al het die Here uitdruklik gesê hulle mag dit nie doen nie. Die Here het Israel én Juda deur profete en spesiale boodskappers gewaarsku: “Julle moet ophou met julle verkeerde dinge en na My toe terugkom. Wees gehoorsaam aan die wette en reëls wat Ek reeds lank gelede aan julle voorouers gegee het. Ek het dit weer deur die profete direk vir julle gegee.” Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was net so hardkoppig soos hulle voorouers en het ook nie in die Here hulle God geglo nie. Hulle het: die Here se reëls verwerp; sy ooreenkoms met hulle voorouers verwerp; sy waarskuwings in die wind geslaan; nikswerd gode vereer en net so dwaas geword soos hulle; opgetree soos die volke rondom hulle, al het die Here hulle verbied om dit te doen.
2 KONINGS 17:9-15 Bybel vir almal (ABA)
en die mense van Israel het hulle God die Here gedien soos die ander volke hulle gode gedien het. Hulle het offer-plekke gebou by al hulle stede, klein en groot. Hulle het klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. Hulle het wierook gebrand by al die offer-plekke, hulle het gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke gevang en weggevat om plek te maak vir die mense van Israel. Maar die Israeliete het slegte dinge gedoen en hulle het die Here kwaad gemaak. Die Here het gesê hulle mag nie die afgode dien nie, maar hulle het dit gedoen. Die Here het al die profete en sieners gestuur om die mense van Israel en Juda te waarsku. Die Here het gesê: “Julle moet ophou om die slegte dinge te doen, julle moet gehoorsaam wees aan al my wette wat Ek vir julle voorvaders gegee het. Ek het dit vir julle laat weet toe Ek my dienaars die profete na julle toe gestuur het.” Maar die mense van Israel wou nie luister nie, hulle was hardkoppig soos hulle voorvaders. Hulle voorvaders het nie geglo dat die Here sal doen wat Hy sê nie. Hulle was ongehoorsaam aan sy wette en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Hulle het nie geluister toe Hy hulle gewaarsku het nie. Hulle het gode gedien wat vir hulle niks kon doen nie, en hulle, die mense van Israel, het self geword soos daardie gode. Die Here het gesê hulle moenie soos die ander volke doen nie, maar hulle het gedoen soos die ander volke.
2 KONINGS 17:9-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die kinders van Israel het heimlik volbring wat nie reg was teenoor die HERE hulle God nie; en hulle het vir hul hoogtes gebou in al hulle stede, van wagtoring af tot versterkte stad. En hulle het vir hul klippilare en heilige boomstamme opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En hulle het daar offerrook laat opgaan, op al die hoogtes, soos die nasies wat die HERE voor hulle uit weggevoer het, en verkeerde dinge gedoen om die HERE te terg. En hulle het die drekgode gedien waarvan die HERE vir hulle gesê het: Julle mag dit nie doen nie. En die HERE het Israel en Juda gewaarsku deur die diens van elke profeet en elke siener en gesê: Bekeer julle van jul verkeerde weë en onderhou my gebooie, my insettinge, volgens die hele wet wat Ek julle vaders beveel het, en wat Ek deur die diens van my diensknegte, die profete, vir julle gestuur het. Maar hulle het nie geluister nie en hul nek verhard soos die nek van hul vaders wat nie op die HERE hulle God vertrou het nie. En hulle het sy insettinge en sy verbond verwerp wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse waarmee Hy hulle gewaarsku het, en agter nietige afgode aan geloop en self nietig geword, en agter die nasies aan wat rondom hulle was, van wie die HERE hulle beveel het om nie soos hulle te maak nie.
2 KONINGS 17:9-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Israeliete het die Here hulle God dinge toegedig wat nie waar is nie en toe vir hulle hoogtes gebou oral waar hulle gewoon het, van plekke af waar net 'n wagtoring was, tot in die vestingstede. Hulle het klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë rant en onder elke groen boom. Op elke hoogte het hulle wierookoffers gebring net soos die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. Met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het hulle die Here uitgetart. Hulle het die stinkende afgode gedien wat die Here hulle uitdruklik verbied het. Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.” Maar hulle wou nie luister nie; hulle was net so hardkoppig soos hulle voorvaders wat ook nie op die Here hulle God vertrou het nie. Hulle het sy voorskrifte en sy verbond verwerp wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Sy waarskuwings het hulle in die wind geslaan, hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword. Hulle het geleef net soos die heidennasies om hulle, iets wat die Here hulle beveel het om nie te doen nie.
