2 JOHANNES 1:6-9
2 JOHANNES 1:6-9 Bybel vir almal (ABA)
As ons lief is vir mekaar, dan doen ons wat God vir ons sê. Dit is die wet wat julle van die begin af gehoor het. Dít is wat julle moet doen. Daar is baie mense wat weggegaan het van ons en wat leuens vertel in die wêreld. Hulle sê hulle glo nie dat Jesus Christus regtig 'n mens was nie. Iemand wat so iets sê, lieg. Hy is die antichris. Julle moet versigtig wees! As julle nie versigtig is nie, sal julle alles verloor waarvoor ons gewerk het. As julle versigtig is en dit nie verloor nie, dan sal God die hele beloning vir julle gee. Daar is mense wat anders glo as wat Christus vir ons geleer het. Hulle het nie vir God in hulle harte nie. Maar almal wat aanhou glo wat Christus vir ons geleer het, het die Vader en die Seun in hulle harte.
2 JOHANNES 1:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel. Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris. Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar 'n volle loon ontvang. Elkeen wat 'n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun.
2 JOHANNES 1:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe. Soos julle van die begin af gehoor het, is dit sy gebod dat julle in die liefde moet lewe. Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met “die misleier”, “die antichris”, bedoel. Julle moet toesien dat julle nie verloor wat ons voor gewerk het nie, maar dat julle die volle loon ontvang. Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie. Wie in dié leer bly, erken sowel die Vader as die Seun.
2 JOHANNES 1:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En dit is die liefde: dat ons volgens sy opdragte leef. Dit is die opdrag wat julle van die begin gehoor het: dat julle daarvolgens moet leef. Want baie verleiers het in die wêreld na vore gekom – dié wat nie bely dat Jesus •Christus as mens gekom het nie. So iemand is die verleier en die Antichris. Let daarop dat julle nie verloor wat ons deur harde werk verkry het nie, maar eerder 'n volle loon ontvang. Elkeen wat nie by die leer van Christus bly nie, maar verder as dit wil gaan, het God nie; wie by die leer bly, so iemand het die Vader sowel as die Seun.
2 JOHANNES 1:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit is die liefde, dat ons volgens sy gebooie wandel. Dit is die gebod: Soos julle van die begin af gehoor het, moet julle daarin wandel. Want baie verleiers het in die wêreld ingekom, wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is 'n bedrieër en 'n antichris. Pas op vir julleself dat ons nie verloor wat ons gedoen het nie, maar dat ons 'n volle beloning ontvang. Elkeen wat oortree en nie in die leer van Christus bly nie, het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het sowel die Vader as die Seun.
2 JOHANNES 1:6-9 Die Boodskap (DB)
Liefde is mos niks anders as om volgens die wil van God te leef nie. En wat wil God dan van ons hê? Dít: wat ons doen, moet ons in liefde doen. Ons weet dit al van die eerste dag af dat ons die evangelie gehoor het. Nou iets anders. Pas op! Die wêreld is vol mense wat ander om die bos wil lei. Hulle ontken dat Jesus Christus regtig mens van vlees en bloed geword het. Iemand wat so sê, is die misleier en die antichris. Wees daarom op julle hoede. Moenie toelaat dat ons werk onder julle ontspoor nie. Julle moet mos nog die volle beloning van God ontvang. Daar is dus twee moontlikhede: Iemand kan vierkant agter die leer oor Jesus bly staan en so aan die kant van die Vader en die Seun bly staan. Iemand kan in ’n ander rigting koers kry en nie vas bly staan by die leer oor Jesus nie. So ’n persoon staan nie aan die kant van God nie.
2 JOHANNES 1:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Liefde bestaan daarin dat ons moet aanhou om volgens sy opdragte te leef. Dié opdrag vra dat ons in ’n hegte verbintenis daaraan moet bly leef, soos julle van die heel begin af gehoor het. Baie verleiers het die wêreld binnegedring. Hulle hou aan ontken dat Jesus Christus ’n ware mens van vleis en bloed geword het. So ’n persoon is die verleier en die antichris. Wees op die uitkyk vir sulke mense sodat ons nie sal verloor waarvoor ons baie hard gewerk het nie, maar eerder die volle beloning sal ontvang. Elkeen wat die leer aangaande Christus verander, het nie deel aan God nie. Wie in ’n hegte verbintenis met dié leer leef, het deel aan die Vader en die Seun.