2 KORINTIËRS 5:10-11
2 KORINTIËRS 5:10-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad. Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is.
2 KORINTIËRS 5:10-11 Bybel vir almal (ABA)
Want Christus sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dan sal elke persoon kry wat hy moet kry. As iemand goeie dinge gedoen het terwyl hy hier op die aarde gelewe het, dan sal hy goeie dinge kry. As iemand slegte dinge gedoen het, dan sal hy slegte dinge kry. Ons weet wat dit is om die Here te dien en om te doen wat Hy sê. Daarom probeer ons om mense te bemoedig sodat hulle ook sal verander en die Here sal dien. God weet alles van my en van die ander persone wat saam met my werk. Hy weet dat ons Hom eerlik dien. Maar ek hoop dat julle ook so dink oor ons.
2 KORINTIËRS 5:10-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. OMDAT ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees.
2 KORINTIËRS 5:10-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want ons moet almal voor die regterstoel van •Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was. Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is, probeer ons mense oortuig. Maar by God is ons deeglik bekend, en ek hoop om ook in julle gewete so bekend te wees.
2 KORINTIËRS 5:10-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn; sodat elkeen kan ontvang wat in sy liggaam gedoen is volgens wat hy gedoen het, of dit goed of sleg is. Omdat ons dan die verskrikking van die Here ken, oortuig ons die mense; maar ons is aan God geopenbaar; en ek vertrou dat dit ook in julle gewetes geopenbaar word.
2 KORINTIËRS 5:10-11 Die Boodskap (DB)
Ons almal moet in elk geval voor Christus se regterstoel gaan staan. Op die laaste dag sal Hy sy uitspraak lewer oor alles wat ons tydens hierdie lewe gedoen het. Ons sal dan beloon word volgens dit wat ons gedoen het, goed of sleg. Ek het groot eerbied vir die Here. Daarom probeer ek ander mense oortuig om ook in Hom te glo. God weet dat ek opreg is wanneer ek vir Hom werk. Ek hoop julle weet dit ook.
2 KORINTIËRS 5:10-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was. Omdat ons soveel ontsag vir die Here het, probeer ons mense oorreed. Ons opregte bedoelings is aan God bekend en ek vertrou dat julle in julle gewetens ook daarvan oortuig sal wees.