2 KORINTIËRS 7:2-16
2 KORINTIËRS 7:2-16 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet julle harte oopmaak vir ons. Ons het aan niemand van julle verkeerde dinge gedoen nie, ons het niemand iets verkeerd laat doen nie, ons het niemand bedrieg nie. Ek sê hierdie dinge nie om julle te beskuldig nie. Ek het voorheen vir julle gesê dat julle baie kosbaar is vir ons. Ons sal julle nooit vergeet nie, dit maak nie saak wat gebeur nie. Ek is baie eerlik met julle, en ek is baie trots op julle. Julle bemoedig my ook baie. Elke maal wanneer ons swaarkry, dan is ek baie bly daaroor. Want toe ons in die provinsie Masedonië gekom het, het ons nooit tyd gehad om te rus nie. Mense het ons laat swaarkry op baie maniere. Hulle het met ons baklei, en ons was bang. Maar God troos mense wat swaarkry en wat nie weet hoe om hulleself te help nie. Hy het ons getroos toe Titus daar aangekom het. God het ons getroos, maar nie net omdat Titus daar aangekom het nie, ook omdat julle vir Titus getroos het. Titus het vir ons vertel dat julle verlang na ons, hy het vertel dat julle jammer is dat daar probleme gekom het tussen julle en my, en dat julle graag die probleme wil regmaak. Ek was baie bly hieroor. Miskien het ek julle hartseer gemaak in my brief, maar ek is nie jammer daaroor nie. Nee, ek wás jammer, want ek sien dat daardie brief julle vir 'n kort tydjie hartseer gemaak het. Maar nou is ek bly, nie omdat julle hartseer was nie, maar omdat julle so hartseer was dat julle verander het en begin lewe het soos God wil hê. Want julle was hartseer soos God wil hê. Dit wys dat ons glad nie verkeerde dinge aan julle gedoen het nie. Want as 'n mens hartseer is soos God wil hê, dan verander 'n mens, en dan red God jou, en daaroor is 'n mens nooit jammer nie. Maar as 'n mens hartseer is soos die wêreld hartseer is, dan verander niks en dan sterf jy vir altyd. Want julle sien self wat gebeur het toe julle hartseer was soos God wil hê: Julle het begin besef dat daar verkeerde dinge gebeur het. Julle het gesê dat julle nie regtig teen my is nie. Julle het kwaad geword vir die persoon wat vir julle laat verander het om teen my te wees. Julle was bang dat die probleem te groot sal wees om reg te maak. Julle het begin om na my te verlang. Julle was haastig om alles reg te maak tussen ons. Julle het die man gestraf wat teen my was. Ja, julle het gewys dat julle heeltemal onskuldig is hieroor. Dit alles wys vir julle hoekom ek hierdie brief geskryf het. Dit was nie oor die man wat verkeerd gedoen het nie en ook nie oor my, die man aan wie hy verkeerd gedoen het nie. Nee, dit was sodat julle kon sien hoe belangrik dit is dat alles weer reg moet wees tussen julle en ons, en dat God dit ook weet. Daarom is ek bly. Ons is bly, maar nie net oor onsself nie. Ons is nog meer bly omdat Titus so bly is. Want julle almal het gehelp dat hy meer tevrede geword het. Ek het 'n bietjie gespog by Titus oor julle. En ek is nie jammer daaroor nie. Alles wat ons vir julle gesê het oor Titus, was die waarheid, en so het ons ook die waarheid gepraat toe ons by Titus gespog het oor julle. Titus onthou dat julle almal geluister het na hom en dat julle hom waarlik baie gerespekteer het toe hy by julle gekom het. Daarom is hy nou nog meer lief vir julle. Ek is bly, want ek voel nou goed oor julle.
