2 KORINTIËRS 4:3-6
2 KORINTIËRS 4:3-6 Bybel vir almal (ABA)
Maar as daar miskien 'n sluier hang oor die goeie boodskap wat ons bring, en as mense die boodskap nie verstaan nie, dan is dit omdat hulle die mense is wat verlore gaan. Die god van hierdie wêreld het die verstand van die ongelowiges blind gemaak. Hulle kan nie die lig sien van die goeie boodskap wat sê dat Christus die Koning is nie. Christus het vir ons kom wys hoe God is. Ons bring nie 'n boodskap oor onsself nie, ons bring 'n boodskap oor Jesus Christus wat die Here is. Maar julle moet ook weet dat ons julle slawe is omdat ons Jesus se boodskap vir julle bring. Ons doen dit omdat God gesê het dat daar lig moet skyn uit die donker. So het God ook in ons harte geskyn. Hy het dit lig gemaak in ons sodat ons kan weet dat Hy die Koning is en dat Jesus Christus ook Koning is, Jesus het vir ons kom wys hoe God is.
2 KORINTIËRS 4:3-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie. Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.
2 KORINTIËRS 4:3-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.
2 KORINTIËRS 4:3-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As ons evangelie dan tog nog versluier is, is dit versluier vir dié wat verlore gaan, vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is, sodat die lig van die evangelie van die heerlikheid van •Christus, wat die beeld van God is, nie oor hulle skyn nie. Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.
2 KORINTIËRS 4:3-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar as ons evangelie verborge is, is dit verborge vir die wat verlore gaan. In wie die god van hierdie wêreld die sinne van die ongelowiges verblind het, sodat die lig van die heerlike evangelie van Christus, wat die beeld van God is, nie op hulle sou skyn nie. Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus, die Here; en onsself u dienaars ter wille van Jesus. Want God, wat beveel het dat die lig uit die duisternis skyn, het in ons harte geskyn om die lig te gee van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.
2 KORINTIËRS 4:3-6 Die Boodskap (DB)
As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is. Wanneer ek preek, vertel ek nie allerhande stories oor hoe belangrik ek is nie. Nee, ek preek slegs oor Jesus Christus. Ek vertel vir almal dat Hy die Here oor alles is. En ék? Wel, ek is julle dienskneg wat net een doel voor oë het, en dit is om julle te dien met die goeie nuus. Jesus verwag dit van my. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het.
2 KORINTIËRS 4:3-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As ons Goeie Nuus nog versluier is, is dit net bedek vir dié wat verlore gaan. Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie. Dit is die Goeie Nuus van die heerlikheid van Christus, Hy wat die ewebeeld van God is. Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle diensknegte ter wille van Jesus. God het gesê: “Laat daar lig skyn uit die duisternis.” So het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal.