2 KONINGS 17:7-13
2 KONINGS 17:7-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, onder die mag uit van die farao, koning van Egipte. Maar hulle het ander gode vereer en geleef volgens die gebruike van die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak, gebruike wat deur die konings van Israel nagevolg is. Die Israeliete het die Here hulle God dinge toegedig wat nie waar is nie en toe vir hulle hoogtes gebou oral waar hulle gewoon het, van plekke af waar net 'n wagtoring was, tot in die vestingstede. Hulle het klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë rant en onder elke groen boom. Op elke hoogte het hulle wierookoffers gebring net soos die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. Met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het hulle die Here uitgetart. Hulle het die stinkende afgode gedien wat die Here hulle uitdruklik verbied het. Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.”
2 KONINGS 17:7-13 Bybel vir almal (ABA)
Dit het gebeur omdat die mense van Israel sonde gedoen het teen hulle God die Here, die God wat vir hulle uit Egipte laat kom het en wat hulle vrygemaak het van die farao, die koning van Egipte. Die Israeliete het ander gode gedien en hulle het dieselfde dinge gedoen wat die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die mense van Israel. Die konings van Israel het gedoen soos die konings van ander volke, en die mense van Israel het hulle God die Here gedien soos die ander volke hulle gode gedien het. Hulle het offer-plekke gebou by al hulle stede, klein en groot. Hulle het klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. Hulle het wierook gebrand by al die offer-plekke, hulle het gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke gevang en weggevat om plek te maak vir die mense van Israel. Maar die Israeliete het slegte dinge gedoen en hulle het die Here kwaad gemaak. Die Here het gesê hulle mag nie die afgode dien nie, maar hulle het dit gedoen. Die Here het al die profete en sieners gestuur om die mense van Israel en Juda te waarsku. Die Here het gesê: “Julle moet ophou om die slegte dinge te doen, julle moet gehoorsaam wees aan al my wette wat Ek vir julle voorvaders gegee het. Ek het dit vir julle laat weet toe Ek my dienaars die profete na julle toe gestuur het.”
2 KONINGS 17:7-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die kinders van Israel het gesondig teen die HERE hulle God wat hulle uit Egipteland onder die hand van Farao uit, die koning van Egipte, laat optrek het; en hulle het ander gode gevrees en gewandel volgens die insettinge van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdryf het, en van die konings van Israel wat dit bewerk het. En die kinders van Israel het heimlik volbring wat nie reg was teenoor die HERE hulle God nie; en hulle het vir hul hoogtes gebou in al hulle stede, van wagtoring af tot versterkte stad. En hulle het vir hul klippilare en heilige boomstamme opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En hulle het daar offerrook laat opgaan, op al die hoogtes, soos die nasies wat die HERE voor hulle uit weggevoer het, en verkeerde dinge gedoen om die HERE te terg. En hulle het die drekgode gedien waarvan die HERE vir hulle gesê het: Julle mag dit nie doen nie. En die HERE het Israel en Juda gewaarsku deur die diens van elke profeet en elke siener en gesê: Bekeer julle van jul verkeerde weë en onderhou my gebooie, my insettinge, volgens die hele wet wat Ek julle vaders beveel het, en wat Ek deur die diens van my diensknegte, die profete, vir julle gestuur het.
2 KONINGS 17:7-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, onder die mag uit van die farao, koning van Egipte. Maar hulle het ander gode vereer en geleef volgens die gebruike van die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak, gebruike wat deur die konings van Israel nagevolg is. Die Israeliete het die Here hulle God dinge toegedig wat nie waar is nie en toe vir hulle hoogtes gebou oral waar hulle gewoon het, van plekke af waar net 'n wagtoring was, tot in die vestingstede. Hulle het klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë rant en onder elke groen boom. Op elke hoogte het hulle wierookoffers gebring net soos die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. Met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het hulle die Here uitgetart. Hulle het die stinkende afgode gedien wat die Here hulle uitdruklik verbied het. Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.”
2 KONINGS 17:7-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die HERE hulle God wat hulle uit Egipteland laat optrek het, onder die hand van die farao, die koning van Egipte, uit. Hulle het vir ander gode ontsag gehad en die voorskrifte gevolg van die nasies wat die HERE voor die Israeliete uit verdryf het, en van die konings van Israel wat dit nagekom het. Die Israeliete het dinge versin oor die HERE hulle God wat nie reg is nie. Hulle het vir hulle offerhoogtes gebou in al hulle dorpe, of dit nou by 'n wagtoring of by 'n versterkte stad was. Hulle het gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. Hulle het daar op al die offerhoogtes offers verbrand, net soos die nasies wat die HERE in ballingskap voor hulle uit verdryf het. Hulle het verkeerde dinge gedoen en so die HERE uitgetart. Hulle het die afgodsbeelde gedien waarvan die HERE vir hulle gesê het: “Julle mag so iets nie doen nie!” Die HERE het Israel en Juda by monde van elkeen van sy profete, deur elke siener, gewaarsku: “Draai terug van julle verkeerde paaie af! Kom my gebooie en vaste voorskrifte na, volgens die hele wet wat Ek julle voorouers beveel het en wat Ek by monde van my diensknegte, die profete, aan julle voorgehou het.”