2 KORINTIËRS 7:2-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAK vir ons ruimte in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het op niemand voordeel behaal nie. Ek sê dit nie om te veroordeel nie, want ek het vantevore gesê dat julle in ons harte is om saam te sterwe en saam te lewe. Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle; my roem oor julle is groot; ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking. Want ook toe ons in Macedónië gekom het, het ons vlees geen rus gehad nie, maar ons is op allerhande maniere verdruk; van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge. Maar Hy wat die nederige troos, naamlik God, het ons getroos deur die koms van Titus; en nie deur sy koms alleen nie, maar ook deur die troos waarmee hy oor julle getroos is, deurdat hy aan ons berig gebring het van julle verlange, julle verdriet, julle ywer vir my, sodat ek my nog meer verbly het. Want, al het ek julle ook deur die brief bedroef gemaak, is ek nie jammer nie, al was ek ook jammer. Want ek sien dat daardie brief, al was dit vir 'n kort tydjie, julle bedroef gemaak het. Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie. Want die droefheid volgens die wil van God werk 'n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God — wat 'n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is. Al het ek ook aan julle geskrywe, dan was dit nie ter wille van hom wat onreg gedoen het nie, of ter wille van hom wat onreg gely het nie, maar dat ons ywer vir julle aan julle duidelik kan word voor God. Daarom is ons getroos oor julle vertroosting en het veral bly geword oor die blydskap van Titus, omdat sy gees deur julle almal verkwik is. Want as ek iets by hom oor julle geroem het, is ek nie beskaam nie; maar soos ons alles met waarheid tot julle gespreek het, so het ook ons roem by Titus waarheid geword. En sy hart is julle veral toegeneë as hy hom die gehoorsaamheid van julle almal herinner, hoe julle hom met vrees en bewing ontvang het. Ek verbly my dus dat ek my in alle opsigte op julle kan verlaat.
2 KORINTIËRS 7:2-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maak vir ons plek in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het niemand uitgebuit nie. Ek sê dit nie om julle te beskuldig nie; ek het tog al vantevore gesê dat julle in ons harte is om mee saam te lewe en te sterwe. Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap. Toe ons in Masedonië gekom het, het ons geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge. Maar God wat die neerslagtiges opbeur, het ons ook opgebeur deur die koms van Titus, en nie net deur sy koms nie, maar ook omdat julle hom opgebeur het. Hy het vertel van julle begeerte om ons te sien, en dat julle jammer is oor wat gebeur het en my nou ywerig verdedig. Dit alles het my nog blyer gemaak. Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. Miskien was ek tog jammer toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het, al was dit net vir 'n kort rukkie. Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood. Kyk net wat die ervaring van droefheid volgens die wil van God aan julle gedoen het. Nou is daar by julle erns; meer nog, daar is verantwoording, verontwaardiging, ontsag, verlange, ywer en bestraffing van die kwaad. In elke opsig het julle bewys dat julle in hierdie saak onskuldig is. Dus, al het ek so aan julle geskrywe, was dit nie omdat iemand onreg gepleeg of onreg gely het nie. Inteendeel, ek wou hê dat julle voor God tot die besef moes kom van hoeveel julle vir ons omgee. Juis daarom is ons nou so bly. Ons is nie net bemoedig nie, maar ook besonder bly dat Titus so gelukkig is: julle almal het hom gemoedsrus gegee. Ek het by hom 'n bietjie met julle gespog, en julle het my nie teleurgestel nie. Soos ons altyd die waarheid met julle gepraat het, so blyk dit nou dat dit ook die waarheid was toe ons by Titus met julle gespog het. En sy toegeneentheid teenoor julle word al sterker as hy daaraan dink hoe julle almal gehoorsaam was en hoe julle hom met eerbied en ontsag ontvang het. Ek is baie bly dat ek in elke opsig op julle kan reken.
