2 KONINGS 10:32-36
2 KONINGS 10:32-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
In daardie tyd het die Here begin om die gebied van Israel kleiner te maak. Oral in die grondgebied van Israel het Gasael hulle neerlae toegedien: van die Jordaan af ooswaarts, die hele Gilead waar die stamme Gad, Ruben en Manasse gewoon het, van Aroër af aan die Arnonrivier, Gilead sowel as Basan. Die ander verhale oor Jehu en alles wat hy gedoen het, al sy dapper dade, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Jehu is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg. Jehu het ag en twintig jaar in Samaria as koning oor Israel geregeer.
2 KONINGS 10:32-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie tyd het die HERE begin om dele van Israel af te sny. Gasael het hulle verslaan in die hele gebied van Israel vanaf die Jordaan ooswaarts: die hele gebied van Gilead waar die stamme van Gad, Ruben en Manasse was, van Aroër af, wat langs die Arnondal lê – Gilead, sowel as Basan. Die verdere geskiedenis van Jehu, alles wat hy gedoen het, al sy magtige dade, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Jehu het by sy voorouers gaan rus en hy is in Samaria begrawe. Sy seun Joagas het in sy plek koning geword. Die tydperk wat Jehu in Samaria as koning geheers het oor Israel, was agt-en-twintig jaar.
2 KONINGS 10:32-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ongeveer hierdie tyd het die HERE begin om Israel se gebied kleiner te maak. Koning Gasael het verskeie dele van die land verower. Dit was die streke oos van die Jordaanrivier, die hele Gilead, insluitend die stamme Gad, Ruben en Manasse, vanaf die dorp Aroër by die Arnonrivier, sowel Gilead as Basan. Die ander gebeurtenisse tydens Jehu se bewind, wat hy gedoen het en sy dapper dade, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Toe Jehu sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg. Jehu het altesaam 28 jaar in Samaria oor Israel geheers.
2 KONINGS 10:32-36 Bybel vir almal (ABA)
In die tyd toe Jehu koning was, het die Here begin om die land Israel kleiner te maak. Koning Gasael het die mense van Israel oral in die land oorwin. Hy het die grond oos van die Jordaan-rivier gevat. Dit was die hele land Gilead waar die stamme Gad, Ruben en Manasse gewoon het, die hele land noord van die stad Aroër in die Arnon-vallei tot by die land Gilead en die land Basan. Die ander dinge wat Jehu gedoen het, al die belangrike dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Jehu het gesterf, en sy mense het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joahas het koning geword ná hom. Jehu was 28 jaar lank in Samaria die koning van Israel.
2 KONINGS 10:32-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
In dié dae het die HERE Israel begin inkort, en Hásael het hulle in die hele gebied van Israel verslaan: van die Jordaan af na die ooste toe, die hele land Gílead, die Gadiete en die Rubeniete en die Manassiete, van Ároër af wat aan die Arnonrivier lê, Gílead sowel as Basan. En die verdere geskiedenis van Jehu en alles wat hy gedoen het, en al sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Jehu het ontslaap met sy vaders en is begrawe in Samaría, en sy seun Jóahas het in sy plek koning geword. En die dae wat Jehu oor Israel in Samaría geregeer het, was agt-en-twintig jaar.
2 KONINGS 10:32-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In daardie dae het die HERE Israel begin verkort, en Hásael het hulle verslaan in al die grondgebiede van Israel; Van die Jordaan af ooswaarts, die hele land Gílead, die Gadiete en die Rubeniete en die Manassiete, van Aroër af wat by die Arnonrivier lê, tot Gílead en Basan. En die verdere geskiedenis van Jehu en alles wat hy gedoen het en al sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Jehu het ontslaap met sy vaders, en hulle het hom in Samaria begrawe. En sy seun Jóahas het in sy plek geregeer. En die tyd wat Jehu in Samaria oor Israel geregeer het, was agt en twintig jaar.
2 KONINGS 10:32-36 Die Boodskap (DB)
Dit was juis in die tyd van Jehu dat die Here toegelaat het dat Israel se grondgebied kleiner word. Koning Hasael van Aram het dele van die land oos van die Jordaanrivier beset. Hy het Gilead beset, en dit het die stamgronde van Gad, Ruben en Manasse ingesluit, van Aroër aan die Arnonrivier af, tot by die Basanplato. Die res van Jehu se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is Jehu in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom opgevolg, nadat Jehu 28 jaar oor Israel regeer het.