2 KORINTIËRS 8:6-15

2 KORINTIËRS 8:6-15 Bybel vir almal (ABA)

Hulle het gesê ons moet vir Titus bemoedig. Ja, ons weet dat hy al klaar begin het om by julle te kollekteer vir die gelowiges in Judea. Maar die gemeentes in Masedonië wil hê dat Titus moet aanhou om te kollekteer totdat dit klaar is. Ons weet dat julle alles baie goed doen. Julle glo baie sterk, julle kan goed praat. Julle weet baie van die ware lewe. Julle hou nie op om goed te doen nie. En julle is lief vir mekaar soos ons vir julle geleer het. Nou moet julle ook goed doen en geld gee wanneer Titus by julle kollekteer. Julle moet onthou, ek sê nie dat julle geld móét gee nie. Ek wil sien of julle ook wil help soos die gelowiges in Masedonië. En ek wil kyk of julle regtig lief is vir ander mense. Julle weet dat ons Here Jesus Christus genadig is vir ons. Hy is ryk, maar Hy het arm geword vir julle. Nou kan julle ryk wees omdat Jesus arm geword het. Ek wil vir julle sê wat julle moet doen wanneer julle moet besluit wat julle nóg wil doen om die gelowiges in Judea te help. Want julle het al klaar verlede jaar besluit om geld bymekaar te maak, en toe het julle dit begin doen. Maar nou moet julle die werk klaarmaak wat julle begin doen het. Julle wou graag begin kollekteer, en julle moet dit nou klaarmaak. En julle moet gee wat julle kán gee. Want as 'n mens graag iets wil gee, dan aanvaar die Here dit wat jy kan gee. Die Here wil nie hê dat jy iets moet gee wat jy nie het nie. Hy wil nie hê dat julle self moet swaarkry omdat julle baie gee om die gelowiges in Jerusalem te help nie. Nee, die een moenie meer as die ander hê nie. Julle het nou meer as genoeg om te kan lewe. Daarom kan julle vir ander mense gee, mense wat nie genoeg het nie. Daar sal miskien weer 'n tyd kom wanneer die gelowiges in Jerusalem te veel het. Dan sal hulle weer vir júlle help wanneer julle te min het. En dan sal die een nie meer as die ander hê nie. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is

2 KORINTIËRS 8:6-15 Die Boodskap (DB)

Die Masedoniërs se toewyding het my toe laat besluit om vir Titus te vra om die insameling van die geldelike offers waarmee hy vroeër reeds begin het daar by julle te gaan voltooi. Julle blink uit op so baie gebiede. Kom ek noem net ’n paar: julle geloof is baie groot. Julle is glad nie bang om oor God te praat nie. Julle het baie kennis oor sy woord. Julle is regtig toegewyd in julle geloof. Boonop blink julle ook uit in die liefde van Christus wat ek aan julle verkondig het. Kan ek dan nou die volgende versoek tot julle rig? Blink asseblief ook uit wanneer dit by hierdie geldinsameling vir die arm Christene in Judea kom. Ek probeer nie aan julle voorskryf wat julle moet doen nie. Glad nie. Ek vertel julle slegs hoe toegewyd ander gemeentes aan die Here is en hoeveel hulle omgee vir ander gelowiges wat swaarkry. Dalk beweeg dit julle om net soos hulle te maak. Julle reaksie sal wys of julle liefde vir die Here en vir ander mense eg is, en of dit net lippetaal is. Julle weet tog hoe ongelooflik goed ons Here Jesus Christus vir ons almal is. Al die eer en glorie in die hemel behoort aan Hom. Tog het Hy hierdie hemelse rykdom ter wille van julle opgeoffer toe Hy in julle plek aan die kruis dood is. Christus het julle wat eers brandarm was, nou skatryk gemaak. Gaan wys nou hoe dankbaar julle teenoor Hom is deur julle besittings met ander gelowiges te deel. Ek wil julle gou ’n stukkie goeie raad gee. Onthou julle hoe julle ’n jaar gelede besluit het om by die geldinsameling vir Jerusalem betrokke te raak? Ek onthou nog baie goed hoe ywerig julle toe begin geld insamel het. Handel hierdie geldinsameling asseblief nou af. Sit weer geld daarvoor opsy. Doen dit met dieselfde geesdrif waarmee julle verlede jaar begin het. Die belangrikste van alles is dat julle julle geld met die regte gesindheid sal gee. Dan maak julle God se hart sommer baie bly. Natuurlik vra God nie meer van julle as wat julle besit nie. Nee, dra net tot die fondsinsameling by uit die geld wat julle tot julle beskikking het. Julle hoef regtig nie elke sent op julle naam weg te gee nie. Daar moet ewewig in die kerk wees wanneer gelowiges mekaar geldelik help. Dit moet só gedoen word: julle wat nou genoeg geld het, moet daardie Christene help wat te min geld het. Later, wanneer julle weer te min geld het, moet hulle julle kom uithelp. So kom daar ewewig. Dit is presies wat die Bybel sê: “Hy wat baie besit, het nie te veel nie. Hy wat ’n bietjie besit, het nie te min nie.”

2 KORINTIËRS 8:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarom het ons by Titus daarop aangedring om hierdie liefdeswerk waarmee hy vroeër begin het, nou ook by julle te voltooi. Aangesien julle in elke opsig uitmunt – in geloof, met die woord, kennis, groot ywer en die liefde wat ons aan julle betoon het – munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk. Ek sê dit nie as ’n opdrag nie, maar om die egtheid van julle liefde in vergelyking met die ywer van ander te toets. Julle ken die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword sodat julle deur sy armoede ryk kon word. Nou gee ek raad oor hierdie saak. Want dit is voordelig vir julle – julle wat nie net die eerste was om iets te doen nie, maar ook heel eerste gewíllig was om iets te doen. Voltooi nou die werk sodat julle dit, uit die middele tot julle beskikking, met dieselfde geesdrif kan afrond as dié waarmee julle daarop besluit het. As die geesdrif daar is en julle gee volgens wat julle het, is die gawe aanneemlik. Julle hoef nie meer as dit te gee nie. Dit beteken egter nie dat hulpbetoon aan ander julle moet laat swaarkry nie. Dit is eerder ’n geval van balans. Daar moet ’n balans wees tussen julle huidige oorvloed en hulle gebrek. Dan kan hulle oorvloed weer vir julle gebrek aangewend word. Op só ’n manier kom daar ewewig. Soos daar geskryf staan: “Die een met baie, het nie te veel gehad nie; en die een met ’n bietjie, nie te min nie.”