2 KORINTIËRS 7:2-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maak vir ons ruimte. Ons het niemand veronreg nie; ons het niemand skade berokken nie; ons het niemand uitgebuit nie. Ek sê dit nie om julle te veroordeel nie – ek het vantevore al gesê dat julle in ons harte is om saam te sterf en saam te leef. Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle, en is baie trots op julle. Ek is nou vol moed, en loop oor van blydskap te midde van al ons verdrukking. Want selfs nadat ons in Macedonië gekom het, het ons liggaamlik geen rus gehad nie, en het ons van alle kante verdrukking ervaar – van buite aanslae, en van binne angs. Maar God, wat die neerslagtiges bemoedig, het ons bemoedig deur die koms van Titus – en nie net deur sy koms nie, maar ook deur die bemoediging waarmee hy oor julle bemoedig is. Hy het ons kom vertel van julle verlange, van julle berou, van julle ywer vir my, sodat ek my nou nog meer verheug. Want al het ek julle met die brief bedroef gemaak, is ek nie spyt nie. En al was ek ook spyt – want ek sien dat daardie brief julle bedroef gemaak het, al was dit ook net vir 'n rukkie – is ek nou bly; nie omdat julle bedroef gemaak is nie, maar omdat julle droefheid tot berou gelei het. Julle is volgens die wil van God bedroef gemaak, met die gevolg dat julle in geen opsig deur ons benadeel is nie. Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood. Want kyk nou net watter toewyding julle droefheid volgens die wil van God vir julle bewerk het: ja, watter verontskuldiging, watter verontwaardiging, watter ontsag, watter verlange, watter ywer, watter bestraffing! In elke opsig het julle getoon dat julle onskuldig is wat hierdie saak betref. Al het ek aan julle geskryf, was dit nie ter wille van die een wat onreg gepleeg het nie, en ook nie ter wille van die verontregte nie, maar ter wille daarvan dat julle toewyding vir ons duidelik aan julle bekend kan word voor God. Daarom is ons bemoedig. En benewens ons bemoediging, het ons ons nog meer verbly oor Titus se blydskap, omdat hy gemoedsrus by julle almal gevind het. As ek enigsins oor julle by hom gespog het, staan ek nie beskaamd nie; maar soos alles wat ons julle vertel het, waar is, so het ons gespog by Titus ook waar geword. En sy toegeneentheid teenoor julle word al sterker, namate hy hom herinner aan julle almal se gehoorsaamheid, en hoe julle hom met vrees en bewing ontvang het. Ek is verheug dat ek in alle opsigte op julle kan staatmaak.
2 KORINTIËRS 7:2-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ontvang ons; ons het niemand kwaad aangedoen nie, ons het niemand verderf nie, ons het niemand bedrieg nie. Ek spreek dit nie om julle te veroordeel nie, want ek het al voorheen gesê dat julle in ons harte is om te sterf en saam met julle te lewe. Groot is my vrymoedigheid van spraak teenoor jou, groot is my roem oor jou: ek is vervul met vertroosting, ek is baie bly in al ons verdrukking. Want toe ons in Macedónië ingekom het, het ons vlees geen rus gehad nie, maar ons was van alle kante ontsteld; buite was gevegte, binne was vrese. Maar God, wat die wat neergewerp is, vertroos, het ons getroos deur die koms van Titus; En nie alleen deur sy koms nie, maar deur die vertroosting waarmee Hy in julle vertroos is, toe Hy ons vertel het van julle innige begeerte, julle rou, julle vurige gemoed teenoor my; sodat ek my des te meer verheug het. Want al het ek julle met 'n brief bedroef gemaak, het ek nie berou nie, al het ek berou gehad; want ek sien dat dieselfde brief julle bedroef gemaak het, al was dit maar vir 'n tyd. Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef geword het nie, maar dat julle bedroef was tot bekering; want julle is bedroef op 'n goddelike wyse, sodat julle deur ons niks skade kan berokken nie. Want droefheid uit die wil van God werk bekering tot redding waaroor ons nie kan bekeer nie, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Want kyk hierdie selfde ding, dat julle bedroef was volgens 'n goddelike soort, watter sorgsaamheid het dit in julle bewerk, ja, watter opheldering van julleself, ja, watter verontwaardiging, ja, watter vrees, ja, watter heftige begeerte, ja, watter ywer, ja, watter wraak! In alles het julle julself goedgekeur om in hierdie saak duidelik te wees. Daarom, alhoewel ek aan julle geskryf het, het ek dit nie gedoen vir sy saak wat verkeerd gedoen het, of vir sy saak wat verkeerd gely het nie, maar sodat ons sorg vir julle in die oë van God aan julle sou verskyn. Daarom is ons vertroos in julle vertroosting, ja, en des te meer was ons verheug oor die blydskap van Titus, omdat sy gees deur julle almal verkwik is. Want as ek enigiets vir hom oor julle geroem het, skaam ek my nie; maar soos ons alles in waarheid tot julle gespreek het, so word ons grootpratery wat ek voor Titus gemaak het, waarheid gevind. En sy innerlike geneentheid is oorvloediger teenoor julle, terwyl Hy die gehoorsaamheid van julle almal onthou, hoe julle Hom met vrees en bewing aangeneem het. Ek is dus bly dat ek in alles op U vertrou.