2 KONINGS 17:9-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Israeliete het dinge versin oor die HERE hulle God wat nie reg is nie. Hulle het vir hulle offerhoogtes gebou in al hulle dorpe, of dit nou by 'n wagtoring of by 'n versterkte stad was. Hulle het gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. Hulle het daar op al die offerhoogtes offers verbrand, net soos die nasies wat die HERE in ballingskap voor hulle uit verdryf het. Hulle het verkeerde dinge gedoen en so die HERE uitgetart. Hulle het die afgodsbeelde gedien waarvan die HERE vir hulle gesê het: “Julle mag so iets nie doen nie!” Die HERE het Israel en Juda by monde van elkeen van sy profete, deur elke siener, gewaarsku: “Draai terug van julle verkeerde paaie af! Kom my gebooie en vaste voorskrifte na, volgens die hele wet wat Ek julle voorouers beveel het en wat Ek by monde van my diensknegte, die profete, aan julle voorgehou het.” Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was so hardnekkig soos hulle voorouers, wat hulle vertroue nie gestel het in die HERE hulle God nie. Hulle het sy vaste voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorouers gesluit het, verwerp, ja, sy bepalings waardeur Hy hulle gewaarsku het. Hulle het agter nuttelose afgode aangeloop en self nutteloos geword. Hulle het die nasies wat rondom hulle was, gevolg – nasies oor wie die HERE hulle opdrag gegee het om nie soos hulle te maak nie.
2 KONINGS 17:9-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die kinders van Israel het in die geheim gedoen wat nie reg was teen die HERE hulle God nie, en hulle het vir hulle hoogtes gebou in al hulle stede, van die wagtoring af tot by die omheinde stad. En hulle het vir hulle beelde en heilige boomstamme opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En daar het hulle rook laat opgaan op al die hoogtes, net soos die nasies gedoen het wat die HERE voor hulle uit weggevoer het; en goddelose dinge gedoen om die HERE tot toorn te terg. Want hulle het die afgode gedien waarvan die HERE vir hulle gesê het: Julle mag hierdie ding nie doen nie. Maar die HERE het getuig teen Israel en teen Juda, deur al die profete en deur al die sieners en gesê: Bekeer julle van julle verkeerde weë en onderhou my gebooie en my insettinge volgens die hele wet wat Ek julle vaders beveel het, en wat Ek deur my knegte, die profete, na julle gestuur het. Maar hulle het nie geluister nie, maar hulle nek verhard soos die nek van hulle vaders wat nie in die HERE hulle God geglo het nie. En hulle het sy insettinge en sy verbond wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse wat Hy teen hulle getuig het, verwerp; en hulle het die nietigheid gevolg en ydel geword en agter die nasies aan gegaan wat rondom hulle was, aangaande wie die HERE hulle beveel het om nie soos hulle te doen nie.
2 KONINGS 17:9-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Israeliete het verder in die geheim dinge gedoen wat teen die wil van die HERE was. In elke plek waar hulle gewoon het, van wagtorings tot vestingstede, het hulle afgodshoogtes gebou. Hulle het bo-op elke heuwel en onder elke groen boom klippilare opgerig wat gewy is aan Asjera. Hulle het op al die hoogtes wierook gebrand net soos die nasies wat die HERE voor hulle uit verjaag het. Hulle het bose dinge gedoen wat die HERE uitgetart het. Hulle het afstootlike beelde aanbid ten spyte van die HERE se uitdruklike waarskuwings. Die HERE het al sy profete en sieners gestuur om sowel Israel as Juda te waarsku: “Bekeer julle van julle bose lewenswyses. Luister na my opdragte en voorskrifte volgens al die gebooie wat Ek julle voorvaders beveel het en wat Ek deur my dienaars die profete aan julle bekendgemaak het.” Maar die Israeliete wou nie luister nie. Hulle was net so koppig soos hulle voorvaders wat nie op die HERE hulle God vertrou het nie. Hulle het sy voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het, verwerp en die rug gedraai op al sy waarskuwings. Hulle het waardelose afgode aanbid en het self waardeloos geword. Hulle het gelewe net soos die nasies rondom hulle hoewel die HERE gesê het: “Moenie soos hulle maak nie!”