2 KONINGS 17:7-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want so het die kinders van Israel gesondig teen die HERE hulle God wat hulle uit Egipteland laat optrek het, onder die hand van Farao, die koning van Egipte, en ander gode gevrees het, En hy het gewandel in die insettinge van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdryf het, en van die konings van Israel wat hulle gemaak het. En die kinders van Israel het in die geheim gedoen wat nie reg was teen die HERE hulle God nie, en hulle het vir hulle hoogtes gebou in al hulle stede, van die wagtoring af tot by die omheinde stad. En hulle het vir hulle beelde en heilige boomstamme opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En daar het hulle rook laat opgaan op al die hoogtes, net soos die nasies gedoen het wat die HERE voor hulle uit weggevoer het; en goddelose dinge gedoen om die HERE tot toorn te terg. Want hulle het die afgode gedien waarvan die HERE vir hulle gesê het: Julle mag hierdie ding nie doen nie. Maar die HERE het getuig teen Israel en teen Juda, deur al die profete en deur al die sieners en gesê: Bekeer julle van julle verkeerde weë en onderhou my gebooie en my insettinge volgens die hele wet wat Ek julle vaders beveel het, en wat Ek deur my knegte, die profete, na julle gestuur het.
2 KONINGS 17:7-13 Die Boodskap (DB)
Die ramp het Israel getref omdat hulle téén die wil van die Here hulle God opgetree het. Hy het hulle vrygemaak toe hulle in Egipte deur die farao onderdruk is, maar hulle het ander gode aanbid. Hulle het die gebruike gevolg van die heidense volke wat deur die Here uit die land gejaag is om vir Israel plek te maak, gebruike wat gevolg is deur die konings van Israel. Die Israeliete het al die tyd in die geheim dinge gedoen wat die Here nie goedgekeur het nie. Hulle het: heidense heiligdomme gebou waar hulle ook al gebly het, van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad; op elke rantjie en onder al die groen bome klippilare en heilige Asjerapale ingeplant; net soos die mense wat voor hulle in die land gewoon het, offers by die heilige plekke gebrand (só het hulle die Here al hoe kwater gemaak vir hulle); vieslike afgode vereer, al het die Here uitdruklik gesê hulle mag dit nie doen nie. Die Here het Israel én Juda deur profete en spesiale boodskappers gewaarsku: “Julle moet ophou met julle verkeerde dinge en na My toe terugkom. Wees gehoorsaam aan die wette en reëls wat Ek reeds lank gelede aan julle voorouers gegee het. Ek het dit weer deur die profete direk vir julle gegee.”
2 KONINGS 17:7-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie ramp het oor die Israeliete gekom omdat hulle ander gode vereer het. Sodoende het hulle gesondig teen die HERE hulle God wat hulle uit Egipte bevry het uit die mag van Farao, die koning van Egipte. Hulle het ander gode gedien. Hulle het geleef soos die ander nasies wat die HERE uit die land verdryf het sodat die Israeliete daar kon woon. Hulle het ook opgetree volgens die gebruike wat die konings van Israel ingestel het. Die Israeliete het verder in die geheim dinge gedoen wat teen die wil van die HERE was. In elke plek waar hulle gewoon het, van wagtorings tot vestingstede, het hulle afgodshoogtes gebou. Hulle het bo-op elke heuwel en onder elke groen boom klippilare opgerig wat gewy is aan Asjera. Hulle het op al die hoogtes wierook gebrand net soos die nasies wat die HERE voor hulle uit verjaag het. Hulle het bose dinge gedoen wat die HERE uitgetart het. Hulle het afstootlike beelde aanbid ten spyte van die HERE se uitdruklike waarskuwings. Die HERE het al sy profete en sieners gestuur om sowel Israel as Juda te waarsku: “Bekeer julle van julle bose lewenswyses. Luister na my opdragte en voorskrifte volgens al die gebooie wat Ek julle voorvaders beveel het en wat Ek deur my dienaars die profete aan julle bekendgemaak het.”