2 KORINTIËRS 7:2-16 Die Boodskap (DB)
Julle kan my maar glo as ek sê dat ek nog nooit lelik teenoor iemand opgetree het nie. Ek het niemand uitgebuit of misbruik nie. Ek beskuldig julle ook nie daarvan dat julle sulke dinge gedoen het nie. Glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat julle heeltyd in my hart en in my gedagtes is. Kyk, of ek lewe en of ek doodgaan, julle sal altyd belangrik vir my bly. Daarom het ek die vrymoedigheid om so reguit met julle te praat. Julle kan my maar glo as ek sê ek is regtig trots op julle. Tussen al my swaarkry deur bring julle baie vreugde in my lewe. Julle onthou mos dat ek vroeër in die brief vir julle vertel het hoe ek van Troas af na Masedonië gegaan het, want ek het gehoop om Titus daar raak te loop. Toe ek daar aankom, het ’n klomp probleme op my gewag. Van buite het geweld my in die gesig gestaar en van binne het vrees my oorval. Maar toe gebeur daar ’n wonderwerk. Weet julle, ons groot God wat in staat is om mense op te tel wat in die stof lê, het my ook kom optel uit die diep put waarin ek was. Hy het my bekommernis in ’n oogwink weggevat toe Titus skielik daar opdaag. Hoe bly was ek toe Titus my vertel hoe julle hom met oop arms ontvang en hoe julle hom opgebeur het! Titus het my ook vertel dat julle na my verlang. En hy het bygevoeg dat julle jammer is oor alles wat vroeër tussen ons skeefgeloop het en dat julle oor my bekommerd is. Ek kan nie vir julle sê hoe bly ek was oor dié goeie nuus nie. Ek weet dat ek julle baie omgekrap het in my vorige brief. Vroeër was ek baie spyt daaroor, nou nie meer nie. Dit het op die ou end goed uitgewerk. My brief het julle wel ’n kort rukkie ontstel, maar op die regte manier. Wat ek bedoel, is dat daardie brief julle teruggebring het na God toe. Julle het met al julle hartseer reguit na Hom toe gegaan. Julle het glad nie enige skade as gevolg van my brief gely nie; inteendeel. Daaroor is ek regtig baie bly. Weet julle, die regte soort hartseer, die soort wat God vra, bring ’n mens altyd terug na Hom toe. Dit bring jou by die ware lewe uit. Niemand kan spyt wees wanneer so iets met hulle gebeur nie, of hoe? Aan die ander kant help dit niks as jy jou hartseer vir jouself hou en nie daarmee na God toe gaan nie. Dan is jy op pad na die doderyk toe met jou trane en al. Julle was op die regte manier hartseer, soos God dit wil hê. Julle was vasbeslote om die saak met Hom reg te maak. Kyk net watter wonderlike resultate het dit opgelewer: julle is nou nog meer daarop ingestel om julle verhouding met God reg te stel. Sonde vul julle met nog groter afsku. Julle wil niks daarmee te doen hê nie. Julle het ook baie groter eerbied vir God. Julle smag daarna om God beter te ken. Julle is nog yweriger om God met julle hele lewe te dien. Julle is meer as tevore bereid om verkeerde gedrag vas te vat. Julle het duidelik gewys dat julle onskuldig is in hierdie saak tussen my en daardie man wat my voor julle almal beledig het. Dit is hoekom ek aan julle geskryf het. Ek was nie te veel bekommerd oor daardie man wat my so sleg behandel het of oor my eie eer nie. Nee, my doel was om julle die geleentheid te bied om voor God te wys hoeveel julle regtig vir my omgee. Ek is so bly dat dit toe ook gebeur het. Ek kan nie genoeg sê hoe dankbaar ek oor julle