2 KORINTIËRS 6:14-18
2 KORINTIËRS 6:14-18 Bybel vir almal (ABA)
Julle moenie vriende maak met ongelowiges nie. Want mense wat doen wat God wil hê en mense wat God se wette breek, mag nie vriende wees nie. Lig en donker kan nie maats wees nie. Christus kan nie met Beliar saamwerk nie. En 'n gelowige mag nie die dinge doen wat 'n ongelowige doen nie. God se tempel en die afgode pas nie bymekaar nie. Want ons is die tempel van God, God wat lewe. God het gesê: Ek sal by hulle woon en tussen hulle lewe, Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. Daarom moet julle weggaan van hulle en julle moet niks saam met hulle doen nie, sê die Here, julle moet aan niks raak wat onrein is nie. Dan sal Ek julle aanvaar. Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees. Dit sê die Here wat oor alles regeer.
2 KORINTIËRS 6:14-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.
2 KORINTIËRS 6:14-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan 'n gelowige dieselfde belange hê as 'n ongelowige? Hoe kan 'n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem, en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige.
2 KORINTIËRS 6:14-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen •Christus en Belial, of wat het 'n gelowige gemeen met 'n ongelowige? En watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Want ons is die tempel van die lewende God – soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.” Daarom: “Gaan uit hulle midde uit en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie aanraak wat •onrein is nie.” “En Ek sal julle aanneem,” en “Ek sal vir julle 'n vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige.
2 KORINTIËRS 6:14-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter gemeenskap het geregtigheid met ongeregtigheid? en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial? of watter deel het die gelowige met 'n ongelowige? En watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? want julle is die tempel van die lewende God; soos God gesê het: Ek sal in hulle woon en in hulle wandel; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here, en raak nie aan wat onrein is nie; en Ek sal jou ontvang, En Hy sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.
2 KORINTIËRS 6:14-18 Die Boodskap (DB)
Moenie saam met die ongelowiges agter al wat sonde is, aanloop nie. Dan is julle kort voor lank saam met hulle slawe daarvan. Dink ’n bietjie, watter ooreenkoms is daar tussen reg en verkeerd? Of tussen lig en donker? Hulle lyk dan nie eens dieselfde nie. En wat het Christus met die duiwel te doen? Hy het mos nie nodig om die een of ander ooreenkoms met die Bose te sluit nie, of hoe? Wat van gelowiges en ongelowiges? Is hulle dieselfde? Nee, natuurlik nie. Of moet daar miskien ’n verstandhouding tussen die woonplek van God en die afgode gesluit word? Nooit nie! Ons wat glo, is die woonplek van die lewende God. Daarom sê God in die Bybel: “Ek sal by hulle bly. My adres is daar by hulle. Ek sal hulle God wees en hulle sal my kinders wees. Daarom moet julle padgee van die sondaars af. Julle moet My altyd dien,” sê die Here. “Laat staan alles wat met sonde besmet is, dan sal my hart en my hand wawyd oop wees vir julle. Ek sal vir julle ’n Vader wees. Julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here.
2 KORINTIËRS 6:14-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis? Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ’n gelowige en ’n ongelowige? Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” Daarom: “Gaan van hulle af weg en hou julle eenkant, sê die Here, en moenie vat aan wat onrein is nie; dan sal Ek julle ontvang.” En ook: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, sê die Here die Almagtige.”