reaksie is nie. Maar toe ek sien hoe opgewonde Titus oor julle is, was ek eers bly. Hy het met groot vrede in sy hart van julle af teruggekeer. Vroeër, voordat Titus na julle is, het ek so ’n bietjie oor julle by hom gespog. Gelukkig het julle my toe nie teleurgestel nie. Titus het self gesien dat alles wat ek oor julle vertel het, die reine waarheid is. Nou praat hy net die hele tyd oor julle. Sy liefde vir julle word by die dag groter. Julle toewyding het hom regtig baie beïndruk, so ook die respek en ontsag waarmee julle hom ontvang het. Ek is dankbaar dat julle my nie in die steek gelaat het nie. Dis lekker om te weet dat ek altyd op julle kan reken.
2 KORINTIËRS 7:2-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Skep vir ons ruimte by julle. Ons het niemand verontreg nie; ons het niemand se ondergang veroorsaak nie; ons het niemand uitgebuit nie. Ek sê dit nie om iemand te veroordeel nie; ek het alreeds gesê dat julle ’n plek in ons harte het, maak nie saak of ons saamsterf of saamlewe nie. Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. En ek is regtig vol moed en oorstelp van blydskap ten spyte van ons swaarkry. Want toe ons in Masedonië aangekom het, kon ons geen rus vind nie. Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen: van buite – aanvalle; van binne – vrese. Maar God, wat die vernederdes bystaan, het ons ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus. Nie net deur sy teenwoordigheid nie, maar ook deur die manier waarop julle hom bemoedig het. Hy het ons vertel van julle ernstige begeerte, julle berou, asook julle ywer vir my. Daarom is ek nog meer opgewonde. As ek julle deur my brief hartseer gemaak het, het ek nie nou berou daaroor nie. As ek tog berou gehad het, was dit net vir ’n kort rukkie toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het. Nou is ek bly – nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat julle hartseer tot julle inkeer gelei het. Julle was hartseer volgens die wil van God. Julle is dus in geen opsig deur ons skade aangedoen nie, want hartseer volgens die wil van God lei tot inkeer, wat weer lei tot verlossing waaroor ’n mens nooit spyt sal wees nie. Daarteenoor lei wêreldse hartseer tot die dood. Kyk net watter entoesiastiese reaksie die belewenis van hartseer volgens die wil van God by julle meegebring het: die verantwoording, dringendheid om reg te maak, ontsag, verlange om my te sien, ondersteuning en erns om die oortreder te straf! In elke opsig het julle bewys dat julle in hierdie saak onskuldig is. Daarom, al het ek aan julle geskryf, was dit nie soseer omdat iemand verkeerd gedoen het of omdat iemand verontreg is nie, maar veral sodat julle voor God kon bewys hoeveel ywer julle vir ons het. Daarom is ons nou bemoedig. En by die bemoediging is ons ook uitermate opgewonde dat Titus só bly is omdat julle almal hom gemoedsrus gegee het. As ek by hom oor julle gespog het, was ek nie beskaam nie. Net soos ons altyd die waarheid met julle gepraat het, só het dit nou geblyk dat ons die waarheid gepraat het toe ons by Titus oor julle gespog het. En sy toegeneentheid teenoor julle word al hoe groter namate hy julle almal se gehoorsaamheid onthou en hoe julle hom met eerbied en ontsag ontvang het. Ek is bly dat ek julle in elke opsig kan vertrou.